Hangmat in die woestyn
deur Annelise
“Ek dink die woestyn is soos ‘n vrou,” het ons guide twee dae gelede aan die begin van hierdie trip oor die radio gesê.
“Ja, ongenaakbaar,” het een van die ander voertuie se bestuurders heel voorspelbaar gelag.
“Koud in die nag.”
“Droog ..”
Ons guide het nie geantwoord nie. Nie dadelik nie. Hy het net sy Landcruiser daar ver voor teen die eerste hoë duin afgegear en vir ons beduie hoe om dit in een stuk tot bo te maak.
Ek dink die ander lede van die toergroep wat saam die woestynroete tussen Luderitz en Walvisbaai aangepak het, het voor hulle die bo-kant van daardie duin bereik het reeds Hein se stelling vergeet, maar ek het nie.
Ek het dit onthou toe hy een etenstyd die warm sand ingedagte deur sy vingers laat sif het. Ek het dit onthou toe hy die sagte pienk sonsondergang as ‘n blos en die duine as wispelturig beskryf het en toe hy vir ons gewys het hoe die nag se vog vroegoggend nog op woestynplante se blare blink.
Ek dink daaraan terwyl ons op die hoogwaterlyn langs die onstuimige golwe van die Atlantiese oseaan ry. Vuilgeel skuim waai oor die wye strand. So entjie voor Hein se voertuig waggel ‘n paar vet robbe uit die pad uit. Dit is al diep skemer. Ek wonder waar ons vanaand gaan slaap.
Die strand word rotsagtig aan my kant van die bakkie en die duine van die woestyn word platter aan my man se kant en dan lei Hein ons regs agter ‘n lae duintjie binne-in ‘n kamp in.
Die kamp is die enigste ene op die roete. Na twee aande sonder die basiese benodighede is die spoeltoilette en warm storte vir ons vyfster-gehalte. Dit is egter die lapa wat my oog vang, want dit beloof ‘n geleentheid wat ek al van die eerste aand af soek…
My man is nie meer verbaas as ek op vreemde plekke in my hangmat wil slaap nie, maar hy het wel gebrom toe ek dit in die laaste oop hoekie van die oorvol kar gedruk het.
“Waar in die woestyn gaan jy bome kry om dit in op te hang?” was sy logiese vraag waarop ek my standaard antwoord gegee het: “Mens weet nooit.”
Hein is verstom, maar ek kry ook die idee dat hy heimlik dink dis cool dat ‘n vrou buite wil slaap. Hy help my om my hangmat tussen die twee pale naaste aan die vuur te hang. Die afdak is laag en my ” bed” hang net sentimeters bo die grond, maar dis al wat nodig is. Hein bou die vuur bietjie hoër en verseker my man net voor hy tent toe gaan dat hy en sy helper self net so paar treë weg onder die afdak gaan slaap – hy sal my oppas. En dan word die kamp uiteindelik stil.
Daar kan nie mooier in die wêreld wees as wat ek nou beleef nie.
Net anderkant die tente lawaai die golwe as hulle die steil strand tref en daarteen opspoel. Bo my word die nag al donkerder omdat die mis soos ‘n sluier die maan se gesig begin toemaak en langs my gooi die vuur tonge oor die sand. Ek wil nie slaap nie. Ek wil nie ‘n oomblik van hierdie konsert mis nie.
Maar ek doen … ek moes ingesluimer het, want ek word wakker wanneer Hein langs my fluister.
“Salomé”
“Hmmm?”
“Kyk daar by die ingang.”
Die nag is nou doodstil. Mis lê dik oor die kamp. Die see klink verder, vuur brand laer en ek kan net ‘n paar meter ver sien.
“Kyk, jakkalse.”
Drie jakkalse. Hulle staan doodstil, net hulle oë blink in die donker. Hulle snuif-snuif in die lug vir iets om te aas en dan gee een sy weemoedige tjank voor hulle skielike senuagtig in die donker in hol.
“Sien jy hoekom ek sê die woestyn is soos ‘n vrou?” vra Hein saggies. “Dis oor sy beeldskoon is.”
Ek sien dat hy sy slaaprol tot langs my hangmat gesleep het. Hy sit daarop met sy arms om sy bene. Dit lyk nie asof hy al geslaap het nie.
“Sy maak net asof sy tough is.”
Hy steek sy hand uit en wieg my hangmat effens. Dit voel asof ek droom. Ek wieg in ‘n wolk.
“Sy is eintlik weerloos.”
Die hand wat my hangmat gewieg het is in my hare. So sag dat ek eers dink ek verbeel my.
“Mens moet net weet hoe om te kyk.”
Hy steek sy hand langs my lyf in en zip my slaapsak stadig oop. Ek kan voel hoe die koue seewindjie oor my warmgebakte lyf roer.
“Het jy al haar rondings gesien? Haar deinings?”
Die boonste knoop van my flennieslaapklere is so bietjie halstarrig, maar hy sukkel nie met die res nie. Hy vou my hemp oop en ek voel hoe ek op die koue lug reageer. Maar dan streel sy warm hand oor my.
“Sy is só sag.”
My asem maak wolkies in die koue lug. Palm vou oor my sag. Vingers voel, vorm, vat vas. Die wolkies bo my mond word al kleiner, soos mini-rookseine. Hy kry die boodskap.
Sy hand beweeg ondertoe. My maag is die vlaktes tussen die duine.
“Salomé, het jy gesien hoe nat die woestyn soms is?”
Onder my broek se rek in gly sy warm hand en nog dieper tot hy my nat ontdek.
Sy stem klink nou anders, maar ek kan nie besluit of die distorsie by sy stem of by my ore ontstaan nie.
“Sy is sout. Weet jy hoe waardevol is sout in die woestyn, Salomé?”
Ek maak my bene oop. Nooi sy vingers in. Ek is die kole wat nog langs my gloei en die jakkals se tjank, die golwe wat aanvly teen die strand en die sand wat hy deur sy vingers laat val. Ek is die geel skuim en die wit mis en die skaam maan. En dan gee ek my sout vir hom.
4 COMMENTS
Pragtig! Mens wonder of die hangmatpale gehou het met die ooglopend al hoe meer intense soutgewing, en of daar dalk na ‘n stewiger sandondersteunde basis versit moes word.
Onse Annelise op haar allerbeste in suiwere, pragtige Afrikaans ! Tweede keer wat ek dit lees na die Apokoklips van die blad. Bly net geweldig mooi……
Érens het ek onlangs iets op FB gelees oor Namibië en die duine … Daar was selfs ‘n foto of twee van duine by … waarvan sommige nogal soos ‘n vrou se mooi kurwes gelyk het, selfs een foto, byna identies aan ‘n vroe se stywe borste … ek het teruggerol maar sien nou niks meer daarvan nie.
Nou hol my gedagtes skoon weg met my oor hierdie Annelize wedervaring in tussen die duine … Ek wonder waar slaap sy vanaand? Liewer: hóé? Sy is mos êrens in die Laeveld met haar seun en ‘n maat …
Daar is niks so mooi soos kliniese Afrikaans nie, veral as jy Afrikaans kan praat.Netjies!