Staptog
deur Annelise
Ek droom ek loop al heeldag naby jou. Soms is jy voor my, jou rugsak op jou sterk skouers. Dan kan ek na hartelus jou kuite of jou ferm boude in jou kakiekortbroek bestudeer. Die manier waarop jou bo-beenspiere onder jou vel beweeg wanneer jy stap, laat my struikel. Ander kere is jy agter my en kan ek in jou mooi lagplooitjie-vrolike oë omkyk.
Jy is só aantreklik. Só sexy. Ek kyk vir jou en proe jou op my tong. As jy my oor ʼn moeilike stukkie terrein help, ruik ek jou. Ek hoor die diep vibrasie van jou rustige stem.
Ek hou nie eintlik van stap nie. Die veld is vir my te wild, te ongetem. Na die baie reën van die afgelope seisoen is die veld oorryp. Swamme groei in oordaad teen bome en onder rotse. Klein rooi bosluisies soek ons sagte plekke op. ʼn Slang seil oor ons pad, sleep sy spoor deur die tuin van Eden. Spinnekoppe tril aan rakke op pad om hulle bewende vangste te verslind. Stroompies is riviere. Die hele wêreld drup, drup, drup. Selfs die maan is oorryp in haar volheid.
Maar dit is beter as om alleen by die huis te sit. So ʼn langnaweek wanneer die stad leegloop, kan ʼn mens opgebruik. Daarom het vriende my genooi om saam met hulle in die denneplantasies te gaan stap.
Ek weet jy is ook van my bewus. Dit is nie net ek wat sorg dat ons naby mekaar loop nie. As ons vir ete stop, kies jy dieselfde boom se skaduwee om jou lyf in uit te strek. Dieselfde klip bied vir ons vastrapplek as ons water vol padda-liefde uit die rivier skep.
Ek weet my bene is lank en bruin as ek voor jou uitstap. My hare waai losbandig in die guitige bries en as ek buk om iets op die grond te bestudeer, kan ek jou oë op die rondinge van my borste wat bo my T-hemp uitloer, voel.
Ons is agt mense wat saam stap: twee getroude paartjies, twee vrouens wat bietjie ouer is en saam plek bespreek het – en dan is daar ek en jy. Iemand het duidelik voorbedagte rade met hulle uitnodiging gehad. Gewoonlik sal dit my sommer rebels maak, want ek is gemaklik op my eie. Ek het nie iemand nodig om gelukkig te wees nie. Dis net hierdie ellendige langnaweke wat my moed soms breek.
Maar jy is só ongelooflik sexy. En die veld is eroties in sy versadiging.
Dit is laatmiddag wanneer ons by die oornaghutte opdaag. Daar is vier rondawels. Elke getroude paar betrek hulle eie rondawel, die drie enkellopende vrouens deel een en jy slaap in jou eie rondawel aangesien jy die enigste loslopende man is.
Daar bars ʼn woeste gewerskaf los wanneer ons die ruskamp bereik. Almal wil skoonkom, kosmaak en ʼn slaapplek oopskrop voordat die moegheid hulle oorval. ʼn Lang ry vorm voor die enkele kouewaterstort en ek besluit om sommer af te stap rivier toe voordat dit heeltemal donker word. Ek het so ʼn entjie terug op die roete ʼn klein keerwal in die rivier opgemerk en ek sluip sonder om vir iemand te sê daarheen weg vir ʼn oomblik van privaatheid.
Op ʼn plat klip langs die poel trek ek vinnig uit en los my klere op ʼn bondel.
Die poel se water is lou-warm gebak, maar tog verkwikkend. Die dag was lank en stowwerig en die sweet het modderspoortjies oor my vel geteken. Die water laat my tepels tot klein harde rosyntjies saamtrek. Daar is ʼn klein stroomversnelling waar die water in die poel invloei en ek mik soontoe. Ek voel vry en ontugtig om so sonder ʼn draad klere in die middel van die grote natuur te sit. Op ʼn manier voel dit reg. Dalk is dit die geheim hoe om in die natuur gemaklik te voel; mens laat jouself gaan en word net so ongetem soos die wildheid om jou. Soos jý. Jy voel ook reg hier buite in die veld. Asof dit is waar jy hoort.
My eerste dag van stap was tog nie so onaardig nie. Daar is reeds klein oomblikkies wat ek kan koester. Ek dink aan die wit skoenlapper met die pienk op die punte van sy vlerkies wat jy reeds vroeg vanoggend vir my gewys het. Jou sterk hande het dit liggies, versigtig vasgehou. Sal jou vat aan ʼn vrou ook so sag wees? My seperige hand gly oor my bors en ek verbeel my dis jou aanraking. Ek lê op my rug in die water. My hare waaier om my uit. My hande is jou hande op my borste. Daar was ook daardie keer toe ons teen die steil wal af moes gaan. My nuwe stapskoene het gegly en ek het amper my balans verloor. Jy het reeds onder gewag. Toe het jy gesê ek moet spring en jy het my om my middellyf gevang; vir ʼn oomblik het ek teen jou bors gekantel voordat ek weer my balans kon kry. Nou is jou hande deur myne al op my maag en ek roep jou arms in my geestesoog op. My oë is toe.
Ek sug saggies en dink aan vanmiddag na ete toe ek in my onkunde deur ʼn klomp knapsekêrels geloop het en jy my gehelp het om dit van my klere af te kry. Jou vingers het slu van hulle kans gebruik gemaak om kamtig onskuldig met my liggaam se vorm kennis te maak. My hand gly met die seep tussen my bene in en dit meng met die gladdigheid wat alreeds daar is. Dan hoor ek iets in die bos beweeg. My oë vlieg oop. Dit het sterk skemer geword terwyl ek hier gelê en droom het. Die daggeluide van die veld begin in naggeluide verander. Ek hoor weer ʼn tak kraak, maar kan niks sien nie. Ek spoel myself vinnig af, los my onderklere en trek sommer my T-hemp en kortbroek oor my nat lyf aan.
By die kamp het die meeste mense reeds klaar gestort. Jy sit op ʼn boomstomp langs die vuur en kyk op wanneer ek in die ligkring verskyn. Ek voel nog die effekte van my watervaldrome in my lyf. Jy wink my nader en ek gaan sit langs jou op die growwe bas. Jy is ook skoon en ek kan die seep aan jou ruik. Jou hare is nog klam. Jy kyk vlugtig na my los borste wat plakkerig teen my hemp druk, maar ek maak of ek dit nie sien nie.
“Het jy lekker gebad?” vra jy. “Daardie poel het nogal verfrissend gelyk vanmiddag.”
Ek bloos rooiwarm in die donker. Niemand het my tog sien wegglip nie. Ek was seker daarvan. “Wat bedoel jy?” Ek probeer my stem koel en onskuldig hou. “Die stort was lekker, dankie.”
Jy gooi ʼn stomp op die vuur. In die lig van die vonke wat opskiet, kan ek sien dat jy glimlag, maar jy sê niks verder nie. Die aand is kort, want almal is moeg na die eerste dag se lang stap. Dit is nog vroeg wanneer net ek en jy langs die vuur oor is. Die naglewe is helder wakker, want die goggas gesels luidkeels met mekaar. Ek dink daaraan om in te gaan kruip.
“Sit nog so ʼn bietjie,” sê jy. “Net tot daardie stomp uitgebrand het. Kom sit hier voor my dan kan jy met jou rug teen die stomp leun.”
Ek skuif tot teen die stomp. Jy maak jou bene oop sodat ek tussen hulle kan terugleun. Ons sit in stilte en luister na die bos en die vuur. Jou bene is warm teen my sye. Na ʼn ruk voel ek jou hand in my hare. Jy speel met jou vingers daardeur, amper ingedagte, en ek laat my kop agter die vertroeteling aan effens agteroor kantel. Klein voetjies van lekkerkry hardloop teen my ruggraat af. Ek wens jou hand wil verder verken. Die stomp is amper heeltemal uitgebrand en die nag word donkerder. Jy gly jou hand oor my wang en draai my kop na jou toe. Ek en die bos hou asem op. Saggies, saggies soen jy my op die hoek van my mond.
“Lekker slaap, Meisie. Sien jou môre weer.”
En net so verdwyn jou warm bene in jou rondawel in.
Later kan ek nie slaap nie. Ek voel nog jou hand in my hare, verbeel my nog jou soen en skop my syerige pers slaapsak van my af. Die ander inwoners van my hut slaap diep en rustig. Iewers in een van die buurhutte snork ʼn man. Die nag sweet. Ek kan nie meer so lê nie! Ek is seker daar sal ʼn luggie buite trek wat my gedagtes koel kan waai. Op pad uit trap ek versigtig oor die slapende figure en trek die deur weer saggies agter my toe. Die vuur se laaste kooltjies begin hulle rooi verloor. Die bos is groot en lewendig om my. Jou rondawel is die verste een, amper in die bos. Ek loop saggies in die helder lig van die maan nader. Jou deur is op ʼn skrefie oop. Die kamp is doodstil. Eers huiwer ek op die drumpel, maar eintlik het ek klaar besluit. Die ligte katoennagrok glip oor my hare. My hart klop so hard ek is seker dit gaan almal wakker maak. Ek trek my broekie ook uit en steek my hand om die hoek van die deur. My klere val met ʼn sagte plof net binne die hut. Stadig, stadig stoot ek jou deur wyer oop.
ʼn Breë strook maanlig loop saam met my by die rondawel in. Dit val wit op my hare, my boude, my lyf. Ek sien jou op jou matras orent kom en wonder of jy ook nie kon slaap nie. Jy lê bo-op jou slaapsak en ek sien dat jy niks aan het nie. Jou oë soek myne wanneer ek langs jou kniel. Ek druk my vingers teen jou mond.
“Sjuut.”
My hare val oor jou gesig as ek afbuk en liggies aan jou lippe proe. Jou mond is warm en kreun in myne. Ek gly my een been oor jou lyf. Jou geslag is styf en hard onder my vogtige labia. Nou is jou hande op my borste en ek laat hulle na jou mond sak. Jy suig, lek en knibbel aan my tepels en ek voel asof my vel te klein raak. Jou stang vryf eisend tussen my bene. My naels gly liggies oor jou maag en ek lig my heupe effens en laat jou blink kop geleidelik in my ingly. Jy kreun weer en ek talm voordat ek jou verder opneem, diep, totdat ek jou ten volle met my warmte omvou. Ek sit nou doodstil, regop, my hande in my hare, my volle liggaam in die maan se liefkosing gebaai. Ek kan jou asem hoor jaag, jou bene voel span. Dan beweeg ek. Ritmies. Langsaam. Stop eers ʼn bietjie. Laat jou amper, amper uitgly, net om jou weer diep in my op te suig. Ek is op die randjie. Jy is op die randjie. Ek voel hoe jy verder in my verstyf.
“Kyk vir my,” fluister ek en hou jou oë met myne vas.
En dan voel ek jou in my splyt en ek laat myself vry. ʼn Kreet skeur oor jou lippe en die spasma trek onbeheersd van my na jou en terug en ons word een met daardie oorryp, druppende, wilde bos om ons.
Die staptog is verby. Die eerste aand was maar net die begin van ons passie. Ek is in die vroeë oggendure met die reuk van jou sweet op my lyf na my hut toe terug. Die volgende aand was kovert en sweterig in jou slaapsak onder die oop sterrehemel. Aand nommer drie was sommer in my skoon, groot, sagte dubbelbed terug by die huis. Aand vier gaan nou-nou begin. En een van die dae gaan ek weer stap en hierdie keer gaan ons alleen.
(uit Maanvrug)