
Die Geel Rok (3)
deur Rudi
Ek het nie weer die Bos gesien nie. Suid-Afrika het onttrek. Ek het ook nie uitgeklaar na JL’s nie. Politieke veranderinge het begin intree. Weke en maande het verbygegaan…
Ek het vir Lindie net af en toe gesien. Sy het maer geword. Haar vol vroulike lyf het tingerig geword. Sy het nie weer haar esel opgeslaan nie.
Haar pa het my een naweek kom besoek. Dit was die eerste keer dat ek sien hy loop met ʼn kierie. Hy het vir my ʼn telefoonnommer gee, Dr Theron. “Gaan sien die man,” het hy gevra. “Die dokter is al amper 80, maar gaan sien hom.” Ek het die papiertjie gevat en ʼn afspraak gaan maak.
Dr Theron was oud, maar sy oë was lewendig. ʼn Vriendelike man. Hy was ʼn krygsgevangene in die Tweede Wêreldoorlog. Hy het nooit veel gesê nie, maar my laat praat op ʼn manier.
Een aand toe besef ek skielik wat soek ek nog in die Weermag. As ek uitklaar is dit asof alles vir niks was nie. Dan is dit asof Johan dood is vir niks nie. Lindie wat wegkwyn, alles vir niks nie. As ek nog bly, is daar dalk nog ʼn doel. Maar daar is nie… daar was nie.
Ek het Dr Theron gaan sien, vir hom vertel wat ek besef het. Hy wou weet wat ek beplan om te doen as ek uitgeklaar het. Ek het nie geweet nie.
“As jy kan, gaan studeer,” het hy gesê. Hy het my ernstig aangekyk. “Maar Rudi…”
“Ja dokter?”
“Ek wil hê jy moet my nog steeds kom sien as jy gaan studeer. Studente drink baie, ek wil hê, ter wille van jouself en die mense naby aan jou, dat jy nie begin drink nie.”
“Nee, dokter, ek drink nie, my een oom…”
“Ek weet jy drink glad nie, maar dinge gebeur maklik. Dit sal ʼn aanpassing wees om universiteit toe te gaan.”
Ek het hom belowe ek sal hom op hoogte hou. “En Rudi, sy skilder weer,” het hy gesê net voordat ek by die deur uit is. Dit was goeie nuus dat Lindie weer skilder, baie goeie nuus.
***
“Maar jy gaan binnekort kaptein word,” het die kolonel probeer keer. “Die weermag het in hierdie onsekere tye blanke offisiere nodig. Dit is julle wat die toekoms moet verseker. Julle moet die generaals van more word. Wat dink jy gaan met die land gebeur? Hê? Wat dink jy?” Hy het sy hand driftig op sy lessenaar geklap.
Ag gaan kak tog net jou ou vrek, het ek gedink. “Nee dankie kolonel,” het ek gesê en nie verder na hom geluister nie. Ek het op aandag gekom, hom gesalueer, omgekeer en by sy kantoor uit marsjeer.
Lindie het weer begin skilder. ʼn Week later het ek ʼn brief ontvang. A4 koevert. Binne in was ʼn lappie; sy het hom vol geel sonneblomme geskilder.
Die laaste paar maande het verby gesleep, maar toe ek weer sien is ek in my civvies, by die hoofhek uit. Buite gekom het ek gekyk vir Pa se bakkie, maar niks gesien nie.
***
In my beursie is ʼn paar munte. Gaan ek nou wraggies terug deur die hoofhek moet loop, verby die wagte en offisier aan diens vir wie ek sopas middelvinger gegooi het, en toe my broek afgetrek en hulle gemoon het?
Straatop blaas ʼn beige Volkswagen kewertjie toeter. Ja reg, dink ek. Ek is nog nie ʼn minuut op civvie straat nie en ek is al klaar besig om my naam gat te maak. Dan loop ek maar, dan loop ek tot fokken by die huis, maar ek gaan wraggies nie terug in die eenheid in om by ʼn telefoonhokkie uit te kom nie.
Ek vat my sak, en begin links in die straat af te loop. Ek hoor die kewertjie hier agter my en die toeter wat blaas. Hene jy weet…
Ek kyk om. Maar…
Sy stop langs my en leun oor na die passasierskant toe. “As jy jou boude vir my ook wys, kan jy inklim,” sê sy en lag. Die lewe is terug in haar oë. Sy het haar hare korter gesny, in ʼn bob. Dit lyk sexy.
“OK, OK, ek sal later,” en ek probeer die deur oopmaak, maar sy is te vinnig en druk die knoppie in. Ek probeer die knoppie weer oplig, maar sy trek weg. ʼn Ent verder stop sy. “Laaste kans, anders ry ek.”
“Jy’s ernstig,” sê ek.
“Jip.” Sy knik haar kop. Die bob pas wraggies goed by haar. Daar is heldergroen vonkies in haar oë.
Ek maak my broek los, draai om en trek my broek af, buk vooroor. Ek tel tot vyf, pluk dan weer my broek op en gryp my sak, maar sy trek weg!
ʼn Outop in ʼn Jetta toet vir my en skree “Nee man!” Dit lyk of sy vrou haar hande voor haar gesig hou. Wel as ek begin het, kan ek netsowel aanhou. Ek moon die Jetta ook.
Die outop rem hard dat die Jetta se bande skree. Hy begin omdraai. Ek hardloop tot by die kewertjie. Die deur is oop. Ek sukkel om die sitplek vorentoe te slaan, en klim dan in met die sak op my skoot. “Ry!”
Sy lag so, die karretjie vrek eers en dan is die outop amper by ons en sy trek weg. “Onthou jy hom nie?” vra sy tussen die lag deur.
“Nee…”
“Dit is Meneer de Wet, hy was ons skoolhoof. Hy het hier kom aftree, het ek gehoor.”
Ek bars ook uit van die lag en kyk om. Die Jetta volg ons nie. “Is hy weg?” vra sy.
“Jip.”
Sy stop net daar in die middel van die straat. Sy kyk vir my. Ek word skielik bewus van haar vroulikheid, van haar hier naby my. Haar gesig is naby aan myne.
ʼn Kakofonie van ongeduldige toeters om ons. Iemand skreeu iets. Niks pla ons nie. Ons het ʼn lang tyd se soene om in te haal.