Gaia
deur Uther Pendragon
Seun, ek het ook ‘n blom gehad,
My lewe het om haar gedraai.
En so het ek myself verkoop.
Nes ek, dien jy die roos, die mooi,
Wat alle trou eis wat ons had.
Maar rose is vir almal getooi,
En ook vir alle bye oop,
En as jy haar pluk of haar aai,
Sal dorings jou met bloed beklad.
Ek’t opgekyk en horison-dwars,
Het die see gelê – skitterblou.
Moer van elk lewendige ding,
Abissaal swart tot wit misbank,
Van yssee koud tot tropies lou,
Stormdreuning tot stil kabbel klank.
Die smeltkroes waar lewe ontspring,
Wat eendag selfs op land uitklou,
Waar flagellaat swem en vrugwater bars.
Ek sien die land van pool tot pool,
Van trotse piek tot vlak platvloer,
Van poolse kil tot stomend troop,
Pletternat tot versengend droog,
Ruik spesery tot seegety,
Van mosbekroes tot stamme hoog,
Marmer glad tot moeras slymloop,
Van soepellootvars tot stokoer,
Grasgolf blond tot domp onderhool.
Ek het gevind waarna ek sug –
Ek’t op die ronding neergedaal,
Haar verken en oersheid aanskou,
Haar deurkloof, deurboor en deurpriem,
Als ontbloot, bestyg en bevrug,
Eerste tot laaste laat ontkiem.
En koppel ons so hierdie nou
met die toekoms deur haar portaal.
Sy is Gaia en ek die Lug.
3 COMMENTS
Wow…I wonder what it would be like to have this read to one by the author himself…sensual shivers.
Soos ek destyds vir my troepe altyd geseg het, ‘ I’m a culture vulture, but a vulture of the mind’.
Netjies gedoen Uther.
Geniaal, Uther, geniaal.
My gemoed, my sinne gevul,
siel gestreel, liggaam verhef,
Aards tot Hemelse volbringing
‘n Segetog van seksuele vervulling
wat oorloop in poele van
sensoriese genot.
***
Dankie.