Opebrief aan mans (vir vrouedag)
Liewe man,
‘n Dag voor Vrouedag is ek seker jy is al vuisvoos. Jy is gebombardeer met artikels en statistiek oor hoe sleg jy vroue behandel en hoe vroue nog steeds ly. Soms kies jy om aan te val (soos wanneer ʼn dreaded feminis haar verskyning maak) en soms kies jy om te vlug, maar dit is duidelik dat jy self nie meer weet waarheen nie.
Alhoewel ek oor die algemeen met die Vroue-dag artikels saamstem, is dit nie waaroor ek wil gesels nie. Jy sal dalk verbaas wees as jy hoor wat ek dink en jou vrou gaan waarskynlik minder van hierdie brief hou as jy.
Ek skryf nie namens enige vrou nie. Ek skryf net namens myself. En daar is al vir my gesê dat ek soos ʼn man oor dinge dink – veral oor seks. Ek skryf ook eintlik hoofsaaklik vir jou, die Afrikaanssprekende man, omdat dit vir jou is wat ek wil antwoord. Want dit is jy wat vir my skryf en bel en oor koffies vir my oor en oor vertel wat jou van jou vrou pla. En oor en oor vertel hoe ongelukkig jy met die stand van sake is.
In my navorsing het dit vir my duidelik geword dat die probleem meer universeel is as net ʼn “Afrikaanse” probleem, maar onder ons is die probleem meer akuut omdat ons huidige waardestelsels en geloofsoortuigings alles vererger.
Ek hou nie eintlik van die tipiese Afrikaanse vrou nie. Op hierdie punt stem ek met jou saam. Oor die algemeen is sy konserwatief, hiper-gelowig, hiper-jaloers en het sy, volgens jou, nie veel belangstelling in seks nie.
Ek glo sy is siek – emosioneel, psigies. Die Afrikaanse vrou is opgemors en ek is jammer om dit vir jy te sê maar dit is deur mans.
En moet asseblief nie nou op hou lees en jy oë hemelwaarts rol nie. Ek hoor hoe jy sug! Ek praat nie van jou nie – ek praat nie eens noodwendig van jou geslag nie. My simpatie lê by julle. Ek praat van die sondes van die vaders, want dit is waar hierdie siekte al begin het.
So simpel soos ek dink die gemiddelde vrou met al haar hang-ups is, net soveel insig en empatie het ek met waar sy vandaan kom. Stel jy belang om te luister?
Mans regeer die wêreld. Hierdie is nie ʼn beskuldiging nie, dis ʼn waarneming. Dit is hoe dit is. Die wêreld waarin ons leef (nie net Suid-Afrika nie) is soos hy is omdat mans dit so gemaak het. Julle het vir ons baie wonderlike dinge gegee. (Ek verkies om vir hierdie gesprek op die positiewe te konsentreer.) Ons motors, tegnologie, internet, die feit dat daar iemand op die maan was, vliegtuie, wolkekrabbers, windpompe, medisyne, sport, flieks – daar is so baie wonderlike dinge wat mans uitgedink en gebou het. Jou testosteroon het die wêreld verander – baie maal ten goede.
Dis nie vir hierdie gesprek belangrik waarom dit mans was wat dit gedoen het en dat dit nie net mans was nie. Ek erken dat dit hoofsaaklik julle was. Wat belangrik is is dat jy verantwoordelikheid moet aanvaar vir wat jy gemaak het. Hoe alles nou werk, die politieke stelsels, regstelsels, ekonomiese stelsels – als is hoofsaaklik deur mans ingebring en bestuur.
Enter die vrou die prentjie. Omdat mans die wêreld regeer het hulle ook vroue regeer o.a deur die gelowe wat mans uitgedink en aangehang het. Deur mites en staaltjies en gode wat mans aanbid het, is die moderne vrou (en haar vele hang-ups) geskape. Dit was en is mans wat vroue verbied het om enkels of polse of gesigte te wys. Dit was mans (meestal deur geloof) wat besluit het dat vroue se waarde in hulle maagdelikheid gelê het. Dis Afrikaansprekende dominies en skoolrade en politici en vaders wat die vroue waarmee jy nou getroud is se seksualiteit beheer het deur preke oor sonde en slette en respek en losbandigheid en Eva en appels en sonde en straf en skande en ongehude moeders en sonde en Madonna en goeie en slegte meisies.
Seksualiteit is dié probleem van die Afrikaanse vrou. Daar is en word van haar verwag om seksueel skisofrenies te wees – die engel in die wêreld, maar duiwel in die bed-sindroom. Sy moes haar bene toehou en haar drange (en haar kêrel s’n) beveg tot die dominie sê “getroud” en toe moes sy in ʼn warm seksuele wese verander (maar net vir haar man). Onthou haar ma en ouma het dit waarskynlik nog vir die volk gedoen en vir haar dieselfde stooi geleer. Dit is waarom baie van hulle hulle seksualiteit begin onderdruk het en al hulle energie in kinders en kerk inge”pomp” het.
Nou sit jy met die probleem. Want jou vrou stel nie in seks belang nie.
Maar dis eintlik nog ingewikkelder.
Sommige vroue wil en sou wegbreek uit daardie tronk, maar daar is nog ʼn manier waarop sy in haar spreekwoordelike moer is:
Die regs- en ekonomiese stelsel maak haar weerloos. En ook die sosiale stelsel.
In die moderne samelewing is ʼn vrou net begeerlik (as sy gelukkig is) tot so 40. Daarna leef sy op geleende tyd. As sy ʼn “goeie” man het, dan glo hy in liefde en lojaliteit en word hy saam met haar oud. As sy ʼn “slegte” man het, dan ruil hy haar in vir ʼn jonger model (jou taal). As sy (volgens julle albei se besluit) by die huis gebly het om julle kinders groot te maak, het sy geen, maar geen moontlikhede om ʼn werk te kry nie. Sy is agter gelos in die groot korporatiewe resies. Sy is “waardeloos,” want haar “werk/kinders” is uit die huis uit. As jy haar skei- dan sal jy vir ʼn jaar haar moet onderhou voor sy vir haarself moet sorg.
Dít is waar haar jaloesie vandaan kom. Dit is hoekom sy dit nie kan hanteer as jy vir ʼn ander vrou kyk nie of as jy saam met my wil gaan koffie drink nie. Sy vrees vir haar eie oorlewing.
Eerlikwaar. Dit het niks te doen met liefde of dat liefde jaloers is nie. Dis die mite. Jy is haar versorger – jy bring die vleis in julle kontrak. Sy kan dit nie verloor nie.
Onthou, nog een van die dinge wat vir haar geleer is, is dat seks en liefde (altyd) saamgaan. Dis nog een van daardie mites wat die voorvaders vir die vrou vertel het. Dit hang saam met die mite dat mans casual seks kan hê en vroue moet liefhê voor sy seks kan geniet. Dis sulke bog!!! Dieselfde skisofreniese-nonsens wat sê dis reg (eintlik cool) as ʼn man met verskeie mense slaap (en voor die huwelik), maar nie vir ʼn vrou nie. Solank as wat jy hierdie mites ondersteun en jy jou kop knik vir die dominie wat dit nog steeds oorvertel, so lank gaan jy nog oor jou vrou kla.
Die ergste van alles is dat jou vrou jou nou begin ontman. (Dis ʼn siek sirkel.) Jy volg haar kerk toe al glo jy nie noodwendig meer in haar God nie, jy vertel haar nie wat jy glo, dink of fantaseer nie, want sy is nou al ʼn monster. En jou voorvaders (en onderdrukte moeders) is Frankenstein. Sy gaan jou straf met ʼn tantrum of stil stuipe en jy bewaar liewer die vrede. Sy kan nie meer hoor wat iemand sê nie, sy luister nie eens nie, want sy word regeer deur haar vrees. Ek lees jou briewe en luister na die moedeloosheid in jou stem en weet jy lieg nie vir my nie. Jy is vasgevang in jou eie nagmerrie en jy sien nie meer uitkoms nie.
What men want? Jou hartseer en begeertes en wense word herhaal in die woorde van die ander mans wat met my kommunikeer. Julle wil almal dieselfde ding hê: vryheid. Nie om jy vrouens te los nie. Natuurlik is jy lief vir haar! Natuurlik wil jy by haar bly. Maar julle wil wyer ervaar en omgee.
Deep down weet jy dat hierdie stelsel nie werk nie. Ons is nie bedoel om monogaam te wees nie. Mans EN vroue sukkel hiermee. Vroue het net meer om te verloor en kry dit soms makliker reg om hulle seksualiteit op te offer vir sekuriteit. Of dalk is dit omdat hulle tradisioneel gedwing is om dit op te offer.
Daar is ʼn oplossing, maar dit gaan nie betyds vir ons gebeur nie. En mans gaan eers moet sien dat die oplossing van hulle af moet kom omdat dit hulle is wat nog steeds die mag het om dit te kan verander. Dalk sal jou seun of kleindogter jou nog eendag bedank. Maar dit gaan harde werk vat – en nog moeiliker – eerlikheid.
Want jy sal van al die mites onslae moet raak en voor begin soek na die waarheid. Jy sal moet gaan uitvind waarom die huwelik ingestel is (nie deur God nie).
Jy sal jou ekonomiese skepping moet aanpas – eers wanneer jy jou vrou se vrees aanspreek en haar sekuriteit gee ten spyte van wat sy seksueel mag doen of nie doen nie, eers dan sal sy die vryheid hê om die sensuele, seksuele wese te word wat jy wil hê.
Jy sal jou sosiale skeppings moet verander – deur meer liefde, verhoudings, selfs seksuele maats in albei se lewens in te neem, sal die verantwoordelikheid van die een om alles vir die ander te moet wees, nie meer so swaar wees nie.
Jy sal moet besef dat ʼn vrou net so seksueel as jy is en net soveel fantasieë het – sy moet net die vryheid gegun word om dit te kan uitleef.
Jy sal moet besef dat jaloesie ʼn aangeleerde “emosie” is en negatief is.
As jy hierdie dinge begin verander, sal jy die toekoms verander. Miskien eendag sal mense in “gemeenskappe” bly waar inkomste, liefde, kinders, mans, vroue, vreugde, verantwoordelikheid, arbeid – alles gedeel word. (En moenie vir my sê ek dink soos ʼn hippie nie – jou “beter” manier werk nie.)
Dink net hoe baie ligter sal die las op jou as broodwinner wees? Of as die persoon wat alles vir die ander ene moet wees? Of dalk sal mense ʼn “hoof” verhouding hê met die persoon met wie hulle oud wil word en by wie hulle kinders wil kry. Hierdie verhouding is jou sekuriteit – vir wanneer albei oud is en gedeelde geskiedenis belangriker is as gedeelde seksuele plesier. En hierdie verhouding sal aangevul word met ander mense wat kom en geen – vry en sonder issues.
Klink dit nie baie minder gekompliseerd as die “groot mite” wat ons vandag probeer leef nie?
Ek rig hierdie brief aan jou, geliefde man, omdat ek dink jou pragmatisme kan dalk nog die situasie red. Vir jousef en vir jou vrou. Min vroue sal regtig hoor wat ek sê – hulle is nog te bang om te luister en ek verstaan dit. Jy sal haar gesond moet maak. Is jy sterk genoeg?
Ek hou van jou. Baie. Ek wens jy wil jouself en jou plek regruk sodat ek van jou kan hou in vryheid.
Liefde
3 COMMENTS
Baie waar Annelise. Die preuste “waarhede” is so ingeprent dat die van ons wat anders daaroor dink ons teen n muur vasloop. Probeer tog n vrou oortuig dat sy maar meer vry kan leef – kans is nul. Ester Perel “Mating in Captivity” asook “Sperm Wars” is boeke wat ons alma gerus maar kan lees. Groetnis
‘n Opebrief wat roep vir aandag, erkenning en deelname.
Hierdie skrywe vra nie ‘n antwoord nie. Verander jou lewe, mede-mansmens, dat jy die vrugte kan pluk in jou verhoudigs met vrouens, dit sal die hoofaar word in jou psige.
Dankie Annelise
“I salute you”
Baie goeie boodskap,mag ek asb gereeld u preke via email ontvang/