Ons doen liefde verkeerd.

Ek wil ’n klag voor die deur van ons samelewing lê. Die klag is moord. Die slagoffer is liefde.

Die sondes van die vaders is besig om ons in te haal en ek glo dis ons kerkvaders, landsvaders, biologiese vaders en voorvaders (en -moeders) se skuld. Hierdie aanklagte gaan oor iets op die oog af so klein en nietig soos liefde en waarheid, in teenstelling met belangrike dinge soos politiek, die ekonomie en rugby.

Ek glo dat die mens nie meer ’n benul het wat liefde beteken nie. Liefde is net nog ’n deug wat verval het onder magsug en hebsug, maar dit kan dalk die belangrikste een wees.

Ons almal weet van liefde en ons begeer om liefgehê te word. Ons glo God is liefde. Ons leer van liefde vandat ons gebore is. Ken almal van ons nie 1 Kor. 13 uit ons koppe nie? Baie mense kan die gedeeltes oor die huwelik en liefde uit Die Profeet van Kahlil Gibran aanhaal. Ons dink ons weet hoe om liefde te leef.

Maar dis nie wat ons toepas nie. In ons samelewing is die liefde jaloers, dis om die ander persoon te besit, dis eksklusief, voorwaardelik, dit bepaal jou rol, dit beperk jou, dit maak van ons gevangenes.
Een van die eerste dinge wat mense sê as ’n bewys van hulle liefde vir hulle huweliksmaat of metgesel, is dat hulle jaloers is. Hulle dink ware liefde is jaloers, want God is mos ook ’n jaloerse God. Ons eis ons bemindes op, hart, verstand en siel.

Ons glo ons mag en kan net een persoon liefhê. As ons iemand anders ook lief kry, dan sal dit die liefde vir die eerste persoon minder maak. Ons gee voorwaardelike liefde, want dit kan maklik verdwyn of ’n knou kry as die geliefde nie dieselfde glo en leef as jy nie.

Sodra ons vir iemand begin omgee, begin ons die rolle speel wat van ons in ’n verhouding verwag word. Ons speel die rol van goeie vrou of man en wat dit behels. Ons leef die storie van liefde soos ons geleer is dit moet plaasvind. Maar hierdie vorm van liefde beperk ons menseverhoudinge. As iemand ons liefkry, is kontak met die teenoorgestelde geslag dadelik verbode. Ons mag nie meer vriende hê wat nie albei die lewensmaats se vriende is nie. Die rede? Dis gevaarlik, want jy dobbel met jou huwelik. Ons moet kontak met ander vrees, want behoede ons as ons dalk vir nog iemand in ons lewens lief word. Ons baseer liefde op vrees. Liefde word vrees.

Ek kyk na die wêreld om my en dink nie hierdie liefde werk nie. Ek sien dat elke tweede huwelik in die skeihof eindig. Ek sien mense wat affairs het, mans en vrouens, elke liewe dag van my lewe. Ek weet van paartjies wat “swing” en oop huwelike het. Ek praat met vrouens en hoor dat hulle eensaam voel, ander kontak en aandag begeer – selfs ander liefdes. Ek gaan kuier op die Internet en leer dat daar mans ook is wat vasgevang in hulle verhoudings voel. Dis asof daar ’n ander realiteit is wat uitgeleef word agter die toe deure van die algemeen aanvaarde samelewing. Dis ’n ander manier van doen waar mense uitbreek uit die beperkende liefde wat gepropageer word deur Die Wat Weet. Dit beteken nie dat hulle nie lief is vir hulle maats nie. Dit beteken nie dat hulle nie gelukkig getroud is nie. Dit beteken net dat ons huidige bestel nie werk nie.

Nie so lank gelede nie was liefde en getrouheid tot die dood ons skei nie so moeilik soos vandag nie. Mense het nie so oud geword nie. Vrouens is dood tydens geboortes van kinders, mans het oorlog gaan hou, die mediese wetenskap was nie wat dit vandag is nie. Nou het dinge verander, maar ons glo nog steeds dat ons halwe eeue lank slegs die persoon moet aanhang wat ons met ons powere mensekennis liefgekry het toe ons twintig was.
Waarom beperk ons liefde? Het ons nie ’n kapasiteit om oneindig lief te hê nie? Ek het nie net een sak liefde en as dit op is, dan het ek nie oor om vir ander te gee nie. Liefde is nie reëls en kassies nie. As iemand dertig jaar getroud bly, dan moet dit nie wees omdat hulle met gewoontes en vrees dit aan die gang gehou het nie. Dit is nie so ‘n groot prestasie as daar nooit kontak was met iemand anders nie, as net die vrees dat iets kan gebeur, die twee aan mekaar laat kleef het nie. Liefde is nie moet nie. Liefde is vryheid.

Ek weet die groot faktor wat ek tot hiertoe uitgelaat het, is seks. En dis waar die probleem inkom. Die samelewing met sy goeie Christelike waardes, gebruik seks as die sleutel van die gevangenis. Vrouens sê altyd dis die een ding wat hulle nooit hulle mans sal vergewe nie. Hy kan haar afskeep as hy wil, haar ophou liefhê, ophou praat, solank hy haar net nie verneuk nie. Hoeveel huwelike was al op die rotse omdat iemand buite die huwelik seks gehad het? Daar was nog liefde in die huwelik en alles verder het gewerk, maar ons weet mos almal dis die een ding wat onvergeeflik is. Dis soos ’n sommetjie — seks buite die huwelik is gelyk aan egskeiding. Mens hoef nie eens daaroor na te dink nie.

Dit is hier waar oneerlikheid inkom. Daar is duisende wat seks buite die huwelik pleeg. Sommiges met die goedkeuring van hul maats. Ek weet selfs van predikante wat dit doen. Ek weet van vrouens wat met hulle mans se medewete ’n ander man ook liefhet. Daar is vrouens wat weet dat hulle mans rondslaap, maar solank hulle nie daarmee gekonfronteer word nie, verkies hulle om dit te ignoreer. Soms maak dit huwelike meer opwindend, soms maak dit die lewe meer opwindend. Almal weet dat hierdie dinge gebeur, maar steek dit weg. Almal bly in die kassies en hou so hierdie feëverhaal-idee van huwelike en liefde aan die gang. Terwyl dit nie meer werk nie! En dan verkies mense op die einde om eerder te skei as om binne hulle huwelike aan vryheid, eerlikheid en onvoorwaardelike liefde te werk.
Ek dink nie hierdie nuwe soort liefde is maklik om te doen nie. Dis moeilik om nie jaloers te wees nie, om nie te wil besit en eise te stel aan die geliefde nie. Maar die feit dat dit moeilik is, beteken nie dis verkeerd nie. Ons sal nuwe stories moet uitdink om ons kinders te vertel van hoe liefde werk. Op die oomblik werk dit glad nie. Mense wat reeds hierdie uitsonderlike liefdes leef, kan help om die kassies bietjie te skud. Ek sal graag wil hoor of daar iemand is wat dit regkry!

Volg Kombiekiehier op sosiale media:

3 thoughts on “Ons doen liefde verkeerd.

  • Sep 13, 2014 at 8:44 am
    Permalink

    Baie dankie vir hierdie leesstof , en dankie tog ek is nie so “weird” en op my planeet as wat ek gedink het nie. Ek het so jaar en half terug baie begin dink oor die begrip LIEFDE , ‘n begrip waarmee mense volgens my, oor die algemeen baie los en vas mee omgaan. Dit was ook in die tyd toe ek en my vrou deur ‘n rowwe tyd gegaan het , en veroorsaak is deur hierdie juiste anderse idees oor LIEFDE ,wat by my begin posvat het. Ek het regtig na alles , toe dinge beter begin raak het gedink daar is fout met my en dat ek myself sal moet forseer om hierdie vreemde begrippe oor LIEFDE en wat dit vir my inhou , af te maak as nonsens en dat dit net ek is wat so daaroor dink en dat hierdie lewe waarin ons lewe en die mens wat ons is nie voorsiening maak vir sulke vreemde opvattings oor die inhoud van LIEFDE nie.

    Interessant genoeg die Bybel se vir ons baie mooi hoe en wat LIEFDE is , maar het ek agtergekom dat die mens oor die algemeen , nie behoorlike en diepe insig oor wat die begrip eintlik van ons vereis en wat Christus daarmee aan ons probeer verduidelik het. Nee asb. ek wil nie hiermee preek nie , ek het ook juis die kerk (gereformeeerd) bedank omdat ek met alles nie meer kan saamstem nie. Dit sal ook baie moeilik wees vir die mense oor die algemeen om my begrippe oor LIEFDE met die inhoud van die Bybel te vereenselwig. Snaaks genoeg eers toe ek anders begin dink het , het ek vir die eerste keer begin verstaan wat die Bybel , van kindsbeen af ,binne ‘n bepalde geloofsoortuiging, aan my probeer onderrig het. Baie van hierdie anderse denke het dan nou juis as vertrek punt begin en gehandel oor die begrip LIEFDE.

    Om maar een van die baie fasette oor LIEFDE wat ek geformuleer het na aanleiding van werklike lewenservaringe en wat ek aan my seun verduidelik het toe hy volgens my oudgenoeg daarvoor was , 18jr. Ek het aan hom verduidelik wat my optrede sal wees indien my vrou (2de huwelik) my sou verneuk en hoe ek van haar sal verwag om op te tree, sou so ‘n gebeurtenis hom ooit moet vordoen. Ek het aan hom gese ek hoop sy kom vertel my daarvaan en dat sy aan my se dat dit iets is wat net gebeur het ,en dat dit nie nodig sal wees vir detail redes en verskonings nie. Dat sy hierdie dinge met my deel juis omdat sy my lief het en dat sy my steeds liefhet. Ek het aan hom verduidelik dat ek dit net so sal doen sou die rolle omgekeerd moet wees. Ek het verder verduidelik dat as so iets ooit moet gebeur en my vrou verstaan LIEFDE op dieselfde manier , ek haar absoluut sal opeet van waardeering en haar sommer net nog liewer sal he as sy dit uit liefde met my kan deel.

    Om lsg. stelling te rugsteen en die egtheid daarvan/daarin te bewys is gebasseer op drie beginls waarmee die die lewe my tot nou toe mee gelouter het nl. al is ons met mekaar getroud en ten spyte van ons LIEFDE vir mekaar is ek nie blind vir die swakheid van die mens wat juis ons menslikheid bevestig , ek beskou myself ook nie as die enigste persoon wat in al die behoeftes van my vrou 100% voorsien en voldoen nie en dat daar sekerlik ander mans rondloop wat dalk iets waarin ek nooit sal kan slaag of eers mee wil kompeteer wat vir haar besonders is en dat sy nie my besitting is waarin sy gedwonge en uit vrees my moet voorhou as haar alfa en omega nie en ook nie ‘n geval waarin sy haar so geslote moet hou dat sy haarself nooit toelaat om beinvloed te word deur ander mans wat op haar lewenspad ‘n positiewe inslag het op haar as persoon , en op die lange duur tot voordeel van ons eie huwelik sal strek.

    Die mooiste in hierdie benadering en wat ek die meeste waardering voor het is die erkenning wat daar hiermee deur die een party aan die ander gegee word, hiermee word eintlik gese ,omdat jy belangrik is in my lewe en ek jou vir niks in hierdie lewe sal wil prysgee of jou sal wil verloor omdat ek jou nie as belangrik geag het nie , daarom deel ek dit met jou.

    Ek is seker daar is mense wat dalk al so iets beleef het, en die behoefte gevoel het om te deel uit liefde maar wat dit juis nie gedoen het omdat die ander party nie die waarde van so ‘n handeling sal kan wardeer en die nodige insig daartoe het nie en om dit juis as ‘n liefdesbetuiging te ontvang as om daaroor kwaad te raalk. Ongelukkig is dit ‘n feit dat LIEFDE oor die algemeen in ons samelewing nie tot sy reg kom waarvoor dit bestem is om te wees nie en word voorkeur gegee aan ‘n onvergewingsgesindheid , haat ,verwyte , beskuldigings , onmin en jaloesie. Dit is asof die samelewing makliker hiermee saamleef en hul hierdeur laat lei as om uiting te gee aan LIEFDE en waardering te he vir die gevolge wat dit op ‘n mens se ingesteldheid het.

    Reply
  • Mar 4, 2014 at 2:40 pm
    Permalink

    Hallo Annelise. Het jy ooit Christopher Ryan en Cacilda Yetha se boek “Sex at Dawn” gelees? Absoluut briljant. Ek dink jy’s meer van ‘n pionier as wat jy dalk besef. Groete.

    Reply
    • Mar 4, 2014 at 3:34 pm
      Permalink

      Ek het! Jy is reg dis ‘n fantastiese boek. 🙂 Baie dankie vir die mooi woorde Douwe.

      Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)