
Erotikaans: Woorde en frases wat lol
deur Lusman
In die meer onlangse skryfwerk op Kombiekiehier het ek die volgende spelling- en ander foute teëgekom. Ek gee die korrekte of beter vorm tussen hakies.
- bietjie Mens sien soms nog die spelling met ‘n “k” in plaas van “tj”. Alhoewel ek nie absoluut teen spellinginnovasie is nie, meen ek daar is darem geen regverdiging hier vir ‘n afwyking van die standaardspelling nie. Dis ‘n voorbeeld van SMS-taal wat nie op ‘n kwaliteitwerf soos Kombiekiehier tuishoort nie. (Die “-biekie-” in “Kombiekiehier” is ‘n ander saak: “Kombiekiehier” is ‘n eienaam, waar mens die vryheid het om te benoem soos jy wil. Eiename word dikwels beïnvloed deur styloorwegings.) Voorbeeldsin: Ek is vanaand ‘n bietjie baie lus vir ‘n woeps met hom.
- borsteman of borste-man en boudeman of boude-man Mens sien dit soms los geskryf. Dis ‘n naamwoord wat ‘n naamwoord beskryf en moet vas geskryf word. ‘n Koppelteken, ook ‘n vorm van vas skryf – maar wat soms om stilistiese redes beter vertoon – is ook toelaatbaar. Voorbeeldsinne: Ek is ‘n boudeman, maar my pêl is ‘n borsteman. Ek kyk gewoonlik intens agterlangs, terwyl hy altyd eerste voorlangs kyk. (Terloops, ek het hierdie voorbeelde gekies omdat hulle nogal dikwels gebruik word. Maar daar is nog honderde ander wat ek sedert ek redigering vir Kombiekiehier doen, teëgekom het. Of iets los of vas geskryf moet word is regtig problematies by sekere Kombiekiehier-skrywers. Dis nie ongewoon vir ‘n verhaal wat ek moet redigeer om 10 tot 30 van hierdie soort spelfoute te hê nie. Ek het vas skryf in Erotikaans reeds aangeraak in “Die begrippe erotiek en erotika …” ‘n Swak begrip van wanneer los en wanneer vas geskryf moet word is half endemies op sosiale media ook. Mense volg die Engelse spelpatroon en dit veroorsaak dikwels eindelose verwarring met wat bedoel word. Jou leesspoed kom drasties af as dit nie reg gedoen word nie. Om korrek vas en los te skryf is vir goeie en presiese begrip net so belangrik soos enige ander skryfkonvensie. Ek gaan in die toekoms in Erotikaans ‘n uitvoerige artikel aan los en vas skryf wy.)
- dis Die woord is die sametrekking van “dit is”. Laasgenoemde is nie verkeerd nie, maar word te veel gebruik deur sommige skrywers. “Dis” is vir dekades al meer gebruiklik en baie nader aan hoe ons praat. Die woord “dis” is opgeneem in HAT en ander woordeboeke. Voorbeeldsinne: Dis wat ek wil hê: ‘n lekker geil aandjie saam met haar en Dis mos nou lekker – om alleen met jou vrou in die veld te kampeer en enige tyd sommer in die oopte op ‘n kombers mekaar te kan vertroetel en te kan pomp.
- enigiets Dit word dikwels as twee woorde geskryf. Dis in wese nie verkeerd nie, maar meestal onnodig. “Enigiets” bestaan al vir dekades en is veel nader aan hoe ons praat. Die woord is opgeneem in HAT en ander woordeboeke. Voorbeeldsin: Enigiets is moontlik saam met haar; jy moet net jou kaarte reg speel.
- e-pos en e-posadres Die koppelteken is verpligtend om dit te onderskei van die woord “epos”, wat beteken: verhalende gedig waarin heldedade beskryf word. Voorbeeldsin: Stuur daai oulike epos van jou, met die held wat die meisie wat hy gered het aan die einde naai, aan Annelise se e-posadres op Kombiekiehier.
- Botha, mnr. Van der Merwe, prof. Hiemstra Wanneer die titel van ‘n persoon in die middel van ‘n sin staan, begin dit met ‘n kleinletter. Dieselfde geld as dit nie afgekort word nie, bv. “mevrou Botha” en “meneer Van der Merwe”. Mens skryf ook “tant Sarie”, “pa Johannes” en “ouma Lalie’. ‘n Hoofletter is korrek aan die begin van die sin en by ‘n adres of aanhef in ‘n skrywe (bv. brief of e-pos). Voorbeeldsin: Mev. Botha was verheug om te hoor dat prof. Van der Merwe en mnr. Jones se poliamoreuse verhouding met ouma Sannie tot ‘n einde gekom het.
- op pad Dit word soms as een woord gespel, wat nie korrek is nie. “Op pad” het dieselfde grammatikale konstruksie met die woord “op” as in: op reis, op kantoor, op skool, op universiteit, op wag staan, op bystand, op gereedstand en op tyd (betyds). Mens skryf tog nie hierdie woorde vas aan mekaar nie. Voorbeeldsinne: Hy het laat weet hy is op pad, toe sy SMS en vra of hy dan nie vanaand lus is vir ‘n bietjie kafoefel nie en Hy weet hy’s op pad om sy naam by die meisie gat te maak met die gedurige wegdruk van haar dwalende hand.
- pak slae Mens sien dit soms vas geskryf. Dis verkeerd. Daar moet ook altyd een van die lidwoorde ‘n of die vooraan wees. Dis dieselfde soort grammatikale konstruksie as in ‘n mandjie eiers, ‘n sak mielies, ‘n emmer water en ‘n drag slae – alles los gespel. Voorbeeldsin: Hy is lus om haar vanaand ‘n bietjie vas te bind en haar ‘n pak slae te gee; sy’s mal oor dié soort van ding.
- seks Af en toe sien mens dat iemand “seks” met ‘n “x” aan die einde spel in plaas van “ks”. Aikôna! Dit word al amper vir ‘n honderd jaar met “ks” gespel.
- sexy (bv. sexy selfie, sexy persoon, sexy klere, sexy sêgoed) Mens sien dit soms as “seksie” gespel. Dis nie korrek nie. “Sexy” word al vir ‘n hele klomp jare gebruik en is ook in woordeboeke soos HAT opgeneem. “Seksie” het ‘n ander betekenis, nl. dié van “‘n deel” (van iets). Voorbeeldsin: Ons het in ‘n seksie van die vertrek gesit waar ons die sexy danseres goed kon sien.
- so ‘n bietjie, ‘n bietjie en die bietjie. Die lidwoord ‘n of die word soms uitgelaat. Dit behoort oor die algemeen eintlik nie gedoen te word nie. Voorbeeldsinne is: Ek is ‘n bietjie jags; Ek is lus vir so ‘n bietjie seks en Die bietjie voorvog wat by sy spleetjie uitgepeul het, lek sy in ‘n japtrap af. Hier en daar is daar ‘n uitsondering, soos wanneer mens sou sê: Staan bietjie op jou hande en knieë en Lê bietjie op jou rug. Die lidwoord val gewoonlik weg as “bietjie” voorafgegaan word deur ‘n werkwoord, soos hier.
- vir eers (met die betekenis: om mee te begin, of voorlopig) Dit word soms as een woord geskryf. Dis nie korrek nie. Voorbeeldsin: Vir eers wil ek met hom in die sitkamer vry en nie in sy kamer nie; die risiko is te groot. Dis ook so in die geval van vir eers nie (nie nou al nie). Vir eers gaan ek haar liewer nog nie sjarmeer nie; netnou vervies sy haar.
- vir seker (in die konteks van “met groot sekerheid” – bv. Hy gaan vir seker kom.) Dit word soms as “verseker” gespel. Dis nie korrek nie. “Verseker” is die spelling in frases soos jou kar verseker en verseker dat jy eerste kom. In hierdie twee gevalle is “verseker” ‘n werkwoord. Daarenteen is “vir seker” is ‘n bywoordelike frase. Hierbo beskryf dit die werkwoord “kom”. Voorbeeldsin: Vir seker gaan ek vanaand naai, dink hy toe hy in die pad val na die meisie toe.
Laastens, ek wil skrywers wat nie ‘n woordeboek raadpleeg wanneer hulle skryf nie, aanmoedig om dit te doen. Byvoorbeeld, die meeste van wat ek hierbo bespreek, kan jy in HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) in ‘n oogwink naslaan. As jy daarby nog die AWS (Afrikaanse Woordelys en Spelreëls) gebruik, kan jy baie ver kom om jou skryfwerk te verfyn. Jy sal wonderlike bevrediging daarmee kry – sommer so tussen jou skommelsessies deur (as jy ‘n man is) en tussen jou vrikkelsessies deur (as jy ‘n vrou is).
8 COMMENTS
Ek wil tog ‘n bietjie van Lusman verskil. Binne die taalreels is daar artistieke vryheid. “Dit is” teenoor “dis” is vir my ‘n goeie voorbeeld. “Dit is” dra ‘n bepaalde intonasie, wat “dis” nie dra nie. “Dit is wat ek wil he” is ‘n afgemete, uitdruklike, frase. “Dit is,” is sterk gestel, dit beklemtoon. Daarteenoor val “dis” sagter op die oor.
Jy’s reg, Bikilus. Goed verduidelik. Ek dink nie ek was so duidelik bewus van die intonasieverskil nie. Ek sal in die toekoms bietjie meer noulettend wees. Ek hoop nie ek het dit tot jou nadeel in een van jou stukke verander nie; indien wel, wys dit uit vir Annelise. Sy kan my dan laat weet en tussen ons twee kan ons dit regstel.
As sy in die toekoms ‘n stuk met my redigering aan jou stuur vir jou goedkeuring, moet jy goed wat jy dink aan die taalreëls beantwoord, maar nie veranderd wou sien nie, tog aan haar uitwys.
Interessant baie dankie Lusman
Dankie hiervoor, Lusman. Ons leer baie by jou.
Ek struikel ‘n bietjie oor jou verduideliking oor waarom ‘borsteman’ een woord behoort te wees. Dit is nie omdat dit ‘n naamwoord wat ‘n naamwoord beskryf, is nie. Dis(?) bloot omdat dit ‘n samestelling is, met ander woorde, die “koppeling” van twee selfstandige naamwoorde. Wanneer ‘n naamwoord (byvoeglike naamwoord) ‘n (selfstandige) naamwoord beskryf, is dit juis twee losstaande woorde, byvoorbeeld: “rooi broekie”.
Neil,
Dankie vir jou kommentaar en jammer dat ek so laat eers antwoord.
Ek dink nie jy verskil van my dat “borsteman” en “boudeman” albei vas geskryf moet word nie, d.w.s. samestellings moet wees. Wat jy dit wel teen het, is my verduideliking. Want ek het gesê dis ‘n geval van ‘n naamwoord wat ‘n naamwoord beskryf — en volgens jou beskryf ‘n byvoeglike naamwoord ‘n selfstandige naamwoord. Daarmee stem ek met jou saam.
Ek dink my woordkeuse kon beter gewees het as om te sê die naamwoord “beskryf” die naamwoord — want soos jy tereg opmerk, dis gewoonlik die funksie van die byvoeglike naamwoord. Miskien moes ek gesê het die naamwoord “kwalifiseer” die daaropvolgende naamwoord. Want ons kan tog nie daarvan wegkom nie dat die eerste (selfstandige) naamwoord op ‘n manier iets sê oor die tweede (selfstandige) naamwoord. Dis juis omdat in die een geval die woord “borste” iets se omtrent “man” en in die ander geval “boude” iets sê omtrent daai man, dat dit duidelik is dat die twee manne verskil.
Ek wil dit net benadruk dat dit nie die blote feit dat die een woord voor die ander gebruik word nie bepaal dat dit ‘n samestelling moet wees nie. Mens weet dis ‘n samestelling uit die konteks: Borste en boude sê iets oor die man. Kyk bv. na die volgende sin, waaruit mens kan sien dat die woordorde nie die pas aangee nie: “Dat haar borste man se kind mal maak, is ‘n feit.” Hier staan “borste” ook voor “man”. Maar ek dink jy sal saamstem dat die twee woorde nie meer ‘n samestelling vorm nie. Uit die konteks is dit duidelik dat “borste” nou nie die man kwalifiseer nie, ten spyte daarvan dat die voor “man” staan. Daar is baie voorbeelde waar die konteks bepaal dat dit nie ‘n samestelling is nie en dus nie vas geskryf moet word nie. Nog een: “Dat die bul horings het, is jammer.” Dit teenoor: “Die bulhorings is gevaarlik.”
So, alvorens mens nie weet wat die rol van “borste” is nie, kan jy nie sê of dit ‘n samestelling behoort te wees of nie.
Konteks is net so waar vir byvoeglike naamwoorde. Alhoewel hulle gewoonlik die selfstandige naamwoord beskryf en attributief (vooraan die selfstandige naamwoord) los geskryf word, is daar ook gevalle waar dit ‘n samestelling vorm en dan vas geskryf moet word. Ek haal direk aan uit bl. 168 van die AWS van 2017: blouaap, dikmelk, donkerkamer, geelwortel, groenvy, oukêrel (pa), stywepyp en wildebees. Die funksie van voorgaande byvoeglike naamwoord verander heeltemal as jy dit los skryf van die selfstandige naamwoord en mens praat dan van heel ander konsepte. Daar is honderde sulke gevalle.
Kom asb. terug as jy nog vrae het of verskil. Dis belangrik dat ons almal op dieselfde bladsy is oor los en vas skryf.
Neil,
In die boonste stuk is ongelukkig ‘n paar spelfoute — sies vir Lusman! Ek het dit baie haastig getik.
Die spelfoute gaan deur Annelise reggemaak word. Die volgende gaan verander word:
Eerste paragraaf, laaste sin: Daarmee stem ek met jou saam.
Derde paragraaf: “boute” moet “boude” wees.
Tweede laaste paragraaf: “Blouaan” moet “blouaap” wees en “stywepyp” moet “stywepap” wees.
Jammer vir die ongerief.
Baie dankie, Lusman.
Hierdie en soortgelyke bydraes wat jy al van tevore gelewer het is van onskatbare waarde vir my as leke skrywer.
Doet so voort, by voorbaat asseblief!