Testosteroon het wêreld vergiftig (kommentaar op Oscar)
(‘n aanvegbare mening?)
Die volgende SMS’e het in’n koerantbylaag verskyn:
“In assosiasie met die bose gebruik die vrou steeds die verbode vrug om die man tot val voor God te bring: haar geslagsorgaan. Dié vrug mag net deur iemand geëet word wat deur God aangewys word. Daarom die doodstraf, vigs, wat vinnig die onsedelikes inhaal en afmaai. God leef!”
En: “Insig leer jou dat daar ’n besliste verband tussen die swartmamba en die vrou in haar gewaagde swart nommertjie is: albei is dodelik gevaarlik. Dit is ook ’n bewys dat sy van die vroegste tye reeds deur die bose gemanipuleer word. Dié soort is dikwels te kortsigtig en dwaas om te besef dat God regtig bestaan en dat dit verkeerd is om haar verbode vrug deur enigeen te laat eet!”
In ’n woongebied van Umlazi het ’n groep mans besluit dat vroue nie langbroeke mag dra nie. Hulle trek die langbroek af van die vrou wat “oortree”, rand haar aan en laat haar halfnaak deur die strate paradeer.
Slaan dit terug op heksevervolging?
In dieselfde bylaag het ’n paar briewe en artikels oor Vrouedag verskyn (dit was so paar jaar gelede), maar die hoofnuus bly mans se benarde posisie in die nuwe bestel of hul mening oor die ou bestel.
Rasseverhoudings nou en in die verlede is daagliks in die nuus. Nie ’n enkele mens het kommentaar gelewer oor die bogenoemde voorvalle nie.
Sou daar ’n reaksie op die SMS’e gewees het as dit oor swartes was en nie oor vroue nie? Sou iemand dit dan haatspraak genoem het en by die een of ander instansie gekla het? Is vrouehaat nou al so algemeen dat niemand dit meer oplet nie? Waarom is die ergste vloekwoorde ’n ander naam vir vagina?
– O –
EK is mal oor mans. Regte volbloedmans. Die meeste van ons vroue hou vreeslik baie van dié spesie. Maar die gevoel is beslis nie wedersyds nie. Ek dink nie mans hou baie van vroue nie. Soms dink ek die stille meerderheid stem met die SMS-skrywer(s) saam.
Want waar is die mans? Waarom tree hulle nooit in die openbaar vir vroue in die bres nie? By ’n reeksverkragter se verhoor is dit vroue wat betoog. As ’n man sy vrou met ’n bofbalkolf doodslaan, is dit vroue wat smeek vir swaarder vonnisse. Dis vroue wat huil oor vyf jaar tronkstraf vir ’n man wat sy geliefde vermoor – die persoon wat hy juis moes beskerm het.
Is dit nie tyd dat mans begin om mans aan te vat nie? Vroue se smeekgebede help blykbaar niks nie. Of gee hulle nie om wat hul geslagsgenote doen nie? As ek ’n man was, sou ek my doodgeskaam het vir wat ons aan die wêreld en aan vroue en kinders doen. Ek sou ’n ander man wat hom aan sulke wandade skuldig maak met alles in my en openlik verwerp.
Ons samelewing is in ’n haglike toestand en dit is mans én vroue se skuld. Dis nie apartheid of politiek of die regering se skuld nie. Ons wêreld sterf weens testosteroon- vergiftiging – ’n toestand wat ontstaan het omdat daar nie balans is nie.
In die proses om die balans te herstel is mans verwar en vroue ontvrou. Een gevolg was die metroman. Hy weet van gesigroom en koolhidrate. Hy gee om vir diere en voel tuis in winkelsentrums. Hy gee nie om dat daar elke dag in hierdie land sewe vroue vermoor en elke tien minute ’n vrou verkrag word nie.
Nog ’n gevolg is dat vroue juis die eienskappe wat nodig is om die wêreld te red prysgegee het om op die korporatiewe leer te vorder. Vroue moes leer om in ’n manswêreld te funksioneer om bo uit te kom. Daarvoor moet hulle manlike eienskappe bo vroulike eienskappe stel. ’n Vrou huil nie in die werkplek nie, moenie afvat as haar kinders haar nodig het nie en moet altyd onthou die sterkste een wen.
As sy die toppunt bereik omdat sy op ’n manlike manier daarvoor geveg het, neem sy nie besluite gegrond op haar vroulike eienskappe soos intuïsie, meelewing, versorging en sensitiwiteit nie. Haar besluite word gegrond op die manlike manier van doen: pragmatisme, wedywering, beheer, oorwin.
Sal Hilary Clinton omgee dat vroue en kinders gaan ly as sy besluit om ’n ander land te laat inval? Ek dink nie so nie, want sy moes lankal haar sagtheid en omgee prysgee om in die harde, manlike stelsel te kan funksioneer.
Maar verbeel jou dat sy wel iets tipies vrou diep in haar vertroetel het en ’n gees van versoening, kommunikasie-bo-alles, wedersydse toegewings, mededeelsaamheid en liefde die Withuis inbring. Kan jy jou so ’n wêreld verbeel? ’n Wêreld waar mans mans is wat vroue beskerm en versorg, maar wat ook hul regmatige plek inneem, langs vroue – trots op hul unieke eienskappe.
Want vroue is sensitief, sensueel, meelewend – dis tyd dat hulle daarvoor geëer word.
1 COMMENT
Stem saam met jou – ons mans kan ongevoelig wees oor die dinge wat jy hierbo noem. Dis tyd dat ons ons testosteroon reg kanaliseer. Ons kan bemin en plesier (ook onsself), terwyl ons mededoë het met vroue wat afgeskeep en misgekyk word, of andersins aan die kortste ent trek. En waar is dit beter as om te begin as met jou eie lewens- of bedmaat. Laat haar vir ‘n verandering die leiding neem. Laat haar toe om haar behoeftes te bevredig, sonder dat jy vir een oomblik aan joune dink.