Die simboliek van die Rooi Windmeul

3+
Hoe lank gaan ek lees: 5 minute

deur Uther Pendragon

In die storie, Die Rooi Windmeul, vorm vroulike karakters die hooffokus. Ek beeld die vrouens so menslik moontlik uit sodat lesers deernis met hulle kry.  Ek verwys na hul hangtieties, die yl haartjies, hul oudword, die vrouens wat gestroop van hulle waardigheid is wanner hulle kaalboude in die ry staan sodat die dokter hulle intiem moet ondersoek terwyl hulle oor dieselfde goed praat waaroor vrouens in ‘n tou in die poskantoor sou gesels – ouers, kinders, minnaars, teleurstellings, drome – dit wat gewone mense allerdaags oor sou praat.  Ek probeer daarmee wys dat enige vrou wat die storie lees, onder dieselfde omstandighede as wat met die karakters in die storie gebeur, ook haarself in daardie posisie kon vind.

Die mans is meestal ongevoelige monsters – buiten Van Gogh.  Die gesprek tussen die kroegmeisie, Van Gogh en Lautrec wat die sentrale deel van die storie uitmaak vorm die kern van die storie.  Die kroegmeisie is die aanklaer, Lautrec wat hom in die vrouens se swakhede verkneukel en hulle dieper in die hel wil aftrek versinnebeeld die duiwel en Van Gogh wat meer as enigiets almal liefhet (daardie ding wat hy op die einde sê, het hy regtig gesê) is ‘n Jesus figuur wat die menslikheid en weerloosheid van die vrouens raaksien.  Ten spyte van hulle menslikheid en swakhede, en selfs die aanklaer se wreedheid, vergewe hy hulle.  Lautrec se sinisme is magteloos teenoor Van Gogh se groot genade.

Die dehumanisasie van die vrouens word uitgebeeld deurdat die naamlose vrouens in die sekstonele slegs d.m.v. hul haarkleur aan die leser bekend gestel word – soos ons oor die algemeen na daai blondine of brunet sal verwys  Die dehumanisasie van die vrouens word in die drie tonele al hoe erger en meer geweldadig terwyl hulle stapsgewys teenoorgestelde (inversie) mooier word.  Ek probeer daarmee wys hoe pervers die samelewing se waardestelsel is wat daartoe lei dat vrouens basiese verbruiksartikels word en skoonheid ‘n verkoopbare bate is – uiteindelik word die mooiste vrou deur haar bordeel vir haar dienste verkoop en ontvang sy nie eens die geld self nie.

Daar is ook verskeie feedback loops en eggos wat ek ingebou het – soos die rooi windmeul en die vrou wat rooi geslaan word.  Die drank van die kroegmeisie/aanklaer wat sy nie drink nie en die drank van La Goulue wat sy drink – die een wat nie dans nie teenoor die een wat dans.  Die kroegmeisie is wanhopig oor haar toekoms en is jaloers op La Goulue wat ‘n ironiese teenoorgestelde uitmaak want uiteindelik is die kroegmeisie die gelukkige een omdat haar drome nie bewaarheid word nie terwyl La Goulue, die ster van die Moulin Rouge, as die wanhopige een opeindig*.  Die belangrikste feedback loop is die dogtertjie en haar ma.  Die ma word ‘n prostituut om vir haar en haar dogtertjie te sorg.  Uiteindelik sal die dogtertjie ‘n prostituut word om vir haar en haar ma te sorg en die sirkel is voltooi en sal homself oor en oor herhaal.

Die storie is uiteindelik sosiale kommentaar oor hoe mense mekaar beleef en hoe, in baie (meeste) gevalle mense tot gebruiksartikels deur ander gereduseer word.  Weinig mense stel in die emosies of die welsyn van ander mense belang.  Jy is of ‘n danser, of ‘n kroegmeisie, of ‘n skilder, of ‘n hoer maar nooit ‘n hele mens nie.  Daar word in die besigheidswêreld na mense as human capital verwys.  Henry Ford het een keer gesê: “Why is it that when I hire a pair of hands, there is always a human attached to it?” Die enigste rede vir ‘n persoon se bestaan is die funksionele waarde wat ‘n ander uit jou kan put en as hulle klaar met jou is, kan jy net sowel verdwyn of nie bestaan nie.  Soms is ‘n beursie met ‘n doos getroud en maak 2½ monde groot en het ‘n vreet- en drolmasjien in die tuin wat blaf vir die raasbekke langsaan.  As ons empatie met almal moes hê, en almal as mense moes sien, sal die oorweldigende emosionele las van die mensdom se lyding ‘n mens se hart breek.  Treurigheid sal vir altyd duur – onvermydelik.

 

* Louise Weber – ook bekend as La Goulue (“die Vraat”)

In 1895, het La Goulue genoeg geld gespaar om haar eie teater te begin – die “Théâtre de la Goulue” en het die Moulin Rouge verlaat.  By hierdie teater, wat deel van ‘n rondreisende pretpark was, het sy buikdans-vertonings aangebied want sy het te vet geword om met die fisies veeleisende can-can aan te gaan.  Die teater was nie suksesvol nie en sy moes dit uiteindelik sluit.  Sy het toe ‘n winkeltjie, met muurpanele wat deur Toulouse Lautrec vir haar geskilder is,  by ‘n pretpark in Parys geopen.  Ongelukkig het niemand, na sy weg is van die Moulin Rouge, in haar belanggestel nie.  Depressie en haar alkoholisme het hul tol geëis en binne ‘n paar jaar het sy niks van haar spaargeldjies oorgehad nie.  Sy was te oud en vet om na die dansvloer terug te gaan en sy het toe vir ‘n ruk as ‘n assistent by ‘n bordeel gewerk.  Uiteindelik sterf sy in 1929 op die ouderdom van 62 waar sy, haas onherkenbaar, probeer om vuurhoutjies te verkoop buite op die sypaadjie oorkant die Moulin Rouge.

Henri de Toulouse Lautrec, een van die bekendste Post-Impressionistiese skilders, het aan ‘n skaars genetiese afwyking gely, wat veroorsaak het dat sy bene so kort soos dié van ‘n kind s’n gebly het terwyl sy bolyf soos dié van ‘n normale man ontwikkel het.  Toulouse Lautrec se afwyking het hom erg geraak en hy het sy verbittering daaroor met uitdagende hedonisme hanteer.  Hy het ‘n sterk ooreenkoms tussen sy eie morele wanhoop en dié van die prositute gesien en soveel as moontlik van sy tyd saam met hulle deurgebring.  Prositute is die modelle van talle van sy skilderye en hulle het hom as een van hulle sosiaal-verworpe groep aanvaar.  Hy het egter swaar gedrink en sy gesondheid het vinnig agteruitgegaan en in 1901, in die ouderdom van 36, sterf hy weens komplikasies veroorsaak deur alkoholisme en sifilis.

Vincent van Gogh, die bekenste Ekspressionistiese en Fauvistiese skilder ooit, het slegs een skildery in sy lewe verkoop – en dit aan sy jonger broer Theo wat hom in elk geval onderhou het.  Van Gogh het eers teologie studeer, om soos sy pa ‘n predikant te word, maar het opgeskop.  Hy was ‘n baie empatiese en introspektiewe mens en die lyding van mense het hom diep aangegryp.  Hy het op ‘n tyd al sy meubels, klere en kos vir armlastige mense weggegee.  Sy broer het hom sterwend van die honger op die vloer van sy kamertjie gevind en Vincent daarna na sy huis geneem en vir die res van sy lewe onderhou.  Van Gogh het al sy kunswerke – in totaal 900 skilderye en 1100 sketse – in een dekade geproduseer.  Op 27 Julie 1890, op die ouderdom van 37 jaar, het hy homself in die borskas geskiet. Sy  laaste woorde aan sy broer was: “La tristesse durera toujours”.  Theo kon nie oor sy broer se dood kom nie en sterf net ses maande later.  Hul grafte lê langs mekaar in die Auvers-sur-Oise begrafplaas.

3+

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)