Die deugsame vrou
deur Uther Pendragon
Die wekker lui en Betsie klim uit die bed – sy staan dadelik op want die oggendstond het goud in die mond soos oorle Ma altyd gesê het. Sy trek ‘n japon oor haar nagkabaai want dit is hoe dinge gedoen moet word – soos ma altoos sê: “die Here hou nie van onbeskaamde losswaaiende tiete nie. Mens se liggaam is die tempel van die Here.” Sy knyp haar oggend-piepie en trek dadelik die bed reg en gooi die Biggie Best print gekwilte bedsprei oor die bed. Ma het altyd gesê: “Elizabeth! Mens se kamer moet nooit soos ‘n hoernes op ‘n Maandagoggend lyk nie! Maak reg, pak weg! Jou klere is of aan jou bas, in die kas of in die was!” Sy tel vinnig haar broekie van gister van die vloer af op en bol dit in haar hand op en sit dit in die wasmandjie in die badkamer. Sy piepie die tjorrende straal beskaamd vinnig na die porselein sodat dit nie lawaai nie – want dit klink te verskriklik as dit so tjor – nes ‘n koei in die stal soos Ma altyd gesê het. Nou eers gesig was, onderstel afvee, roompies insmeer en hare borsel – dis die eerste rondte van regmaak voor ontbyt.
Alles is skoon en netjies in die kombuis. Sy was mos altyd skottelgoed en ruim op in die kombuis na aandete want net slegte vrouens laat skottelgoed in die wasbak en hulle kombuis vol kakkerlak-kos laat soos Ma altyd gesê het. Sy haal een bakkie uit die kas en gooi muesli daarin. Muesli is goed vir jou sê Ma – dit is vol vesels wat mens gereëld hou en dit het lae GI en vitamine en minerale op die koop toe. Sy gooi afgeroomde melk by sodat dit kan sag word terwyl sy tee maak. Afgeroomde melk is beter vir die figuur en daarom gebruik sy ook nie suiker nie. Ma sê altoos dat mans nie van vet vrouens hou nie want vet vrouens is nie ordentlik nie – hulle kan hulself duidelik nie beheer nie en gee hulself oor aan die wellus van die lewe en die sondigheid van die natuur. Ordentlike vrouens is skraal, bedees en bowenal gehoorsaam aan God en die man wat God die opdrag gegee het om Koning, Priester en Profeet in die huis te wees.
Soos sy ingedagte haar pap roer dink dat God weet hoe haar 40 jaar van toewyding aan Hom en sy gebod haar voorberei het om die opdrag van Kolossense 3:18 uit te leef. Sy weet en vertrou dat God vir haar nog eendag so ‘n man gaan stuur. Sy sal geduldig wag – nes Rut vir die regte man, nie soos daardie hoer by die werk wat nes Batseba ‘n ander vrou se man afgevry het nie. Sy het nes Ma haar Steve se CD’s weggegooi in solidariteit met verneukte vrouens. Wat te erg is, is darem te erg! En Pa… sy wil nie eens aan Pa dink nie.
Nou moet sy roer, haar dagdromery het veroorsaak dat sy 3 minute laat is. Gelukkig bad sy in die aand voor boekevat en slaaptyd, so dit is net tande borsel en hare vasmaak en aantrek. Sy moet wikkel met rok-uitkies vanoggend. Dit is of die swart romp met die lig-pers bloes, of die grys romp met die blou bloes. Sy trek solank haar broekieskouse en dan haar stywe vorm-verslankende broekie aan. Soos Ma altyd sê: “boudswaaiery is ‘n dans met die Duiwel my kind!”
So ja, sy kyk goedkeurend na haarself in die spieël en vryf oor haar lyf – alles is in plek: styf, ferm, ingegord, toe en netjies. Ma sal tevrede wees – almal kan sien dat sy wat Betsie is, ‘n ordentlike en betaamlike vrou is. So in die verbyloop maak sy die hopie Huisgenote, Saries en Crochet Monthly op die koffietafel netjies, skuif die Dresden porselein-skaapwagtertjies wat sy by haar ouma geërf het terug op hulle perfekte plekkie op die gehekelde lappie op die telefoonkassie langs die bank en skuif daarna die kombuisstoel onder die tafel in. Skuldig vermy sy die aansig van die vuil papbakkie, lepel, teekoppie, piering en teelepel in die wasbak – sy sal dit vanaand doen as sy by die huis kom want as sy nie roer nie is sy laat vir die bus. Sy raap haar selfoon en die woonstelsleutels in die verbygaan op.
***
Sy kyk oor haar bril in die rigting van die kantoor waar die nuwe beleggingsbestuurder hom by sy lessenaar tuismaak. Hy is ‘n lang, bonkige man van in die vyftigs. Sy het vir Saartjie van PR ge-epos om in sy leêr te loer, maar sy moet dit nie te ooglopend laat lyk nie. Die eerste antwoord wat sy wil uitvind is of hy getroud is of nie, nee wag, belangriker nog – is hy ‘n kind van die Here of nie? Dit is tog die belangrikste. Maar wat daarvan as hy beskikbaar is maar nie ‘n kind van die Here nie – of wat daarvan of hy getroud is maar wél ‘n kind van die Here? Sy kan nog werk met iemand wat getroud is en ‘n kind van die Here is – maar die ander moontlikheid is haas ondenkbaar.
‘n Nuwe epos pop op – dis van Saartjie. Sy naam is Jacobus en hy is ‘n wewenaar en dus – ongetroud! Wat ‘n vinnig-hartkloppende verassing! Sy skraap haar moed bymekaar en loer in die smukspieëltjie in haar laai of haar hare nog in plek vasgenkip is. Sy glo haar motivering is suiwer – sy gaan geen openlike belangstelling toon nie want dit is hoe slette maak – Ma het altyd gesê dat goeie mans afgeskrik word deur meisies wat uitlokkend en te ooglopend angstig is, goeie mans hou van bedeesde, onderdanige en ordentlike meisies – “onthou die man is die jagter en die vrou is die bokkie my kind.”
Sy stap doelgerig na sy kantoor en klop sag aan die deur. Hy kyk op en sy grys oë kyk vriendelik op na haar. Die bloed druis in haar kop maar sy hoor haar stem soos dié van ‘n vreemde sê: “Hallo Jacobus, my naam is Betsie en ek werk by aankope. Welkom by ons” en sy reik outomaties haar hand uit na hom. Sy groot warm hand vou ferm om hare en sy diep stem dreun: “Dankie Betsie, noem my Kobus”. Ten spyte van die gloed wat oor haar sprei wil sy graag die gesprek laat voortduur en sy volg op met ‘n deurmekaar gebrabbel wat uiteindelik eindig met ‘n lammerige – “dan sien ek jou teetyd in die personeelkamer?” Hy knik instemmend en glimlag vir haar terwyl haar hart in haar ore hamer. Later in die teekamer word Kobus egter toegesak deur die ander vrouens en sy kan nie eens sy oog vang of ‘n woord met hom praat soos hulle uitvraery en gebabbel alles oordonder.
Daardie aand gooi sy roosgeurige badsout in haar badwater en sy was haar hare met haar spesiale wortel-voedende, glansgewende sjampoe. Later versorg sy haar naels en sit haar deursigtige naellak op wat sy vir spesiale geleenthede soos troues en begrafnisse spaar. Sy kan amper nie slaap van opgewondenheid nie. Die volgende dag borsel sy haar hare en bewonder die sygladde voorkoms daarvan – al is sy grys, is haar hare blink en gesond. Natuurlik sal sy dit nie kleur nie – soos Ma altyd sê: “bo blink, onder stink my kind – mens is tevrede met wat die Here jou gee.” Sy trek sy dan haar mooiste pienk bloes met die valletjies aan en sy trek haar kerkskoene aan. Sy lyk soos ‘n blink sikspens en sy weet sommer dat hy haar vandag gaan raaksien.
Maar sy word weer getroef – al die vrouens is duidelik meer opgesmuk as gewoonlik en Ruth daardie… jinne, mens mag dit nie eens dink nie… sy het ‘n mini aan vandag en sy het haarself in die stoel reg oorkant Kobus tuisgemaak – dis net dye en hoë-hakke en rooi naels waar jy kyk. Kobus kry weer nie ‘n kans om met haar kontak te maak nie. Sy moet ‘n plan maak, haar gedagtes maal rond – skryfbehoeftes! – dis nou ‘n goeie en veilige plan. Sy raap ‘n paar penne, potlode, ‘n lineaal, skerpmaker en uitveër uit die skryfbehoeftekas en stap vinnig na sy kantoor voor iemand haar weer voorspring. Sy klop saggies aan sy deur en staan voor sy lessenaar. Hy kyk op en sy gesig kreukel in ‘n glimlag toe hy sien wie dit is. “Hallo Betsie, hoe gaan dit met jou?” Sy stem rammel deur haar wese. Blosend antwoord sy: “Hallo Kobus, ek het gewonder of jy nie dalk skryfbehoeftes kort nie” en sy hou met ‘n reguit arm die goed na hom toe uit om seker te maak dat hy haar naels kan sien – en as sy blik so met haar arm opgaan sal hy seker ook die pienk valletjies van haar bloes kan sien en die mooi borspeld (van skulp – nie goud nie), wat sy by haar ouma Elizabeth geërf het, voor op die knoop onder haar keel en dan sal hy haar hare en dan haar gesig raaksien en in afwagting glimlag su so liefies as wat sy kan. Hy kyk egter stip na die potlode en penne en kies een van elk en dan kyk hy reguit met sy grys poele in haar oë en dreun: “Dankie Betsie, ek sal hierdie neem”. Haar arm bly egter vir ‘n paar ongemaklike sekondes na hom uitgestrek. Sy trek haar hand vinnig terug toe daar ‘n skemering van ‘n frons op sy voorkom verskyn en stamel: “reg so, laat my gerus weet as jy enigiets anders wil hê” en sy draai dadelik om en stap uit sy kantoor voordat hy sien hoe bloedrooi sy bloos.
Die hele dag is sy van hom bewus en loer elke nou en dan oor die ruimte tussen hulle kantore om te sien of hy in haar rigting kyk. Sy sit kiertsregop en raak nou en dan aan haar hare en pof die valletjies van haar bloes op net om seker te maak als is in plek. Maar al sy aandag is op sy werk gefokus – en toe gebeur dit! Ruth wip-wals in sy kantoor in en sy kan hoor hoe Ruth hom uitnooi vir “drinks” na werk. Sy slaak ‘n sug van verligting en haal weer normaal asem toe sy Kobus se stem oor die ruimte hoor sê: “nee dankie Ruth, ek is besig vanaand.” Ruth antwoord koketterig-sarkasties: “OK, dan, miskien ‘n ander tyd nê?” en Ruth loop uit sy kantoor met ‘n gedetermineerde uitdrukking op haar gesig.
***
So gaan die dae verby en dinge word maar net nie beter vir Betsie nie. Sy doen alles wat sy kan om Kobus se aandag te kry: nuwe sepies, nog badsout (want haar voorraad wat sy oor die jare opgehoop het, was binne twee weke se gebruik al op), haaropknapmiddel, sy het selfs amper oorweeg op lig-pienk naellak te kry, maar toe vinnig besluit om verby die hoer-skarlaken rak te stap net toe sy Ma se stem in die agterste skuldige hoekies van haar brein begin hoor praat het: “Timoteus waarsku dat die deugsame vrou eerder haarself moet versier met fatsoenlikheid en beskaamdheid my kind, en nie met vlegsels of juweliersware of mooi klere nie.”
Maar niks werk nie. Kobus is ‘n harde, pligsgetroue werker – soos ‘n regte man veronderstel is om te wees. Hy is ernstig en beheersd oor die foon en is vriendelik dog saaklik met die kliënte wat hom kom sien. Hy is egter joviaal en vriendelik in die personeelkamer maar dan is hy toegekoek onder die ander vrouens wat hom soos skadus volg wanneer hy nie werk nie. Betsie sit maar eenkant en betrag alles maar luister angstig om sy gemoedstoestand te peil, om krieseltjies inligting oor hom te bekom om ietsie van sy persoonlikheid te bespeur. Hy hou egter sy private gedagtes en emosies goed onder beheer ten spyte van sy gemoedelikheid. Betsie stel nie in die oppervlakkige goed belang nie – sy wil meer van die man weet – meer, nee alles, van die diepste, binneste wese van hom.
Hy kom uit die badkamer toe sy in die gang afstap. Die gedagtegang: “badkamer – piepie – het dit in sy hand vasgehou” skiet onwillekeurig deur haar brein en blosend kyk sy vinnig af na die dokumente in haar hand en mompel sag “hallo” toe hy haar groet. Toe die gloed deur haar lyf spoel besluit sy dadelik om ‘n nood-koppie tee te gaan maak om haar gemoedstoestand tot berusting te bring. Ma het altyd gesê dat ‘n koppie tee die beste raad vir stuitigheid is.
In die aande fantaseer Betsie hoe goed sy vir ‘n man soos Kobus sal wees. In die aande na werk sal sy vir hom ‘n bord warm tuisgekookte kos voorsit met groente, nie te veel stysel nie en net die regte hoeveelheid vleis. Hulle sal aan tafel sit en oor die dag se gebeure by die werk gesels terwyl hulle eet. Na ete sal hy op die stoel sit en nuus kyk terwyl sy skottelgoed was. En dan sal sy gaan bad terwyl hy dalk na nog iets op TV kyk. Dan sal sy in die bed klim en met haar hekelwerk aangaan terwyl hy gaan bad en dan kom hy skoon en gladgeskeer in sy nagklere, japon en pantoffels na haar toe en dan boekevat en bid en dan … op daardie punt van haar blosende gedagtegang gaan maak sy maar ‘n koppie tee.
***
Brawe Betsie gee nie moed op nie. Elke aand en oggend spandeer sy meer en meer tyd aan haar voorkoms. Sy pluk mikroskopies-klein haartjies tussen haar wenkbroue uit en oefen in die spieel om op so ‘n manier te glimlag sodat die plooitjies langs haar oë nie te opsigtelik lyk nie. Haardosse soos vlegsels het sy nou nie maar sy borsel haar reguit haartjies uit totdat dit sy-glad blink. Sy gaan koop selfs vir haar ‘n wit bloes wat ‘n fyn kantafwerking het. Wit is goed en rein, dis juis skarlaken wat Petrus teen waarsku – want dis die teken van ‘n gevalle vrou.
Ruth laat egter ook nie met haar speel nie en sy dra nou mini-rokkies wat by die dag korter word terwyl haar kunsnaels en die hakke van haar skoene al hoe langer word. Op die koop toe lyk dit asof Ruth nou ‘n oneindige voorraad lae-hals bloese het en sy kom elke tweede week met ‘n nuwe haardos of –kleur te voorskyn.
Maar Kobus, liewe standvastige Kobus, hou koers – reguit, beginselvas, gefokus, skynbaar onbewus van die haardosse, gapende halslyne, wippende boude, blote dye, hare, skarlaken naellak, Jesebel-swart oogskadu, fladderende wimpers, skarlaken lipstiffies, pruilende monde en uitlokkende geselsies en – Betsie skep moed. Soos Ma altyd gesê het: “my kind weerhou jou van ‘n geverfde gesig en hooftooisels – die kernmerk van ‘n goedkoop meisie en goeie mans sal jou versmaad” en liewe Kobus is ‘n toonbeeld daarvan.
***
Een middag sien Betsie hoe Kobus na die fotostaat-kamer toe stap en sy raap ‘n dokument van die tafel af op en volg kort op sy hakke.
“O, haai Kobus, ek het nie geweet jy is hier nie,” jok sy en volg op met: “ek kan later weer kom as jy lank besig gaan wees.”
Hy kyk op en soos gewoonlik omhels hy haar met sy warm glimlag: “hallo Betsie, nee ek het net ‘n paar fotostate om te maak, trouens jy kan voor my gaan as jy haastig is” en hy staan opsy vir haar. In die nou spasie skuur sy lyf teen hare. Sy voel asof haar bene onder haar wil swik. Bewerig sit sy die dokument op die glas neer. Hy staan so naby haar dat sy sy manlike reuk inadem. Sy maak sommer twintig kopieë van die nuttelose dokument om die nabyheid so lank moontlik uit te rek. Hy begin met haar te gesels – oor ditjies en datjies en kort voor lank vra hy haar of sy lus is om hom na werk na ‘n koffiewinkel toe te vergesel, buiten as sy ander planne het.”
Paniekerig stik sy amper aan die spoeg in haar keel. “Nee ek kan nie vanaand nie” bars dit skrillerig en onkeerbaar uit haar mond en skamerig voeg sy by: “miskien anderdag, dankie.” Sy kan haarself skop want sy wil eintlik so graag instem. Maar nog niemand het haar vir enigiets uitgeneem nie, nie eens vir ‘n melkskommel nie, nog minder vir koffie of ‘n ete, of ‘n fliek of… Haar kneel knyp toe en sy gryp haar dokumente en met ‘n onseker stappie haas sy haarself na haar kantoor toe sonder om eens die teleurstelling op sy gesig te sien. Ma het altyd gesê dat ‘n oorgretige meisie die man gaan afsit, ‘n ordentlike meisie moenie maklik wees nie. Die man moet werk daarvoor en hoe ordentliker die meise, hoe harder moet die man vir haar werk – kyk nou maar vir Jakob en sy liewe Rageltjie. Met ‘n tikkie bitter weemoedigheid dink Betsie: “sy was seker ook my ouderdom toe Jakob uiteindelik met haar kon trou”. En buitendien sy het nie haar spesiale bloes of skoene vandag aan nie en sy wil nuwe naellak aansit en spesiaal ietsie gewaagd doen soos om parfuum vir so ‘n spesiale geleentheid aan te sit. Sy gaan maak vir haar ‘n koppie tee om die bewerigheid, die wilde gedagtes, en die gloed wat nou deur haar lyf spoel, te laat bedaar.
Betsie is egter nie links nie, sy gaan hom dié keer uitnooi – net om te wys dat sy tog belangstel, maar op ‘n ordentlike manier. Sy is versigtig, mens kan nooit ‘n kans vat nie – “die man moet die inisiatief neem my kind. ‘n Meisie wat oorhaastig is, sit mans af, hulle sal dink jy is onbetaamlik. ‘n Vrou ken haar plek my kind.” Sy het lank hieroor getob maar uiteindlik die moed bymekaargeskraap om Kobus ‘n paar dae later na hulle Donderdag-middag etenstyd Bybelstudie-groepie byeenkoms in die kommitee-kamer uit te nooi. Dit is nie bloot vir haar eie selfsugtige redes nie, al wat sy wil doen is om saam met hom die Here te dien en dus gee sy haarself die toestemming om hom uit te nooi.
Sy antwoord versteen haar – haar lyf verkoud en verstram toe hy sê: “Nee dankie Betsie, ek verkies om nie na die Bybelstudie-groepie se vergadering te kom nie want ek glo nie in God nie”.
“Maar hoekom nie?” snik dit deur haar lyf.
“Ek het eens op ‘n tyd in God geglo maar toe het my vrou, wat ook ‘n toegewyde Christen was, kanker gekry. Ek het oor 20 jaar haar versorg terwyl sy agteruitgegaan het en ek het my knieë deurgeslyt soos ek dag vir dag en jaar op jaar vir genesig gebid het”. Hy bly vir ‘n ruk stil en dan volg hy skor: “later het ek net vir ‘n genadige dood gebid maar nog voor sy uiteindelik van haar lyding deur die dood verlos is, het elke greintjie geloof verloor.”
“God is weë is vir ons onbegryplik, ons moet sy wil aanvaar” sê-huil Betsie.
“Jesus het ook gesê dat dié wat die geloof van ‘n mosterdsaadjie het, se gebede verhoor sal word. Dink jy dat ek en my vrou en die hele gemeente en familie saam wat vir haar vir 20 jaar gebid het nie gesamentlik die geloof van een mosterdsaadjie gehad het nie?”
Die trane loop stil oor Betsie se wange.
“Dit is vir my baie makliker om dit te verwerk deur om te glo dat kanker ‘n lukrake ding is wat toevallig sommige mense, selfs baie goeie en gelowige mense, oorkom eerder as om te glo dat God wat veronderstel is om almagtig, liefdevol en genadig te wees, aspris mense op so ‘n wrede manier doodmartel” sluit Kobus af en kyk terug na sy lessenaar-blad.
Bedruk en emosioneel gekneus en verskriklik teleurgestel strompel Betsie, deur trane verblind, terug na haar kantoor en sluit die deur. Eers na ‘n lang ruk het sy met rooi-geswolle oë by haar Bybelstudie-groepe aangesluit en ondanks die bekommerde vrae wou sy niemand vertel wat die rede vir haar hartseer is nie.
***
In die daaropvolgende dae lees sy verwoed elke berig wat sy kan kry oor verhoudings. Die Lief en Leed, Verhoudings, Liewe Elize tydskrif-rubrieke. Sy Google skelmpies soekwoorde soos non-believer, relationships, atheist, religious, affairs, marriage en lees alles wat sy kan terwyl die woorde van 2 Korintiërs 6:14 in haar kop bly maal: “Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie.” Maar wat van Boas en die Moabiet Rut, en wat van Moses en die Kussiet Sippora, en wat van Ragab, die hoer van Jerigo, wat Jesus se oer-oumagrootjie was? En skielik besef sy met maag-beklemmende skaamte dat dit elke keer die vrou was wat die smet van ongelowigheid gedra het en dat elkeen van daardie bevlekte vrouens slegs deur die perfekte man na die heerlikheid van God gelei is. En nou – nou is dit andersterom!
Aand na aand huil sy haarself in haar eensame oujongsnooi-bed aan die slaap. Sy bid vurig dat die Here haar tog die regte man moet stuur, of andersins dat God Kobus se verbitterde hart genees. Sy is lusteloos en het alle belangstelling in alles in die lewe verloor. Die bottels haarvoeding, badsout, naellak staan so onoopgemaak. Kobus se nabyheid verwar haar nou en maak haar seer en angstig. Tog is hy altyd ordentlik en vriendelik jeens haar. Hy is nooit opdringerig nie en hy reageer nie op die koketterige gedrag van die ander ongetroude (en getroude) vrouens by die werk nie. Hy voldoen aan elkeen van haar/Ma se vereistes van hoe ‘n man moet wees – sterk, ferm, vriendelik, empaties, hardwerkend, eerlik, reguit …. (en groot en sterk en so manlik) voeg sy vinnig by. En as hy met haar praat vibreer sy stem tot – wel daar.
Van daar gepraat: die engiste tyd wat sy daar vat is wanneer sy haarself in die aand was as sy bad. Sy vroetel nie met haarself nie – soos Ma altyd gesê het: “as jy nie eens respek vir jou eie liggaam, wat die Tempel van die Here is, het nie hoe sal jou man jou respekteer? Dit het plek in die huwelik my kind en dis jou man se beloning.” Tot haar skaamte moet sy bieg, sy het haar plekkie al ‘n paar keer te lank en hard gewas as wat nodig was. Die gevolglike gevoel het haar met skaamte en skuld gevul – maar hoekom sou God dit dan so gemaak het as dit verkeerd is? – dink sy dan en krimp die volgende oomblik weer ineen met skuldgevoel. Dis die sondige vlees waarna daar so dikwels verwys word: die slang in die Paradys, die verbanning uit die Tuin, die pynlike kindergeboorte, die Sondvloed – elke plesier het sy prys.
Toe sy ‘n dogtertjie was het Pa Ma vir daardie Batseba gelos – die een met die kort rokkies en dik bruingebrande bene en rooi tone en vingers – daardie vet slet met die wilde tiete wat altyd so aan hom, selfs voor almal by die werk-funksies, gevat het. Sy het ook nooit kerk toe gegaan nie en sommer oop-mond met haar rooi lippe vir vuil grappe gelag. Wat kon pa ooit in so ‘n vieslike vrou gesien het, hoe kon hy ooit Ma gelos het? My deuglike Ma – sy wat altyd die huis so mooi netjies en ordelik gehou het, sy wat altyd vir ons gekook het, en naaldwerk gedoen het, en ons wasgoed gewas en gestryk het, altyd deur ‘n ring getrek kon word en bowenal in die kerkkoor gesing het. My Ma die engel en my Pa die hoereerder…. en sy snik uit haar diepste.
Die jaareindfunksie-uitstappie was vir haar die ergste. Sy het ‘n plekkie aan die venster-kant van die werk se mini-bussie gekry en voor sy wis wat aangaan skuif die rysige figuur van Kobus langs haar in. Sy skuif teenaan die kant om plek vir hom te maak want hy is so groot dat sy een dy in die gangetjie hang. Hy skuif gesellig teen haar aan en sy dink paniekerig daaraan om uit haar benoude hoekie te ontsnap en kyk wild rond vir uitkoms – maar helaas – al die sitplekke is vol. Hy groet haar egter vriendelik.
Maar sy nabyheid vul haar met renons – hoe durf jy, hoe kan so ‘n perfekte mens nie die kind van God wees nie? Die ondankbaarheid daarvan!” Die ys in haar stem toe sy hom teruggroet kom van elke sel in haar lyf wat weerstand teen hom bied. Sy draai haar kop weg en tuur deur die venster terwyl hulle ry en maak asof sy hom ignoreer, maar sy is pynlik bewus van sy warm dy wat teen hare gedruk is. Sy poog om haar dy weg te trek maar slaag nie daarin nie omdat hy so styf teen haar sit. Hy probeer ‘n paar keer om met haar kontak te maak, maar haar antwoorde is kil en stuurs en kortaf en uiteindelik hou hy op en gesels eerder met die mense aan die ander kant van die gangetjie.
Aan tafel is hy die joviale persoon wat met almal gesels en hardop lag vir ander se grappe. Sy loer nou en dan na hom maar kyk weg elke keer as sy blik na haar kant toe dwaal. Op pad terug maak Betsie seker dat sy langs Saartjie sit en op navraag hoekom sy weer nie langs Kobus wil sit nie, sê Betsie dat hy maar ‘n vervelige vent is wat net oor homself wil gesels. Die hele pad terug werk toe is sy egter heeltyd bewus van sy diep stem wat soos golwe oor haar spoel.
***
Toe gebeur een van daardie dinge waarvan mens net in die tydskrifte lees – Ruth het ‘n klag van seksuele teistering teen Kobus gelê. Almal skinder daaroor – trouens Betsie het daarvan geweet nog voor die klag ingedien omdat sy deel van die skindernetwerk is. Betsie skinder lekker saam – daardie groot brutale man, wat kan mens anders van hom verwag? Regtig? En toe? Ja –nee – die mans deesdae. Soos wolwe in skaapklere. Gebruik vrouens en dump hulle dan. Mens kan sommer sien aan sy houding wat hy regtig van vrouens dink. Ek sê vir jou. Mens wonder ook hoe sy vrou dood is.
Betsie weet egter wat die waarheid is, maar sy swyg daaroor en sy gooi petrol op die vuur: “Julle weet natuurlik dat hy ‘n ateïs is nê? Wat kan mens verwag van iemand wat God verwerp en die bose aankleef?” En so word die man behoorlik modder gesmeer. Almal vergeet dat Ruth by hom aangelê het en hy ordentlik, maar ferm, haar van die begin laat weet het dat hy nie in haar belangstel nie.
Ruth se klag is dat Kobus haar by die fotokopieërder betas het. Niemand kan tot daar sien nie want die fotokopieërder is in ‘n aparte kamertjie by die agterdeur. Die dag toe die klag gelê is kon Betsie Ruth se histeriese stem uit die bestuurder se kantoor hoor skril en later kon sy Kobus se diep stem afgemete deur die geslote deur hoor dreun. Betsie het oor haar bril geloer toe Kobus met ‘n rooi gesig uit die bestuurder se kantoor storm.
Die volgende dag het Kobus nie by die werk opgedaag nie – die vrouens weet lankal nog voor die amptelike aankondiging hoekom nie. Saartjie het reeds oor oggend-tee laat val dat Kobus op verpligte verlof geplaas is totdat die interne ondersoek afgehandel is. Die skindertonge klap en Kobus word op dieselfde lys geplaas as hoererende sangers, reeksverkragters, sekspeste en elke pervert wat die aarde bevuil. Betsie is nie links nie en kan met vers en kapittel elke aantyging beaam. Almal kloek rondom Ruth wat nou en dan ‘n traan wegpink en gretig haar ervaring, met enigeen wat wil luister, deel.
Uiteindelik kom dit toe uit dat die sekuriteitsfirma wat die kamera by die agterdeur geïnstalleer het, dit op so ‘n posisie geplaas het dat mens in die fotokopieërder-kamer kan inkyk. Volgens die beeldopnames Kobus was nooit saam met Ruth daar nie. Ruth word summier afgedank en Kobus kom weer terug werk toe. Almal – veral die vrouens – tree kil teenoor hom op en niemand sit meer langs hom in die teekamer nie. Ondanks als bly Kobus ordentlik met almal todat hy onverwags sy bedanking inhandig. Die baas probeer hom oortuig om te bly maar hy hou voet by stuk. Nee, hy het geen ander werksaanbod gekry nie dis net dat dinge so onhoudbaar by die werk geword het dat hy maar ‘n ander werk gaan soek.
Hy kom groet Betsie en sy hand is dieselfde warm, ferm hand as van die begin af wat hare toevou. Sy kyk angstig op na hom en al wat sy in sy oë kan sien is genade. Sy stem dreun deur haar: “baai Betsie. Ek is jammer ons het nie kans gehad om mekaar beter te leer ken nie” en toe is hy weg. Dit voel asof die grond onder haar uitval toe sy die finaliteit daarvan besef.
***
Vir maande lank Google sy aanmekaar om hom op te spoor – cyber stalking noem hulle dit. Hy het nie Facebook, Twitter of een van daardie goed nie en dit maak dinge bitter moeilik. Vir die interne ondersoek is sy leêr na die baas se kantoor geskuif en niemand buiten die baas het toegang daartoe nie – dus kan sy nie by Saartjie enigiets verder oor die man uitvind nie. Uiteindelik na amper ‘n halwe jaar vind sy ‘n advertensie op die internet met sy kontakbesonderhede. Dit is ‘n nuwe besigheid wat aanlyn adverteer en hulle het toevallig ‘n winkel in dieselfde woonbuurt waar sy bly.
Betsie loop senuagtig in die winkel in – dit is maar klein en oorvol. Sy groot lyf by die toonbank laat die winkeltjie nog kleiner lyk. Sy maak asof sy nie hom raaksien nie en kyk stip voor haar na die uitstalling in die vertoonkas.
“Hallo Betsie! Wat ‘n verassing!” bulder sy stem en hy lyk waarlik bly om haar te sien.
“O, dit is jy” roep sy gemaak-verbaas uit. “Ek het toevallig hier.. ek meen ek bly toevallig hier… ek bedoel ek is op pad huis toe en het toevallig hier verbygekom” stamel sy.
“Solank jy hier uitgekom het is als in die haak met my” sê hy glimlaggend “is daar iets waarmee ek kan help?”.
Betsie is ietwat verward want sy het nie eintlik beplan om iets te koop nie, trouens sy weet nie heeltemal wat als in die winkel verkoop word nie. “Nee ek kyk sommer rond” antwoord sy vinnig en maak asof sy na goed kyk alhoewel sy skaam-bewus is van sy oë op haar. Uiteindelik kan sy nie meer die spel volhou nie en skraap al haar moed bymekaar en gaan na die toonbank.
“Kobus ek wil net sê dat ek regtig jammer is oor wat gebeur het” sê sy sag.
“Wat bedoel jy? Die ding van Ruth by die werk?” vra hy.
“Ja, maar nie net dit nie – ek is bitter bitter jammer dat ek jou saam met almal beskinder het en so mislik met jou was. Jy het dit nie verdien nie en dit was baie onregverdig teenoor jou”.
Hy kyk na haar en sy kan sien hoe die konflik van emosies oor sy gesig speel.
Hy antwoord afgemete: “Jy het geen idee hoe dit is om alles te verloor en weer te moet begin, net om weer alles te verloor en weer van voor af te begin nie. Ek sien nerens ‘n Duiwel nie – net mense wat ander se lewens vergal.”
“Ek weet. Vergewe my vir my aandeel daaraan. Ek kan nie slaap weens die skuldgevoel nie. Jy was nog altyd net gaaf en ordentlik met my” prewel sy en trane drup oor haar wange.
“Ek was nog nooit kwaad vir jou nie. Ek is net so jammer dat ons op so ‘n slegte voet begin het. Ek wou jou graag beter leer ken het, as jy my maar net ‘n kans gegee het.”
“Ek wil jou ook leer ken Kobus…bitter graag”
Die dam breek – sy kan net nie meer nie – “ek is so alleen!” bars dit uit haar binneste. Hulpeloos val sy vorentoe. Hy vou sy groot arms om haar snikkende lyf en hou haar vas. Die hitte van sy groot lyf vou haar toe en dit voel vir haar asof haar hartseer in sy lyf ingaan en ‘n groot genade van hom af deur haar lyf dring. “Ek ook” sê hy en sy voel sy warmte deur haar lyf vibreer. Sy voel die stoppels op sy ken toe hy haar op die voorkop soen.
Daar is ‘n punt in enige emosionele interaksie tussen twee mense waar konvensies nie aan kan voldoen nie en maatskaplike waardes en norme faal. Betsie en Kobus het oorhaastig, oorywerig en oorstelp hulself in haar woonstel bevind. Al hygende het hulle begin soen – sy arms om haar sagtheid en haar arms om sy hardheid. Sy trek hom na die bank en hulle sak daarop neer. Die bank stamp teen die telefoonkassie en sy hoor hoe die porselein-skaapwagtertjies op die vloer in stukke spat – maar nie een steur hulself daaraan nie.
Haar brein word oorstroom met sensasies: sy groot lyf voel hard en gespierd en harig en warm op en oor haar – instinktief maak sy oop vir hom en word sag en wulps en warm en nat onder hom. Sy soen hom wild en hy soen haar hard. Sy het nog nooit ‘n man buiten haar pa en haar oupa gesoen nie en nog minder ‘n met ‘n oop mond, maar sy kry alles reg asof sy dit haar hele lewe lank gedoen het.
Sy vind vreugde in die natheid van als en dit maak haar wild en sy ruk em pluk onhandig aan sy klere, sy wil hom teen haar voel – in haar hê! Hy pluk sy hemp af dat die knope spat en sy rem aan haar ouvrou-broek terwyl hy sy gordel losmaak. Sy knoop haar bloes oop en hy maak haar buustelyfie los. Sy mond is op haar tepels nog voor sy die bloes behoorlik af het en hy groot hand omvou haar ander bors. Sy gooi haar bene om sy lyf en voel sy borshare teen haar … haar… sy snak na haar asem en druk hom teen haar met haar bene vas.
Hy kom op die bank langs haar sit en sy hand vat haar skaamte stewig vas. Dan voel sy hoe hy sag oor haar begin streel. Sy kyk af na sy skoot en toe sien sy Dit! Dit tier groot en dik en ligblou-beaard op in die lug. Kobus se ding is monsteragtig – soos ‘n dier s’n – niks soos die beeld van Dawid se dingetjie wat sy so skrams met vinnige skelm-kykies in die kunsboek in die biblioteek gesien het nie. ‘n Gril trek deur haar lyf. Miskien is dit omdat hy so groot is. ‘n Oerdrang oorweldig die skok en walging in Ma se stem wat in haar kop begin teem en sy reik instinktief daarna uit en vat dit versigtig in haar hand. Wat doen mens daarmee? Ma en Sarie het haar nie hiervoor voorberei nie! Sy druk dit toe maar en sien met verbystering hoe die dik pers bol bo deur die vel uitbeur, slymnat en blink – is dit reg? Het sy dit dalk gebreek? Is dit seer? Blykbaar nie, want Kobus se soene word selfs meer passievol. Sy druk sy staaf toe maar weer met haar hand en die pers bol kom heeltemal verby die vel te voorskyn. Die skag is so groot en dik dat haar vingers nie eens heeltemal rondom dit kan sluit nie. Haar asem snak toe sy die implikasie daarvan begryp en voor sy verder daaroor kan dink bedek sy mond weer hare. Sy swymel van wellus en ‘n sensuele rilling gaan deur haar lyf en sy raak bewus van haar eie natheid en geswollendheid.
Dis die man – dis die een waarvoor sy so lank gewag het wat haar heerlikheid gaan oopsluit! Die natheid van hulle monde eggo haar ander natheid. Die bewegings van sy hand word al hoe meer dringend maar is steeds lig. Haar heupe kantel nou onwillekeurig heen en weer, haar heuwel ritmies beurend teen sy hand terwyl haar asem in sy mond hyg. Sy skarrel met haar ondelyf op die bank terwyl hy op sy knieë tussen haar oop dye gaan staan en dan sak hy op haar neer…sy voel hoe haar dye nog verder deur sy heupe oopgebeur word en dan … hoe Dit haar nat gewillige oopte indring. Hy is die landmassa en sy is die see wat daaromheen spoel.
Met ‘n skerp kort pyn maak sy ruimte vir die warm staaf wat diep en dik in haar opstoot. Sy gee ‘n diep genoegtelike sug waarin hy vaagweg die woorde kon uitmaak: “fok nou maar” of “fok jou Ma.” Maar hy tob nie daaroor nie want hulle verstrengelde lywe word nou deur die ritme van wellus oorweldig. En hulle was man en vrou soos wat dit van die voortyd bestem was – alles so reg en so perfek dat dit selfs Ma se stem vir ewig gestil het.
* Antieke Dresden skaapwagtertjie
15 COMMENTS
Ek verkies “bra-loos”, Naamloos…
Uitstekend..maar buistelyfie klink soos knormoer, se asb sommer bra….
Ek het bes om ordentlik, preuts en taal-puriteins te klink. Die idee was dat jy dmv my woorde sommer die muf op daardie koek kon proe.
Maar moenie worrie nie – ek het nog nooit die woord buustelyfie, kittelaar of testikel in Vreesloos gebruik nie. Kom kyk bietjie watse woorde daar gebruik. Nou dat ek daaraan dink – ek glo nie dat een van my wulpse wywe daar eens ‘n bra besit nie 😀
Uther
??? veral nie die in die storie war ek Dinsdag gaan post nie ?
Jy’s 100% in die kol, Annelise! Maar gooi jou eie briljante bydraes nie een kant toe nie ♥
Jy en Uther is op dieselfde vlak.
Uitmuntend. ☺
Dankie Will 🙂
My magtig Uther, absoluut fantastiese storie. Ek tk myself amper daarmee vereenselwig. My amper skoonma was ook soos die ma in jou storie en nou sit haar kind in n ver land sonder n man.
My ou maat! Knap, knap, knap gedaan!
Ek dink hierdie is ‘n briljante storie – die sosiale kommentaar wat dit lewer sluit perfek aan by die middelvingerfoto en my sekslose-huwelik artikel.
Baie dankie Annelise en al my gereelde Kombiekiehier-lesers vir julle volgehoue ondersteuning.
Ek het hierdie storie spesiaal vir elkeen van die honderde vrouens wat in stilte op ons webwerf rondsnuffel geskryf. Elkeen wat te bedees, preuts, beskroomd, ingetoë, en te skaam is om iets te sê. Vir julle wil ek sê: ag siestog, en: as jy jou ma uit jou kop kan kry, sal jy dalk ‘n piel in jou kont kry.
Sorrie Annelise – dit het sommer uitgeglip daardie laaste deeltjie. Ek weet jy het my gesê dat die rede hoekom die vrouens nie op my stories reageer nie dalk is omdat ek so vieslik praat (jy het dit mooier en meer diplomaties gestel – ek som sommer op). Wel toe nou nie nê? Hier is ‘n pragtige vanilla storie van mense wat actually lief vir mekaar is en nogal soen (die eerste van my stories waar mense soen en een van die weiniges waar niemand doodgaan of iets ergs oorkom nie) – en…fokol vrouens wat daarop reageer.
Dus liewe maats van nou af gaan die pret op Vreesloos plaasvind en ek gaan dit vir die jagses wat daarvan hou skryf. Dalk moet daar nog een of twee mense op die algemende deel in my stories doodgaan sodat ek die sluipers hier lekker depressief kan maak, terwyl die pret elders gebeur (nes in die regte lewe). Gelukkig vir die sluipers is Annelise lief vir almal, maar as ek in charge was sou ek geflush het.
Ek het hierdie storie tweedens vir elke preutse hemelwagter,wat ander mense se genot in die lewe wil bederf, geskryf. Vir julle wil ek sê dat die rede hoekom dinge vervelig tuis is en jy hier ronddwaal om met preutse verontwaardiging ander te bevark, in plaas van om self lekker te naai, jou eie fokken skuld is. Kry vir jou tjomma – jy is jou eie duiwel wat jouself in die gat met ‘n vurk steek.
Uther Pendragon
Sjoe, maar jy is op n roll. Aangesien ek pas eers jou storie gelees het, kon ek ongelukkig nog nie vroeer kommentaar lewer nie.
Baie dankie, ek het dit baie geniet. Alhoewel ek nie met Betsie kan vereenselwig nie, want ek was in my dag des lewens nooit preuts nie.
Ja jong, ek het so bietjie carried-away geraak daar. Maar gelukkig is jy duidelik nie die een wat die skoen hoef aan te trek nie. Ek is bly jy het die storie geniet maar soos jy tereg noem – jy kan jouself nie met Betsie vereenselwig nie. Die storie was hoofsaaklik vir die Betsies wat hier rondsluip geskryf en ek hoop dat ek ‘n paar gedagtes in hulle koppe m.b.v. die storie kon plant. Hoe dink jy kan mens meer mense (mans en vrouens – maar veral lg.) sover kry om op die stories, fotos en flimpies te reageer?
Uther Pendragon
As jy uitgevind het, dan laat weet jy my ook.
Ek dink mense, maar veral vroue, voel blootgestel. Al is die kommentaar annoniem, of onder n skuilnaam. Hulle dink steeds, se nou net iemand kom agter dis ek.
Baie baie goed geskryf Uther. Het dit geniet om dit te lees
Uitstekende skryfstuk.
Dankie Uther, jy ken my liefde vir jou werk, dit word net beter en beter.