Kombiekieweer Donderdag: ’n Skinny latté
deur Annanina
Iets in die lug voel anders toe sy die koffiewinkel instap. Sy soek Sandra en sien haar in die hoek sit. Is dit die artikel oor die hoeveelste bom-aanval op koffiewinkels in Amerika wat haar so onrustig stem? Sy skud die gevoel af en Sandra staan op toe sy by haar kom.
“Hi Helen.” Sandra soen haar vlugtig op die wang en druk haar teen haar vas.
“Jammer ek’s laat. Iemand het my nou eers weer hier onder by die roltrappe vasgekeer. Wou een of ander haar-stileerder aan my afsmeer.”
Met haar een hand stoot sy die stoel uit en gaan sit. Haar handsak sit sy langs haar neer. Die kelnerin is by hulle nog voordat sy behoorlik haar sit gekry het. Pen in die hand wil sy weet wat sy gaan drink.
“Het jy al iets bestel?” Sandra knik. “Koffie, ja. Ek het nie geweet wat jy wil hê nie.”
’n Stem agter haar sê “’n skinny latté”.
Elke haar op haar lyf staan regop. Al haar sintuie is vlymskerp. Sonder om om te draai knik sy haar kop stadig vir die kelnerin. “’n Latté asseblief. Skinny.”
Die man wat gepraat het, sit agter haar. Sy voel sy hitte teen haar lyf. Hy het omgedraai in sy stoel. Dis nie vir haar nodig om om te kyk nie. Sy ken die stem. Sal dit nooit vergeet nie. Sy weet hoe hy haar liggaam laat reageer. Hoe elke klank wat hy dink by haar ore uitkom, al sê hy niks. Haar liggaam verraai haar en sy draai om. Reg in sy lyf vas. Hy sit basies bo-op haar en hou haar dop. Die blou van sy oë het nie verander nie. Dis net die krakies om sy oë wat die tyd wat verby is, verraai. Haar asem stol in
haar keel.
“James.”
Dis asof sy sy stem in haar kop kan hoor. Al die herinneringe kom terug. Die garingdraadjie wat die verlies in haar hart vasgehou het, begin torring. Sy voel dit uitrek, soos ’n trui wat gehak het.
“Helen.”
Vir ’n paar oomblikke kyk hulle net vir mekaar. Sandra onderbreek hulle.
“Helen, gaan jy my nie voorstel nie?” Helen sien James sit ook by iemand. ’n Man.
“Dis James. James, dis Sandra.”
“Waar is my maniere,” kom hy ook uit sy waas. “Dis Pieter en Pieter, dis Helen.”
Sandra en Pieter knik vir mekaar. Duidelik verward deur wat aan die gang is.
“Kan ek jou later bel?” Hy vra dit sag. Haar sinne het haar verlaat. Elke woord strompel oor haar tong. “Ja, my no … My nommer is 078-889-9012. Jy kan my bel.”
Die hele koffiedrinkery met Sandra is ’n pyniging. Sy voel James agter haar sit en kan nie op ’n woord van wat Sandra sê konsentreer nie. Met groot verligting groet sy haar, maar James is reeds weg. Hy het net vlugtig gewaai toe hy groet.
Op pad na haar motor haal sy haar motorsleutels uit en voel hoe haar hande bewe. Dis verlate by die onderdak-parkering. Sy stop altyd bo in die hoek. Daar is altyd ’n opening en sy hou nie van lank soek vir parkering nie. Haar foon lui. Sy ken nie die nommer nie.
“Hallo.”
“Ek soek jou. Waar is jy?” Dis asof die afgelope sewe jaar wegval.
“Op die vyfde vloer se onderdakparkering. Ek staan links in die hoek.”
Sonder aarseling ryg sy die woorde uit. Sy’s uitasem. Haar hart klop in haar keel. Daar is niks wat sy nie vir hom sal gee nie.
“Ek het jou gemis.” In sy stem hoor sy die verlange. Dit was vir hom net so erg. Hy het dit ook moeilik gehad. Dit was nie net sy wat haar lewe moes herranskik om hom uit te sluit nie. Sonder hom is sy verlore en soek sy steeds na haarself. Maar dis ’n pyn wat verdof het.
“Ek vir jou ook. Altyd..”
Sy hoor hoe die hysbak se deure in die agtergrond oopskuif.
“Dis terug, Helen. Alles is terug.”
Met haar hand teen haar kop leun sy teen haar motordeur. “Dit is. Ek voel dit ook.”
Elke keer as sy hom sien het hy die uitwerking op haar. Die afgelope 15 jaar is hy ’n konstante teenwoordigheid in haar lewe. Al is hy nie daar nie.
“Wag by jou motor,” is sy woorde voor hy die foon neersit.
Bewend probeer sy die motor oopsluit. Sy kyk om haar rond, maar dis verlate. Dankie tog. Voor sy in haar motor is, is hy by haar. Sy arms vou om haar lyf en sy lyf krul teen hare. Hulle pas perfek. Sy tong beur haar lippe dringend oop en verken die holte van haar mond. Haar selfoon val op die grond toe sy haar arms om sy kop sit. Alles in haar raak stil. Al die vooropgestelde veroordelings, die vrees vir ander se oë op hulle, die
verlange van die afgelope sewe jaar, die leegheid in haar binneste val weg.
Met moeite druk sy hom van haar af weg.
“James, ons kan nie hier nie.”
Hy druk sy voorkop teen hare.
“Ek kan jou nie weer laat gaan nie.”
7 COMMENTS
‘n Uitstekende lokverhaal wat mens nie kan laat wag vir die volgende aflewering nie. Sien uit daarna.
Ek wil net vir Annelise vra : Jy’t my êrens in die begin , eenkeer gekapittel ondat my storie se 1ste aflewering nie seks in die inhoud gehad het nie. Hoe dan nou met hierdie bogenoemde ?
Ek het n fout gemaak. Ek sal dit regstel. Hierdie was die derde storie ooit en ek het toe nog besluit en ontdek hoe ek dinge gaan doen en wat lesers verkies. Dis waarom dit die eerste keer so geplaas is. Hierdie keer was per ongeluk. Beteken kapittel nie baklei nie? Ek sou seker nie baklei het nie? Dalk net gesê het ek wag vir die volgende deel eers voor ek dit plaas? (Jou begin by kombiekiehier was lank na die webwerf se begin – toe was ek meer seker van wat werk en wat nie)
Nee jy is nie een wat baklei nie, my verkeerde woordgebruik…Groot askies ♥ Ek was ook nog nuut op daardie stadium.
Ek wag in spanning vir die volgend episode…..tik tak
Pragtig…spannend
Dis nou hoe n goeie storie moet begin. Kannie wag vir die vervolg nie.
Hier kom n goeie storie. Wel gedaan, Annanina. Die volk wag in spanning.
Damm dis verleidelik