Mag
deur Annelise
Hy het ʼn skrikwekkende mag oor my. Ek moet van hom wegkom. As ek naby hom is, het ek geen wil van my eie nie. Sy wil is my wil. Hy regeer my. Ek weet ek moet sterker wees en dat ek myself in ander se oë verneder, maar binne is dit anders as wat dit van buite af lyk. Dit is nie vernedering nie, maar absolute oorgawe. Dit is die mees intens seksuele ervaring van my lewe.
Die eerste keer wat ek hom ontmoet is by ʼn geselligheid net voor Kersfees. Hy is dodelik aantreklik. Lank, donker, selfversekerd met oë wat tot in my siel kyk. Hy straal selfvertroue en mag uit. Ontmoet is nie eintlik die regte woord nie, want ek is nooit aan hom voorgestel nie en sy naam is nie belangrik nie. Ons oë ontmoet en iets in ons herken mekaar. Ons is twee kante van dieselfde muntstuk.
My bene word lam soos dié van ʼn bakvissie. Ek ís nie ʼn bakvissie nie. Ek is nie agtien jaar oud en onervare nie. Ek is ʼn volwasse vrou wat weet wie ek is en waarheen ek op pad is. Ek het my kwota minnaars gehad. Ék is trouens gewoonlik die een met die mag, die een wat ja of nee sê – die een wat ander se bene lam maak.
Sy oë pen my vas. Ek weet nie hoe om te staan of wat om met my hande te doen nie. Ek raak oorbewus van hoe ek lyk. My ligte lemmetjiegroen sjiffonbloes voel asof dit aan my vel kleef, my swart romp voel swaar en my goue sandale se hakke voel wankelrig. Die kamer krimp. Die mengelmoes van stemme word al harder. Ek weet nie wat met my aangaan nie. Ek is gewoond aan oë op my, maar nou voel ek ontsenu en onseker. En op ʼn vreemde manier hou ek daarvan.
Al my sintuie is in oproer asof ek ʼn eksotiese dwelm ingeneem het. Ek haas my op onvaste bene badkamer toe. Kalmeer tog net. Dit is net ʼn man. Wat gaan met jou aan? Ek probeer myself reg praat terwyl ek koue water oor my polse spoel in ʼn poging om my kokende bloed af te koel. Dit móét die weer wees. Hierdie hittegolf teister ons nou al vier dae lank en dit koel nie eens in die nag af nie. In die verte kan ek donderweer hoor dreun. Die badkamer se deur gaan skielik oop en ek vlieg om van skrik. Dit is hy! Hy lyk nie verbaas dat die badkamer beset is nie. Trouens, hy lyk doelgerig.
“Ek is amper klaar.”
My woorde hang pateties in die lug. Hy antwoord nie, maar sy oë meet my liggaam. Dan beweeg hy nader totdat hy reg voor my staan. Ek moet my kop lig om sy sterk gesig te kan sien. Ek kan hom ruik, hy ruik soos sukses. Ek kan hom hoor asemhaal, rustig en kalm. My binnekant bars in onluste uit. Maar hy raak nie aan my nie.
Hy buk stadig af totdat ek sy asem warm teen my oor kan voel en fluister: “Vanaand behoort jy aan my.”
Ek weet nie hoe ons van die badkamer tot in sy luukse motor gekom het nie. Ek vermoed ek het by die gasvrou verskoning gemaak. Ek weet net dit voel reg en logies dat ek nou hier op die sagte swart leersitplek in die dowwe lig van die instrumentpaneel se liggies sit. Die motor se kragtige enjin laat die sitplek liggies onder my vibreer wanneer hy dit aanskakel. Hy praat nie. Vir ʼn lang ruk kan ek net sowel nie daar wees nie. Die deure van die motor sluit outomaties met die wegtrek en êrens ver weg vertel ʼn stemmetjie vir my hoe dwaas ek is. Maar ek smoor dit dood. Hy skakel die CD speler aan en klassieke musiek vul die motor. Ons draai noord op die snelweg. Wanneer hy uit die donker praat is sy stem diep en beslis.
“Trek jou onderklere uit.”
Ek kan nie glo wat ek hoor nie. Hierdie man is omtrént seker van homself! Sy oë is op die pad en hy lyk asof hy nie eens omgee of ek gaan luister of nie. Ek besluit om te maak asof ek nie gehoor het nie. Maar my lyf het hom gehoor. Hoe langer die stilte rek, hoe meer sukkel ek om my liggaam se reaksie te ignoreer. Dit is asof hy met sy woorde saggies op ʼn vuurkooltjie diep in my geblaas het. Ek besef dat ek na hom wíl luister – hoe onbesonne dit ook al mag klink – ek wil doen wat hy vra. Ek weet nie meer wie ek is en waarheen ek op pad is nie. Ek weet net ek wil wat hy wil.
Ek knoop my bra los en trek dit onder my bloes uit. Die materiaal is dun en ek weet dit skyn deur. My vel is so sensitief dat ek kan voel hoe my bloes syerig oor my tepels streel. Hy kyk nog steeds voor hom op die pad. Ek is seker hy kan my hart hoor klop. Ek lig my romp effens op en trek my broekie af. Dit haak aan my linkervoet se sandaal vas voordat ek dit loskry en saam met my bra op my skoot vasklem. Ek kan die romp se growwe materiaal teen my klewerige vroulikheid voel druk. Ek is hiperbewus van elke sentimeter van my liggaam en voel hoe ʼn druppeltjie sweet, ten spyte van die koel lugversorging, teen die kant van my bors afloop.
“Gooi dit by die venster uit.”
Die elektriese venster langs my skuif oop en die wind speel vlugtig deur my hare as ek weer eens na hom luister en my satyn onderklere deur die venster gooi. Ek kan dit in die syspieëltjie deur die rooi skynsel van die agterligte sien wapper voordat dit in die lang gras langs die snelweg inwaai. ʼn Entjie verder draai ons van die snelweg af. Die pad is stil. Die straatligte skyn soos ʼn stippellyn deur die voorruit – helder, dof, helder, dof. Ons is besig om uit die stad uit te ry. Sy stem klink nog emosieloos as hy weer praat.
“Maak toe jou oë en sit jou hande op die kopstuk agter jou.”
Ek word van sig beroof en al my ander sintuie gaan op loop. Ek is suiwer gewaarwording. Ek voel die koel leer onder my hande, ek hoor my hart in my ore klop, ek proe my droë asem … en ruk as ek sy hand op my bo-been voel. Hy begin om my romp op te skuif – stadig maar seker. Ek voel hoe dit oor my knie skuif, teen my bo-been op tot dit net-net onder my skaamste, naakste plek tot stilstand kom. Dan verdwyn sy hand weer.
“Maak oop jou bene. Wyd.”
Dit druis in teen alles wat ek glo. Ek is ʼn onafhanklike, moderne, sterk vrou – geëmansipeerd. Nou doen ek wat hierdie man beveel, sonder om te dink, sonder om vrae te vra. Al wat ek weet is dat ek vry voel in my oorgawe, van alle verantwoordelikheid onthef. Hy sal my lei. En ek gee myself aan sy outoriteit oor en maak my bene vir hom oop. Dit word stil in die intieme ruimte van die motor wanneer die CD sy einde bereik. Die muskusreuk van my lus vul die kar. My liggaam is naalde en spelde van begeerte. Met toe oë voel ek sy volgende beweging aan. Hy maak die boonste knoop van my bloes los, dan nog een. My vel roep uit na sy aanraking, maar hy raak net vlietend aan my wanneer hy die bloes liggies eenkant toe trek sodat my bors uitval. Dan verdwyn sy hand weer.
Dit is asof hy prentjies met my liggaam teken en dan eers terugsit om sy handewerk te waardeer. Ek het geen benul van waar ek is of hoe laat dit is nie. Ek gee nie om nie. My vlees skree vir sy aanraking – dis al waaraan ek dink. Ons draai weer af en ek kan hoor dat ons nou op ʼn grondpad ry. My bloes gly van die geskud van die motor van my een skouer af.
Dan kom ons tot stilstand. Ek voel en hoor hoe hy die elektriese vensters oopmaak en dan die motor afskakel. Die lug trek versadig en klam oor my. Ek hoor water val. Sy deur gaan oop en weer toe. Ek roer nie. Skoene knars om die motor en kom langs my venster tot stilstand. Na ʼn rukkie maak hy my deur oop. “Hou toe jou oë en klim uit.”
Sy hand is onder my elmboog. Hy lei my oor die ongelyke grond. Ons stop en hy los my arm. Die klank van water is oordonderend. Hy is baie, baie naby aan my. Ek voel hoe hy my bloes se laaste knope losmaak en dit oor my arms uittrek. Hy loop om my en lig my hare op. Ek skrik as hy iets om my oë bind. Dit is my bloes. Ek kan my parfuum daarin ruik. My romp se ritssluiter word afgetrek en dan val dit in ʼn hopie op my goue sandale. My asem jaag. Ek is nakend en geheel en al in sy mag. Die besef verswelg my.
Die wêreld kantel as hy my skielik optel. Sy aanraking is lawa. Ek voel die warm enjinkap van die motor onder my rug. Hy rangskik my – nog ʼn prentjie. Hande bo my kop, bene opgetrek, oop en weerloos. Ek weet nie waar hy is nie. Ek smelt. Ek wag.
En dan is hy by my, op my, teen my. Hy voed my begeerte. Hy neem my op. My mond, my nek, my arms, my borste, my maag, my bene, my dye, my alles eis hy op met sy hande, tande, tong en mond. Sy growwe hemp skuur my vel. Hy breek soos ʼn vloedgolf oor my en ek drink hom in deur my vel. Ek kan nie genoeg kry nie. Hy trek vir ʼn oomblik terug en ek kerm saggies. My hare plak aan my gesig vas. Alles is vogtig, warm. Klank verdwyn onder die gedruis van die water. Ek voel sy hande op my voete, hy skuif dit wyer uitmekaar. Dan penetreer hy my. Hy is groot en hard en hy maak my vol. Ek vou my bene om sy lyf en trek hom dieper in my in. Ek behoort nie meer aan myself nie, ek behoort aan hom. Die klimaks is my finale oorgawe en ʼn kreet ontsnap wanneer die spasmas deur my lyf trek. Dan skuif hy die bloes van my oë af en ek kyk in sy brandende oë as hy my finaal domineer deur sy saad warm en vullend diep, diep in my op te skiet.
Dit is amper dagbreek wanneer hy my by die huis aflaai. Letargie kruip oor my. Ek kyk hoe sy motor se rooi liggies om die draai verdwyn en wonder of ek sterk genoeg sal wees om nee te sê as hy my eendag weer wil hê.
2 COMMENTS
wooooow…brilliant!! 🙂
Baie goed geskryf…