Die begrippe “erotiek” en “erotika” en die gebruik van verwante woorde

1+
Hoe lank gaan ek lees: 7 minute

deur Lusman

Aangesien die sentrale tema van Kombiekiehier die erotiek is, dink ek dit sou sin maak om ‘n bietjie na die herkoms en betekenis van die woord “erotiek” te kyk – en dan sommer ook na die betekenis van “erotika” en verwante byvoeglike naamwoorde en bywoorde.

Ons kyk ook na tipiese gebruik en die taalkundige aspekte waarmee skrywers soms worstel, soos die spelling van samestellings met hierdie woorde en die trappe van vergelyking.

Herkoms van die woorddeel “ero=” in “erotiek”

Die geoefende oog sal dadelik merk dat daar ‘n woorddeel “ero=” in “erotiek” en “erotika” voorkom. Die vraag is waar dit vandaan kom.

Volgens HAT, ‘n algemeen beskikbare woordeboek, kom die woorddeel “ero=” uit die Grieks eros, wat liefde beteken. Dis ‘n sekere soort liefde, naamlik die sinnelike liefde. (In antieke Grieks is daar verskillende woorde vir verskillende soorte liefde.)

‘n Meer uitgebreide beskrywing van die herkoms van die woord “eros” vind ons in die navorsingstuk “Die saamspeel van hand, oog en passie: gedagtes oor erotiek en estetika” deur D.P. Veldsman van die Universiteit van Suid-Afrika (ISSN 1609-9982 = VERBUM ET ECCLESIA JRG 27(1)2006).

Veldsman skryf dat die Griekse woord “eros” verwys na die Griekse god van liefde en begeerte, Eros. Hy gaan voort en sê: “(Die liefde) het sowel hetero- as homoseksuele liefde ingesluit. Eros was die seun van Aphrodite (godin van seksualiteit) en haar minnaar Ares (oorlogsgod). Veral in die sportsentrums (“gymnasia”) is Eros geëer waar die jong mans ‘n blywende objek van aantrekking vir die ouer mans was. Meestal word hy in die literatuur voorgestel as ‘n mooi, sportiewe maar stoute jong man, gewapen met ‘n pyl en boog. Hy was rof met mans: hy het pyle in hulle ingeskiet! Dit is dan ook waar die verhaal van Cupido (die Latynse ekwivalent van die Griekse god Eros) sy ontstaan het. In die vroeëre Griekse literatuur (8ste eeu v.C.) neem Eros egter ‘n besondere plek in die eerste skeppingsverhale in, aangesien kosmiese evolusie in terme van die seksuele voortplanting van goddelike wesens verstaan is – en hiervoor was Eros nodig om vanaf die begin die impuls te voorsien. Daarom is Eros ook in hierdie verhale “Protogonos” (“eersgeborene”) en Phanes (“openbaarder”) genoem. So byvoorbeeld word hy in ‘n skeppingsverhaal (6de eeu v.C.) wat onder die naam van Orpheus verskyn, voorgestel as komende uit ‘n helder eier wat deur Tyd geskep is. Hy bevrug die kosmiese duisternis, en Hemel en Aarde word gebore. Later sou Plato aan Eros, wat hy die seun van Armoede en Rykdom noem, ‘n besondere rol toeskryf. Hy omskryf Eros as die verlange of begeerte na skoonheid wat die siel opwaarts tot die filosofiese waardering van ideale Skoonheid en Insig voortdryf.”

By wyse van uitbreiding in taalgebruik het die woord “eros” in Afrikaans die betekenis gekry van geslagsdrif, libido, seksuele liefde en seksuele begeerte. HAT dui dit ook so aan. Dit word ook so in Engels en waarskynlik ander tale gebruik.

Wat beteken “erotiek”?

HAT, wat dit aandui as ‘n selfstandige naamwoord sonder meervoud, gee die betekenisse soos volg aan: Die kuns om lief te hê; al die verskynsels en gevoelens van die sin(ne)like liefde; liefdeslewe.

Voorbeeldfrases wat HAT gee is: die erotiek in ‘n huweliksverhouding; erotiek in die kuns/letterkunde.

Ons sou ook die volgende as voorbeeldfrase kon byvoeg: die erotiek in die verhale en ander items op Kombiekiehier.  

‘n Meer omvattende beskrywing van “erotiek” kom voor in bg. werk van Veldsman. Hy skryf: Die woord “erotiek” word gebruik as aanduiding in enige kunsuiting of voorstelling (bv. in literatuur, films, beelde ens.) van menslike naaktheid, seksuele aantrekkingskragte, die vergestalting van menslike begeerte en liefde – op watter wyse dan ook al. Kortom: dit beskryf waarskynlik die sterkste kragte in menslike lewe: lyflike begeerte en skoonheid, seks, liefde. Wat sou dan konkreet as “eroties” geld? Die beroemde Dawid-beeld in Florence, Italië, word as erotiese beeld gesien. D H Lawrence se Lady Chatterly’s Lover word as erotiese literatuur verstaan. Rubens se skildery van “Angelika” en Primaticcio se “Venus en Adonis met slapende Cupido” word as erotiese skilderkuns bestempel. Maar so ook die erotiese film “Basic Instinct” met Sharon Stone en Michael Douglas – of nie? Is dit eerder pornografie? So ook die tydskrifte Hustler of Loslyf? Hoe moet daaroor geoordeel word? Is daar ‘n duidelike onderskeid of grens tussen die erotiese en pornografiese? Of bepaal die graad van prikkeling ten slotte die onderskeid tussen die erotiese en pornografiese? Wat geld as “skoonheid” as dit gaan oor die erotiese? Is dit wat as walglik, kru, vulgêr, onwelvoeglik, afbrekend, beledigend en eksploiterend benoem kan word, die teendeel van “skoonheid”? Weet en sien en oordeel ons intuïtief daaroor? Of is dit net ‘n persoonlike smaakoordeel?

Uit bg. beskrywing blyk dit dat die grense tussen die erotiese en pornografiese nie altyd duidelik is nie.

Is daar ‘n verskil tussen die woorde “erotiek” en “erotika”?

Die woord “erotika” is nie in HAT opgeneem nie. Dit kom egter in Pharos se Afrikaans-Engels / Engels-Afrikaans-woordeboek voor. Hiervolgens dui “erotika” op erotiese kuns en erotiese literatuur. Dit kom ooreen met die definisie van die Engels “erotica”, wat volgens ‘n bekende woordeboek se definisie dui op boeke, prente, ens. wat seksuele begeerte en plesier voortbring.

“Erotika” is ook ‘n meer positiewe manier om te verwys na dinge wat sommige “pornografie” sal noem. Dis gewoonlik minder eksplisiet as pornografie maar is steeds seksueel opwekkend. Dis gewoonlik ook meer kunstig as blote pornografie.

Waar “erotiek” dus merendeels dui op die onderliggende konsep in die aanbieding of werk (soos ‘n verhaal of ‘n fliek), dui “erotika” op die geheel van die aanbieding (of die versameling aanbiedings).  Erotika bevat dus erotiek.

Wat Kombiekiehier betref, illlustreer die volgende twee sinne die verskil tussen “erotiek” en “erotika”:

  • Ek geniet al die erotika op Kombiekiehier – die verhale, videos, liedjies, ens. Veral die goed geskrewe verhale met hul erotiek geil my erg op.

Ander voorbeelde van die gebruik van “erotiek”:

  • Hy hou van die erotiek van die borste, meer as van die boude;
  • Sy hou van meer subtiele erotiek in skryfwerk;
  • Die Romeine het hul seksualiteit en erotiek op ‘n ander manier as ons beleef;
  • Sy is ‘n ware erotiekkunstenaar met die standbeelde wat sy skep;
  • Die boek handel oor seksualiteit en erotiek;
  • Hy skryf oor die gebruik van landskapstonele in die letterkunde as uitbeelding van erotiek;
  • By die konferensie was daar ‘n referaat oor etiek en erotiek;
  • Die skrywer toon aan hoe erotiek in die kunste gebruik word; en
  • Daar is baie erotiek in die advertensiewese.

Ander voorbeelde van die gebruik van “erotika”:

  • Die boeke van daardie skrywer is lekker geil erotika;
  • Al die erotika op die seks-tentoonstelling het my bietjie oorweldig;
  • Daar was nie ‘n gebrek aan erotika op haar bacheloret-partytjie nie; van ‘n selfde-penis-vir-ewig-banier tot drinkstrooitjies met ‘n penismotief is daar gebruik;
  • Die bundel met slaaptydstories vir grootmense is sommer ‘n lekker klomp erotika;
  • Hy het ‘n lekker video van sy girl ontvang om by sy versameling oudio-visuele erotika te voeg; en
  • Sy het al haar erotika bo in die hangkas weggesteek – haar vibrator, dildo en erotiese boeke.

Is daar sinonieme vir “erotiek”?

Ja – “erotisme” en “erotisisme” is sinonieme. Soos met baie “-ismes” sou mens hierdie woorde eerder as “erotiek” gebruik wanneer jy negatief daarna verwys, bv. “Ek hou nie van erotisisme in ‘n verhaal nie; dit moet gewoon romanties wees.” Maar die woorde hoef egter nie noodwendig net in negatiewe verband gebruik te word nie. Mens sou tipies kon sê: “Sy kleur die erotisme in haar verhaal so oulik in.”

Samestellings met “erotiek”
Tipiese samestellings is:

  • erotiekskrywer
  • erotiekkuns
  • erotiekkunstenaar
  • erotiekbelewenis
  • erotiekbeelding
  • homo-erotiek, homoërotiek
  • gay-erotiek

Samestellings met “erotika”
Tipiese samestellings is:

  • erotikaskrywer
  • erotikaverhale
  • erotikaversamelaar
  • erotikaversameling
  • erotikamuseum
  • erotikawebwerf
  • erotikaboeke
  • erotika-oudioboeke
  • looiery-erotika
  • Kindle-erotika

Bogenoemde samestellings met “erotiek” en “erotika” word vas geskryf omdat dit bestaan uit ‘n naamwoord plus ‘n naamwoord. Die koppelteken in die gevalle hierbo word net gebruik omdat daar ‘n opeenhoping van vokale is. AWS-reëls 15.2 en 15.3 is van toepassing. In Engels sou die woorde normaalweg los geskryf word. Dit veroorsaak soms ‘n probleem by skrywers in Afrikaans, want hulle volg soms die Engelse patroon.

Woorde van ander woordsoorte verwant aan “erotiek”

Die byvoeglike naamwoord “erotiese” (attributief gebruik)

Voorbeelde hiervan is:

  • erotiese verhaal
  • erotiese fiksie
  • erotiese inhoud
  • erotiese literatuur
  • erotiese uitbeelding
  • erotiese massering
  • erotiese begeerte
  • erotiese belewenis
  • erotiese persoon
  • erotiese atmosfeer (by ‘n partytjie)
  • erotiese e-pos
  • erotiese droom
  • erotiese aktiwiteit
  • erotiese video
  • erotiese rekenaarspeletjie

Hier moet opgelet word dat die byvoeglike naamwoord los van die woord geskryf word wat dit beskryf.

Die byvoeglike naamwoord “eroties” (predikatief gebruik)

Voorbeelde hiervan, gebaseer op bogenoemde, is:

  • die verhaal is eroties
  • die fiksie is eroties
  • die inhoud is eroties
  • die literatuur is eroties
  • die uitbeelding is eroties
  • die massering is eroties
  • die begeerte is eroties
  • die belewenis is eroties
  • die persoon is eroties
  • die atmosfeer (by ‘n partytjie) is eroties
  • die e-pos is eroties
  • die droom is eroties
  • die aktiwiteit is eroties
  • die video is eroties
  • die rekenaarspeletjie is eroties

Die bywoord “eroties”

Voorbeelde van bywoordelike gebruik waar die werkwoord beskryf word is:

  • eroties aan iemand vat
  • eroties met iemand praat
  • iemand eroties bevoel
  • eroties met mekaar omgaan
  • iemand se teenwoordigheid eroties geniet

Voorbeelde van bywoordelike gebruik waar die byvoeglike naamwoord beskryf word is:

  • eroties getinte gedagtes hê
  • ‘n eroties gekleurde partyjie hou
  • eroties gelade praatjies maak
  • ‘n eroties gevoelige plekkie aanraak
  • eroties sensitief wees vir aanraking
  • eroties lui wees

Dis belangrik om daarop te let dat daar nie ‘n “e” agteraan “eroties” is as dit as bywoord gebruik word nie. Want as daar ‘n “e” aangelas word, tree dit op as ‘n byvoeglike naamwoord wat die selfstandige naamwoord beskryf. Byvoorbeeld “erotiese getinte gedagtes” beteken die gedagtes is eroties en getint en nie (die korrekte) gedagtes is eroties getint nie.

Trappe van vergelyking van “eroties”
Vergrotende trap

Voorbeelde is:

  • Haar eerste verhaal is erotieser as die tweede een. Ook: Haar eerste verhaal is meer eroties as die tweede een.
  • Die erotieser verhaal gaan gewild wees. Ook: Die meer erotiese verhaal gaan gewild wees.

Oortreffende trap

Voorbeelde is:

  • Dis die erotiesste verhaal wat ek nog gelees het. Ook: Dis die mees erotiese verhaal wat ek nog gelees het.
  • Van al die verhale is verhaal G die erotiesste. Ook: Van al die verhale is verhaal G die mees erotiese.

Onthou, wanneer “mees” gebruik word, word daar nie “=ste” agteraan die byvoeglike naamwoord (soos “eroties”) gevoeg nie; dis die een of die ander. Hierdie fout word dikwels deur praters en skrywers gemaak.

AWS-reëls 16.1 tot 16.6 is van toepassing op bg. trappe van vergelyking.

Ten slotte

Daar is baie ander woorde wat afgelei is van “erotiek” en “erotika” en die woorddeel “ero=” en wat nie nou hier behandel word nie. Dit kan by ‘n volgende geleentheid gedoen word.

Hopelik is daar met die bespreking hierbo ‘n nuttige begin gemaak met woorde en hul gebruik wat sentraal staan tot die onderwerpe wat in Kombiekiehier ter sprake kom. Ons ontvang graag kommentaar daaroor.

Ook kommentaar en vrae oor ander taalprobleme is welkom.

 

1+

6 thoughts on “Die begrippe “erotiek” en “erotika” en die gebruik van verwante woorde

  • Avatar
    Oct 23, 2019 at 10:58 am
    Permalink

    Ek wou nou ‘n vraag vra oor die verskil tussen erotika en pornografie, maar Annelise jy het dit bie mooi saamgevat met daai definisie van jou. Ek vermoed egter dat die verskil tussen pornografie en erotiek verskil van mens tot mens. Bv. baie mense vind Uther se skrywes baie “vreesloos” en sal dit sien as pornografie. (Ek persoonlik vind sy werk baie eroties) Vrouiehns oor die algemeen se skryfsels op hierdie webwerf is meer eroties as pornografies want vrouens is geneig om meer oor gevoelens en emosies as liggaamlike uitlewing… (Ek voel sy hande wat my vel amper brand en ek ruik die varsgesnyde gras vs Ek gryp haar lieflike toiete en druk haar op haar rug neer terwyl ek vroetel om my broek los te kry…) Maak ek sin?

    Reply
    • Avatar
      Oct 23, 2019 at 11:00 am
      Permalink

      Jip honderd persent.

      Reply
  • Avatar
    Oct 23, 2019 at 5:23 am
    Permalink

    Wow! Annelise !
    Jou 2 bydraes hier en insae en terugvoering is kos tot nadenke.
    Dankie dat jy dit met ons gedeel het.

    Reply
  • Avatar
    Oct 23, 2019 at 12:02 am
    Permalink

    “Erotiek” as ‘n onderwerp (eerder as ‘n woord soos waarin Lusman belangstel) is vir my baie interessant. Ek het in my verhandeling dit as volg gedefinieer. (Ongelukkig moes my verhandeling in Engels wees, jammer.)

    Erotica may be said to be in the eye of the beholder. This is the first conclusion that can be
    made if one would ask people to define erotica. This subjectivity is however more in question
    when pertaining to the reader or consumer of erotica. The reason is that different things
    titillate different people. This subjective view from the perspective of the consumer should,
    however not influence the basic definition and features of erotica. This dissertation proposes
    that there are certain sufficient and necessary conditions that make erotica erotic. Most
    definitions would, however, proclaim sexual stimulation a necessary condition of erotica.
    That is why it is specifically added to the definition of the concept of Spirit that will be used
    here. Erotica is not just a spiritual feeling but in this case a sexual spiritual feeling.
    For the purpose of this dissertation and as one of the attributes of Spirit, the definition of
    eroticism as formulated by Morris (2013, p. 8), will be used. She defines eroticism as
    some form of transcendent experience fueled by sexual desire, complicated by
    transgression, and exhibiting resistance to language. And if we accept that eroticism is
    a place where language breaks down, then we must be prepared to find bliss, as
    Barthes says, between the cracks and in the silences.

    Dit beteken dat erotiek selfs soms iets bo of buite taal is en dat al ons mees edele pogings op die einde tog nog tekort sal skiet. 😉

    Reply
  • Avatar
    Oct 22, 2019 at 2:59 pm
    Permalink

    Ek onthou dat ‘n letterkunde dosent vir my kort na ek Maanvrug gepubliseer het gesê het dat hy dink die verskil tussen erotiek en pornografie is dat daar iets nuuts geskep word in erotiek. Die seksuele gaan nie in so geval net oor die seksuele nie, maar oor meer. Daar word iets meer daardeur gesê – iets filosofies of iets oor die samelewing of verhoudings. Dis steeds ‘n stukkie gereedskap waarmee ‘n groter of nuwer boodskap oorgedra word. Of waarmee iets nuuts wat MEER is as net seks geskep word. Ek het van daardie definisie gehou omdat ek juis dit met my boeke gedoen het – en dis ook waarom ek hulle nie as pornografie sal klassifiseer nie, selfs al wil ander mense.

    Reply
  • Avatar
    Oct 22, 2019 at 12:10 pm
    Permalink

    Dankie Lusman, voorwaar baie leersaam en nuttig vir gebruik in skryfwerk.
    Jy doen baanbrekerswerk op ‘n baanbrekers blad!
    “Kudo’s”

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)