Kom ons dink oor seks.

Die woorde filosofie en seks word nie gewoonlik in dieselfde sin gebruik nie. Vir die meeste mense hoort hulle in verskillende gebiede van jou lewe – die verstand of intellek teenoor die liggaam en impulse. En alhoewel so ʼn paar slim siele soos Freud, Foucault en Nietzsche die twee gekombineer het, het die meeste van die grootste denkers verkies om op die intellektuele, logika en die meta-fisiese te konsentreer.

Hierdie serebrale leiers het egter nie geweet wat hulle mis nie omdat die beste, mees intense, mees bevredigende seks gebeur wanneer die verstand en die liggaam saamsmelt. Of miskien het hulle dit geweet, maar wou hulle nie hul geheim deel nie. Ons verkies mos ons wyse manne ernstig, bebaard, oud en liggaamloos – wys in die mees beperkte manier moontlik.

Aristoteles was en is steeds een van die bekendste filosowe van alle tye. Hy is bekend vir sy insig oor kwessies rakende die staat, politiek en etiek, maar dis minder bekend dat hy ook uitgebeeld is waar hy kaal, hande-viervoet rondkruip met ʼn vrou wat op sy rug ry.

Die legende vertel dat Aristoteles probeer het om die verhouding tussen die courtesan, Phyllis en sy leerling, Alexander die Grote op te breek. Sy het hiervan uitgevind en om wraak te neem het sy die wyse filosoof verlei en hom gevra om haar op sy rug te laat ry as ʼn simbool van sy liefde. Daar is baie maniere waarop hierdie storie geinterpreteer kan word; sommige sien dit as ʼn simbool vir die mag wat vroue oor mans het en ander dink weer dit wys dat Aristoteles reg was om Alexander teen haar te waarsku. Ek verkies om dit te sien as ʼn herinnering dat die natuurlike en seksuele nie geignoreer en in ʼn hoekie van menswees weggesteek moet word nie omdat drang nie homself sal laat onderdruk nie.

Die filosoof en teoloog Augustinus se skrywes het ʼn groot impak op die ontwikkeling van Christendom gehad. Hy het, onder andere, geskryf  “nothing so casts down the manly mind from its heights as the fondling of a woman, and those bodily contacts.” Maar ten spyte van sy heilige en haatdraende woorde, was hy nie altyd so rein nie. Voor hy al die lekker goed afgesweer het het hy ʼn hedonistiese lewe gelei. Dit was terwl hy nog in die arms van plesier gelê het dat hy gebid het: “Grant me chastity and continence, but not yet.” Ek wonder soms of dit makliker is om selibaat te wees as jy nog nooit van die soet vrug geproe het en dus nie weet wat jy nie weet nie. Ek is seker Augustinus het so gedink, want hy net net so ‘n bietjie “too much” teen vroue en die liggaamlike “protest” na sy heiligwording. Om meer verstand en minder liggaam te word was duidelik nie iets wat hy geniet het nie.

Nietzsche het nie saamgestem met die klem wat die groot filosowe van sy tyd op die verstand of intellek, metafisika en moraliteit geplaas het nie. Hy het van die mens se impulse gehou. Die lewe was vir Nietzsche oor leef en streef en om meesters van ons wêreld te word. Dit was ʼn mors van tyd om vir waarheid, wat nie gevind kan word nie, te soek. Een van sy groot tema’s is die idee van ewige herhaling (“eternal recurrence”). Dit beteken basies dat jy behoort te probeer om elke oomblik so te leef asof daardie selfde oomblik oor en oor geleef gaan word tot in ewigheid. As jy elke besluit wat jy neem baseer op die “feit” dat hierdie oomblik weer en weer gaan gebeur, sal jy nie eerder kies om jou lewe met seks en orgasmes en passie en sensasies te vul nie? Ek weet ek sou.

Geen kinky filosoof wat die titel werd is sal die wonderlike verdorwe De Sade kan ignoreer nie. De Sade het tonele van gure seks met filosofie gekombineer en gewys dat dit presies is wanneer die verstand by seks betrokke raak dat dinge intens begin raak. Redelose, dierlike seks het natuurlik sy heerlike plek, maar dit is die intellektuele agter die libertyn se ‘kink’ wat dit ‘kink’ maak.  Van die belangrikste kenmerke van libertynse seks is dat dit doelbewus, selfbewys en intensioneel is. Die libertyn reflekteer op sy eie ongesonde aktiwiteite en die selfbewustheid verhoog sy plesier.

Foucault het dit verstaan. Hierdie ondersoeker van mag en seks het sy eie nie-so-geheime “kinky” sy gehad. Hy was in sy soeke na ʼn “limit-experience” aangetrokke tot die BDSM-onderwêreld. ʼn Limiet-ervaring is ʼn soort aksie of ervaring wat jou help om die grense van leef in terme van intensiteit  oor te steek. In “kinky” kringe word hierdie ervaring ook soms “sub-space” genoem. Hierdie toestand word soms deur die “bottom” (die onderdanige persoon) in ʼn BDSM toneel ervaar en verwys na die sielkundige reaksie op endorfiene wat die persoon in ʼn soort beswyming kan laat ingaan. Die hele idee is dat die intensiteit van seks as ʼn hulpmiddel gebruik word waarmee jy jou grense oorsteek en iets meer word as wat jy was.

John Norman Lange, die filosoof, is beter bekend as John Norman, die skrywer wat filosofie en seks suksesvol gekombineer het. Feministe haat hom, maar as ʼn mens kyk na die hoeveelheid boeke wat hy verkoop het en dat sy idees kultus-status op die internet bereik het, is ek seker hy gee nie regtig om dat hy nie by almal gewild is nie. Sy Gor-boeke, wat op ʼn planeet afspeel waar vroue mans se slawe is, voed nat drome al vir langer as dertig jaar. Dis interessant om te let daarop dat ʼn groot deel van sy bewonderaars vroue is.

Dis al ʼn geykte stelling om te maak dat seks in die brein is, maar dit is veral waar van kinky seks omdat die eintlike prikkel die idee agter die daad is. Om vasgemaak te word of voor ʼn dominante man te kniel het minder te doen met die daad as wat dit vir jou simboliseer of impliseer. Maar as dit net in jou verstand bly is dit vir niemand iets werd nie. So, ek stel ʼn fisiese filosofie voor – een waar die liggaam en verstand gelyke vennote is en hulle saam die beker van seksuele nirvana soek. Want eintlik is die teer aanraking, kragtige omhelsing en vogtige oorgawe van die lekkerste goed om oor te dink, dan nie?

Volg Kombiekiehier op sosiale media:

One thought on “Kom ons dink oor seks.

  • August 17, 2014 at 9:54 pm
    Permalink

    Ten eerste wil ek julle gelukwens met die blad en is ek baie opgewonde hieroor, aangesien ek hiermee die geleentheid het om van my gevolgtrekkinge en ondekkings oor die psige van seks met ander te deel. Oor die algemeen is ek van mening dat die bree publiek hul seksuele denke agv. ons konservatiewe omgewing waarin ons leef en grootgemaak word , onderdruk en het dit ongelukkig onkunde tot gevolg oor ‘n menslike aspek wat ‘n baie groot deel van ons lewe beheer en bepaal. Iemand wat ingelig is oor seks en dit verstaan kan nie anders as om ook volwassenheid in sy persoonlikheid te openbaar en uit te leef nie. Omdat seks hoofsaaklik instinktief gedrewe is maak van seks n gevaarlike emosie en moet hierdie tipe emosie eintlik met die grootste omsigtigheid hanteer en beheer word. Omsigtigheid kan slegs bereik word as n mens kennis oor die onderwerp opdoen en dit dan toepas ooreenkomstig die unieke eienskappe van elke individu. Die geeikte konservatiewe opvatting oor seks nl. dat daaroor nie gepraat mag word nie, en dat dit ‘n private onderwerp is en dan die ergste vir my, dat seks slegs binne die huwelik hoort en enige iets daarbuite van die duiwel en sonde is. Eintlik is hierdie opvatting ‘n erger sonde teenoor die mensdom omdat dit die ontwikkeling van emosionele volwassenheid beperk. Verskoon my tog byvoorbaat maar ek wil die uitlating maak en se dat hierdie tipe ‘mindset’ sekerlik een van die redes moet wees waarom die meerderheid suidafrikaners ‘kommin’ voorkom en asb moet my nie verkeerd verstaan nie . Hiermee se ek nie ek is beter dan ander nie maar om seks streng privaat te hou plaas outomaties ‘n beperking op sosiale vrymoedigheid, wat op sy beurt die ontwikkeling van emosionele intelligensie kniehalter. Hierdie tekort staan soos ‘n paal bo water as ‘n mens byvoorbeeld met Europeers te doen kry en dit baie duidelik toon dat hul vlak van emosionele intelligensie baie hoer is as die gemiddelde Suid Afrikaner s’n.

    Bovermelde het opsig self weer baie ander negatiewe gevolge en maak van ons Suid Afrikaners n volk wat , oor die algemeen in vergeleke met ander westerse lande eenvoudig in siel is. Een van die negatiewe gevolge wat hierdie toestand tot gevolg het is bv. dat dit ons meer kwesbaar maak vir onder andere hoe voorkoms van gevalle in seksuele vergrype! Dus hoe meer mense openlik met mekaar oor seks gaan begin kommunikeer hoe vinniger kan begin word om emosionele intellek te bevorder en sal dit van ons samelewing beter mense maak en sal dit lekkerder wees om saam leef.

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)