Lentedag
deur Desiree
Ek wil nie hê die winter moet verbygaan nie, omdat ek nie wil hê dit moet lentedag word nie. Dit sal dan ‘n jaar wees waarin ek jou gehad en weer verloor het en waarvan die Goldilocks-lentedag een van die hoogtepunte was.
Daardie dag was die begin en einde van so baie dinge. Dit was die einde van die wag, die bietjie-lekker-bang, die voorbereiding, die uitsien, die aftel. En dit was die begin van die herinneringe, die verlang, die begeer en die sweef.
Ek onthou daardie dag nog soos gister. My rooiroklentedag. My jy-dag. Die enigste wat ek sou hê, maar ek het dit daai dag nie geweet nie.
Hierdie is my laaste liefdesbrief aan jou. My laaste onthou.
Dis so vreemd dat jy my so oorgeneem het, dink ek wanneer ek oor die parkeerterrein na jou toe loop. Sou ek jou raakgesien het as ek jou nie geken het nie? Jy is tergelyke tyd presies soos ek en glad nie soos ek nie. Ek voel asof ek by jou tuisgekom het terwyl ek ook voel asof ek ‘n nuwe eksotiese dis probeer.
Jyself het al gesê dat ons verhouding soos ou jeans waarin jy gemaklik glip voel. Maar wanneer ek by jou kom is my drukkie meer angstig as gemaklik. Ek wil al daai goed doen wat ek doen wanneer ek onseker van myself is – aan my rok trek of my hare om my vinger draai of weghol. Maar ek hou my pose en loop saam met jou die restaurant in.
Jy wil rook, so ons gaan sit buite op die stoep. Die son is net reg. Nie te warm nie. Ons bestel iets om te drink en begin gesels.
(Hoekom kan ek nie onthou wat ons geëet en gedrink het nie? Ek het gedink ek sal elke liewe oomblik van die dag onthou. Waarom kan ek nie onthou waaroor ons gepraat het nie? Ek onthou jou oë, jou Engelsklinkende Afrikaanse aksent, jou hande, hoe jy beweeg, die sigaret in jou mond, hoe lank jy is. Daar het ‘n spiertjie langs jou mond gespring. Dalk onthou ek genoeg. Dalk onthou ek te veel.)
So elke nou en dan gaan staan ons eenkant sodat jy kan rook. Ek verlekker my in jou lag en hoe jou oë skrefies maak wanneer jy ‘n trek vat.
Later besluit ons om in die botaniese tuin aangrensend aan die restaurant te gaan loop.
Ek trek my skoene uit en jy hou my hand vas. As ‘n mens dit agterna so skryf, klink dit asof ons al die soetsappighede van ‘n chick-fliek uitgeleef het, maar dit het nie so gevoel nie. Dit was real. Ek wil vir jou die waterval gaan wys. Hierdie is ‘n speel-speel ene, want die water word tot bo gepomp. Ons moet deur ‘n spreier hardloop om daar te kom – chickfliek oomblik nommer twee.
Eintlik is alles net so speel-speel soos hierdie waterval. Want eintlik wil ek niks vir jou wys nie. Ek wil net hê jy moet my soen. Ek sal later op facebook weer met jou chat. Soen my, soen my, soen my. Ek wil jou proe.
Die woorde waarmee jy jou soen inlei is nie belangrik nie. Maar jou mond is. My hare klou in jou stoppelbaard vas wanneer jy jou mond oplig. Natuurlik sal jy kan soen. Jou arms om my lyf voel nie meer vreemd soos toe ons by die kar gedruk het nie. Dit voel reg.
Ons loop verder op die kronkelpad wat om die randjie lei. Hoekom kan ‘n mens tog nie die letterlike gevoel van iets onthou nie? My hand is happy in jou hand. Ons gesels soos op facebook, hoppend tussen onderwerpe. Jy gesels met jou vreemde aksent.
Uiteindelik kry ons ‘n beskutte bankie om op te sit. Eers sit ek langs jou, feitlik ordentlik, maar jy is nie meer die vreemdeling in die parkeerterrein nie – jy is nou net my geliefde jy. Ek ken jou mos, beter as wat baie mense jou ken.
Ek draai dwars op die bankie wanneer jy na my toe draai, en vou my bene om jou middellyf. Alles word een blur, maar terselfdertyd word elke oomblik ‘n ewigheid.
Nie baie mans soen lekker nie. Of anders was ek dalk net unlucky. Maar jy, my geliefde facebookboyfriend, jy soen my lyf aan die brand. My hand is op jou gesig, jou stoppels. En dis om jou lyf en op jou bo-bene en onder jou t-shirt. Hande hoef mos nie in sulke omstandighede logiese paaie te loop nie? Ek voel jou tepels. Wil dit proe, maar jou hande loop ook paaie en een is nou onder my rok en dan ontdek jy my nat.
Ek lê agteroor op die bankie wanneer jou vingers om die rand van my broekie gly. Ag, waarom het ons nie vier mure om ons nie? Ek wil jou vel teen myne voel. By jou kan uitkom soos jy by my uitkom. Jou vingers is in my. Dis real. Dis nie meer net woorde op ‘n skerm nie. Ek voel so baie dinge gekyk. Ek is lus en gelukkig en het lief en ek weet hierdie oomblik gaan nou-nou verby wees. En dan kom ek.
Heldinne van chickflieks kry nie orgasmes op parkbankies nie. Maar dis net omdat jy nie hulle leading man is nie.
As ek my oë oopmaak sien ek hoe jy jou vinger in jou mond sit om my te proe.
(Dit sal dié image van die dag word waaraan ek deur als sal vasklou. Dit was rasendmakend sexy)
Daar is nog. Jou mond op my bors wat jy by my hals uitgewerk het. Baie vashou. Baie soen. My hand op jou skoot, gefrustreerd. Daardie spiertjie langs jou mondhoek – ek soen hom. En ek soen daai groen oë. Jou hand wat myne weer vashou wanneer ons terugloop.
Ek haat afskeid en sou nog slegter gewees het daarmee as ek geweet het hierdie was ons enigste saamwees. Maar wanneer jy na jou kar toe loop moet ek net nog een keer jou arms gaan voel. Jy kom uit die sitplek regop wanneer ek langs jou deur verskyn. En op daai oomblik is ek vir jou so lief dat ek nie woorde het nie. En dan is die druk verby en ry jy by die hek uit.
Dis winter nou. Niemand sit op daai bankie nie, want die plante is dood en orals is net skaduwee.
Maar daar kom altyd weer ‘n lentedag. Altyd. Dit is waarom hierdie my laaste liefdesbrief aan jou is. Lente is om die draai. Ek het nou genoeg omgekyk. En ek dink ek hoor iemand my roep.
3 COMMENTS
Ek sal beslis ook jou boeke lees…lol. Baie goed geskryf
Desiree jy mag maar hoor. Soos jy als beskryf is skoon asof ek daardie bloeisels en alles en nog wat kon ruik! Sal maar later die tong- tipie- toets doen als te danke aan jou.
Lenteromanse mooi en gevoelvol beskryf. Met die groen blaartjies aan die bome en bloeisels hier en daar, begin ek voel hoe die aptyt vir lyflike pret begin opwel, weldra waarskynlik tot bruisende, onbeteuelde belustigheid.