Valentynsdag 1945

deur Uther Pendragon

“Hallo!” roep die stem versigtig, dan nog sagter: “Jemand hier?”

Die skraal, lang figuur klim tussen die rommel in die ondergrondse donkerte in.  Die oorgrote bonkige grys jas laat sy nek en gewrige potsierlik skraal lyk.   Blou oë tuur angstig in die donkerte in verby die vuil blonde hare wat oor sy nog vuiler gesig hang.

Hy gaan dieper in en poog om die skerp speke van gebreekte balke en die verkoolde figuur in die half-skadu te vermy.  Hy vorder stadig dieper in en roep weer saggies: “Hallo, is jemand da?”

Sy oë word stadig gewoond aan die donkerte en hy beweeg versigtig, al tassende om hom heen, voetjie vir voetjie dieper in die kelder in – versigtig om in ‘n nog dieper gat te val, versigtig om aan iets te stamp wat die rommel op hom kan laat intuimel.

Uit die duisternis kom ‘n fluistering: “hallo – wer is da?” maar so sag dat hy moet stilstaan om seker te maak dat dit nie die klank van die sag-knarsende rommel onder sy stewels is nie.  Net voor hy verder gaan, onder die indruk dat dit sy verbeelding was, kom die stem weer: “wer bist du?”

“Martin, ich heist Martin” sê hy paaiend en dan: “wo sind Sie?”

Stilte.

“Bist du allein?” fluister die meisiestem.

“Ja” antwoord hy en tas in die duister terwyl hy hom in die rigting van haar stem wend.

“Ich verstecke mich hinter der Treppe” hoor hy haar sê net toe sy hand die koue sement van die trapreëling raak.  Hy tas rond en vind die ruimte onder die trap.

“Kann ich mich dort mit dir verstecken, ist da Platz für mich?” vra hy sag en dringend.

Stilte.

“Bitte.”

Hy hoor haar woordeloos skuifel om plek te maak vir hom.

Dankbaar buk hy in die skuins ruimte in.  Hy tas in die donkerte rond en raak aan haar kop en skouers.

Hulle sit dig teen mekaar in die engte en sy oë is nou so goed aan die donker gewoond dat hy dowwe silhoeëte in die skemering kan uitmaak.

Hy draai na haar – hy kan vaagweg die bleekte van haar gesig sien.  Sy is seker amper so oud soos hy en het lang blonde hare wat uit haar bolla losgekom het en nou op haar skouers hang.

“Ek is Lisl” sê sy en hy draai van die stank van haar asem weg.  Dit laat hom net nog meer mistroostig voel want hy weet dat hy seker na maande se seep en tandepasta-rantsoene sekerlik nie beter ruik nie.  “Ek was op pad werk toe, toe ek die sirene gehoor het en toe vinnig skuiling kom soek, en jy?” vra sy en dan: “jy is ‘n droster!” roep sy geskok uit toe haar hande in die donkerte oor sy uniform tas.

“Ag hemeltjie – ek weet, ek weet” kerm hy, “ek is so bang…” en sy voel hoe sy jong liggaam in ‘n benige bondel vou en hy heen en weer begin wieg.

“Ek het verskriklike goed gesien…dinge wat geen mens durf sien nie…” sy stem word deur die duisternis ingesluk.

Hy voel haar arm om sy skouers.  “Ek weet” antwoord sy en wieg saam met hom.

“My hele eenheid was voor my oë verkool.  Ek is die enigste oorlewende” hyg sy stem.

“My hele familie is onder die puin begrawe.  Ek is die enigste oorlewende” paai haar stem.

“As ek net die gille uit my kop kan kry…” en sy skouers begin om te ruk.

“My familie het nie gegil nie” troos sy en soen hom op sy ongeskeerde wang.

Die aardskokke bereik hulle voordat hulle die eerste dreunings van die massiewe blokbreker-bomme in die verte hoor.

Sy streel nou oor sy hele lyf wat van angs ineengekrimp is.

Hy gryp haar soos ‘n drenkeling vas en dit is asof hy hom in haar tenger figuur wil versteek.

Haar hande trek aan sy jas totdat sy hom daaruit bevry.

Haar hande beweeg oor sy hoekige skouers en sy knobbelrige rug.  Die oorverdowende dreuning en skuddings oorweldig alles.  Stof sif om hulle neer.

Hulle hande beweeg soos tentakels oor mekaar – strelend, vertroos, helend, hulpeloos.

Sy soen hom op sy wange, voorkop, ore en nek.

Hy soen haar op die mond soos ‘n sterwende wat die laaste modderige waterplassie in ‘n woestyn ontdek het.

Sy hande hou haar maer lyf vas.  Hy kan haar ribbes onder sy vingers voel.

“Ek was nog nooit met ‘n man nie” hyg sy sag, dringend.

“Ek was nog nooit met ‘n vrou nie” prewel hy gerusstelled.

Sy skeur haar bloes voor oop om haar slap borsies te ontbloot en dan lê sy agteroor op sy jas en maak haar skraal bene wyd oop – soos ‘n wit blom wat in die nag oopgaan om deur vlêrmuise bestuif te word.

Hy kniel tussen haar bene.  Sy gryp sy gordel en ruk dit oop en trek sy broek tot by sy knieë af.

Hy klem haar in sy arms vas en sy klem hom tussen haar bene vas terwyl haar hande oor sy kop vou en haar soene oor sy gesig plons asof hulle poog om mekaar teen die skuddende gebou rondom hulle te beskerm.  Hulle verenig soos wat die laaste stukkie sonlig desperaat binne hul weefsel vir oorlewing veg.

Vertel my dat jy lief is vir my” smeek haar mond in sy oor, haar nat wang teen syne.

Sy kreet: “ek is lief vir jou” word verswelg deur die slag.

‘n Versengende wit flits brand alles skoon.

 

* Foto: Dante se hel deur Heronimus Bosch (15de eeu)

Volg Kombiekiehier op sosiale media:

7 thoughts on “Valentynsdag 1945

  • Avatar
    Nov 26, 2018 at 12:14 pm
    Permalink

    Briljant.
    ‘n Stukkie donker waaroor meeste van ons net nagmerries het….

    Reply
  • Avatar
    Nov 21, 2018 at 10:20 pm
    Permalink

    Dit is beslis. En ek ag dit nie eers eroties nie. Maar dit is beslis goeie skryfwerk.

    Reply
  • Avatar
    Nov 21, 2018 at 10:02 pm
    Permalink

    Ja nee Annelise, kan twee mense so ongelukkig wees, maar dis die nare monster wat hulle n oorlog noem. Uther weereens meesterlik ou maatjie.

    Reply
  • Avatar
    Nov 21, 2018 at 10:01 pm
    Permalink

    Wow…Uther Pendragon….jy het ‘n gawe sonder gelyke

    Reply
  • Avatar
    Nov 21, 2018 at 2:40 pm
    Permalink

    Hierdie is die hartseerste storie wat ons nog ooit op Kombiekiehier gehad het 🙁

    Reply
    • Avatar
      Nov 21, 2018 at 10:03 pm
      Permalink

      Ek stem saam Annelise, en skokkend goed geskryf

      Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)