Slenterseks sonder skande of skaamte
Hierdie artikel het HIER verskyn. Ek plak vir die van julle wat nie daar kan inkom nie die teks hier onder.
deur Marida Fitzpatrick
Oor eeue en dekades heen het dit meestal in die donker en in die geheim gebeur, omhul in skaamte en skande: Seks buite ’n romantiese verhouding, seks sonder bande of beloftes, sonder toewyding.
Nou kruip dié soort seks onder die kombers van stigma uit. Sogenaamde slenterseks (casual sex) word al hoe meer sosiaal aanvaarbaar, meer hoofstroom en minder taboe, sê die bekende seksuoloog, dr. Marlene Wasserman, beter bekend as Dr. Eve.
“Slenterseks is ’n sambreelterm wat enige seksuele interaksie beskryf wat sonder enige vorm van toewyding of verwagtings van ’n verhouding gebeur. Dís wat dit van ’n romantiese verhouding onderskei.” Dus, enige los gelukkie of, soos dit in Engels beskryf word: Hook-ups, flings, one-night stands.
Dr. Elmari Mulder-Craig, ook ’n seksuoloog, stem saam dat slenterseks meer hoofstroom en aanvaarbaar geword het, “veral onder jong mense en pas geskeides”. “Die Suid-Afrikaanse samelewing het die laaste paar jaar drasties verander,” sê Mulder-Craig. “Baie oper, gerig op individuele en algemene menseregte. Die invloed van godsdiens en die kerk is ook baie minder.” Dié neiging is stadiger onder Afrikaners as in die res van die Weste, volgens haar. “Ons dra steeds swaar aan ons Calvinistiese wortels. Christelik-nasionale waardes, met die fokus op monogame, heteroseksuele verhoudings as die norm, gemarineer in skuld en skaamte, hou ons steeds tot ’n groot mate gevange.”
Maar selfs Afrikaners is, soos die res van die Weste, besig om uit die dwangbaadjie van seksuele skuld en selfbewustheid te breek. Wasserman sê dit is oral duidelik. “Ons sien dit in die flieks, in TV-reekse en in lektuur dat dit (slenterseks) ’n aanvaarde vorm van seksuele gedrag geword het. Dit het begin in die 1960’s met die koms van die voorbehoedpil, is aangevuur met die feministiese revolusie in die 1970’s en het verder gegroei op veral Amerikaanse kampusse met ’n toenemende kultuur van ‘hook-ups’ (wanneer mense eenmalig bymekaar kom net vir seks). Sosiale media maak dit ook baie maklik en toeganklik. Mense het nog altyd slenterseks gehad, maar in die geheim. Nou word dit aanvaar as deel van hoe ons met mekaar omgaan. Geen skaamte, geen stigma nie. Dis baie bevrydend vir veral vroue.”
Mulder-Craig sê mans het al jare lank slenterseks sonder dat daar ’n stigma aan hulle kleef terwyl vroue in die verlede as “goedkoop” gebrandmerk is wanneer hulle slenterseks beoefen het. “Maar dit is besig om te verander. Vroue sien hulself nie meer as die slagoffers nie, maar ook as jagters wat seksuele vervulling verdien.” Begeerte en drang In ’n Netwerk24-peiling waaraan 2 788 lesers deelgeneem het, het 40% van mense gesê hulle beoefen slenterseks. “As seks net van liefde afhanklik was, sou baie min mense seks gehad het,” was Daan du Plessis, ’n leser, se kommentaar. Nog ’n leser, Bert Visser, het geskryf: “Ons is grootmense en seks is lekker, ongeag of dit net seks is en of dit liefdevolle seks is.”
Die idee dat seks net in ’n romantiese, eksklusiewe verhouding hoort, ontken die realiteit, sê Annelise Erasmus, skrywer van erotiese boeke en verhale. “Die realiteit is dat seks soms niks met romanse of selfs liefde te doen het nie, maar alles met begeerte en drang. Seks sonder emosionele bande vind elke dag plaas. Om te vra of dit ’n plek het, is so ’n bietjie soos om te vra of eet ’n plek het. Mense leer waar seks ‘hoort’. Ongelukkig veroorsaak daardie aangeleerde idees soms baie hartseer juis omdat dit tot onrealistiese verwagtinge lei.”
Louise Ferreira, joernalis en feminis, stem saam: “Die sielkundige skade wat sulke idees aanrig, is myns insiens veel groter as die moontlike gevolge van die gedrag self; ek het dit al met meer as een vriendin sien gebeur. Ons moet ophou voorgee dat dit (slenterseks) onnatuurlik is. Seks is een van die mens se basiese behoeftes nes kos, water, slaap en asemhaal. Almal het die reg om met hul eie liggame te maak wat hulle wil, en dit is nie ’n weerspieëling van hul karakter nie. Ons moet wegbeweeg van die idee dat sekere seksuele gedrag verkeerd is. Die enigste verkeerde seks is met iemand wat onwillig of minderjarig is en dit is onwettig.”
Azille Coetzee (29), ’n filosofiestudent wat besig is met haar doktorsgraad in Amsterdam, Nederland, sê Suid-Afrikaners en spesifiek Afrikaners se konserwatiewe idees oor seks lyk belaglik in Europa. “Daardie idee dat ’n mens, en spesifiek ’n vrou, iets ‘verloor’ of ‘weggee’ wanneer sy seks het en daarom moet wag vir iemand spesiaal, verkieslik haar trouman. Anders, is die boodskap, gooi jy jouself net weg. Dit is nonsens! Wat gee ek weg?” Volgens Coetzee word dié waardes in Suid-Afrika aangebied as universele waardes en waarhede terwyl dit eintlik net Christen-waardes is. “Dit is so verfrissend hier in Nederland hoe Christen-waardes nie as universele waardes aangebied word nie. Noudat ek afstand het van Suid-Afrika, sien ek hoe alles wat ek van seks geleer het uit ’n patriargale, Christelike raamwerk kom, terwyl ek al vir jare ’n feminis en ’n ateïs is.” Selfs al glo sy lankal nie meer in die seksuele waardes waarmee sy as Afrikaner-meisie in Suid-Afrika grootgeword het nie, worstel sy steeds om die Calvinistiese skuldgevoelens af te skud. “Ek is kwaad en resentful daaroor en moet nou baie hard werk om daarvan ontslae te raak.”
Nuwe reëls, eie reëls Netwerk24 het met tien mense gepraat wat slenterseks beoefen om te hoor of dit inderdaad meer hoofstroom raak. Gideon Nel (28), wat in die hotelwese in Johannesburg werk, sê sy generasie (Generasie Y), het hul eie reëls gemaak sover dit seks aangaan, “al is ons grootgemaak met die idee dat seks iets heiligs is wat slegs in die huwelik hoort. Ideaal gesproke hoort seks in ’n toegewyde verhouding, maar ’n paar one-night stands en slenterseks is nie die einde van die wêreld nie. Solank jy en die persoon met wie jy seks het, albei weet waar julle met mekaar staan.” Hy meen ook dis belangrik om uit te vind of jy en iemand anders seksueel verenigbaar (compatible) is voordat jy belê in ’n langtermynverhouding met die persoon. “Anders eindig jy dalk in ’n huwelik met iemand met wie jy nie seksueel kan connect nie. Dit kan probleme veroorsaak in ander aspekte van die verhouding.” Nes jy dus moet uitvind of jy met iemand kliek, of julle gedeelde belangstellings het, of julle dieselfde sin vir humor het voordat julle ernstig raak, is dit volgens Nel ook belangrik om vas te stel of die seks tussen julle bevredigend is. In sy vriendekring word niemand veroordeel wanneer hulle slenterseks beoefen nie, sê hy, al het hulle verskillende menings en waardes oor seks. “Dis ’n algemene ding om oor seks te gesels onder ons vriende.” Hy het self slenterseks (in die vorm van eenmalige seks met vreemdelinge of sogenaamde “vriende met voordele”), maar deesdae aansienlik minder as toe hy jonger was, sê hy. “Dis iets wat ek al menige male in my lewe gedoen het, maar dis asof ek nou ’n punt bereik het, seker omdat ek begin ouer word, wat ek nie net meer net sommer met enigiemand wil seks hê net om my drange te vervul nie, maar eerder sal uithou vir iets wat meer beteken as net een aand van passie en plesier.” Die voordele van slenterseks is dat jy geen beloftes hoef te maak nie en daar geen verwagtinge van jou is nie, sê Nel, maar daar is ook nadele. “Casual seks en one-night stands laat ’n mens soms met ’n groter leemte as wat dit vul, om nie eers te praat van die gevare van siektes en swangerskappe nie. Dit gebeur ook soms dat dit vir die een party net seks is, maar vir die ander party meer as dit. So iets eindig dan gewoonlik in ’n emosionele gemors.” “Relatiewe koek”
Dit is presies wat met Theresa* (30) gebeur het. “Ek het die liefde van my lewe ontmoet, maar hy het dit van die begin af duidelik gemaak dat hy niks meer as vriende wou wees nie. Ons het begin saam slaap en ek het aanhou by hom slaap in die hoop dat hy gevoelens vir my sou ontwikkel. Hy het nie. ’n Jaar later het ek uit die ‘verhouding’ gestap, gebroke en verpletter.” Vir hom was dit net slenterseks, vriende met voordele, maar vir Theresa was dit baie meer. Sy hét egter ook al eenmalige seks met vreemdelinge gehad waar sy nie gevoelens ontwikkel het nie. “Dit het die eerste keer gebeur toe ek 28 was.” Sy was op ’n partytjie waar sy te veel gedrink het en het op ’n bed langs ’n man beland. “Ons het daardie aand net vlugtig ontmoet, ek het nie eens sy naam geken nie, maar voor ek my oë kon uitvee, het ons seks gehad. Ek het my nie teëgesit nie en dit geniet. Ons het nie kontaknommers uitgeruil of enigiets nie.” Daarna het sy baie skuldig en onverantwoordelik gevoel, veral omdat dit nie veilig seks was nie. “Maar dit het die ys gebreek. Ek het besef ’n mens kan (soms) seks hê sonder om emosie daaraan te koppel. Kort hierna het ek seks gehad met ’n ou wat ek bloot aantreklik gevind het en hy vir my, ’n sogenaamde one-night stand.” In totaal het Theresa al sewe seksmaats gehad, van wie vier mans was met wie sy nie in ’n verhouding was nie. “Maar as jy my vergelyk met ander vroue van my ouderdom, is ek maar ’n relatiewe koek”.
Net pret Vicky (26), wat in die mediabedryf in Johannesburg werk, sê seks moenie altyd so ernstig opgeneem word nie. “Dis pret, dis ’n lekker manier om van stres ontslae te raak. Soms soek ’n mens nie ’n verhouding nie, maar ’n mens wil steeds seksueel verkeer.” Sy erken egter dat sy in dié stadium van haar lewe eerder op soek is na seks binne ’n verhouding, “nie meer net one-night stands nie”. Die meeste van die tien mense wat met Netwerk24 gepraat het, stem saam, hoewel hulle almal nogtans slenterseks beoefen. “Seks is iets prakties,” sê Vicky, “ ’n natuurlike menslike drang, maar persoonlik verkies ek dit in ’n commited verhouding, omdat die emosionele impak daarvan my beïnvloed. Die beste seks gebeur ook wanneer jy iemand se behoeftes verstaan.”
Ronel* (55) sê sy het altyd gedink slenterseks is problematies vir veral vroue, “juis oor die emosies betrokke. Maar ek glo dit nie meer nie. Vir my is fisieke aangetrokkenheid en die regte omgewing of atmosfeer genoeg. As ek so na sommige vriendinne in hul 40’s luister, klink dit vir my daar is nie te veel van ’n gewroeg oor die sake nie. Soos die Prediker tereg sê: Gaan heen en hê pret!” * Skuilnaam **
Lees die volgende artikel in dié reeks oor hoekom slenterseks nie so eenvoudig is nie, die chemiese en biologiese redes hoekom mense romantiese verhoudings bo one-night stands verkies en hoe die mens se waardes oor seksualiteit oor al die eeue en millennia verander het. Dr. Elmari Mulder-Craig, seksuoloog, gee wenke oor hoe jy jouself fisiek en emosioneel moet beskerm wanneer jy slenterseks beoefen: ■ Stel die grense duidelik en wees eerlik met jouself. Jy kan nie sê dit is slenterseks en later meer verwag nie. Slenterseks gaan oor seks en die genot daarvan, nie oor emosionele konneksie en ’n verhouding nie. ■ As jy besluit slenterseks is vir jou, maak seker hoekom jy so dink. Dan hoef jy nie na die tyd skuldig te voel nie. Dit moet twee volwassenes wees wat ’n ingeligte keuse maak sonder enige manipulasie. ■ Praat met die ander party. Sorg dat albei weet dit is slenterseks. ■ Emosioneel is dit waarskynlik beter om nie gereeld slenterseks met dieselfde persoon te hê nie, aangesien emosionele bande dan vorm. ■ Maak seker dat jy die ander persoon se MIV-status ken. Jy kan vra vir die resultaat van ’n onlangse bloedtoets. ■ Beoefen áltyd veilige seks. Gebruik altyd ’n kondoom, ook tydens orale seks. As jy ’n man is en orale seks met ’n vrou het, gebruik altyd ’n “dental dam” en maak seker jy weet hoe om dit te gebruik. Dit is by organisasies soos OUT beskikbaar. ■ Laat jou gereeld toets vir seksueel-oordraagbare infeksies, selfs al beoefen jy veilige seks. ■ Maak seker iemand na aan jou weet jy waar jy is en kan jou kontak. Sorg dat jou selfoon gelaai is en jy dit kan gebruik.
3 COMMENTS
wow dit is nice om die artikel te lees
Oral sex met ‘n dental dam. Dis soos om ‘n strawberry muffin te eet wat nog in sy plastiek toe is.
Dankie vir hierdie artikel, dit moes al baie jare gelede in elke moontlike lektuur verskyn het ! Ons Suid-Afrikaners is al solank, JARE agter ons Europese en oorsese eweknieë, maar die nuwe Suid Afrika raak by die dag meer btderwts en in voeling met hulself. Dis seer sekelik te wyte aan ons Calvinistiese opvoeding, waarmee daar nie fout is nie, maar ons het nie daarmee saam gegroei in onsself as mense nie.