Hoe lank is ‘n dy?

Hoe lank gaan ek lees: 4 minute

deur Geriatrix

Ek het nie susters nie en ek was ook bewus van die vermaning in Moses 19, vers 3: ‘Wee hom wat sy niggies vry.’ Myne is almal te oud, te jonk of te ver. Voeg daarby dat ek in standerd agt na ‘n tegniese skool is waar daar net seuns was, na matriek diensplig gedoen het en toe in ‘n tegniese omgewing gaan werk het waar daar geen vroue was nie en jy sal verstaan waarom my kennis van die anatomie van die vrou beprek was tot die teorie wat in die destydse handboeke verskyn het.

Omdat Wits die enigste universiteit in Johannesburg was, het ek my studies daar begin en onder andere die legendariese Proffessor Arthur Bleksley se klasse in toegepaste wiskunde bygewoon. Hy het elke lesing begin met die woorde: “Do not accept anything as true, test it to make sure.”

By Wits was daar baie meisies, maar net enkeles wat Afrikaanssprekend was. Die ander was in ‘n totaal ander klas as die meisies waaraan ek gewoond was. Die enigste persoon wat ooit gewen het in die Boat Race, ‘n kompetisie wat deur die destydse Stag Brewery geborg is en waar deelnemers vyftig (ja, 50) pinte bier in die vyf etensure van joolweek moes wegsit, was die voorsitter van Womens Residense! Sy het toe ‘n das gekry met die syfer vyftig oor ‘n skuimende bierbeker en sou volgens oorlewering geregtig wees om in enige kroeg soveel Stag Lager te drink as wat sy wou.

By Wits het mens so af en toe ‘n verdwaalde Playboy gesien en daar het ek ook ‘n kopie van Lady Chatterley’s Lover gekry – die bladyse het sommer outomaties op sekere bladsye oopgeval. So teorie was darem beskikbaar. In ons ingenieursklas was een dame tussen 200 bronstige jong manne. Een middag het sy na middagete haar reënjas in die tekenklas begin uittrek en toe skielik onthou dat sy haar bloes na die skielike reënbui uitgetrek het omdat dit nat was en sy nou net haar bra aan het. Dit was my eerste kennismaking met die borste van ‘n vrou.

‘n Vriend het my een middag genooi na ‘n ete wat sy werkgewer gereël het, maar wat hy nie kon bywoon nie. Deel van die ooreenkoms was hy sy motor beskikbaar sou stel en sommer nog boonop ‘n ‘blind date’ ook. Later die middag kom sy motor met die meisie en nog ‘n man en sy vriendien daar aan – en my vriend het ook vir hom ‘n dame georganiseer. Skielik was daar nie net twee mense nie, maar ses.

Gelukkig was die karre van die 1960’s groter as vandag se goetertjies en toe pas ons maar vier op die agterste sitplek in. Dit was ook die tyd van die mini en ek was darem tot ‘n mate bewus van die struktuur van die bene wat onder die mini se soom ingaan. Al wat ek nie baie seker van was nie, is hoe lank die stuk been is wat uitsteek en hoe lank die stuk is wat onder die mini verberg is. My skatting was so 6 tot 8 duim (dit was lank voor die tyd van meters en sulke goed) en dan seker nog so ‘n twee tot drie duim voor jy nou eintlik kom waar dit saak maak.

In elk geval hier sit ek toe baie knap langs die dame met ‘n uiterste kort mini, maar omdat dit toe al koud was, het sy sykouse aangehad. Nou weet ek darem ook al van my navorsing op die 63 bus dat die kouse net so ‘n duim onderkant die mini se soom in ‘suspenders’ haak en daarna is dit seker net so anderhalf duim na die mikpunt toe.

Met dié afmetings in gedagte en Prof. Blecksley se opdrag in my ore begin ek toe maar die praktiese deel by die teorie bring – die kar is pikdonker en ons vier is soos sardiens op die agterste sitplek ingepak. Toe my hand probeer om die verste grens van die toetsgebied te bepaal, raak die ander ou sommer vies, want ek raak toe aan sy hand wat ook besig is om die gebied te verken. Probeer toe maar aan die anderkant en nader aan die knie, want dan weet ek ongeveer hoe ver om te gaan. Die knie voel nie soos vel nie, maar eerder soos gladderige materiaal.

Ek meet toe maar die wywingskoeffisiënt tussen my vingers en die materiaal van die sykous om te bepaal waar en hoe die koeffisiënt verander as dit van materiaal na vel oorgaan. Weens die beperkte ruimte is daar nie veel plek vir eksperimente nie, maar ek probeer maar. Eers was die koeffisiënt nogal redelik hoog wat daar is ‘n hand wat my hand probeer stop. So, begin maar weer ondertoe en beweeg stadig opwaarts. Na ‘n ruk begin die weerstand weens die hand afneem – die hand is nog daar, maar nie meer so ferm soos netnou nie. Nou weet ek dat daar ‘n verband tussen die posisie en plasing van die hand op die been en die hand van die been se eienaar is – hoe hoër die hand op die been is hoe hoër is die weerstand; maar deur die toepassing van gepaste wrywing kan die weerstand verlaag word.

Ek weet dat die breedte van my hand ongeveer vyf duim is so van die knie tot by die punt waar die wywingskoeffisiënt gaan verander, is nog so drie duim om te gaan. Dit is naderhand net nog so ‘n duim en ‘n half om te gaan, maar die oorgang wil net nie nader kom nie. Probeer naderhand met die uitgestrekte duim om die oorgangspunt te kry, maar al wat ek teekom is die materiaal van die sykous en die beweegruimte word al hoe meer beperk aangesien die ander paar bietjie verder as ons gevorder het en dus meer ruimte nodig het. My sonde (dit is die korrekte Afrikaans vir ‘probe’) sukkel al hoe meer om die wywing te meet, want die sywaartse druk van die ander paar maak dit onmoontlik om verder te sondeer.

Teen die tyd weet ek dat ek lankal verby die hegpunt tussen die ‘suspenders’ en kous moet wees, want ek moet nou al amper elf duim van die beginpunt wees en ek het nog nie die oorgang gevind nie. As gevolg van gebrek aan ruimte en ook die feit dat ons by die bestemming aangekom het, moes ek my eksperiment staak. Na die ete (waar meer vloeistof as vaste stowwe ingeneem is) was daar nie weer geleentheid om die oorgang van die wrywingskoeffisënt te meet nie – moet sê tot vandag toe kan ek nie onthou hoekom nie!

Die Maandag by die werk praat ek toe oor die merske lang dye wat die meisie het; want ek kon glad nie vasstel waar die kous eindig en die ‘suspender’ begin nie. Een van die meer ervare manne gaan toe aan die lag: “You have also just discovered the bane of present day bachelors – pantyhose!”

Volg Kombiekiehier op sosiale media:

4 thoughts on “Hoe lank is ‘n dy?

  • Avatar
    May 14, 2019 at 5:08 pm
    Permalink

    Nou baie lekker gelag. Dankie

    Reply
  • Avatar
    May 14, 2019 at 3:49 pm
    Permalink

    Jy’s reg, Neil, ‘n tydperk oopgekloof met die waarnemingsvakmanskap van Geriatrix. Welgedaan!
    Herroep vir my van vele van Laurike Rauch se pragtige lirieke :

    ♪…Liefde had geen perke nie
    saam veg teen die steiltes uit
    -en gee ons oor aan die nostalgie ♪

    Reply
  • Avatar
    May 14, 2019 at 1:59 pm
    Permalink

    Ja nee jong, vir ons sienende manne is ons maar nog lekker blind as dit by “braille” kom.

    Reply
  • Avatar
    May 14, 2019 at 1:52 pm
    Permalink

    Baie skerp geskryf!
    Pantyhose is a bane?
    Mmmmmm, methinks not… mooi broekiekouse is baaaaaie mooi, veral as sy nie ‘n panty dra nie, want dit is mos PANTYhose

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)