Mihály Zichy
deur Uther Pendragon
Mihály Zichy (1827-1906) was ‘n Hongaarse kunstenaar wat bekend was vir sy romantiese skilderye. Romantiek beteken iets anders in kuns as in die gewone gebruik van die woord. Romantiek was ‘n kunsstyl en filosofiese beweging wat aan die einde van die 18de eeu in Europa ontstaan het as reaksie teen die Franse Verligting na die Franse Revolusie en die Industriële Revolusie. Die hoofdoel van die beweging was om die belang van subjektiwiteit, verbeelding, die bo-natuurlike, die eksotiese en idealisering van geskiedenis en die natuur te beklemtoon. Romantiek het ook individualisme voorgestaan waar passie en intuïsie en morele oortuiging van die enkelling voorrang geniet het.

Mihály Zichy, wat deel van die Hongaarse adellui was en die titel graaf gehad het, se broer Antal was ‘n politikus en lid van die Hongaarse Wetenskapakademie. Mihály het, terwyl hy wet in Pest (die oostelike deel van Boedapest) in Hongarye gestudeer het, ook kunsklasse by Giacomo (Jakab) Antonio Marastoni se kunsskool bygewoon. Daarna het hy vir verdere kunsopleiding na Ferdinand Georg Waldmüller in Wene in 1844 gegaan. Hy was op aanbeveling van Waldmüller deur Groothertogin Elena Pavlovna van Rusland in 1948 as kunsonderwyser vir haar dogter (die niggie van Tsaar Nicholas I) in St. Petersburg aangestel.
Zichy het danksy sy Romantiek-opleiding in die Waldmüller skool, geslaag daarin om kunswerke te skep wat skok en ‘n emosionele reaksie soos simpatie of afgryse by die kyker ontlok. Zichy het ook ‘n liberale lewensuitkyk gehad en was ‘n politieke idealis soos wat mens in sy kunswerke kan sien waar hy kerk en politieke leiers as booswigte uitgebeeld het. Hierdie politieke liberalisme het hom genoop om reeds in 1849 uit die diens van die groothertogin te bedank in protes teen die Russiese onderdrukking van die Hongare.

Die triomf van die Genie van Vernietiging (Mihaly Zichy, 1878)
Na ‘n tydperk waar hy karikature en portrette vir mense geskilder het, was hy deur Tsaar Aleksander II as hofskilder in 1859 aangestel. Tydens sy verblyf in Rusland het hy homself as bekwame kunstenaar in verskeie mediums soos potloodsketse, waterverf en olieverf gevestig en het portrette en tonele van die hofhouding in
Rusland geskilder. As boekillustreerder het hy die illustrasies van die Georgiese epiese gedig Die Ridder in die Luiperdvel in 1881 gedoen. Hy was oorspronklik deur die Georgiese kultuurleiers aangestel om die illustrasies te doen, maar was so deur die gedig geroer, dat hy uiteindelik die 35 illustrasies aan die Georgiese volk as
geskenk gegee het.
Regdeur sy lewe was Zichy aan die kant van die godsdienstige en politieke onderdruktes en het dit duidelik in sy kunswerke uitgebeeld. Alhoewel hy Katoliek was, was hy geweldig gekant teen die gruwels wat die kerk en staat onder die vaandel van die Christelike geloof gepleeg het. Van sy werke soos die briljante Die triomf van die Genie van Vernietiging, was verban en vir dekades toegesluit weens die uitbeelding van die kerk en politieke leiers as instrumente van Satan.

Rustaveli oorhandig aan Koningin Tamar die epiese gedig (Mihaly Zichy, 1881)
Vanaf 1871 reis hy deur Europa en in 1874 verlaat hy die Tsaar se diens en verhuis hy en sy gesin in 1875 na Parys waar hy die bekende kunstenaars Félicien Rops en Gustave Doré bevriend. Hy het ook ‘n fonds geskep om sukkelende kunstenaars finansieël by te staan. In die 1880’s verhuis hy na Zala in Hongarye en keer kort daarna weer na Rusland terug waar hy vir die res van sy professionele loopbaan as hofskilder vir verskeie tsaars optree. Zichy sterf in 1906 in St. Petersburg, maar is in die Kerepesi-begrafplaas in Boedapest begrawe.
Ondanks sy uitnemendheid as romantiese kunstenaar en politieke en sosiale kommentator, sal Zichy die beste vir sy erotiese kunswerke onthou word. Hierdie kunswerke wat waarskynlik tydens sy verblyf in Parys in potlood, ink en waterverf geskep is, het eers na sy dood aan die lig gekom en was in 1911 in ‘n boek getiteld Liebe gepubliseer.
Die warm intensiteit tussen die karakters val mens op, terwyl die uitbeelding van detail soos die deurmekaar beddegoed, die vrou se toontjies wat in ekstase opkrul, die swanger seks, die deurmekaar hare, die voorliefde vir orale seks, die intieme gemak van mense wat bekend met mekaar is, die vergete – soms slap – penis, die ongeposeerdheid en selfs onvlyende uitbeelding van die lywe, dra alles tot die realisme van die kunswerke by.
Dit is duidelik dat Zichy in sy kunswerke die intieme erotiese interaksie tussen regte mense uitgebeeld het, eerder as om erotiese fantasieë uit te beeld of bloot sensasionele erotiese stimulasie aan die manlike kyker te bied. Ek glo dat Zichy deur hierdie kunswerke sy eie erotiese ervarings wou verewig en dat dit vir sy eie private gebruik en nie vir ons oë bedoel was nie. Al is ons tot voyeurs van hierdie hoogs intelligente, emosioneel sensitiewe man se erotiese herinneringe beperk, is ek tog bly dat ons iets daarvan kan deel.


Baie insiggewend en interessant!