‘n Brief van Simone (2)

deur Bobcat

(Lees eerste aflewering HIER)

Vir die laaste 200 meter na die waterval dra ek Simone op my rug. Sy het aanhou karring dat ons piekniek moet hou en geskimp dat ek haar nog nooit die waterval gewys het nie. Halfpad daarheen het ek besef dat sy dit nie gaan maak met haar sandale nie en het aangebied om haar te abba. Simone se poesie druk warm teen my rug en hou my meneer in ‘n semi ereksie.

Sy is veerlig, maar die rugsak wat agterstevoor aan my bors hang is swaar en karnuffel my manlikheid elke keer as ek met my vrag onder die ruie bosse en bome op die rivierwal deurbuk, maar dan hoor ek die gedruis van die water oor die rotse en vergeet van my las.

Terwyl sy die rugsak uitpak skop ek my skoene uit, ruk my hemp oor my kop en op pad water toe val my broek en onderbroek op die grond en ek duik in die ysige water, deels om af te koel en deels om van my semi ereksie ontslae te raak. Ek hou my oog op Simone terwyl ek swem en merk op dat sy diep ingedagte is terwyl sy die kombers oopsprei en die eet en drinkgoedjies uitpak.

Dan trek ek my asem diep in, verdwyn onder die water en volg die vloei van die rivier weg van Simone totdat ek dink sy my nie sal kan sien nie. Ek volg die otterpaadjie teen die oewer tussen die riete deur tot waar ek die vorige nag, terwyl sy geslaap het, my eie verrassing vir haar kom neersit het.

My hande bewe terwyl ek die klein kissie oopmaak. Ek staar vir ‘n oomblik na die blink steen voordat ek dit in my hand toevou en dieselfde roete terug neem waarmee ek gekom het. Ek het met Ouboet daaroor gesels en hy het my probeer oortuig om eerder die geld te vat en my kop te laat lees, maar die vuur brand in my vir Simone.

Ek besef dat ek versigtig te werk sal moet gaan anders gaan sy lont ruik en ek wil haar voete onder haar uitslaan.

My lyf bewe as ek haar klein lyfie teen die kombers vaspen met my naaktheid. Sy protesteer dat ek haar nat mors, maar haar laggie verseker my dat dit haar nie regtig skeel nie. Haar mond is warm op my koue lippe en ek voel haar hande oor my boude glip.

Sy giggel terwyl ek haar van haar klere stroop en dit eenkant toe gooi. Sy lê op haar rug en ek vergaap my amper aan die wonder van haar stywe tieties en klipharde erekte tepels. Haar warm lyf is ‘n skok teen my yskoue vel as ek myself tussen haar knieё tuismaak met my maag teen haar reeds nat, opgehewe poesie. Ek soen haar tepels om die beurt terwyl sy haar vingers deur my kort hare stoot en haar bene agter my boude  oor my bene vou …

***

Die Casper ruk verwoed en slinger sy insittendes op ‘n hoop. Iemand se geweerloop tref my teen die kant van my kop en ek sien sterretjies. Matonkoman gooi die manne van my af en ruk my orent. “Sarge?” is al wat hy uitkry … elke oog so groot soos ‘n piering. Die voertuig hel gevaarlik na links, maar daar was geen slag nie. Ek knik my kop instemmend en sy seningrige lyf trek soos die van ‘n kat deur die lug by die agterkant van die Casper uit. Hy land met ‘n rolbeweging en kom op sy knieё tot stilstand. Regterhand in die wag posisie.

As hy, na wat soos ‘n ewigheid voel, orent kom weet ek ons onmiddelike omgewing is skoon.

Terwyl van die manne die bosse fynkam en ander begin om die Casper te ondersoek voel ek instinktief na my broeksak op my linkerbeen. Ys hardloop teen my rugraat af as ek nie Simone se brief voel nie. My brein soebat my terug na my huidige situasie, maar my hart skeur en beur na Simone.

“Tyre moer toe, check-strap moer toe, dryfas gebuig,” bitch Vossie kliphard en ek het lus en druk ‘n granaat in sy keel af.

“Mkhulu  … Sarge, ons kan maar los, die spoor sal nie more staan nie,” sê Matonkoman en hy beduie na die reënwolke wat opsteek. Binne my gemoed woed my eie storm as ek hom weg beduie met die waai van my hand.

Ek trek een uit die ‘softpack’, stamp sy tabak teen my horlosie se band vas, rol sy lang papierkant effens tussen my lippe en trek die vuurhoutjie. Die rook word diep ingetrek en ek kan voel hoe die selfbeheersing terugkeer. My kop is seer waar die geweerloop my getref het en onder my vingerpunte kan ek die gestolde bloed tussen my hare voel.

Die koelte onder ‘n boom roep my en ek gaan sit met my rug teen die stam, vat ‘n teug aan die Texan, blaas die rook stadig deur my neus, en doof hom in die sand.

Ek staar na die grond tussen my voete, sny af en laat my gedagtes terugsweef na die waterval.

***

Simone kom kaal bolyf onder die stortende water van die waterval na my aangeloop waar ek op my hurke in die water sit. Haar lang hare oor die een skouer en half oor die een bors. Die gloed van ons passie nog rooi op haar wange. Sy glimlag skaam as sy laer sak in die water en my om my nek vat en my diep en sag soen.

“Dankie, dat jy my hierheen gebring het liefie,” laat sy saggies val en dan rol die trane oor haar wange.

Ek is effens geskok oor die trane en druk die ring vinnig terug onder die bandana wat om my pols gebind is.

***

Ek sal die naweek voor jy geklim het nooit ooit vergeet nie …” weergalm Vossie se stem deur die stilte. Sy woorde ruk my na die hede en as ek opkyk staan hy met die pienk koevert gefrommel in sy vuil hande en is besig om deur my brief te blaai. Uit die hoek van my oog sien ek Matonkoman probeer my afsny, maar ek is reeds op Vossie en my elmboog tref hom teen die kant van sy keel.

Hy syg soos ‘n sak semels inmekaar en die pienk koevertjie en die bladsye val los op die grond. Terwyl ek skarrel om die brief bymekaar en opgetel te kry hoor ek Matonkoman skree “Mkhulu” en voordat ek kan reageer tref Vossie se vuis my agter die oor.

Vossie is oor die ses voet lank en weeg dieselfde as ‘n opgeskote ossie en sy vuishou laat my sterre sien en sand vreet. Voor ek tot verhaal kan kom trek hy my orent met sy hande stewig om my keel geslaan.

“Ek donner die jags uit jou uit,” brul hy, maar my arms glip gemaklik tussen syne in terwyl ek agteroor pluk, sy arms oop stamp en hom agter die kop beetkry. Instinktief ruk hy agtertoe en dit gee my die momentum waarvoor ek gewag het en bliksem hom met my voorkop oor die brug van sy neus.

Ek tuur vir ‘n sekonde na sy bloedbesmeerde gesig waar hy in die sand lê en kreun voordat ek Simone se brief optel, toevou en terugsit in my sak …

(Lees volgende aflewering HIER)

Volg Kombiekiehier op sosiale media:

4 thoughts on “‘n Brief van Simone (2)

  • Avatar
    Jan 23, 2019 at 5:29 pm
    Permalink

    Nee hel man, wat staan in die brief??? Weereens puik gedoen, kan nie wag vir volgende aflewering.

    Reply
  • Avatar
    Jan 23, 2019 at 9:06 am
    Permalink

    Bobcat, meesterlik. As jy daar was dan weet jy hoe sulke dinge afloop. Baie bloed so gesien en getrek.

    Reply
  • Avatar
    Jan 22, 2019 at 9:44 pm
    Permalink

    Dankie Wille….komende van die meester is dit ‘n kompliment en ek is bly jy het dit geniet sover.

    Reply
  • Avatar
    Jan 22, 2019 at 2:20 pm
    Permalink

    Bobcat, jy’t ons sopas op die toneel geplaas van hierdie skerf van moontlike waarhede.
    Vir my, uiters goedgeskryf en ek het dit werklik geniet.
    Mag jou Simone jou altyd bybly, sy kom jou toe en jy vir haar.

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)