Huisbou
deur Annelise
Ek is besig om ʼn huis te laat bou. My huis se voete staan reeds hoog geanker op die bult van waar dit die doen en late van die stad gadeslaan. Vandag moet ek juis my argitek op die bouperseel ontmoet om ʼn paar besonderhede te bespreek. Hierdie huis is my droom wat uiteindelik waar word, dink ek as ek my Peugeot versigtig oor die klippe in die oprit stuur.
Alex, my argitek, is nog nie daar nie en ek klim solank uit om te kyk wat die bouers dié week weer drooggemaak het. My huis se tweede verdieping troon bo my uit. Eers loop ek om die halfklaar huis en tree my eie stukkie van Suid-Afrika sorgvuldig af. Ek begin sommer my tuin beplan: hier wil ek leeubekkies plant en hier gaan ʼn jasmyn kom wat hoog teen die muur gaan oprank sodat die soet geur op lente-aande deur my slaapkamer se venster kan steel.
Dit is Saterdagmiddag en die erf is verlate. Dis skemer in die onderste verdieping van die huis. Ek loop deur my toekomstige kombuis en met die trappe op na die boonste verdieping. Oral lê hope sand en sakke sement rond. Steiers staan die wêreld vol. Ek loop versigtig om nie aan die vuil mure en bourommel te raak nie. Die boonste verdieping is helder lig omdat die dak nog nie op is nie. Ek gaan staan op die balkon van my droomslaapkamer en kyk oor my koninkryk uit.
Alex se motorfiets kom in die straat opgebrul. Dit is ʼn eiesoortige man hierdie. Hy is ʼn bietjie ouer as ek en het hemelblou oë vol dansende duiweltjies. Sy donkerbruin hare begin al grys strepe kry, maar hy laat dit nog steeds soos ʼn rebelse student s’n lank in sy nek krul. Ek het hom by ʼn skrywersgroep ontmoet wat elke tweede Sondag vir wedersydse inspirasie bymekaarkom en dit het gou duidelik geword dat hy met meer as net woorde kan toor. Die huise wat hy ontwerp is oorspronklik en het ʼn kunssinnige betowering wat dadelik met my geresoneer het. Ons het mekaar onmiddellik verstaan en nog belangriker, hy het my droomhuis verstaan. Meer as die helfte van die eer vir die feit dat ek nou hier in my amper-klaar unieke huis staan, is aan my briljante argitek te danke.
Hy kom ligvoets met die onvoltooide paadjie opgestap. Hy is ʼn vrye, ontembare man. Hy loop soos ʼn dier wat homself net-net in toom hou. Geen vrou sal hom ooit besit nie, maar die meeste wil. Daarom het ek nog altyd hierdie verhouding professioneel benader, selfs al gee my hart bokspringe elke keer wanneer ek hom sien. Hy kyk op en sien my op die balkon staan. Sy glimlag maak kuiltjies as hy vrolik vir my waai. God het wraggies oorboord gegaan die dag toe Sy hierdie man gemaak het!
“Hallo, mooi ding,” groet hy as hy langs my op my halfgebakte balkon kom staan. “Hou jy van wat jy sien?”
Ek is nie seker of hy van die huis of van homself praat nie. “Jip, dit lyk goed.” Laat hy maar self besluit wat my antwoord beteken.
“Ek dink dit lyk pragtig,” antwoord hy. Hy kyk betekenisvol na my en lag vir sy eie slimmigheid. “Ek is opgewonde oor hierdie projek. Dit gaan ʼn huis enig in sy soort wees. Miskien sal ek dit nog my vlagskip-projek maak.”
Hy beduie opgewonde en begin in sy rugsak grawe. Hy haal ʼn digitale kamera uit en gooi die sak in ʼn hoek.
“Ek neem so elke week of twee foto’s om ʼn rekord te hou van die hele proses. Kom jy saam?”
Ek volg my passievolle argitek deur my huis. Eers neem hy foto’s van die vordering wat gemaak is soos die hoogte van die mure, die kaggel se skoorsteen en die badkamers se pype. Sy kamera flits in die donker onderste verdieping. Dan begin hy foto’s van detail neem, soos van die skadu van die leer teen die muur, en die trappe se boog. Hy neem die patrone van druppels in die droë sement af en vang die son deur ʼn vensterraam wat nog nie ingesit is nie. Ons gaan weer boontoe en ek gaan wag op die balkon terwyl hy deur die boonste paar vertrekke loop.
Ek kyk om as ek hom die kamer hoor binnekom. Hy staan in die deur en die kamera is om my gemik.
“Staan net so,” beveel hy. Voordat ek nog besef wat aangaan, neem hy my op my balkon in die sonlig af. Hy staan nader. “Jy is lieflik, weet jy dit?”
Ek weet nie waar om te kyk nie. Ek voel hoe ek onder sy woorde bloos. Hy lig my ken op.
“Kyk vir my.” Ek kyk in sy blou-blou oë en voel asof ek daarin gaan oplos.
“Mag ek jou afneem? Net so ʼn paar foto’s, toe?” Ek dink hy is laf, maar knik my kop instemmend.
“Cool, staan net waar jy is … lig jou ken effens… draai jou kop na regs …”
Hy hiet en gebied my soos ʼn wafferse fotograaf en op ʼn stadium word dit pret. Ek begin onder sy aanwysings ontspan. Hy neem my hare wat in die wind waai en die sonstrepe op my wang af. Hy vra my om my sandale uit te trek en neem my pers toonnaels in die stof af.
Hy lag, ek lag.
Ons gaan binnetoe om ander komposisies te soek. Hy neem my hand om my by die relinglose trappe verby te help. My hand is klein in syne.
“Kom eers hier,” fluister hy. Sy nabyheid laat my koorsig voel. Sy hand is teen my wang; sy gesig ʼn vae vorm wat na myne afsak. Alex se mond soek in die donker en ek draai my mond teen syne vas. Hy soen my in die hoek van my mond en sy asem is skoenlappervlerkies teen my wang.
“Weet jy hoe lank begeer ek al om hierdie lippe te proe?” Die vlerkies wapper sy woorde in my mond in. Ek kan nie dink met sy mond op myne nie. Sy hande is op my arms. Dan trek hy weg. “Kom saam.”
Hy trek my agter hom aan na waar die son skeef teen ʼn grofgepleisterde muur skyn. ʼn Hoop sementsakke lê teen die muur, sommiges is oopgeskeur. Hy laat my met gekruisde bene op ʼn stapel van die sakke sit. Die droë reuk van die sementpoeier hang in die lug. Dan begin hy my stywe wit hemp opskuif. Ek protesteer, maar hy maak my stil met sy tong om myne.
“Sjuut. Asseblief?” Sy nabyheid oorrompel my. Hy rol my hemp hoër totdat dit bo my borste sit sodat my wit kantbra onder uitsteek.
“Sit jou hande albei in jou hare.”
Hy sit op sy hurke terug om ʼn foto te neem, een van ver af en ʼn nabyskoot.
“Moenie beweeg nie.”
Hy trek my langbroek se ritssluiter oop en vou dit oop sodat my broekie ook wit uitsteek. Weer neem hy sy ver en naby skote. Hy bly ʼn ent van my af op sy hurke sit.
“Sal jy?”
Hy kyk vir my, ek kyk vir hom. Ek sit nog steeds soos hy my laaste gekiek het. Ek weet wat ek gaan doen. Ek voel dit aan my vinnige hartklop en die sweet op my lyf. Ek voel dit aan die tinteling van my vel en ek voel dit aan die soet reaksie wat tussen my bene begin pols. Ek laat my hande uit my hare sak en staan van die sementsak af op.
“Wat wil jy hê ek moet doen?” vra ek vir Alex.
Op sy versoek lê my langbroek en hemp op ʼn bondel in die hoek. Ek lê holrug oor die sementsakke, my kop hang aan die een kant af en my bene aan die ander kant, een been reguit en een been gebuig. My arms is langs my sye. Alex staan oor my. Hy glimlag en ek glimlag vir hom terug. Hy buk en steek sy hand in een van die oopgeskeurde sakke sement om ʼn handvol grys sementpoeier vas te vat. Die sement maak patroontjies op my lyf as hy dit versigtig oor my gooi. Dan hurk hy langs my en vee ʼn streep poeier oor my spierwit bra. Die stof val deur die gaatjies van die kant tot op my vel. Sy hand talm stowwerig en warm op my. Nog ‘n streep word getrek oor my maag waar dit natterig word in my sweet. Hy maak ʼn hopie in my naeltjie. Ek weet en wag vir sy hand om die streep oor my broekie te trek en voel hoe die sement ook daar tot op my vel sif. Hy kyk in my oë as hy sy hand tot tussen my bene vee en ek gee nie meer om dat ek hom nie meer wil weerstaan nie. ʼn Strepie teen my kuit is die finale detail en dan staan hy weer terug. Ek lê met my oë toe terwyl hy my van alle moontlike hoeke afneem. Ek lê totdat sy kamera stil word.
Hy staan weer oor my as ek uiteindelik my oë oopmaak.
“Trek alles uit.”
ʼn Sinkplaat kraak êrens in die son. ʼn Hadida skree in my toekomstige tuin. En ek ontklee vir my argitek in die studeerkamer van my amper-klaar huis. Hy streel my lyf met sy oë.
“Kom ons gaan onder toe,” sê Alex vol planne en gryp my hand om my met die trappe af te lei.
In die hoek tussen die vier mure wat eendag kombuis genoem gaan word, is ʼn groot hoop rooi grond. Die son skyn deur die deurlose agterdeur op die hoop. Die res van die kamer is vol donker skaduwees. Alex los my hand toe ons by die onderkant van die hoop grond kom. Hy sit sy kamera op die growwe vensterbank neer.
“Staan hande-viervoet.” Ek kniel voor hom in die grond en voel hoe my hande effens wegsink as ek hulle op die los hoop grond neersit.
“Kruip teen die hoop op.” Hy staan agter my en kyk hoe ek stadig teen die grond opkruip.
“Stop net daar.”
Ek is in die sonstreep wat deur die deur val, halfpad teen die hoop rooi op. Hy is langs my. Daar is grond in sy hande. Hy druk my kop af sodat my hare soos ʼn waterval vooroor hang en dan voel ek hoe hy ʼn straal van die grond in my hare strooi. Sy hande vee vol grond teen die middel van my rug af en die korreltjies rol tussen my boude in. Dan druk hy my bene met syne verder van mekaar af weg en vee my van agter af met sy vingers vol rooi grond sodat dit met my lus meng en strepies modder word.
Sy vingers talm ʼn oomblik, maar dan hoor ek hom met die hoop grond afgly om sy kamera te kry.
“Kyk vir my oor jou skouer.” Ek draai my kop en loer oor my naakte rug vir die man met die kamera. Hy kniel reg agter my aan die onderkant van die hoop en kyk vir my, sy kuiltjies diep langs sy mond.
“Jy is lieflik. Weet jy dit?” herhaal hy sy woorde van tevore.
En ek maak my rug hol, lig my boude en maak my bene wyer oop sodat Alex, argitek van my huis en lyf, elke voutjie van my met sy lens kan bykom.
Alex mik vir oulaas met sy kamera. Hierdie keer maak ek nie my oë toe nie. Ek kyk hoe hy my afneem. Ek sien wanneer hy my van ver wye hoeke afneem en ek sien wanneer hy die lens tot teen my lyf bring om my intieme dieptes af te neem. Hy neem my lyf as ʼn geheel af en hy neem afsonderlike deeltjies daarvan af soos net my mond of net my tepel. En ek hou daarvan.
Wanneer hy uiteindelik sy kamera neersit lyk hy ernstig. Ek beweeg nie. Ek bly presies soos hy my wou hê en ek wag vir hom. Ek wag vir hom terwyl hy sy hemp oor sy kop trek en sy broek oor sy boude. Ek wag vir hom om na my toe te kom. Ek wag vir hom met my borste. Ek wag vir hom tussen my bene. Hy is by my. Hy kniel agter my op die hoop en vou homself om my rug sodat sy hande oor my borste vou. Die son skuif van my lyf af om op sy rug te speel. Vir ʼn oomblik staan hy net stil, sy styfheid warm en soekend tussen my bene. Daar is korreltjies tussen ons lywe van die grond waarmee hy my gesmeer het. Daar is nog foto-geleenthede wat ons saam kan gebruik, maar dit kan wag vir later. Ek lig my heupe om hom te ontvang en voel hom in my vlesigheid ingly. Hy mompel onsamehangend as my sagtheid hom in verwelkoming toevou. Ek glimlag wanneer hy homself met sy heupe dieper begin dryf. Orals om ons is klein watervalletjies van grond soos ons ritme deur die hoop trek. Hy dek my net daar waar my tafel in my nuwe kombuis gaan staan en ek wens hy hou nooit op nie. Ek begin fokus verloor as sy hand van my borste afgly en my klitoris van voor af begin stimuleer. Ek hoor myself beheer verloor. My asem stu oor my lippe. Ek klimaks en voel amper dadelik hoe hy ook oorgee. Ons ritme smelt saam. Is daar iets lekkerder as ʼn orgasme? Die sensasie laat my bruis en ek lag van plesier as ons uitgeput langs mekaar neersyg.
Ons lê nog lank op die hoop grond. Die grond is sag en sy mond is warm. Ons maak lyfafdrukke soos ons in mekaar se arms daarop rondrol. Ek soen sy kuiltjies en hy soen my borste. Die sonstraal wat deur die deur skyn word smaller en koeler. Ons meet en pas ons lywe en lag oor die heerlikheid van ons koppeling. En dan doen ons dit weer ʼn keer vir lekkerte en sommer net omdat ons wil, op die rooi hoop grond in die kombuis van my onvoltooide huis op die bult.
6 COMMENTS
En soos jy se…”Is daar iets lekkerder as ‘n orgasme?”…nee niks nie
Ek be-aam, Lusman, jy is ‘n woordmeester !
Dankie vir ‘n baie goeie storie ☺
Sjoe, aan die begin van die storie dog ek jy gaan met jou argitek oorhoops wees omdat hy nie reg bou nie. Maar toe laat jy hom jou oor ‘n hoop oorhoeks woeps.
Amper is julle permanent in mekaar gesementeer!
Knap woordspeling met “dek” – die tafel later, maar nou eers jy!
Hou baie van jou bondige, maar suggestiewe beeldspraak. Jy is ‘n woordmeester.
Doen vir ons ‘n meester / slaaf storie.
Vandag se storie is meester/slaaf. Hoop jy geniet dit. 🙂
Soet meisie.:-)