Slet – die hoërgraad vraag.

Ek het so ‘n paar weke gelede oor die begrip “slet” geskryf. Miskien is daar nog so paar goed wat mens daaroor kan sê.

Verkragting is dikwels ‘n woord wat aan die woord slet verbind word. Wanneer daar oor verkragting en slette gepraat word, word die onderwerp later so ingewikkeld dat dit wat belangrik is op die einde in emosie en retoriek verlore raak. Dit is een van die beskuldigings wat mens dikwels hoor – sy het verdien om verkrag te word omdat sy soos ‘n slet aangetrek was. En een van die baie diep en gevaarlike slaggate van hierdie kru “argument” is die woord “slet”.

Slet is ‘n negatiewe woord. Dis ‘n gogga maak vir baba bang soort woord – een waarmee ma’s hulle dogters in toom probeer hou of waarmee die samelewing iemand brandmerk wat anders as hulle is. Soos ander woorde wat regoor die wêreld gebruik word om mense mee te verneder, is dit moeilik om die woord in ‘n positiewe konteks te gebruik. ‘n Slet is volgens die HAT “onsedelike, ontugtige vrou; hoer”. Ek het die week mense gevra wat hulle definisie van ‘n slet is en dit het basies ‘n vrou beteken wat “baie” rondslaap of een wat losbandig (lees kalerig) aantrek. As ek egter die definisie wou probeer verfyn, kon die gebruikers daarvan nie verder help nie, want hulle moes op die einde erken dat ‘n vrou wat kuis aantrek nog steeds in die privaatheid van haar huis verskeie minaars kan hê waarvan mens net nie weet nie (oorweeg die dominee met die buite-egtelike verhouding). Niemand kon my ook sê hoeveel minnaars te veel is nie. Watse kleredrag as sletterig gekwalifiseer het, het ook van mens tot mens verskil. Sommige sal ‘n lae halslyn as uitlokkend beskou en vir ander moet jy die hele korset en visnetkouse-prentjie beskryf voor hulle hul wenkbroue sal lig. Slet is dus so ‘n vae en relatiewe konsep dat dit in die eerste plek nie moontlik is om dit as ‘n maatstaf vir enigiets te gebruik nie.

Daar is so baie mense wat die beginsel dat dit nooit geregverdig is om ‘n vrou te verkrag nie ondersteun, maar nog steeds sukkel om verby die woord slet te kyk. Die negatiwiteit van daardie woord is so in ons ingebrand dat dit waarskynlik nooit sal verander nie.

Die skrywers Dossie Easton en Catherine A. List het in hulle boek The Ethical Slut probeer om ‘n meer positiewe betekenis van die woord te bevorder. Hulle gee die volgende definisie: “To us, a slut is a person of any gender who has the courage to lead life according to the radical proposition that sex is nice and pleasure good for you. … A slut shares his sexuality the way a philanthropist shares her money because they have a lot of it to share, because it makes them happy to share it, because sharing makes the world a better place. ”

In seksueel konserwatiewe Suid-Afrika sal hierdie sentimente waarskynlik deur min verstaan word en deur nog minder ondersteun word. Miskien is dit in elk geval onmoontlik om ‘n negatiewe woord positief te maak. Miskien moet ons sommer ‘n nuwe, positiewe woord vir ‘n seksueel bevryde vrou uitdink.

Die swart gemeenskapppe in Amerika en homoseksuele groepe het ‘n ander taktiek met hulle onaanvaarbare woorde gevolg deur mekaar so te begin aanspreek. Op die manier word die woord “ontlaai” – amper asof die krag daarvan ontken word deur dit (die woord) sonder respek of emosie te gebruik. Ek dink dit is waarskynlik wat mense soos die organiseerders van Slutwalk probeer bereik. As jy jouself en jou suster en jou vriendin met ‘n uitdagende trots so begin aanspreek, kan die venyn dalk daaruit gehaal word en sal dit minder seer maak as iemand wat jou seksuele gewoontes wil oordeel dit teen jou gebruik.

Nou kom ons by die ingewikkelder vraag. Die beginsel van iets soos die Slutwalk is dat jy moet kan aantrek soos jy wil en nog steeds nie die gevaar behoort te loop om verkrag te word nie. Die “beweging” het begin toe ontevredenheid ontstaan het toe ‘n polisieman in Kanada aan ‘n groep vrouestudente gesê het dat hulle nie soos slette moet aantrek as hulle nie geviktimiseer wil word nie. Maar dis hier waar appels met pere vergelyk word.
Die meeste verkragtings het niks met seks en begeerte te doen nie. (Ek weet daar is altyd uitsonderings, maar hierdie gaan nie oor uitsonderings nie.) Verkragting gaan oor mag, dominasie en geweld en, in Suid-Afrika beinvloed die patologiese samelewing waarin mans en vroue hulself moet uitleef ook die verhoudings tussen die geslagte. Maar, begeerte word as ‘n verskoning gebruik deur verkragters. Ons eie president het vir verkragters ‘n pragtige voorbeeld gestel toe hy in sy verkragtingsaak vir die hof vertel het dat sy slagoffer uitlokkend aangetrek het en dit teen die Zoeloe natuur is vir ‘n man om ‘n seksueel geprikkelde vrou nie te bevredig nie.

Die kriminele wat ‘n gesin aanhou, beroof en sommer van die vrouens verkrag , het nie die vrouens seksueel prikkelend gevind nie, dit het gegaan oor mag en geweld en haat. Die meeste vroue in ons land trek nie uitlokkend en sexy aan nie en ons het nog steeds een van die hoogste verkragtingssyfers in die wêreld. Dit beteken die klem van Slutwalk en mense wat dink kleredrag beinvloed verkragters is so effens op die verkeerde plek. Ons moet nie vir verkragters vertel dat hulle ons nie moet verkrag as ons kort rokke dra nie (dit sal nie help nie), ons moet vir ander mans en vroue vertel dat hulle moet ophou om vir verkragters verskonings te maak. Dit is die man en vrou op straat wat hier skuldig is – elkeen wat nog ooit gesê het iemand was op die verkeerde plek of het verkeerd aangetrek en het dit gesoek. En daar is baie sulke mense.

Dit is hulle wat nie iets soos die Slutwalk ondersteun nie omdat hulle nie van die woord slet hou nie. Dit is die mense wat in 2010 in Gauteng deelgeneem het aan ‘n opname waarin 32 persent van mans en vroue saamgestem het dat mens in enige verkragtingsaak mens moet kyk of die slagoffer nie dalk losbandig was nie. ‘n Enorme 20.1% van mans en 15.6% van vrouens het gesê dat vroue in sommige gevalle wil hê dit moet gebeur!!! Dit is teen hierdie mite wat ons moet baklei. Die oorsake van verkragtings is gewoonlik alles behalwe hulle klere – en dit is tyd dat mense dit moet begin verstaan en aan die regte probleme begin werk.

Soms wonder ek of hierdie nie een van daardie taktieke is wat deur ouers gebruik word om hulle dogters mee in toom te hou nie. “Moenie uitlokkend aantrek nie, my kind, want dan kan jy verkrag word.” Dis amper soos “seks is seer” en “hy gaan nie vir jou respek hê die volgende oggend nie”.

Dit bring my by my laaste punt – die “feministiese” (by gebrek aan ʼn beter word) strik. Alle seksuele toenadering is nie die eerste stap tot verkragting, afwykend of ‘n bedreiging nie. As jy mooi en jonk en sexy is en ‘n jong man vat vlugtig aan jou boud is dit nie molestering nie, dis die normale erotiese spel tussen mans en vroue wat die aarde laat draai. In ‘n wolwefluit behoort jy nie “grillerigheid en onmiskenbare bedreiging” te hoor nie, jy behoort ‘n kompliment daarin te hoor! Die stelling dat ‘n vrou soms mooi of sexy wil lyk, maar dat dit nie ‘n man die reg gee om na haar borste te staar nie, is uiters belaglik. Vir wie wil jy dan sexy lyk en waarom wys jy jou pragtige borste as hy nie daarna mag kyk nie? Dit is sulke stellings wat normale, nie-verkragtende, warmbloedige mans laat dink dat vroue onnosel, histeries en ‘n “tease” is.

Dit is seksisties teenoor mans om te sê dat hulle nie ‘n prikkelende meisie kan weerstaan nie en dat hulle so lus vir haar gaan word dat hulle al hulle beginsels oorboord gaan gooi en haar gaan verkrag. Mans beledig hulself as hulle toelaat dat verkragters hierdie verskoning gebruik.

‘n Mate van sletterigheid (want in iemand se oë gaan jy so voorkom) is wat die wêreld laat draai en wat ons bloed deur ons are laat bruis. Seks is nie verkragting nie, verkragting is nie seks nie. Uitloklikheid lei nie tot verkragtings nie, dit lei tot prikkeling en daar is niks verkeerd met prikkelling nie.

Moenie die twee verwar en die een doodmaak omdat jy die ander ene wil beveg nie.

 

 

Volg Kombiekiehier op sosiale media:

2 thoughts on “Slet – die hoërgraad vraag.

  • May 21, 2014 at 5:54 pm
    Permalink

    Dit is omtrent tyd dat di’e goed ges^e word. Ek stem volledig saam, maar bie mense sal seker daarmee verskil. Dit neem maar tyd vir oortuigings en moraliteit om te verander. Aan die ander kant sal dit nooit verander as iemand nie daaraan werk nie.

    Likes(0)Dislikes(0)
    Reply
  • May 3, 2014 at 9:42 am
    Permalink

    Comment
    awesome! daar is fout in jou binneste as jy verkrag!!! dit het niks uit te waai met lus nie, maar power!!!

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published.

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)