
Die Affêre (finaal)
deur Ramkat Erasmus
Ek en Natassja het ons eerste groot baklei. Tot dusver was ons tyd saam te kosbaar en te min om dit te mors met onbenullighede. Maar die keer is dit ernstig.
Ons het dit weer reggekry om vir ‘n naweek weg te glip na ‘n plekkie in die berge. Haar man is oorsee vir sake, haar kinders by Oupa en Ouma. My gesin kuier by familie en ek sal by hulle aansluit na die naweek, want ek het hulle vertel ons het ‘n funksie aan.
Die plekkie in die berge behoort aan ‘n miljoener wildboer en na ek en Fanie eenkeer daar gejag en daarna gekook het, het hy ons carte blanche op sy plekkie gegee. “Bel net en laat weet jy kom” het hy gulhartig gesê en vir my die selnommer van die plaasbestuurder gegee.
Dis ‘n kliphuis met ‘n grasdak, ‘n lekker groot stoep en ‘n uitsig oor die Waterberge wat jou trane in jou oë gee. Ons parkeer onder die afdak, ek dra ons tasse in, sit die koelboks in die kombuis en gaan buitentoe waar Natasha die uitsig staan en bewonder. Ek bied wyn aan en sy knik. Ons sit gemoedelik langs mekaar op die rusbank en kyk na ‘n trop koedoes wat rustig onder ons verby beweeg. Na ‘n ruk staan sy op en bied aan om vannaand vir ons te kook. Ek stem in, vra of sy hulp nodig het, maar sy sê sy al regkom.
Ek vat die verkyker en hou ‘n paar aasvoëls dop wat hoog in die lug in wye sirkels sweef. Elke nou en dan vat ek ‘n suigie aan my wyn. Na ‘n ruk is dit te donker om eintlik enigiets te sien en gaan in. Sy het iets op die stoof en iets in die oond en dit ruik lekker. Ons gesels oor ditjies en datjies en as ek in die pot wil loer, looi sy my met ‘n houtlepel. Dit word ‘n spletjie en sommer gou-gou lê ons op die mat en vry vir ‘n vale. Ek begin haar klere uittrek, maar sy stoot my weg en sê dat die kos gaan brand.
Ek loop weer uit op die stoep, maar behalwe vir een of twee liggies in die verte, is dit stikdonker. Sy roep van binne af en ek gaan weer terug. Die tafel is met wynglase, borde en kerse gedek. Sy steek die kerse aan en vra my om die ligte af te sit. Ek doen so en gaan sit. Sy gaan slaapkamer toe en as sy terugkom het sy net ‘n voorskoot aan.
“En nou?” vra ek.
“Ek is die poeding” sê sy en gee my daai Mona Lisa glimlag.
Die kos is lekker. Ons wegspring dis is ‘n geurige sop met vis en bone. ‘n Soort van casoulet. Nie klassiek nie, maar lekker. Ek smul tot my bord leeg is. Dan staan sy op, en met die wegloop bewonder ek haar ferm kaal boude en haar bene. Sy kom terug met ‘n opskepbak en sit dit neer tussen ons. Sy tel die deksel op en die wonderlike aroma vul die vertrek. Dis ‘n beesbredie in rooiwyn en dit ruik heerlik. Sy skep in en ons val weg. Dis heerlik en ek geniet dit terdeë. Iemand wat vir ander mense kook om sy daaglikse brood te verdien, geniet dit om iemand anders se kos te eet. Ek skep nog so ‘n bietjie en dan is ek reg vir die poeding.
-0-
Ons lê gemaklik inmekaar gevleg op die reuse bed. Die seks was wild en kinky en ons het dit albei luid geniet. Sy draai haar kop na my toe.
“Jy van my kos gehou?”
Ek knik. “Wat noem jy daai bredie van jou?” vra ek.
“Beouf Bourguignonne” lag sy. “Dog jy sou weet …”
En plaas daarvan om my bek te hou moet meneer chef sy voet daarin sit. “Dit was baie lekker, maar die was nie ”Beouf Bourguignonne” nie.
Sy verstyf langs my. “Wat bedoel jy?”
Tweede rooi lig wat ek ignoreer …
“Die klassieke “Beouf a la Bourguignonne,” om dit sy korrekte naam te gee …” En ek begin my lesing …
Halfpad deur vlieg sy op en staan met deurmekaar hare en borste wat op en af beweeg aan die voetenent van die bed. Sy lig ‘n vinger en wys na my. Haar hand bewe, haar asem jaag en haar oë flits. Vir die eerste keer besef ek dat sy die moer in is. Sy begin praat, saggies maar siedend, en verduidelik vir my presies hoe arrogant ek is, hoe vol van myself en hoe chauvinisties.
Ek probeer elke keer as sy asemhaal ‘n woordjie in te kry, maar dis puur verniet. Uiteindelik is sy klaar en dan swaai sy om en stoom uit. Ek hoor die badkamerdeur toeklap en na ‘n ruk hoor ek die stort. Ek lê en dink aan my pa se woorde: “As jy dom is moet jy suffer, en as jy fokken dom is moet jy fokken baie suffer.”
Na ‘n ruk draai sy die water toe en dan gaan die deur oop. Sy loop kaal by die slaapkamerdeur verby en ek hoor hoe sy op die stoep gaan sit. Na ‘n ruk staan ek op en gaan agter haar aan. Ek sê niks, want ek weet dat ek dalk net weer daai kraantjie gaan oopdraai. Lank staan ek so en sê niks. Sy ignoreer my. Dan sug ek, draai om en gaan gooi wyn in. Ek hou vir haar die glas en vir ‘n oomblik dink ek sy gaan dit uit my hand uit klap, maar dan vat sy dit en sluk ‘n diep teug af. Ek gaan sit op die bank, maar ‘n veilige distansie van haar af. Lank sit ons so. Dan sluk sy die laaste van haar wyn af en staan op.
“Ek gaan slaap. Kom jy?”
Ek knik en loop agter haar aan. In die bed lê sy soos ‘n plank langs my. As ek aan haar vat, stoot sy my hand weg. Dan draai sy haar rug op my en na ‘n ruk raak sy aan die slaap.
-0-
As ek wakker word lê sy in die holte van my arm met haar arm oor my bors en haar been oor my been. Die res van die naweek praat ons oor alles behalwe die ete. Sy kook nie weer nie en ek maak seker dat ons darem elke keer iets het om te eet as ons mae begin grom. Maandagoggend vroeg pak ons op en ry terug Pretoria toe.
Vir twee weke sien ek haar nie en hoor ek ook nie van haar nie. Dan begin die skole weer en alles keer na normaal terug. Op die tweede Woensdag van die kwartaal is die mammas weer terug in die restaurant en sy is ook daar. Hulle lag en gesels en ek dra kos en drank aan. Dan oudergewoonte begin hulle een-een wegsmelt om kinders te gaan en te doen wat mammas doen. Natasha loop laaste en stop my ‘n briefie in die hand.
Ek maak oop.
Daar is ‘n hartjie en ‘n kort boodskappie.
‘Jammer ek was so nors. Ek het baie gedink en ek dink ons moet ophou. Vandag.’
Ek kry ‘n beklemming om my hart en wil skree om haar te keer, haar tot ander insigte te bring, maar die parkeerterrein sluk haar in. Na ‘n ruk ry sy by my verby en waai met ‘n klein handjie.
Ek volg haar tot by die uitgang. Die hoofuitgang is na regs waar daar verkeersligte is vir toegang tot die hoofstraat. Na links is ‘n nou paadjie wat deur afleweringsvoertuie gebruik word. Dit verleen ook toegang tot die hoofstraat, maar daar is geen verkeerslig nie.
Natasha draai links en dan regs in die hoofstraat in. Die volgelaaide taxi spring die rooi lig by die hoofingang, sien die kar voor hom en trap rem. Die taxi ploeg in Natassja se kar in en met ‘n geskree van metaal en rubber trek die wrakke nog ‘n goeie 15 meter pad af. Ek begin hardloop. Soos ek na die ongelukstoneel aankom, sien ek hoe bebloede mense uit die taxi uitstrompel. Ek stamp hulle uit die pad en hardloop na haar kar toe. Die slag van die ongeluk het haar voorruit laat uitspring. Haar kar is amper dubbeld gevou deur die geweld van die ongeluk. Ek probeer haar deur ooppluk, maar dis so ineengefrommel dat dit nie moontlik is nie. Ek spring op die enjinkap en reik na haar waar sy agter die stuurwiel deur die lugsak vasgepen is. Ek trek die lugsakmateriaal weg van haar af en kruip dieper in die wrak in. My asem jaag in my keel en snikke ruk deur my.
Ek forseer myself om te kalmeer en vat haar gesig in my hande vas. Haar oë fladder oop. Daar is ‘n effense fronsie op haar voorkop. Dan glimlag Mona Lisa vir my, en sy fluister my naam.
Dan is haar mond vol bloed en sy haal nie meer asem nie.
-0-
Die restaurant stuur blomme vir die begrafnis en na ‘n week of twee kry ons ‘n formele bedankingsbriefie van haar familie af. Ek lê snags wakker en verbeel my dat ek hoor hoe sy my naam sê …
Maande later besoek ek haar graf. Ek het ‘n bos blomme by my. As ek na die graf aangeloop kom sien ek dat daar reeds iemand is. Die man draai om. Toe ek hom laas saam met haar by die Rosebal gesien het was hy ‘n fors blonde man wat energie uitstraal. Nou is hy grys en maer. Hy kyk vraend na my en ek draai weg en sit die blomme op ‘n ander graf neer.
Ek staan vir ‘n rukkie en verlangs hoor ek hoe hy met haar ‘n gesprek voer.
Ek fluister haar naam en gaan huistoe.
1 COMMENT
Shit, ek huil nou. Na ek “Die Affêre” getrou gevolg het.
Alles kom tog altyd aan ‘n einde.
Dankie Ramkat, dit sal nog lank in my bly.
Wille Will