Brief van my Puer Aeternus

8+
Hoe lank gaan ek lees: 7 minute

* Redakteursnota: Ek het besluit om ‘n Erotikaans Literêr kategorie vir stories in te stel. Hierdie ene sal die eerste daarin wees en ek sal deur die ou stories gaan vir nog moontlikhede. Hierdie afdeling kan onder Sapioseksueel op die menu gekry word.

deur Sneeuwitjie

Jou brief lê onoopgemaak voor my op die lessenaar. Hoe weet ek dit is jy? Ek het vandag na al die jare besef dat ek nooit jou handskrif leer ken het nie. Ons liefdesversklarings aan mekaar was altyd lyflik of telegrammaties van aard. Hoe weet ek dan hierdie skrywe is aan my gerig, sonder dat my naam op die koevert staan? Is dit die feit dat die adres in die Engelse formaat geskryf is? Mens vry net beter in Engels as in Afrikaans, for some reason,
het jy altyd gesê, en dus is ons intiemste gesprekke deur die jare meestal in Engels gevoer. Hoekom is ek huiwerig om jou brief oop te maak? Sou daar dalk ‘n sweem van jou muskus-bedwelming aan die papier bly kleef het? Jou uniekheid wat ek vandag steeds geblinddoek sal kan uitken tussen die reuke van ‘n duisend ander mans. Gaan dit my onverhoeds betrap, die oomblik wat die briewemes teen presies die regte hoek die koevert oopskeur? Soos jou vlytige kunstenaarvingers se eiesoortige kromming in die sappige vrug van my lieste wat God weet my vandag nog onkant sal vang. Wat gaan jy my noem in die openingsreël? Wie is ek vir jou? Is ek dalk jou Jeug, jou Opwinding, jou Genot, of moontlik jou Gevaar? Jou Tuin van Eden? Gaan jy my op my naam noem? My naam wat jy soms, net soms, so sag kon prewel as jy in my kom. Wat staan in jou brief? Wat gaan jy vir my skryf, my Puer?

Gaan jy my vertel hoe jy verskroei in die verblindende lig van jou dae? Jy wat telkemale na ons liefdesdaad hygend en vlerkloos, ‘n brose Ikarus op my skoot neergestort het. Soos daardie keer toe ons hande mekaar weer vind, lomp en onbeholpe na jare se ontneming. Jy het jou saad soos gesmelte was in warm hale oor my gespuit, en ek het dit oor my lyf gesmeer, my hand aan die mat afgevee, en dit net so gelos. Daardie gevlekte mat laat my
steeds heimlik glimlag. Gaan jy my vra of ek nog jou letsels dra? Soos die brandmerke van sintetiese matte in ‘n sekere postmoderne gebou steeds in ligte littekens lê op my rug en knieë. Daar waar ek, met die maanlig en die straatlig deur die venster jou piel die eerste keer in my mond geneem het, saam met soet vonkelwyn wat jou eikel liggies prik. Onthou jy ons eerste winter? My boude op die ysige wasbak en teëls, die weerkaatsing van my
oopgesperde bene in die spieël agter my, en die kraan wat dieper in my rug inkneus met elke stoot, en ‘n orrel wat dreun in die aftergrond. Jy het by my gebieg dat die reuk van ou openbare badkamers uit die sewentigs jou jags maak. Die reuk van ou linoleum-teëls, en vaagweg die stank van pis en kots en kak en skerp ontsmettingsmiddel. Dit en die adrenaliensnelling van amper-uitgevang-word. Daar was meer as een insident in ‘n badkamer, onthou jy, my Puer. En vele insidente in gitswart aandrokke en aandpakke, wit gevlek met ons sondes. En al daardie badkamers ruik nog so, my Puer. Ek ontvlug soms daarheen as die versugting na jou lyf vir my te swaar raak. Veral na die een in ‘n sekere postmoderne gebou. Dan verbeel ek my my twee vingers diep in myself in opgedruk is die kurwature van jou litte, my Puer, en ek kom salig sag en vinnig terwyl tannies in hoë hakke tou staan vir die toilet.

Wil jy my vra of ek jou weer sal toelaat om al die holtes van my lyf te verken, my Puer? Ek sal my liggaam weer vir jou oopmaak. Ek sal weer my lyf met jou deel. Met jou en ook met jou onversadigbare nimf. My tong in haar mond druk en haar fyn laat kreun as ek haar regop tepeltjies knyp terwyl sy jou bloots ry en ek op jou gesig sit en jy my naai en ek kyk hoe julle naai en ek haar spleet lek en ons altwee ons vingers in haar indruk en jy jou vingers in ons twee indruk en sy my klit streel terwyl ek en sy jou piel beurtelings suig en ons al drie gelyktydig luidkeels kom. Gaan jy vra of ek, soos jy, ook beelde van ons drietal skimme daardie snikhete Oktober-middag oproep wanneer ek eiehandig my liggaam tot ekstase bring? Daardie middag met die reuk van ou houtvloere, jakarandas en rose en wellus. Dink jy steeds alle mense maak dieselfde geluide op die kruin van verrukking? En wonder jy of ek onthou hoe ons later teruggekeer het na haar huis vir ‘n skelm spyker (sy was met vakansie; sy het gedink dit is verby tussen ons) terwyl ‘n donderstorm buite woed. Ek kon my wese vir jou gee en my lyf vir haar. Maar jy was lugtig vir die inverse koppeling. Huiwerig om saam
met my liefde te maak met ‘n man. Onthou, ons is eenders, my Puer. Jy weet. Gaan jou brief my sê jy is reg om in ons eendersheid daardie deel van jou meesterstuk te voltooi? Ek wil, met ‘n ander man tussen my dye vasgeklem, die blou are op jou skede sien bult voor jy in my keel inglip.

Gaan jy vra of ek al besef het dat ons nog net een keer liefde gemaak het op ‘n bed? Daardie middag in jou huis – die een met die muf in die stort en die hondehare op die duvet – toe jy my bloeiend, smekend en sidderend laat kom het met die swart objek wat jy in my opgedruk het. Ek het hardop gelag van verligting, en jou met my rollende heupe die afgrond afgestuur. (Het jy dalk vir my ‘n druppel bloed op die wit papier gedrup, in tere erinnering?) Jy het my ‘n week later laat weet jy het die klein botteltjie ontdek wat ons in ons tuimelende gekheid van die bed afgenaai het. We just opened another can of worms, het jy gesê. Die res van ons liefdespel was op tafels, banke, marmerblaaie, matte, teen mure, in swembaddens, op komberse en matrasse op die vloer. Daardie vieslik-vuil matras daardie nag in Natal (gaan jy my vra of ek onthou?) daardie nag met my smaraggroen satyn-nagrokkie en jy klamgesweet teen my rug daardie nag met die kakkerlakke teen die muur wat laat spaander het toe die lig aangaan toe ons so speels en vol hormone so amper uitgevang is daardie nag. Ons op die matras op jou meenthuis se vloer waar ons jare later die dinge van die vlees wat ons by vele andere geleer het vir mekáár kon leer. Jy die Ares- kryger wat my onbeskaamd in rou detail vertel van die vele vroulike liggame wat jy verower het. Ek het jou hele lys se voorkeure geken. Daar was een wat meestal anale bevrediging gesoek het – jy het haar daarvan geleer, sy het jou later verveel. En die donker Rus met die stukkende sykouse wat mal was oor pielsuig. Die kat-hare aan haar klere het jou afgesit. Die lys was lank en jou eerlikheid brutaal. Met ons soveelste gulsige herontmoetings-vergryping moes ek jou volle swelling uit die rypheid van my vrugbare lyf uittrek oomblikke voor ons magiese neerdaling na die onderwêreld. Ek wou nie jou Hera wees nie. Jou Afrodite eerder. Jy het my, nog in euforiese spasma na ‘n derde orgasme, altyd bedagsaam gevra, want to give it another go? Vier die simbool van my behaaglike heelheid. Die skrif was toe reeds teen die muur.

Wonder jy hoekom die doodsklokke telkens moes lui oor ons samesyn? Net nadat ek my behendige vingers om jou voël gevleg het in die kombuis en jou warm en taai laat kom het in jou gehuurde aandpak. Ek het regtig ‘n fok gevoel vir hoe jy dit gaan skoonkry. My Puer, ek kom steeds nat en morsig. Veral by gedagte aan jou. Morsig nat, soos daardie een aand toe jy (ons was reeds voos genaai) my weer plattrek en my twee keer laat kom op die agtersitplek van jou City Golf met te min plek vir al ons lenige ledemate. Jy moes die volgende dag die sitplek skrop, het jy my vertel, en my klewerige sappe op die materiaal het jou so jags gemaak dat jy eers moes gaan draadtrek voordat jy die skoonmaakproses kon afhandel. Jy Dionusos wat my benewel het met ons onbevange uitruiling van liggaamsvloeistowwe. En keer op keer ook nugtere coniunctio. Jy wat oogkontak kon behou
terwyl jy my soos Astraea laat uitreis na die sterrekaarte van die gode, onbewus van tyd, gewig en ruimte. Jy wat na ons vlugte van ekstase wegsmelt in ‘n diep, donker slaap.

Wat bring jou brief vir my, my Puer? Offers van wierook en swart kerse? My skrywer met die donkerbril sê ek moet die briewemes in my hand neem. Die man wat sien sê ek moet lees. My donkerbril-skrywer wil hê ek moet skryf. Hy beweer ons het ongedane sake. Ek sal lees, my Puer. En ek sal skryf.

 

 

Redakteursnota 2: Hierdie “storie” is gebaseer op Etienne Leroux se 18-44. “18-44 is ’n boeiende spel met die getalle 18, die ouderdom van die kunsstudent wat begin om aan die knolskrywer briewe te skryf, en 44, die ouderdom van die knolskrywer wat homself as troosteloos middeljarig beskou. Dit is veral die getal 4 wat belangrik is en struktureel ontgin word omdat dit sinspeel op Jung se verwysing na die vier psigologiese funksies (sensasie, gevoel, denke en intuïsie) wat geïntegreer moet word in elke individu voordat hy of sy psigiese heelwording kan ervaar. Hierdie psigologiese funksie vind ook neerslag in verskillende persoonlikheidstipes wat in die geval van die knolskrywer op verskillende maniere verwesenlik word in die vier vroue in sy lewe: sy teringmaer tante wat hom ingelei het in die geheime van die lewe; sy dowe, mank, manies-depressiewe vrou met wie hy ’n steriele huwelikslewe beleef; die Rus met wie hy ’n verhouding het; en die onbekende mej X wat vir hom briewe skryf. Elkeen van die roman se hoofstukke sentreer rondom die een of ander bewerking van ’n bepaalde tema wat met die getal vier verband hou. Die einde van die roman bring ook ’n wending in die verhouding met elk van die vier vroue in die knol se lewe. Die uiteindelike klimaks van die roman is geleë in die feit dat mej X 19 en die knolskrywer 45 word en dat die jaar 1844, wat onbeduidend was in die wêreldgeskiedenis, vervang word met 1945, wat met die einde van die Tweede Wêreldoorlog die begin van ’n nuwe era in die wêreldgeskiedenis ingelui het. Leroux gebruik deurgaans in hierdie trilogie die Jungiaanse sielkunde as basisgegewe, maar slaag daarin om deur sy kreatiewe vermoë die beperkinge daarvan te ontstyg. Die roman is ’n liriese weergawe van ’n psigologiese proses wat hom in die loop van die roman uitspeel sonder dat daar noodwendig ’n afsluiting of oplossing kom.”

Hierdie inligting met erkenning aan Litnet. Jy kan die hele artikel HIER lees.

8+

25 thoughts on “Brief van my Puer Aeternus

  • Avatar
    Nov 7, 2019 at 9:32 am
    Permalink

    Wonderlike Afrikaans…so eroties as dit kan wees in Afrikaans

    Reply
  • Avatar
    Oct 26, 2019 at 7:38 pm
    Permalink

    Baie duidelik onse Sneeuwitjie speel nie meer met kabouters nie, ooo nee nou loop sy met die groot manne rond. Absoluut fantasties geskryf Sneeuwitjie. Ons sien graag uit na jou volgende storie.

    Reply
  • Avatar
    Oct 25, 2019 at 6:16 pm
    Permalink

    Sneeuwitjie, dis beslis ‘n aangrypende verhaal. Dis baie goed en prosaïes geskryf, met baie goeie woordkeuse. Ek dink ek het ook ‘n nuutskepping of wat gesien – die woord adrenaliensnelliing is een van hulle. (Ek het net adrenalienopwelling geken). Die storie is beslis opgeilend!

    Reply
  • Avatar
    Oct 25, 2019 at 1:05 pm
    Permalink

    Nou ja toe…. Ek kan nie meer se as wat meeste ander mense gese het nie, behalwe dat ek nederig buig voor jou kuns.
    Ek weet ek skryf goed. Baie mense het al vir my gese, maar hierdie is meesterwerk. Meesterlik.
    Baie dankie.
    Ek dink ek gaan nou vireers ophou skryf. Ek kry skaam vir my skryfsels.

    Reply
    • Avatar
      Oct 25, 2019 at 2:24 pm
      Permalink

      Ek weet wat jy bedoel Ramkat. Ek het ook so gevoel. Maar al die tipes stories is nodig en joune is moer gewild want dit is werklik baie goed. As jy ophou moet ek ook. So, don’t you dare. 😁

      Reply
    • Avatar
      Oct 25, 2019 at 3:04 pm
      Permalink

      Julle sal maak dat ek nooit weer ‘n storie instuur nie – bang ek stel teleur!
      Die volgendes gaan almal heelwat meer hoofstroom wees.
      Ramkat, as jy ophou skryf gee ek jou ‘n hengse pak slae (en nie op die goeie manier nie).

      Reply
      • Avatar
        Oct 25, 2019 at 3:12 pm
        Permalink

        😂😂😂

        Reply
      • Avatar
        Oct 25, 2019 at 4:16 pm
        Permalink

        Ek is weer oorval met ‘n drang om te verhoed daar daardie gene van jou vir die nageslag verlore sal gaan 🙂

        Reply
        • Avatar
          Oct 25, 2019 at 4:40 pm
          Permalink

          Uther, ek is diep onseker of die wêreld gereed is vir ‘n produk van ons twee se liefde… Maar niks keer ons om te oefen nie. 😉

          Reply
      • Avatar
        Oct 26, 2019 at 6:46 am
        Permalink

        Ek werk al klaar weer aan die volgende een… Sal nie wil he jy moet my pak slae gee nie.

        Reply
        • Avatar
          Oct 30, 2019 at 1:15 pm
          Permalink

          Klap klap klap klap. Dis al. Om iets te probeer sê, gaan nie werk nie…

          Reply
  • Avatar
    Oct 25, 2019 at 8:29 am
    Permalink

    Met my beste platvloers Afrikaans gaan ek probeer om te sê wat ek ervaar.

    Bliksem hierdie is niè net ‘n storie in Afrikaans nie, hierdie is ‘n kunswerk uit die hart van ‘n kunstenaar-siel wat ek net wil sir en bewonder en geniet.

    Terwyl ek hierdie vir die soveelste keer lees kom woorde, prentjies, herinnering, misteurie, suiwer passie en sit in my siel. Dankie dat jy dit met ons deel.

    Reply
    • Avatar
      Oct 25, 2019 at 9:16 am
      Permalink

      Ek waardeer jou mooi woorde. Dankie, Bok.

      Reply
  • Avatar
    Oct 24, 2019 at 2:40 pm
    Permalink

    Ek sluit aan by Petrus…

    FOKKIT!

    Reply
    • Avatar
      Oct 25, 2019 at 10:00 am
      Permalink

      Annie ek leef al jare in afwagting op jou om by my aan te sluit…

      Reply
      • Avatar
        Oct 25, 2019 at 11:53 am
        Permalink

        Daar het ek nou matchmaker gespeel!

        Reply
  • Avatar
    Oct 24, 2019 at 11:02 am
    Permalink

    Ons (of ten minste ek) verdien nie sulke meesterstukke nie.

    Op my beste Afrikaans kan ek net sê: “Fokkit!”

    Reply
  • Avatar
    Oct 23, 2019 at 8:55 pm
    Permalink

    Hierdie skryfwerk is pure goud.
    Soos Uther is ek nederig in erkenning.
    So Jags-makend soos ek lanklaas gelees het…
    Dankie Sneeuwitjie, dankie Annelise.

    Reply
    • Avatar
      Oct 24, 2019 at 8:52 am
      Permalink

      Net een groot plesier, Will. 😉
      Dankie vir die kompliment!

      Reply
  • Avatar
    Oct 23, 2019 at 8:33 pm
    Permalink

    Hierdie storie het my nederig (as skrywer) en jags gelaat. Ongelooflik goed en baie eroties en mooi – op die manier wat ek mooi verstaan.

    Reply
    • Avatar
      Oct 24, 2019 at 8:51 am
      Permalink

      Aaaaahhh, Uther! Ek het regtig gehoop jy sal my storie raaksien. En om nog sulke mooi kommentaar van jou te kry – my dag is gemaak!

      Reply
  • Avatar
    Oct 23, 2019 at 3:15 pm
    Permalink

    Hierdie is een van die sexyste skrysels ooit.

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)