Houding

deur Ramkat Erasmus

Kyk, laat ons nou nie doekies omdraai nie. Oudword is soos Afrika. Dis nie vir sissies nie. Maar dis ok nie iets wat jy kan keer nie. Op ‘n dag kyk jy in die spiëel en skielik lyk jy vir jouself soos jou pa. Hare begin uit jou neus en ore groei en jou wenkbroue kry ‘n lewe van hulle eie. Jou knieë wil nie meer saamspeel nie en die klein soldaatjie is redelik futloos. Maar dis nie die einde van die wêreld nie …

Houding is die antwoord.

Toe ek in die weermag was, baie jare gelede, is ons gereeld uigetrap oor ons swak houding. “Swak” is nie die woord wat hulle gebruik het nie, maar dit het darem gerym.

Houding het te doen met die manier wat jy jouself dra. Hoe netjies jou klere is, hoe jou hare en tande lyk. Is jou skoene blink? Kyk jy mense in die oë? Hoe ferm is jou handdruk?

En hoe ouer jy word, hoe belangriker raak “houding”.

Want kyk, meeste mooi bokkies voel vere vir ‘n toppie. Hulle sien net die grys hare en die rimpels. Maar trek ‘n ordentlike driestuk pak aan, poleer jou skoene tot sy haar gesig daarin kan sien, behandel haar soos ‘n dame met grasie en goeie maniere en dalk, net dalk, gaan jy haar kan ompraat om die katel saam met jou te betree. En as jy eers daar is, staan dit jou vry om haar soos ‘n hoer te behandel. Maar vat jou tyd, want “you’ve only got one shot!”  Tensy jy desperaat genoeg is om jou op die klein blou pilletjies te beroep…

Ja, nee… houding sal jou ver bring. ‘n Duur kar en vet kredietkaarte staan ook nie agter in die tou nie…

Maar ek hoor nog ‘n steeds ‘n paar van die jongetjies brom ‘n bietjie dat hulle nie lekker verstaan nie.

Kom ek vertel julle ‘n storie dan sal julle dalk beter verstaan wat “houding” beteken.

Laas week loop ek vroeg by die kantoor, groet al die sekretaresses (nie een van hulle was al in die katel saam met my nie – dis net af) en klim in die duur Duitse sportmotor wat soos ‘n spiëel blink. Ek ry by die garage uit en vat koers na my gunsteling drankwinkel toe. (Houding beteken ook dat jy nie Coke in jou brannewyn gooi nie. Jy drink net goeie rooi wyn en enkelmout whisky.)

Ek pak my trollie half-vol en betaal. Die jong man sit alles vir my in ‘n kartondoos en dra dit kar toe. Ek beduie hy moet dit sommer op die passasiersitplek sit. Ek trek my ligroos das reg, maak seker my onderbaadjie sit reg en klim in.

Die alarmpie waarsku my dat ek brandstof nodig het en ek trek by die eerste-beste garage in. Die pompjoggie kyk my snaaks aan as ek die afslaandak oopmaak en hom in Zulu vra om die tenk vol te maak. Hy ruik ‘n groot fooitjie en spring aan die werk. (Houding)

Dan kom staan hy langs my en verduidelik dat daar ‘n spyker in die linkeragterband is. Hy sê hy kan die spyker uithaal en ‘n prop insit sonder om die band af te haal. Ek wik en weeg en sê dan hy moet voortgaan.

Terwyl hy en sy kollega aan die band werskaf trek ‘n Suzuki jeepie langs my in. Ek sien net ‘n bos blonde hare en ‘n groot donkerbril. Ek vat aan my dasknoop en maak seker hy sit reg. Dan klim poplap uit haar jeepie uit.

Sy’t goue sandale aan haar mooi voete en het rooi toonnaels. Haar hande se naels is dieselfde rooi. Haar bene is bruingebrand en sy het die styfste, kortste, rooi broeke aan wat ek in ‘n lang tyd aan ‘n vrou gesien het. Haar magie is kaal en sy’t een of ander goue ornament in haar naeltjie. Haar wit boob-tube toppie is ook maar aan die skarps kant en sy het duidelik nie iets aan om die volronde borste te beteuel nie.

Ek kyk haar in die oë en glimlag lui. (Houding) Sy huiwer ‘n oomblik en glimlag dan terug. Sy gee vir die pompjoggie instruksies en sluip dan nader. (Ja, ek weet sy sluip nie regtig nie, want hou haar die heeltyd dop! Maar haar naderstap is soos ‘n groot kat wat iets bekruip.) Sy kom staan langs my en ek ruik haar parfuum.

Sy steek ‘n slanke hand uit en stel haarself voor. “Alicia,” sê sy in ‘n kontralto stem.

Ek vat haar hand versigtig en sê ek is Ramkat. Een elegante wenkbrou klim hemelwaarts en dan sê sy: “Ek sal graag die storie agter daai storie wil hoor.” Ek glimlag net effentjies terug, maar sê niks.

Dan gly haar oë oor die kartondoos met drank op my passasiersitplek. Ek kan amper hoor hoe sy in haar kop die name aftel. “Glenfiddch, Courvoiseur, Dom Perignon …”

Sy maak keelskoon en sê baie saggies, sodat net ek kan hoor: “Ek hou van ruilhandel.”

Nou is dit my wenkbrou se beurt op lugwaarts te neig.

“Ruilhandel?”

“Inderdaad,” sê sy.

“Nou wat sou jy wou ruil?”

Sy haal haar donkerbril af en kyk my diep in die oë met haar pragtige diep-groen kykers.

“Seks, vir drank,” fluister sy.

Ek wag ‘n rukkie voor ek haar antwoord.

Dan sê ek …

“Watse drank het jy?”

-0-

Houding.

Volg Kombiekiehier op sosiale media:

4 thoughts on “Houding

  • August 24, 2017 at 2:32 pm
    Permalink

    Dankie manne! Waardeer die komplimente

    Reply
  • August 22, 2017 at 6:21 pm
    Permalink

    Jys vreeslik reg Ramkat. n Goeie netjies houding maak baie deure oop – wa wyd oop.

    Reply
  • August 22, 2017 at 4:23 pm
    Permalink

    Love dit! Ek weet nie of ek nog daardie houding het nie, maar ek love dit.

    Reply
  • August 22, 2017 at 12:12 pm
    Permalink

    Hahahaha…Briljant, Ramkat !

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)