Mariette blaai deur Scope nr 5 (23 September 1966)
deur Mariette Pretorius
Ek lees op die internet dat die Scope-tydskrif in die 1960’s gebore is en baie kontroversieël was omdat dit apartheid en die baie streng sensor-wette gechallenge het. Op die hoogtepunt van sy uitgawes was daar, volgens Wikipedia, ‘n sirkulasie van sowat 250 000 per maand.
En hier sit ek nou met Scope nommer 5 in my hande en ‘n baie ernstige foto van HF Verwoerd in al sy glorie op die voorblad. Die foto is swart en wit met net kleur vir sy gesig, want so sê hulle: ernstige en belangrike nuus is daai tyd oorgedra in swart en wit. Ek wonder of ou HF ‘n IDEE gehad het toe daar net so SKUINS onder hom gedruk is: Shape of THINGS TO COME, oor hoe vinnig en blywend dinge in die toekoms sou verander met betrekking tot seksuele vryheid en beter en vryer keuses.
As ek die tydskrif se inhoud so beloer is daar nuus oor Dr. Verwoerd wat te ruste gelê is in die toe-nog- ‘n-hero se graf. ‘n Advertensie vir sigarette op die agterblad wat sê “after action, satisfaction” en die foto wys ‘n man met ‘n breë glimlag op sy gesig terwyl ‘n vrou hom belangstellend dophou. Dit laat my wonder of die sigaret die enigste satisfaksie was wat hy gekry het daai dag?
As ek kyk na latere jare se Scopes, dan sien ek verligte vrouens soos Raquel Welch wat op die voorblad verskyn – vrouens wat al meer gewaagd raak en al minder aantrek en gemakliker raak in hulle vel. In die 60’s was alles kloosterkoekerig. My boeta sê sjoe Mariette, in ons kinderdae en jong dae was dit ‘n vreeslike sonde om ‘n Scope in jou besit te gehad het – en tog was dit nie ‘n pornografiese tydskrif nie. Die oumense het gesê die vrouens is te skraps gekleë, maar as jy strand toe gegaan het, het jy maar net dieselfde gesien. Ek lag nou as ek na ‘n Scope loer, want kyk, dit is nie naastenby porn nie. Die tannies van daai jare was maar vol draadwerk (seker maar jaloers gewees dat hulle nie so sexy gelyk het nie) en die omies is met die koekroller geneuk as hy na daai middelblad-foto gekyk het.
Die jongmanne het die middelblad uitgehaal en as posters teen hul kamermure gebruik – kan jy imagine, daai chick in ‘n bikini in daai pose op jou kamer deur en ma stap by daai kamerdeur in … oegh, dit was kopwas en preek en vertel hoe sondig dit is dat die meisies hul lywe so ontbloot in ‘n eina bikini.
Rufus sê duidelik was dit anders teen 1992 toe hy sy eerste een gekoop het. Tracy Coleman, Kirsten Imrie en ander legends het SONDER die sterretjies (wat voorheen die gebruik was) daarin gepryk. Hy’t sy versameling soos uraan beskerm en versteek – sy ma seker aanhoudend op soek na “weapons of mass distraction” … of dalk eerder “weapons of mass erections”!
Dan was daar ook die vindingrykes wat die sterretjies wou verwyder sonder om die goedere te beskadig. Deon sê: “Baie jare later het Scope kaal meisies geplaas met ‘n stickertjie op die nommer. Ek en my pel het die kuns vervolmaak om die stickertjie met thinners af te haal sonder om die merchandise te beskadig! Die operasie het bekend gestaan as “nipple reveal” oftewel “dissolving the case”.
Op bladsy 20 van my Scope is die enigste naastenby seksuele artikel oor Jean Shrimpton, ‘n uitdagende topmodel van die sestigs. Sy “reveal” die taai, berekende en tog onsekere vrou wat in drie jaar van zero to hero gegaan het. Sy reken, by ‘n foto van haar met net ‘n stoel as bedecking, dat sy wonder hoeveel haar gesig werd is en of sy dit nie miskien moet laat verseker nie?
Toe Scope sy eerste uitgawes in die 60’s uitgegee het, was ek maar ‘n skamele 2 jaar oud. Vandag is ek ‘n verligte vrou van amper 50. Tye het baie verander as ek na my susters van die 60’s terugkyk en hulle vergelyk met die die vrouens van nou. Rokke het op en af geyo-yo, met klimtollende halslyne wat saam styg en daal. Ons het gespeel met maksi en mini en bikini. Seksuele vryheid en vryheid van spraak het insgelyks ook baie verander en probeer tred hou met die verslapping van seksuele norme en uitdagings van eens taboe onderwerpe – een se kinky kinkel is mos ‘n ander se “been-there, done-that.”
1 COMMENT
Dis die Scope van die sestiger jare dat ek so gereeld om vergiffenis gebid het: Ek het dit alweer gedoen. Selfbevlekking – alles Scope se skuld! Nou besef ek Scope was al wat my regop staande gehou het te midde van al die ander indoktrinasie.