Obsessie

Hoe lank gaan ek lees: 2 minute

deur Homo Erectus

Balans … loshande die belangrikste, belangrikste en ook skaarsste kommoditeit onder hominiede. Om een of ander rede dreig die tor altyd om af te bliksem. As jy jonk is, is jy vol testosteroon, maar sonder die nodige evaring, wysheid en insig om dit sinvol los te laat. As jy oud is, het jy hope eraring, wysheid en insig … maar jy leef ook midde-in ‘n testosteroondroogte. Die uiteinde is dat ‘n wanbalans tussen testosteroon en wysheid mans se sekslewe opfok oor alle generasies heen.

Neem nou maar die obsessie met Haar. Haar ma het, toe ons nog kinders was, eenkeer die fout gemaak om te sê: ‘Sal dit nie oulik wees as julle tweetjies eendag kan afhaak nie?’ Pragtig soos wat sy was, ongeag die feit dat ek heimlik verlief op haar was, het haar ma se woorde ‘n ondeurdringbare blokkasie in my kop veroorsaak wat eers dekades later sou wyk. Ek dink elkeen van ons dra die onvergenoegdheid van ‘n onvoltrekte liefde met ons saam. Dit het verskillende uitwerkings op ons. Sommiges beleef dit so traumaties dat hulle nooit afpaar nie. Ander sluit ‘n deel van hulself só dig toe, dat hulle verhoudings gedoem is tot eensaamheid en verwyt. Sommiges kry dit reg om ‘n obsessie met die grasie van ‘n ou dame met ‘n donker geheim te bewaar. Dit lyk van buite af maklik, maar dit is bitter moeilik. Die sake van die hart is duister en mense is diép skelm.

Ons het kontak, ons ma’s is immers vriendinne. Dis ook nie skelm kontak nie, dis gewone sosiale kontak met egas en kroos ingesluit. Maar daar is tog iets. ‘n Stille blydskap, ‘n tevredenheid om ruimte te deel, ‘n bekendheid wat selfs twee dekades langer strek as ons onderskeie huwelike. Wat maak mens daarmee? Sal dit nie die maklikste affair ooit wees nie? Een wat nie primêr deur seks gemotiveer word nie, maar deur al die dinge wat gewoonlik in ‘n affair ontbreek, soos ‘n gedeelde grootword? Platoniese affair dalk? Nee, dit sal ook nie deug nie. Seks sal die wonderlike voltrekking van ‘n dekades lange bewondering wees. Maar, teen watter prys? Twee huwelike, ‘n klomp kinders se lewens wat ongevraagd gekompliseer word?

Wanneer ek hieraan dink, dink ek aan César Soubeyran en Florette de Berengere en ek wonder hoeveel mense leef met donker geheime saam vir ‘n leeftyd wat veroorsaak is deur ‘n gebrek aan ervarig, wysheid en insig wat afwesig is in die hormoonoorbelaaide lywe van die jeug.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)