
Studentepret – Ontgroening
deur Jan Pielewiet
(Lees vorige episode HIER)
In ons eerste jaar was ons ‘n klomp bang en onseker skoolseuntjies wat in die grootmenswêreld ingegooi is. Ewe skielik is daar nie meer ‘n mamma wat elke oggend seker maak ons staan op en is betyds vir skool nie. Daar is nie ‘n ontbyt wat wag as ons opstaan nie of ‘n kosblik wat saam skool toe gaan nie. Elke man moet vir homself sorg, en as jy nie self sorg nie is dit net jy self wat daaronder ly. Gelukkig was ek in die koshuis, Karee, en was daar darem so ‘n bietjie hulp en kameraadskap van die ander eerstejaars en bietjie leiding van die seniors. Dit is nou as die seniors nie besig is om ons op te dons en allerhande verspotte lawiwghede aan te vang nie.
Die naam van die koshuis se kroeg ontgaan my nou, maar daar het vele aktiwiteite tussen die drank newels afgespeel. Alhoewel ons slegs ‘n manskoshuis was, was daar gereeld dames in die koshuis, hetsy as gaste van die seniors of op uitnodiging van die Studenteraad. Die seniors het geweet as hulle nie sosiale funksies tussen die koshuise reel nie gaan die jong klomp mekaar nooit leer ken nie. Dit is op een so ‘n Interhuis-geleentheid wat ek vir Tanya ontmoet het. Soos ek was sy ook van ‘n klein plattelandse dorpie, Koffiefontein, waar haar pa die kafee-eienaar was. Tanya het Biokinetika geswot, was haar skool se uitblinker op akademie en sport en die sosiale vlinder van die aand. Ek was die koshuis se eenkantkind. Nie ‘n uitblinker op die sportveld nie, maar darem ook nie heeltemal ‘n bleeksiel nie. Ek het ingenieurswese studeer, soos 80% van ons koshuis en was ‘n voordanser met die funksies. Vandat die besoekende koshuis ingestap het, was my oog op Tanya. Sy het ‘n kort swart rompie vol plooitjies aangehad, ‘n spierwit stywe toppie en lang bruin stewels wat to bo haar knieë gekom het. Haar gesig was nie modelmooi nie, die mond was te breed en die neus het gewip, maar sy was beeldskoon verby. Haar grimering het haar bruin amandel-oë gekomplimenteer en haar lang swart hare het sag oor haar slanke skouers gehang.
Nadat die gaste welkom geheet is met ‘n sjerrie en ‘n rondte shooters as ‘n ysbreker moes ons eers paar lawwe speletjies speel soos om ‘n balon tussen die knieë vir mekaar aan te gee. Die twee groepe eerstejaars is verdeel, vier groepe vir elke geslag wat dan weer opgepaar is met die teenoorgestelde geslag sodat daar helfte mans en helfte vrouens in elke groep was. Ek en Tanya is in dieselfde groep ingedeel en het heel toevallig langs mekaar geëindig, alhoewel daar heelwat mans was wat hulle bes probeer het om langs haar te staan. Ek is maar skaam en het nie veel gepraat nie.
Met die speletjies het ek so-so gevaar, goed genoeg om nie uitgejou te word nie, maar nou nie die ster van die aand nie.
Die laaste speletjie het behels dat die eerste student ‘n studentekaart, soortgelyk aan ‘n bankkaart, teen sy lippe vassuig, dan aangee vir die volgende persoon wat dit op sy beurt weer vassuig en dan omdraai en vir die volgende persoon aangee. Jy moes ‘n lang asem hê en vinnig kan omdraai, want as die kaart val moet die span weer voor begin. Gelukkig moet Tanya vir my aangee en is die druk effens minder op my. Nadat die kaart ‘n paar keer in die begin van die ry laat val is vorder hy tot by Tanya. Tanya draai om en dan net voor ons bymekaar kom laat val sy die kaart. My oë volg sy pad grond toe, maar ‘n paar sentimeter verder val hy wragtig voor in haar bloes in. Sy gryp wild en pluk die kaart uit – julle moet onthou dat ons met ‘n resies besig is – gee vir die eerste persoon in die ry aan en wag dat die kaart weer kom. Ek is in ‘n waas. Al wat ek gesien het is die melkwit bokante van twee pragtige borste in ‘n vleeskleurige bra. En dan is die kaart weer by Tanya en sy draai om. Ek dwaal nog steeds en wanneer Tanya die kaart teen my lippe vasdruk vergeet ek skoon om te suig, die kaart val en ek moet spaander om die kaart op te tel en vir die begin te gaan gee. Ons span het so bietjie ons ritme verloor en die eerste paar spanlede moes weer oor begin wat my kans gee om my fokus terug te kry en as Tanya weer die kaart kry is ek reg om te suig, sodra haar kop naby genoeg is begin ek suig, maar sy laat val die kaart op die nippertjie en ek suig haar lippe vas teen myne. Die elektriese skokgolwe hardloop deur my hele lyf, maar ek moet spring met die kaart om aan te gee na die voorkant en dan as ek terug is in lyn kan ek voel hoe my ore gloei. Gelukkig vorder die kaart nou goed en dan maak ek en Tanya die perfekte aangee, ek draai om en gee die kaart aan vir die blonde poppie agter my en dan na die volgende aangee is die kaart by die einde van ons ry. Ek en Tanya omhels mekaar en spring baldadig rond omdat ons die wenspan was.
Ons span het algeheel tweede geindig en word beloon met ‘n bier vir elke deelnemer. Nie veel van ‘n prys nie, want selfs die laaste span het ‘n bier as troosprys ontvang. Tanya gee haar bier vir my, sy verkies eerder ‘n whiskey en dan begin die musiek speel en die dansbaan word geopen deur die huiskomiteelede van die twee koshuise. Ons word “beveel” om die persoon naaste aan ons te nooi vir ‘n dans en almal moet deelneem. Ek staan op daardie stadium langs ‘n kort ronde meisie en vra haar om saam met my te gaan dans. Sy is so lig soos ‘n veertjie op haar voete, maar die hoogteverskil maak dat ons nie veel kon praat nie, die musiek is buitendien te hard. En dan is die dans in volle swang aan die gang. Ek nooi elke keer die dame wat naaste aan my is as die liedjie klaar is en na die tiende plaat moet ek eers asem gaan skep en die keel lawe.
By die kroeg beland ek langs Tanya en ek bestel vir beide van ons ‘n whiskey, ek met water en ys en sy saam met soda water.
“Ek gaan asem skep, stap jy saam?” skree ek in haar oor.
Sy knik ‘n ja met haar kop en ons stap uit en gaan sit op ‘n bank op die voorstoep. Daar leer ons mekaar so bietjie beter ken soos wat ons swot en waarvandaan ons kom en al daai boring tipe vrae wat mens altyd vra. Wanneer ons glase leeg is speel daar weer ‘n lekker boeremusieknommer en sy vra of ek kan two-step.
“Natuurlik. Ek is mos vanaf die plaas!” antwoord ek en neem haar hand om haar op die baan te begelei.
Binne die eerste paar steps het sy my ritme aangevoel en dans ons saam asof ons al jare geoefen het. Natuurlik hou ek haar om haar dun middeltjie vas as ons klaar is, te bang iemand anders vra haar as ek net effens laat los en ek kan voel haar hand bly ook sag op my skouer rus. Die volgende plaat is weereens ‘n lekker langarm plaat, maar daarna word daar weer losdans musiek gespeel. Sy gaan dans toe saam met van haar vriendinne in die middel, maar dis iets wat my nou glad nie aanstaan nie. Naaste wat ek aan losdans kom is as daar iets soos die Macarena of die Birdie song speel waar mens weet wat om met jou hand en bene te doen.
Na ‘n paar losdans nommers is daar weer ‘n kompetisie waar die beste losdanser van elke geslag aangewys word en wanneer die wenners aangewys is word daar weer bietjie geskoffel. Ek vra maar weer die girl naaste aan my maar sy trap so op my voete dat ons maar halfpad deur die song die handdoek ingooi. Sy het gelukkig ‘n borrelende geaardheid en ons het lekker gelag terwyl ons mekaar probeer vind het. Kom toe na die tyd agter sy is meer van die stad se kant af en kan glad nie step nie. Sal haar maar bietjie moet leer as ons weer die geleentheid kry. Ek kry toe darem so paar lekker nommers in en wanneer die aand einde se kant toe staan voel ek ‘n sagte hand agter in my nek en as ek omdraai staan Tanya daar met die meisie wat my tone nie mis kon trap nie. Sy verduidelik bo die lawaai dat dit haar kamermaat is en die het haar vertel van die lompe buffel wat nie kan dans nie. Tanya het haar weer vertel van die man wat so heerlik gedans het, maar nog net twee plate met haar gedans het. Toe hulle my sien verbydans besef hulle dit is dieselfde persoon van wie hulle praat en net daar besluit ek en Tanya om vir die kamermaat te wys hoe dit gedoen word.
Tanya pas perfek in die kromming van my arm in en ons laat waai. Maak nie saak watteer passies ek maak nie, Tanya bly by en sy het my selfs ‘n nuwe passie of twee so tussendeur geleer. Die laaste twee plate is lekker stadig en ek en Tanya wieg saggies, styf teen mekaar. Ek voel my horing wat al halfmas is vandat ek die eerste keer die kaart by Tanya aangevat het in die begin van die aand is nou volgroeid en druk sleg seer in my onderbroek se beklemming vas. Ek glo Tanya is baie aspris as sy saggies haar heupe teen my opgeswelde vlees skuur en dan besef ek sy geniet dit net soveel soos ek. Wanneer die laaste note wegsterf staan ons nog so kort rukkie styf teen mekaar, traag om te laat gaan, maar dan word die ligte helder aangesit en word ons deur die seniors aangesê om maniere te toon en die dames uit te vergesel na hulle bus wat hulle terug sal neem na hulle koshuis toe.
Ek en Tanya stap langs mekaar met beide van ons se kamermaats so tree agter ons. Skamerig groet ons mekaar noudat die helder ligte ons omstraal en dan klim hulle in die bus en vertrek met waaiende hande wat by die vensters uitsteek.
Ons klomp mag nie gaan slaap voor alles opgeruim is nie, dit is immers in die eetsaal gehou! Wanneer ek vroegoggend doodmoeg in die bed klim raak ek met wilde gedagtes van alles wat ek met Tanya wil doen aan die slaap.
(Lees volgende episode HIER)
3 COMMENTS
Lekker ou dae. Weereens puik geskryf Jan.
Dankie Will.
Die opvolg is in die pos, kom ons hoop hy kry haar aangetree.
Hierdie opbou na Tanya-hemel werk mens op dat jy nie kan wag vir wat moet volg nie !
Vertel gou, Jan ons wag in spanning. Pragtig tot hier….