Vrouwees op Wêreld Vrouedag

Ek is ʼn vrou. Ek sit in die sonnetjie op my stoeptrappies en bedink die vroue-vraagstuk. My bene is voor my in die son uitgestrek. Ek voel hoe die son my hare warm bak. Ek hou daarvan om ʼn vrou te wees; die meeste van die tyd.

Ek behoort aan die skoner geslag, die swakker geslag, die tweede geslag. Ek behoort aan die geslag wat uit die mitologiese Eva, moeder van alles wat verkeerd is, ontstaan het. My voormoeders is verbrand as hekse (dit gebeur vandag nog), het oor berge agter die vader van die huis aangetrek, het kinders in oorloë geoffer. Ek, vrou, kan blykbaar beter ruik as my manlike mensgenote, kan meer detail onthou en kan pyn beter verduur.

Ek is ʼn moderne vrou. My mansvriende kan my met reg vra wat ek dan nog wil hê, hoekom voel ek nie vry nie. Die soet geur van die rose om die hoek laat my gedagtes bietjie dwaal – die reuk is so fyn, so subtiel, dat mens dit nie dadelik ruik nie. Eers as die windjie draai, kom jy dit agter. Dit is hoe ek my vryheidstatus beleef.

Soms is voorbeelde van hoe vroue nog steeds as minderwaardig behandel word, baie duidelik om te sien. Die meeste moorde op vroue in ons land word nog steeds deur hulle mans, kêrels, geliefdes gedoen. Koerantartikels dui daarop dat vroue nog steeds minder geld verdien as mans in dieselfde pos. In ons land word vroue aangerand as hulle kort rokkies of selfs in sommige plekke, langbroeke dra. Ek hoef nie eens die verkragtingsyfer te noem nie, almal weet hoe ernstig dit is. Maar dit is nie waaroor ek hier in die son wonder nie. Ek is nie swart, arm, jonk of enkellopend nie. Dan sou ek my vrouskap dalk meer intens en meer negatief beleef het.

In my wêreld is dit ʼn subtiele, daaglikse reuk wat beslis nie so soet soos die van die roosboom is nie en wat mans ligtelik afmaak as onbelangrik. Ek word anders behandel deur die vensterwassers en straatverkopers. As ʼn man nee sê, beweeg hulle aan. As ek nee sê, word my venster in elk geval met modderwater bespuit of word daar by my gekerm totdat die verkeerslig uiteindelik verander. Wys motorwagte by winkelsentrums ooit vir mans hoe om in ʼn parkeerplek in te kom? Waarom word mans in hardewarewinkels gehelp en vroue nie? Geen een van laasgenoemde voorbeelde is genoeg om die kameel se rug te breek nie. Dit is nie eens werd dat daar ʼn artikel daaroor geskryf word nie, want in vergelyking met vroue op ander plekke, soos die Midde Ooste, se lewens, is dit niks. Daarom is dit steeds nie waaroor ek wonder terwyl ek die voëls in die spreier dophou nie.

Ek wonder hoeveel skuld ons vroue aan hierdie stand van sake het. Dít is wat ek wonder. Soms dink ek ons doen ons eie saak oneindig meer skade aan as wat die meeste mans doen. En die oplossings is net so subtiel as die geur.

Ons is die swakker geslag. Fisiek. Ons sukkel om proppe los te skroef. Wat nie beteken dat ons nie op ʼn vrouemanier geweldig sterk is nie. Maar waarom voel ons altyd asof ons op ʼn manlike wyse moet optreë as ons iets wil bereik. Ons verval in kompetisie, pragmatisme, aggressie. Ons raak effektief en koelbloedig. Alles manlike eienskappe wat goed is in spesifieke omstandighede. Wat ook nodig is vir spesie se voortbestaan. Maar vroue het hul eie sterk eienskappe wat belangrik is as ons as spesie op die einde onsself wil oorleef. Vroue is teer, het meegevoel, is versorgend, intuitief, kan vergewe, is sensitief, sensueel, dapper, slim, kreatief, hoopvol, gelowig, sterk, onwrikbaar en lankmoedig. Dink hoe sou ʼn wêreld gelyk het waar iemand met daardie krag agter haar ʼn leier was. ʼn Vrou wat in ʼn mansisteem soos ʼn man veg, sal soos ʼn man regeer as sy uiteindelik aan bewind van sake staan. En wat is dit punt daarvan?

Predikante, wat meestal mans is, preek nog steeds dat mans aan die hoof van die huis staan. Of dit in ʼn klein gemeente in Koekenaap of voor duisende op Loftus gepreek word, dit bly een van die redes waarom mans dink dat hulle dalk net so effens beter as ʼn vrou is. Waarom is hy beter in staat om die gesin te lei? En dit maak nie saak of hy haar in liefde lei nie, sy is nie ʼn kind nie. Dit mag so wees dat die moderne man help met die huiswerk of kos kook of soms selfs skottelgoed was, maar hy is nog steeds die een wat die finale besluit in die huis neem. ʼn Debat eindig nog steeds dikwels op “omdat ek so sê” of met die wegstap van die man wanneer hy nie lus is om daaroor te praat nie. En ʼn man dink altyd dat hy net so bietjie meer logies is, so ʼn bietjie slimmer as ʼn vrou is – selfs al is die vrou in die gesprek ʼn advokaat of dokter of besturende direkteur. En selfs al is dit sy geliefde.

Onlangs het ʼn vriend my aangevat oor die moderne vrou se arrogansie om haar plek langs dié man op te eis. Die feit dat “Jesus” die vrou tweede gemaak het, het haar plek volgens hom vir ewig bepaal. Hierdie siening behoort teen hierdie tyd net so weersinswekkend te wees as wat apartheid was.

Ons vroue trippel nog steeds om ʼn man se ego. Ons praat óm dinge sonder om iets by die naam te noem, want ons is geleer dat ʼn man se ego sensitief is. Ons beskerm ons kinders teen pa en pa teen ons kinders en in die proses word hy ʼn supermens wat onaantasbaar aan die hoof van die huis staan. Iemand wie se buie die gesin se bui bepaal. Dié een wat die pas aangee.

Hoekom is ons vroue so? Soms wonder ek of ondergeskiktheid in ons gene is. Het die aanslag wat ons in vorige eeue moes trotseer ons permanent onder gekry? Of is dit die sonde van die moeders – die voorbeeld wat ons van ons oumas en ma’s geêrf het? Dalk glo ons teen hierdie tyd dat ons minderwaardig is. En as ons dít glo, is dit neusie verby, want dan word ons slagoffers en slagoffers sal altyd slagoffers bly. Slagoffers aanvaar nie verantwoordelikheid vir hulself nie.

Lank, lank gelede was verhoudings tussen mans en vroue ʼn uitruiltransaksie. Die man het beskerming en vleis voorsien. Die vrou het seks en daarmee saam ʼn nageslag voorsien. Leef ons nog steeds so? Vroue bly soms lewenslank in ʼn ongelukkige huwelik omdat hulle nie hulself kan onderhou nie. Daar is baie vroue in sulke tronke. Dit lyk soms asof ons ekonomiese-, sosiale- en regstelsels so bestuur word om hierdie situasie te laat voortduur. Maar ons leef nie meer in grotte nie.

Ek droom ʼn nuwe wêreld vir my dogter. Dit is moontlik as ons bewustelik daaraan werk.

Dit begin by ons, die vroue self. Vroue is vroue se grootste vyande. Mans kraak nie mekaar af of is jaloers op mekaar nie. Vroue is nie meer in ʼn resies betrokke om die sterkste jagter te vang nie. Ons kan nou vir onsself jag. Ons kan vir onsself sorg. Dit is dus nie nodig om elke vrou as ʼn teenstander te sien nie. Sy is nie. Sy is jou medevrou, met dieselfde eienskappe as jy.

Ek droom van ʼn wêreld waar die vrou ook seksueel vry gaan wees. Waar dubbele standaarde vir mans en vroue nie meer geld nie en waar sy haarself en ander vroue toelaat om te wees wie hulle wil wees. In my droomwêreld gaan sy ophou oordeel en veral ophou om vroue swaarder te oordeel as mans. Ons vroulike seksualiteit is soms juis ʼn meulsteun om ons nekke, want dit is waar die oorlog nog altyd woed. Daar is soveel voorbeelde van hierdie seksuele oorlogvoering dat ek nie weet waar om te begin nie. Vir eeue is aan vroue voorgeskryf hoe hulle voor die huwelik en daarna moes wees. Soms was seks die enigste vorm van mag wat ʼn vrou tot haar beskikking gehad het. Vandag gebruik feministe dit ook as slagveld. Die vrou as seksuele wese word deur al die kante van die spektrum misbruik om hulle punt te bewys. En in die proses het die vrou dit verloor. ʼn Vrou se liggaam is mooi. En dit is hare. En dit bly so waar en hoe sy dit ookal wil gebruik. Of sy dit vir ʼn motoradvertensie wil gebruik of op die voorblad van die Finesse wil pronk, of sy dit in haar binnekamer aan haar man skenk of haar mooi borste voor ʼn goedkeurende gehoor tentoonstel; dit is háár liggaam en háár seksualiteit en dit het tyd geword dat sy alleen kan besluit wat sy daarmee wil doen.

Vroue moet begin om sterk te wees op ʼn vrouemanier. Dit is soms makliker om in te gee. Ons is kampioene in die “minder wees” kompetisie, briljant in die “ondersteunende vroutjie” rol. Dit is tyd om ons regmatige plek langs die man in te neem, as sy gelyke. Nie as ʼn man of ʼn variasie daarvan in ʼn rok nie. En die manier om dit te doen, glo ek, is nie om te baklei daaroor nie. Die manier is om op te hou om slagoffers te wees en om dit te doen moet ons besef dat ons nie die tweede, swakker geslag is nie. ʼn Vrou wat nie afhanklik is nie, kan nie onderdruk word nie. Ons moet studeer, leer motorbestuur, weet hoe banksake en die ekonomie werk, ons seuns leer om vroue te respekteer, verantwoordelikheid neem vir ons eie besluite en keuses, lees, redeneer, weet wat in die wêreld aangaan, dink, lag, vry, liefhê. In ’n artikel wat in 1994 in Leadership verskyn het, staan: “Equip women with more education and better jobs, so that with financial independence, they have the power and choice to spurn the misogynists, become equal citizens and yes, shamelessly enjoy themselves in bed too.” Ons moet onafhanklik kan wees voordat ons onsself in liefde kan gee.

Ons voormoeders is verbrand omdat hulle hulself nie wou onderwerp nie. Hulle is vervolg omdat hulle as ʼn bedreiging ervaar is. Waarom anders as oor vrees sal mens iemand vervolg? Ons voormoeders is die vroue wat kinders oor berge gedra het. Dink hoe sterk móét jy wees om as lid van die swakker geslag dít alles te kon doen. Ek skud my hare sodat dit warm oor my skouers val. Ek trek die rose se soet diep in my longe in. Ek is báie trots om ʼn vrou te wees.

 

 

 

Volg Kombiekiehier op sosiale media:

One thought on “Vrouwees op Wêreld Vrouedag

  • March 10, 2015 at 9:48 pm
    Permalink

    Ek sal nie omgee as my vrou eendag die brood voorsien nie ; dan het ek lekker baie tyd om my doppies skoon te maak.

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)