Voortplanting 1 002 021 CE

+4
Hoe lank gaan ek lees: 9 minute

deur Uther Pendragon

Die vibrasie ratel deur die module totdat mens en plastiek en elektronika saam skud.

Sy mond vertrek van inspanning soos hy die gryparm onder die skroot probeer uittrek.  Die inspanning daarvan en die drukking van die massa op sy gryparm laat hom kreun soos die pynsensasies deur sy lyf skiet.

Hy kyk links op en knip sy oog en die optiese skerm verhelder voor hom.  Hy flikker deur die keuselyste en stop by SENSORY SYSTEM.  Daar sluit sy blik op die glyskaal wat hy amper tot links trek.  Hy voel sommer die pyn uit sy sisteem wegskaal.  Dis gevaarlik om dit op nul te sit want dan word sy hulsel-sensore heeltemal afgeskakel.  En vandag kan hy dit nie bekostig nie – veral nie onder hierdie omstandighede nie.

Hy kyk deur sy gesigskerm na bo en sien die skroot in donker klompe teen die lig van die Melkweg bo hom hang.  Hy haat hierdie tipe werk die meeste.  Dit is sy taak om skroot en ruimterommel van tot 10 ton binne ‘n area van 100 meter van die ruimtestasie te verwyder mits daar geen rotasie of versnelling is nie.  Sy module is nie vir swaarder werk gebou nie – daarvoor is die krapkrane en dozermodules daar.  Maar net soms is die massaverspreiding van die brokstukke onvoorspelbaar en kantel dit wanneer hy vasklamp.  Dit is veral gevaarlik as daar iets anders agter dit is soos ‘n ander stuk skroot of dan, soos in hierdie geval, die ruimtestasie self.  Wat hom egter die kwaadste maak is dat hierdie hele situasie vermy kon geword het as die vragluik waarheen die skroot gesleep is, behoorlik in stand gehou is.  Nou dryf miljoene tonne se skroot in die ruimte buite die stukkende vragluik waar dit net eenvouding deur die slepers gedump is en hy moet sorg dat dit nie die stasie se wand beskadig nie.

Hy trek sy bene op en stoot dit dan stadig ondertoe terwyl hy die magnete van sy staalvoetstukke op ACTIVATE WITH CONTACT stel.  Sy liggaam ruk toe die magneetvelde aanskakel die oomblik toe die klang-geluid deur sy module trek.  Hy gryp die skroot met sy vry arm vas en beur regop met sy bene maar selfs dit is nie heeltemal genoeg om die massiewe blok skroot van sy vasgepende gryparm af te lig nie.  Hy kreun met toegeknypte oë onder die hernude inspanning en dan voel hy hoe die massa skielik ligter word.

Hy kyk op en sien die groen voorste skouerliggies van ‘n ander module agter die brokstuk te voorskyn kom soos dit stadig kantwaarts toe kantel.  Sy mond soek instinktief die voedingstepel wat voor sy gesig na hom uitsteek en, soos sy mond om die rubber sluit, begin hy behaaglik aan die soet vloeistof wat uitspuit teug. Sjoe, dit was nou amper!

Hy kan nou in die gloed van sy kolligte die ander module duidelik so vyf meter voor hom in die ruimte sien hang maar domp die ligte onmiddelik want dis ongeskik om jou ligte in ander se oë te skyn.  Hy kan nou sy gryparm behoorlik sien, hy beweeg die twee kake versigtig oop en toe.  Gelukkig!  Die hidroliese sisteem is nie beskadig nie, en buiten vir die skraapmerke in die oranje verf, lyk dit asof sy gryparm geen skade opgedoen het nie.

Hy kyk weer op na die ander module om dankie te sê maar dié is besig om stadig agteruit weg van hom te dryf.  Hy skakel dadelik oor na die algemene kommunikasiekanaal maar dit is net ‘n kakefonie van klank en gesprekke.  Hy skakel sy reikwydte af na kommunikasie binne ‘n radius van 100 m, maar daar is net ‘n sagte gesuis – soos dié van ‘n oop kommunikasiekanaal.  Hy roep weer: “Hallo!  Ek wil net dankie sê!…  Hallo!”  Maar daar is net die sagte suisgeluid oor sy luidsprekers.

Gemengde gevoelens van dank en verwondering spoel deur sy gemoed toe hy sy magneetvelde afskakel en met ‘n ligte stoot van sy bene hom vanaf die ruimtestasie wegstoot.  Hy projekteer sy module in die rigting van die ander een wat nou lui in die ruimte so 30 m voor hom kantel.  Hy kan nou die rooi skouer- en stertliggies sien skyn soos die ander module die rug op hom keer.

Hy probeer weer “Hallo daar!…”  Maar dan, met ‘n klein flitsie van die manoeuvreringsvuurpyltjies, skiet die ander module onverwags na regs, weg van hom en die ruimtestasie.  Met ‘n vinnige flits van sy voorste manoeuvreringsvuurpylties rem hy en dan volg hy die ander module wat nou al reeds honderde meter voor hom is.  Maar wag!  Hy kan sien hoe die ander module rem en stadig heen en weer kantel asof dit vir hom wag om op te vang.

En dan, toe hy ongeveer 30 meter van die module is, amper naby genoeg om die registrasienommer te lees, skiet dit met ‘n verwoede vaart weer weg van hom en tussen die skroothompe deur.  Hy kan sweer dat hy ‘n giggel oor die suis van die oop kommunikasiekanaal gehoor het.  Hy roep nog een keer: “Wag vir my!” maar besef dat, indien hy sy nuuskierigheid oor die identeit van die ander module wil bevreding, hy dit sal moet vang.

Kappa 101-CH145A of Jochi soos sy vriende hom ken, is nie ‘n man om mee te speel nie.  Hy is nie verniet ‘n skoonmaker nie.  Met ‘n verbete trek op sy gesig sit hy die ronde bol van die module wat voor hom uitskiet agterna.  ‘n Frons spleet tussen sy oë.  “Hel, maar daai module is goed!” mompel hy.  Hy sien net nou en dan die oranje balletjie hier en daar tussen die skrootblokke op en oor of onderdeur skiet, elke keer wat hy dit sien word dit net al hoe kleiner soos dit voor hom wegskiet, met sporadiese rigtingsveranderings wat deur ‘n wit flitsie van die manoeuvreringsvuurpyltjies aangedui word.

Uiteindelik verloor hy die module uit sig.  Hy dryf nou doelloos en uitasem oor die skrootveld wat vir die smelters aan boord van die stasie bestem is.  Sy oë tas kundig oor en tussen die skroot deur op soek na die ronde oranje vorm tussen die hoekige buitelyne van die skrootblokke.

Hy was besig om stadig oor ‘n besondere groot skrootstuk te dryf toe die module skielik voor sy neus pylreg voor hom verbyskiet.  Hierdie keer is daar ‘n duidelike kraai van lag wat in sy ore opklink.  Dis ‘n meisie!  Daardie helder lag is onmiskenbaar dié van ‘n jong vrou!  Of dit nou uit gekrenkte eer is, of woede, of wellus sal mens nie kan sê nie maar Jochi gee haar die stryd aan en vlieg so vinnig en kundig moontlik agter haar aan.

En dan onverwags begin sy spoed verloor en hy kan sien hoe haar module stadige, lui bewegings voor hom in die ruimte doen.  Hy rem ook totdat hy stadig vorentoe dryf.  Dan kantel haar tuig om en die groen liggies word al hoe helderder soos sy stadig na hom aangedryf kom.  In sy truskerm kan hy die swart bonkige silhoeet van die ruimtestasie kilometers van hulle teen die sterreveld sien hang.  Geen ander bemanningslid is vir die kilometers tussen hulle en die ruimtestasie sigbaar nie.

Hulle modules raak sag aan mekaar.  Hy kan haar blosende, glimlaggende gesig voor hom deur hul gesigskerms sien.  Sy antwoord: “Hallo, ek is Mira, wie is jy?”

“Jochi, hulle noem my Jochi” stamel hy, verbaas oor hoe vinnig dinge ontwikkel het. “Ek wil jou net bedank vir wat jy vir my gedoen het”.

“Ag dit was niks” antwoord sy maar toe skiet haar bruin oog vinnig na die pers liggie bo Jochi se gesigskerm, so asof sy net dubbel seker wil maak.  Sy hart klop skielik vinnig – hy is baie trots op die pers liggie.  Dit sit nie in elke man se broek om as ‘n teler geklassifiseer te word nie.  En hy het sy pers liggie gekry toe hy 50 dae gelede sy genetiese toetse geslaag het en hy sy spermbuis en pomp laat installeer het.  Hy kyk dan instinktief na die liggie bokant haar gesigskerm – sy hart bokspring – dit gloei onmiskenbaar pienk.  Mira ovulueer!

Jochi stamel: “Umm…wil jy?  Ek bedoel … wil jy na ‘n kajuit, ek bedoel koppelkajuit gaan?”

“Nee!” jil Mira van opgewondenheid, “ek wil hier koppel – hier tussen die sterre!”

Jochi voel hoe die opgewondenheid in hom opstoot.  Buiten vir die demonstrasies en oefeninge wat hy in die vrugbaarheidskliniek tydens die inplanting van die spermbuis en pomp moes uitvoer, het hy nog nooit gekoppel nie en sy koppelinstrumente is dus heeltemal splinternuut.  Hy haal nou vinnig asem en voel hoe sy penis in die koppelbuis begin opstoot.

Mira kyk na hom en die lawwe uitdrukking op haar gesig word met ‘n ernstige een vervang.  Haar bruin oog staar diep in sy gesigkameras in en dan skakel sy haar gesigkamera aan sodat hy haar gesig op sy skerm kan sien terwyl sy stadig 180 grade van hom wegdraai.  Dan kantel sy 90 grade vorentoe sodat haar agterkant na Jochi se middel wys.

‘n Pienk sirkel verskyn op sy skerm met die woord COPULATE? wat langs dit verskyn.  Hy fokus op die middel van die sirkel vir ‘n sekonde en dit vul pienk in met die boodskap CONFIRMED wat langs dit verskyn.  Haar koppelopening gaap skielik swart, rond en smerig voor hom oop.  Jochi klamp sy gryparms om Mira se module en hy voel hoe die bloed na sy kop en penis stoot, hy kan skoon sy hartklop in sy kop en penis voel.

Hy trek hulle modules teen mekaar tot die koppelluik aan voorkant van sy module teen haar koppelopening inpas en vasklamp. Tydens sy opleiding het hy geleer dat daar nou ‘n vibrerende rubberknop tussen die vrou se labia tot teen haar bekkenbeen opdruk.  Jellie spuit uit gaatjies op die rubberknop uit om haar vaginale opening te lubriseer.  Hy hou haar gesig dop en sien hoe haar ooglede swaar begin hang en oor die luidsprekers in sy helm kan hy hoor hoe haar asem begin jaag.

Sy geghriesde koppelbuis druk in Mira se koppelopening in.  Die elektrode in sy brein stimuleer sy limbiese stelsel en hy voel hoe die paringsdrange in hom opstoot net toe die suiging van die vakuumpomp binne die koppelbuis aanskakel.  Die vakuum suig rondom sy penis sodat dit die hele koppelbuis vul.

‘n Dik louwarm plastiekprik word in Mira se module se koppelkamer gevorm tot dit dieselfde vorm as Jochi se opgepomte penis het en dan stoot dit in Mira se vagina op.  Die woord PENETRATION verskyn op beide se skerms, maar Jochi se sig is nou so wasig van die genot wat deur hom spoel dat hy dit nie eens oplet nie.  Riffels binne die koppelbuis begin van voor na agter rondom sy penis van die basis na die knop rits.  Die riffelings kom al hoe vinniger en vinniger totdat hy swaar asem haal.

Hy maak sy bleek oë oop om die uitdrukking van verlamde ekstase in haar gesig te sien toe die orgasme deur sy brein en lyf skiet.  Hy voel hoe die sperms deur sy penis in die koppelbuis spuit van waar dit deur die kunsprik in Mira se wagtende vagina gepomp word.  Die suiging van die vakuumpomp skaal stadig af maar hy kan die vibrasie van die rubberknop wat Mira se klitoris stimuleer nog steeds deur hul koppeling voel.  Hy kan sien hoe haar gesig al hoe rooier word en dan hoor hy haar diep sug.  Eers na ‘n minuut of so maak sy haar oë oop en gee ‘n wellustige giggel.

Laggend, en in ‘n waas van ekstase, tuimel hulle in ‘n wilde baan deur die ruimte.  Beide moes van beter geweet het – jy kan vinniger weg van die son af beweeg as na die son toe.  Sonlig verlig voorwerpe wat in die ruimte dryf maar die skadukant is gitswart en verdwyn teen die inkswart duisternis van die ruimte.  As jy gelukkig is kan jy ‘n silhoeet van ‘n voorwerp teen ‘n sterreveld sien, maar andersins nie.  In hul lawwe ekstase het nie een agtergekom dat beide se proksimiteitsensors nog steeds afgeskakel was nie…

Mira het gegil toe sy die slag voel.  Jochi se gryparms was nog steeds styf teen haar aangeklamp en sy koppelbuis was nog steeds binne haar koppelopening geanker.  Gelukkig vir haar het die kunsprik na Jochi se ekajulasie uit haar vagina teruggetrek anders sou die slag haar oopgeskeur het.  Die slag het hulle van die stuk ruimterommel waarmee hulle gebots het, laat wegskram en nou tol hulle deur die ruimte.

In haar trukamera sien sy Jochi se oë wit omdop.  Paniekerig probeer sy hom wakkermaak, maar sy besef dat daar iets ernstig fout is.  Sy kry hulle tuimeling onder beheer en nou kantel sy hulle gekoppelde modules in die rigting van die ruimtestasie.  Dit gaan moeilik want Jochi se kapsule blok die spuite van haar agterste manoeuvreringsvuurpyltjies  Sy moet hulle twee se gekoppelde modules omdraai totdat sy met haar voorste vuurpyltjies hulle agteruit in die rigting van die ruimtestasie kan stuur.  Terwyl haar noodligte flits saai sy die noodsein uit.

* * *

Die paramedic skroef die helmstuk af en stut Jochi se kaal kop liggies in die rubberkussing van sy linker gryparm.  Met die veeldoelige regter gryparm maak hy Jochi se mond oop wat pienk oopsper om te sien of daar iets is wat sy lugweg moontlik versper voordat hy kunsmatige asemhaling kan toepas.  Gelukkig het Jochi nie soos sommige mense rudimentere tande nie en dit vergemaklik die prosedure wanneer die paramedic die respirasiebuis deur Jochi se slap mond in sy keel afdruk.

Behendige bewegings van die paramedic en sy assistent knip die ingeduikte module rondom Jochi se liggaam oop.  Die hulsel split oop en Jochi se lyf peul met ‘n suiggeluid half uit die rubber stutkussings wat vir jare sy volwasse lyf in posisie gehou het.  Die flitsende ligte van die mediese module weerkaats op die antiseptiese smeerjel wat sy wit, deursigtige vel bedek.  Die paramedic sê sy assistent aan om Jochi se module se pote vas te gryp terwyl hy Jochi se lyf onder sy dun armpies vasklamp om sy bene uit die onderste deel van die module te trek.  Mense se geatrofeerde bene kom in allerhande vorms vanaf lang beenlose aanhangsels tot vleisknoppe met toontjies, maar in Jochi se geval was daar twee klein beentjies van omtrent 30 cm lank en dit was maklik om die wit worsagtige lyf uit die gebroke kapsule te trek.

“Opruimspan staan by!” kom dit oor die luidsprekers in verskeie kopstukke.  ‘n Skerp suiggeluid volg en die buise, wat vir dekades binne Jochi se rektum en blaas ingeplant was, trek morsig uit.  Uriene en drek spuit in geel en swart wolke uit sy bloederige openinge wat die opruimspan dadelik met vakuumbuise begin opsuig voor dit oor die oppervlaktes smeer of deur die ventellasieroosters ingesuig word.

Mira het nog nooit ‘n volgroeide mens sonder sy module gesien nie en sy staar snikkend na Jochi se liggaam wat hulle nou op ‘n draagbaar vasmaak.   Die maatskaplike werker in ‘n wit kapsule klamp vriendelik maar ferm aan Mira se oranje kapsule vas en lei haar weg.  Mira gee diep snikke, maar in haar hart is daar ‘n warm gevoel – oor ‘n paar maande gaan sy geboorte aan ‘n werpsel babas gee.  Mense kan sê wat hulle wil oor hoe lelik babas is, maar voor haar babas hulle hul eie modules kry, wil sy net hulle wit wors-lyfies stukkend druk van liefde en hulle baie baie soentjies gee!  En sy sal een Jochi noem.

 

* Odd Nerdrum – 1999

+4

8 thoughts on “Voortplanting 1 002 021 CE

    • Januarie 22, 2021 at 4:46 nm
      Permalink

      Waaragtig uiterste snert, maar om die dood kon ek nie ophou lees nie.
      Welgedaan Uther.

      Reply
  • Januarie 20, 2021 at 10:02 vm
    Permalink

    Liebe aarde het nie gedink dat iemand so verbeeldingvol kan dink nie! Knap gedaan dankie

    Reply
  • Januarie 19, 2021 at 3:43 nm
    Permalink

    Onthou jy die vorige Voortplanting storie van hom, Will?

    Reply
  • Januarie 19, 2021 at 3:21 nm
    Permalink

    Eureka ! “n Volwaardige wetenskapfiksie verhaal ! Ek is persoonlik baie lief om SF te lees maar daar is bittermin in Afrikaans geskryf. Hierdie storie vul al reeds van daai leemte en dan nog met ‘n seksuele konsep. Baie knap gedaan Uther, inderdaad ‘n deurbraak en tegnies ook vol sterkte !
    Jy is inderdaad ‘n Woord Kunstenaar ! Baie dankie, dis ‘n voorreg om jou werk te kan lees op hierdie briljante webwerf.

    Reply

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)
Enable Notifications    OK No thanks