Nuwe begin
ʼn Groot swart pot prut oor die vuur in die middel van ‘n oopte. Om ons waai die wind liggies deur die liggroen blare van die populierbos. Ons is besig met ʼn nuwe begin – ek, hy en jy.
Dit gaan nie maklik wees nie.
Die grys brousel in die pot voor ons is dik, klonterig. Elke vet borrel wat op die oppervlak breek ruik na dood, muf, stof. Dit kook al eeue hier in die bos – die oorspronklike bestanddele nou al ʼn onherkenbare sop van ontnugtering en pyn. Met tye kook dit oor sodat die giftige mengsel op die grond val en tot in die grondwater deursyfer. Dáár besoedel die bitter smaak van oordeel en onkunde die drinkwater van die volk.
Die maan is nog laag op die horison agter die bome. Mens kan haar skynsel nog net sien aan die skaduwees wat die dansende blare op ons rûe gooi. Daar is nog tyd, miskien is ons nie te laat nie.
Die kokke van die onsmaaklike dis in die bos moet nie onderskat word nie. Hulle het presies geweet wat hulle wou bereik. Mag en beheer was die einddoel. Agter dik kloostermure het hulle die resep vervolmaak wat die massa’s net-net aan die lewe sou hou – altyd bietjie honger sodat hulle keer op keer sou terugkom vir nog. Hulle het dit vir 2 000 jaar lank reggekry.
Kom staan naby my, beminde. Ek is bang. Ek voel hoe hy my linkerhand in syne vat. Jou warm hand vou om my ander hand. Ek is nie alleen nie.
Dit is tyd om te begin.
Die eerste bestanddeel wat die pot benodig is kennis.
Daar het niks van kennis in die pot voor ons oorgebly nie omdat die oorspronklike resep nie meer as ʼn selektiewe knippie daarvan toegelaat het nie. Hierdie knippie was opgemaak uit halwe waarhede en eensydige standpunte en onderskryf uit aanhalings soos: “The fear of the Lord is the beginning of wisdom, and knowledge of the Holy One is understanding.” Hiermee kon die kokke van die pot volstaan, omdat dit die verantwoordelikheid van die mens weggevat het om te dink. Lepel vir lepel is die yl kos aan die mens gevoer totdat hulle geglo het dis al wat daar is.
En hulle wóú dit glo, want kénnis is moeiliker om te verteer. Die massa’s soek prulkos wat lekker smaak en vinniger bevredig. En waarom sal jy ʼn bestanddeel meer waardevol as saffraan vir die gepeupel gee? Sê-nou hulle vra nog? Sê-nou hulle begin dink? Dit was eerder ʼn geval van “All schools, all colleges, have two great functions: to confer, and to conceal, valuable knowledge. The theological knowledge which they conceal cannot justly be regarded as less valuable than that which they reveal.” (Mark Twain) Kennis is mag en die kokke was nie van plan om dit te deel nie.
Ek maak my oë toe en dink. Ek dink aan rye en rye boeke vol kennis. Ek konsentreer op oerkennis wat ons in ons gene saamdra en nuwe kennis wat ons daagliks ontdek. Ek dink aan wyse vroue en dapper mans, baanbrekers en ketters en visioenêre. Ek leun op dokters, wetenskaplikes, wiskundiges, ontdekkingsreisigers, sterrekundiges, bioloë en fisici en ek hoor haar deur die donker aankom – Athena – die godin van kennis.
Athena se hare vee oor my wang as sy verby my loop en vir ʼn oomblik langs die pot stilstaan. Dan lig sy haar hand bo die stomende pot. Lettertjies en syfetjies en simbole sif in die pot neer. Goues. Dit blink in die maanlig en vorm formules, gedigte, romans en musikale komposisies voordat dit op die vloeistof gaan lê. Dan glimlag sy vir ons voordat sy voor ons oë verdwyn.
Binne-in die pot bars kakofonie los. Dit klink soos reëndruppels op ʼn sinkplaat en spat soos haelkorrels op ʼn teerpad. Grys, stink stoom styg soos ʼn tornado deur die opening van die bome en dan is dit stil. Doodstil. Ons gee versigtig ʼn treetjie nader aan die pot – alles lyk nou kalm. Bo-op die water dryf onheilighede soos vuil seeskuim. Dit is asof die mengsel begin om homself te reinig. “There is no wealth like knowledge; no poverty like ignorance” het Ali ibn Abi-Talib gesê. Die pot se waarde neem toe.
Maar ons taak is nog nie klaar nie. Ons is meer as ons intellek. Ek is ook liggaam.
En die liggaam met sy seksuele vreugdes is ook deur die brousel in die pot vergiftig, want ʼn deel van die bestanddele vir die pot is deur die heilige monnike uit die eerste eeu bygedra. As iemand wat, onder andere, die begrip oersonde uitgedink het, klink St Augustine nie soos ‘n droomminnaar nie. Hy het geglo “A man turns to good use the evil of concupiscence, and is not overcome by it, when he bridles and restrains its rage . . . and never relaxes his hold upon it except when intent on offspring, and then controls and applies it to the carnal generation of children . . ., not to the subjection of the spirit to the flesh in as sordid servitude.”
Eeue later het dinge nog nie verbeter nie en het Immanuel Kant sy bedrae gelewer: “Sex makes of the loved person an Object of appetite … Taken by itself it is a degradation of human nature.”
Hierdie filosowe was (saam met vele ander) pessimiste in die filosofie van seksualiteit.
Hulle het geglo dat seks omtrent altyd benede ʼn mens se waardigheid is. Hulle sien in seksualiteit ʼn bedreiging vir ons eie menswees.
Denkers soos dié het gehelp om die giftige resep vir die pot uit te dink. Dis die pot van sonde en weerhouding.
Ek maak my oë weer toe en gly my hande oor my liggaam. Hierdie keer is dit die Godin van Seksualiteit wat ek naderroep. Ek dink aan jou mond en jou arms en jou hande op my lyf. Ek onthou sidderende orgasmes en teer omhelsings. Ek onthou dierlike oorgawe. Ek dink aan daardie eerste hittige verleiding en glimlag oor stadige, bekende liefkosing en hoor haar skalkse laggie net voor sy langs die vuur verskyn.
Aphrodite se asem is passie en wellus en sy blaas liggies op die mengsel in die pot. Sy blaas die pot vol metafisiese seksuele optimisme. Sy voeg die geloof dat seksualiteit mense nader aan mekaar bring by die resep. Seks gee plesier aan jouself sowel as die ander persoon. Sommige denkers glo seksuele plesier as die einddoel is goed genoeg – dit hoef nie regverdig te word deur voortplanting of die huwelik nie. ʼn Goeie en eerbare lewe, terwyl dit baie ander aspekte insluit, kan ook ʼn wye variasie en omvang van seksuele verhoudings insluit. Irving Singer skryf: “For though sexual interest resembles an appetite in some respects, it differs from hunger or thirst in being an interpersonal sensitivity, one that enables us to delight in the mind and character of other persons as well as in their flesh.”
Aprodite blaas die vuil skuim van die sop af. Onder die skuim is die mengel nou nie meer so dik nie. Sy blaas totdat pienk golfies op die oppervlak verskyn en ʼn lieflike rosegeur uit die pot begin styg. Dan draai sy met ʼn sensuele swaai van haar heupe om en verdwyn in die bos.
Die pot wat die massa’s moet voed is nou amper gesond, maar die moeilikste deel lê nou voor. Ek is ook siel.
Ek voel hoe jou hand myne vir ʼn oomblik stywer vashou. Hierdie is die moeilikste deel en ook die deel waaroor ons nie beheer het nie. Om ʼn gereg voor te berei waarmee jy jou geliefdes wil voed, moet jy jouself gee. En deur jouself te voed sal jy ander voed. Al daardie massa’s wat deur die oorspronliklike kokke as pionne gesien is, die gepeupel, die onnadenkendes – vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie – daardie massa’s is jy wie ek genooi het om vanaand hier langs my te staan. Jy het nie meer ʼn verskoning nie. Jy weet – al lankal. Jy was nou lank genoeg lui of bang.
Robert Louis Stevenson het gesê “To hold the same views at forty as we held at twenty is to have been stupefied for a score of years, and take rank, not as a prophet, but as an unteachable brat, well birched and none the wiser.” Ek stem saam.
Om gevoed te word en te groei moet jy self jou bord vol skep uit die fees wat vir jou berei is. Jy moet proe en kou en verteer, met jou hele verstand en jou hele liggaam. Ons moet vrate van onsself maak en terugkom, keer op keer, om nuwe geregte te probeer en aan nuwe insigte te knibbel.
Ek doop my beker in die rooi borrelende geurige mengsel voor my. Ek is dors en honger – op die rand van hongersnood.
Ons drink diep en lank. In liefde en dankbaarheid en met oorgawe.
En ek lig my beker op die laaste godin. Sophia. Die godin van wysheid. Sy herinner my aan Gandhi: “As human beings, our greatness lies not so much in being able to remake the world— that is the myth of the atomic age— as in being able to remake ourselves.”
En ʼn behaaglikheid vul ons. Ek wil dans en sing en skree. Ek wil liefde maak en dink, dink, dink en luister en wonder en hoor. Ek wil leer. Ek wil leef. Wil jy?