Om te streef na die minste

Sit my terug in skubbe

Ek wil ʼn vis wees;
Laat my afstand doen van my gees;
o a o a-maak met my lippe.

Eers loop hy saam met die pikkewyne deur die sneeu – ʼn man met net ʼn swembroek aan in die koue. Dan swem hy tussen die ysblokke deur. Lewis Gordon Pugh is ʼn uitsonderlike man met uitsonderlike drome. Die advertensie eindig waar die verteller ons meedeel dat, “ He won’t mind what you call him as long as it’s not ordinary. Because ordinary won’t change the world.” En almal kry hoedervleis terwyl my maag begin pyn. Die die ironie skrei ten hemele. Want ons is dié essensieel ordinêre gemeenskap en dit is presies wat ons wil bly.

Ons leef in ʼn onbeskaafde, kleinlike, verstokte gemeenskap wat gebaseer is op die laagste gemene deler. Ek verwys nie nou na die misdadiger en die prostituut op die straathoek nie. Ek verwys na die Ons, die groep wat veral as ʼn ekonomiese eenheid besluit waarheen ons op pad is en waaroor ons droom.

En daardie drome is baie vaal, onoorspronklik en behoudend. Dit is eintlik nagmerries.

Ons basis is die minste wat die mens kan wees. Dit is ons heilige gemiddeld waarheen ons alles en almal dwing. Ons landswette en morele wette (soos deur geestelike leiers aan ons voorgehou) is opgestel sodat dit die laagste gemene deler in stap kan hou.

Filmbeperkings word ingestel om die swakste ouer se kind te beskerm, maar laat geen ruimte aan betrokke ouers wat hulle kinders ken en kan kommunikeer om self te besluit wat hulle sal kan hanteer of nie. Rookwette word op die ongeskikste roker gerig, terwyl dit vryheid ontneem van die gemiddelde roker wat nie-rokers nog altyd in ag geneem het. Dans is sonde omdat dit kan lei tot seks, lees is gevaarlik, want dit kan lei tot nuwe insigte, seksuele onderrig word gegrond op die losbandigste voorbeelde. Geestelike leiers verbied boeke en flieks omdat die onvolwasse gelowige dit nie sal verstaan nie en net dalk daardeur die pad byster sal raak. ʼn Paar “kenners” besluit vir die massas en die massas weet nie eens dat hulle nie weet nie. En gee eintlik ook nie om nie …

Uitsonderlike mense wat nie die trop volg nie, wat dalk net bietjie anders dink, of selfs net dínk, word meedoënloos deur die vaalgrys massas afgetrek.

Of het ek dit mis? Het ons die toppunt van geestelike groei en evolusie bereik sodat ons dit wat ons het, nou net in stand hoef te hou? Miskien is dit waar ek die pad byster geraak het. Moontlik is ons huidige samelewing die hoogste waartoe die mens in staat is. Om vrae te vra en verder te dink oor ons verlange, oor ons begeertes, oor idees, oor vryheid, oor verhoudings en oor God, mag dalk net ons huidige utopiese bestaan bedreig. Want ons móét dink dat die wêreld soos ons dit nou het wonderlik is, om dit so ten alle koste so in stand te wil hou. Dit is heel moontlik dat ek ‘n (naiewe) idealis was om te glo dat ons as ʼn spesie tot meer in staat is. Ek begin verstaan dat ons heel waarskynlik ons optimum bereik het.

So hoe lyk ons? Hoe lyk hierdie fantastiese spesie wat ons so beskerm? Ons dink ons weet, maar het nie ʼn benul nie. Is dit ʼn gemeenskap wat glo in monogame, liefdevolle huwelike en verhoudings? Nee, want meer as helfte van alle getroude mense het al ʼn buite-egtelike verhouding gehad. En elke ses dae word nog ʼn vrou deur haar geliefde vermoor. Maar ons hou die skyn voor en praat liewer nie oor die realiteit nie. Tagtig persent van ons is Christene wat veronderstel is om te glo aan naasteliefde, vergifnis, mededeelsaamheid en dies meer. Is dit regtig nodig om die skyn van hierdie stelling uit te spel? Mens moet net gaan kyk hoe ʼn volk se kerke lyk om sy spiritualiteit te kan meet. Ons kerke lyk soos winkelsentrums, kantoorblokke. Politici van alle kleure en geure gee om vir die kiesers. Ha! Die media gee om oor feite, persvryheid en inligting. Ha! Sportmanne is trots om vir hulle land te speel. Ha! Daar is kernwapens in Iran. Ha! Ons weet nie helfte van wat regtig agter die skerms van amper elke sfeer van die samelewing aangaan nie.

Ons het lankal nie meer beheer oor ons evolusie nie, maar ons hou daarvan om in die skyn te lewe. Meeste mense wil in elk geval nie die verantwoordelikheid van ʼn regte lewe terug hê nie. Hulle is tevrede met ʼn wêreld wat op die laagste gemene deler gebou word.

ʼn Ruk gelede was ek op pad na ʼn klein samekoms van mense wat daarvan hou om te dink oor dinge, te beproef, nuut te maak, te droom. In ʼn klein kafeetjie sou filosowe, skrywers, regsgeleerdes, dokters, sakemanne, dosente, teoloë en ander belangstellendes bymekaarkom oor ʼn glasie wyn. Om daar te kom, moes ons egter deur ʼn stad beweeg waar reën en kragonderbrekings die verkeer tot stilstand gebring het. En die laagste, gemeenste, selfsugtigste karakter van die mens uitgebring het. In die twee ure wat dit geneem het om drie kilometer te vorder, kon ons sien dat die mens eintlik nog nie eens gevorder het verby die mees basiese beginsels van ek-is-al-wat-saak-maak nie, wat nog te sê omgee oor hoër idees soos liefde, empatie en geduld of teorieë oor die Nihilisme?

Dié wat droom maak die Ons in elk geval net angstig, ongemaklik. Daarom weet meeste mense nie wie ons beeldhouers, kunstenaars, filosowe is nie. Wie lees boeke wat ʼn teenoorgestelde standpunt handhaaf as waarin hulle glo of luister na iemand met wie hulle nie saamstem nie? Is dit net te veel moeite?

Baie van ons grootste, sensitiefste, intelligentste mense stel nie meer belang om in hierdie gemeenskap vir iets beters te probeer streef nie. Dit is te seer, te uitputtend en absoluut sonder hoop. Ek dink nie meer die mens is in staat tot grootheid nie en beleef dat ander dieselfde begin glo.

Die grys wen op die einde. Die groot ondenkende, eiegeregtige massa het geloof, hoop en liefde vernietig.

Jou evolusie is nie welkom nie,
ontydig, ongemaklik
verwaand en bowenal snotty, ambisieus …

Wie wil nou ʼn mens wees?

(Uit: Vis geskryf deur Moord Greeff)

Volg Kombiekiehier op sosiale media:

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)