Dronk se top 5 Paaldansvideo’s
kombiekiehier deel vandag weer een van Dronk se skrywes. Want sexy. (Die video’s, nie Dronk nie 😉 ) Onthou om bietjie by Pressto te gaan inloer vir nog ander skryfsels oor musiek. Dis amper so ‘n cool site soos kombiekiehier 😉
Woorde: Dronk
Marlies en Liesl het `n girls’ night. Hulle gaan daai fliek kyk waarin Ryan Gosling sy hemp uittrek. Nou na `n bietjie smeek en mooipraat, stem Marlies in dat jy en Braam maar `n drankie mag gaan drink. Jy bel vir Braam, tune hom jy is lus vir jaag en poppies koekeloer, sommer by die Pienk Poedel, en hy moet sy gat roer want jy is al op jou 6de branna. Maar helaas – Liesl hoor die gesprek en besluit fok dit, Braam gaan nêrens heen nie. Sy is boonop nog moerig oor sy vinnige flirtasie met die juffrou by die oueraand. Sy kanselleer sommer die baba-oppasser ook en nou sit hy opgeskeep met die bedorwe Chanté-Marie.
Nou staan jy voor `n keuse: Jy gaan alleen uit en gaan koekeloer poppies, maar daai plek vra R100 entrance. En`n dubbel ruk jou R80. En die poppies raak moerig as jy hulle nie wil vat vir vir `n lapdance nie, dan noem hulle jou sommer `n poefter. Maar geen rede vir vrees nie – skakel aan jou Acer. Hier is vyf poppe wat óók paaldans, plus jy kan die volume afsit as jy nie van die song hou nie, jou eie branna drink en soveel keer “wys my jou muis” skree as wat jy wil. En die poppies gaan jou ook nie roofie en jou Skyline steel naby Fourways nie.
- Hunger TV – Turn Up The Night
Heidi Klum, nadat sy en manlief Seal (jip, die rob met die velprobleem) geskei het, het besluit dis tyd vir bietjie middeljarige hedonisme. Die video, gemaak vir Hunger magazine, is ge-direct deur die modefotograaf, Rankin. In die begin van die video lyk dit of sy met hortetende asemhaling liefde maak met `n kitaar in die reën. Sy rook, kry `n tattoo en dan klap die Duitse nooi daai paal soos `n pro. Dit pla soms bietjie dat sy soos `n stout tiener orals met die sigaret staan. Maar dis Heidi. Ons kan dit oorsien. Die song was nie goed ontvang deur kritici nie, maar dis eintlik glad nie sleg. Heidi het in 2006 ook `n single getiteld Wonderland ge-release, wat nommer 13 op die Duitse singles charts bereik het. Dit was egter `n kinderliedjie oor Kersfees. Ons verkies dié een. Nie sleg vir `n ma van vier nie. Glad nie sleg nie…
- The White Stripes – I Just Don’t Know What To Do With Myself
Dié tune is geskryf deur Burt Bacharach and Hal David en dis aanvanklik bekend gemaak deur Dusty Springfield in 1964. Die song is ook al gesing deur Isaac Hayes (1970), The Dells (1972) en Elvis Costello & The Attractions (1978). Dis egter Jack White van The White Stripes se weergawe, en video, wat ons aandag trek. Regie deur Sofia Coppola en featuring die nimlike Kate Moss. Die hele video bestaan uit Kate in haar swart lingerie – geen simple-cut scenes na White of sy band nie. `n Volle paaldans van 2:53 min. Kyk, Kate is nie almal se cup of tea nie, maar hierdie video is amper genoeg rede om die Pienk Poedel onder sy gat te skop.
- Aerosmith – Crazy (Uncensored Official Director’s Cut)
Ou rubberlippe, Steve Tyler, het darem al `n paar goed al reg gedoen. Een daarvan was sy doggie, Liv Tyler. Kyk, sy kan enige koulike Frikkie se temperatuur laat styg. Dink byvoorbeeld aan One Night at McCool’s waar sy vir Matt Dillon amper van sy kop af gemaak het. Hoe de moer so ’n monster van `n man so `n beeldskone nimf kan maak, gaan menige se verstand te bowe. Crazy was die laaste single van die baie suksesvolle 1993-album, Get a Grip. Die video feature Alicia Silverstone (`n tienersensaie van die 1990’s wie se sterretjie ook intussen verskiet het) in haar derde Aerosmith-video. Dit is ook `n jong Liv Tyler se eerste career appearance. Die snaakste daarvan is: Die director van die video het vir Liv in `n Pantene-advertensie gesien en haar toe die rol aangebied. Hy het GLAD NIE geweet sy is Steve se dogter nie! Die video is baie rolprentagtig, en dit wys vir Alicia en Liv wat skool bunk en wegry met `n Mustang convertible. Gedurende hul trip neem Liv deel aan `n amateur-paaldanskompetisie. En wen. Maak maar liefs die webblad toe as jy klaar is, anders dink vroutjie jy fok weer rond op daai Barely Legal sites.
- Gimme More – Britney Spears
Die eens “onskuldige” Britney het nou al `n lang pad gekom na haar irriterende poptreffer, Hit me one more time. Intussen het sy haar kop kaal geskeer, Madonna gevry op stage, sy getrou vir 55 uur, toesig oor haar kinders verloor en gereeld in rehap opgeëindig. En dis maar net om `n paar skandale te noem. In die video, beman `n donkerkop-Britney die paal. En sy doen glad nie sleg nie. Gedurende die shoot het iemand stills van haar geneem waar sy REGTIG topless dans. Dis ongelukkig nie in die video nie. Jy sal wel dalk die klank wil afsit om die papperige pop-tune stil te maak.
- Kylie Minogue – Wow (Video Official / First Version)
Wow is vanaf Kylie se 10de studio-album genaamd X. Die kritici het gemengde gevoelens gehad oor die single, en baie het dit vergelyk met Madonna se 1983-single, Holiday. Dis maar jou tipiese dans-tune, en die video wys vir Kylie waar sy saam met `n paar ander totters met futuristiese uitrustings baljaar. Teen die einde dans sy om `n fluorescentpaal (amper soos een van daai ligte wat in Oom Bakkies se garage was). Kyk hierdie een maar eerste, om op te warm vir die ander vier wat kom. Of laaste, afhangende van wat jy gedoen het terwyl jy die ander vier gekyk het. Ha!