“Plat” en “obsene” woorde in Afrikaans – (2/3)

deur Piet P Nel

In die eerste aflewering van hierdie kort reeks van drie het ons gepraat oor die oorsprong en die gebruik van die woorde “piel” en “poesie”. In hierdie aflewering praat ons oor die woord “naai” en sy maatjies.

Naai

Die Engelse praat van seks as “making love”. Ek sien dat daar selfs in Afrikaans soms gepraat word van “liefde maak”. Maar vir seker is alle seks nie liefde maak nie – die man wat die vrou verkrag gee geen liefde nie en die vrou gee of ontvang geen liefde nie. Inteendeel.

Nou praat ons van “hulle het seks met mekaar”. Maar as jy iets “het” dan bêre jy dit iewers, of jy sit dit in die bank, of so iets. “Seks” is nie ’n werkwoord nie. En die twee wat aan die gang is, “het” ook nie iets nie – daarvoor is hulle gans te bedrywig.

In Engels word gepraat van “fuck” en daarvandaan kom die Afrikaanse woord “fok”. Maar dié woord in Engels word in verskillende betekenisse gebruik: Aan die een kant beteken dit “hulle het seks” – “they are fucking”. Aan die ander kant word dit gebruik as ’n uitroep van verrassing, verontwaardiging, en so meer. Derdens word dit gebruik as ’n vloekwoord: “Fuck you!” Daar is nog ander gebruike.

‘n Geleerde taalkundige het die woord “fok” in Afrikaans beskryf as die woord met die mees veelsydige aanwendings en gebruike. Dit is ’n heel interessante dissertasie (wat beskikbaar is as enigiemand belangstel). Maar “fok” in Afrikaans beteken nie seks nie. As jy sou sê “hulle fok mekaar” beteken dit dat hulle mekaar wedersyds “opfok”. Ek hoef nie meer te sê nie.

Die ware werkwoord in Afrikaans vir seks is “naai”. Maar die woord in daardie verband word deur die HAT as “obseen” beskryf. Waar kom dit vandaan? Uit die aard van die saak van die aksie van ’n naaimasjien. Uit daardie hoek gesien is die woord so grafies as wat moontlik is. As gevolg van die “obsene” betekenis van die woord “naai” word die woord “naaimasjien”, wat vroeër in algemene gebruik was, deesdae vermy en daar word eerder gepraat van ’n naaldwerk¬masjien of ’n stikmasjien. In die ouer dae was ‘n “naaister” ‘n vrou wat in ’n klerefabriek met ’n naaimasjien gewerk het (die HAT bevestig dit). As jy deesdae van ’n naaister sou praat, sou baie mense dink jy praat van ’n “gesellin” (“escort”).

In Engels word die woord “sew” of “sowing machine” geensins in daardie betekenis gebruik nie. Hulle praat wel van “screw” – hoekom weet ek nie eintlik nie, want ’n skroef word ingedraai en nie ingesteek nie. Die SOED erken glad nie hierdie betekenis nie en heg meestal ’n negatiewe betekenis aan iemand wat iemand anders “screw”, dit wil sê kwaad aandoen, soms met dwang of geweld, of kul. (“opfok” of bedrieg).

Die woord “naaimasjien” lyk dit vir my, kom uit die Duits (miskien via Nederlands). In Duits is dit ’n “Nähmachine” en die werkwoord “naai” in Duits is “nähen”. Hierdie inligting kom egter uit ’n Afrikaans/Duitse woordeboek en gevolglik is daar geen aanduiding van ander gebruike van die woord nie. Of die woord “nähen” ook in Duits gebruik word vir tweetjies wat mekaar bydam, weet ek gladnie. (In Nederlands word ’n ander woord vir naai gebruik, nl. “neuk”. Dit sou maklik ’n misverstand by ons kan laat ontstaan! Een man kan maklik vir ’n ander man sê: “Ek sal jou neuk,” of “moenie met my neuk nie”. Die implikasie daarvan is heel anders. In Afrikaans is dit duidelik afgelei van die aksie van die naaimasjien (maar ’n aphrodisiese meisie (of man) word nie as ’n naaimasjien beskou nie!). Ek sal die oeroorsprong daarvan mettertyd verder naspoor wanneer ek nie beter dinge om te doen nie, soos in die geval van ’n droogte aan meedoeners.

Maar die woord “naai” kry in Afrikaans ’n onverwagte, onbeplande en onbedoelde dieper betekenis: Wanneer jy twee lappe met ʼn naaimasjien aanmekaar vaswerk (vasnaai) ontstaan daar ʼn verhouding tussen die twee lappe – die twee lappe is vas aan mekaar met ʼn naat. En hoe meer nate genaai word, hoe vaster word die verhouding en hoe moeiliker word dit om die twee lappe weer los van mekaar te maak. Selfs al sou die verhouding tussen “vriende met voordele” in wese platonies bly, is daar tog ʼn element van liefde (of ten minste toegeneentheid) wat ontstaan. Wat meebring dat hulle weer en weer nog nate naai. Wat meebring dat hulle met deernis aan mekaar dink en mekaar met deernis behandel. Selfs as die basiese verhouding weens onvermydelike omstandighede en sonder wrewel tot ʼn einde kom, sal die deernis steeds daar wees. Selfs platoniese vriendskappe bring tog inderaad ’n mate van deernis mee. As hulle nou nog naaimaatjies is (pragtige woord nè?) sal die deernis nog dieper lê – al kan dit nie geklassifiseer word as “liefde” nie.

Meer dikwels is die kern van ’n liefdesverhouding die feit dat hulle gereeld naai. En daarom ook dat die einde van so ’n liefdesverhouding die twee mense so seer maak – soos twee lappe wat goed vasgenaai was aan mekaar en nou skade optel wanneer daardie nate losgetorring word.

Die woord “naai” word nie, na my kennis, as ’n vloekwoord gebruik nie. Die enigste oordragtelike betekenis wat ietwat aan die nie growwe kant is, is om te sê: “Hy het daardie ou deur die ore genaai”. Die betekenis is min of meer dat hy hom bedrieg het of tot ’n val gebring het. “Naai” is dan ook die een van die “verbode” woorde wat, saam met “poesie”, besig is om weer ingeburger te raak in die literatuur – al is dit tot sover meestal in die sg. “hygliteratuur”. Die gevierde skrywer, André Brink, gebruik beide woorde sonder skroom in sy boek “Voor ek Vergeet” (2004). Die boek handel in elk geval oor al die verskillende vroue met wie “Chris” in sy lewe genaai het. Maar dit gee ook ’n idee van hoe die moraliteit oor die jare verander het – in sy kinderjare was seks eenvoudig sonde en woorde soos piel, poesie en naai was absoluut verbode.

In die volgende en laaste aflewering van hierdie kort reeks word na nog twee “obsene” woorde verwys – woorde wat nie juis “sexy” is nie, maar tog ook onder die belt en met baie interessante stambome, nl. “kak” en “pis”.

Volg Kombiekiehier op sosiale media:

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)