Erotikaans: Die noodsaaklikheid van reëls oor los en vas skryf – en enkele voorbeelde

0
Hoe lank gaan ek lees: 8 minute

deur Lusman

Mens hoor soms dat iemand sê dat Afrikaans se manier om woorde vas aan mekaar te skryf onnodig is. Hulle wil weet hoekom nie alles los geskryf kan word nie en hou dan Engels as voorbeeld voor. Wel, die interessante is dat Engels ook soms twee woorde vas aan mekaar skryf; dit gebeur net minder as in Afrikaans. In Engels word koppeltekens heel dikwels gebruik as ‘n manier van samekoppeling. Voorbeelde is housewife, lawsuit, blackboard, over-ripe en strap-on (aanbinder of voorbinder)

Die struktuur van Afrikaans – in terme van hoe woorde op mekaar volg – vereis dat heel dikwels vas geskryf word. Sonder reëls vir die vas skryf van woorde, al dan nie, kan daar groot betekenisverwarring wees. Gebrek aan eenduidigheid sou grootskaals geld as mens alles los skryf. Dit sou doodeenvoudig net nie werk nie.

Dis ook nie asof mens vas skryf as die verstekmanier van skryf moet beskou nie. Die allesoorheersende rigsnoer is: Jy skryf los, behalwe as vas skryf noodsaaklik is of die betekenis beter uitbring. Dis nie omdat dit mooier lyk of iets dergeliks nie. Alhoewel tradisie ‘n rol speel, is daar ander, taalwetenskaplike redes vir die vasskryfreëls soos mens dit in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) vind.

Op die vraag waarom verwarring dan nie in die spreektaal bestaan nie – want mens kan mos nie vas en los hier aandui nie – is die kort antwoord dat die manier van praat in die meeste gevalle die betekenis akkuraat aandui. Intonasie, klem en die spoed waarmee die woorde  wat op mekaar volg uitgespreek word, bring gewoonlik die betekenis eenduidig uit.

Behalwe dat verwarring uitgeskakel word, is die reëls vir wanneer vas geskryf moet word en wanneer nie, ‘n aansienlike bate in Afrikaans. Wanneer dit reg gebruik word, maak dit die skryftaal uiters kragtig as instrument van noukeurige kommunikasie op elke lewensterrein – ook op die gebied van die erotiek.

Wat ek hier skryf is vir skrywers sowel as lesers. Ek gaan in hierdie stuk nie in op die AWS-reëls nie – dit sal later gedoen word. Ek gee eerder voorbeelde wat die noodsaak van korrekte vasskryf aandui. Want, as dit nie duidelik is dat daar reëls nodig is nie, sal mens nooit verstaan hoekom in sekere gevalle vas geskryf moet word nie. Jy sal in die donker bly rondtas.

Hoe beter die AWS-reëls begryp word – ten minste die belangrikste reëls – hoe beter sal die leser die kode ken waarin die skrywer sy gedagtes weergee. En hoe beter die begrip en die genieting van die skryfwerk. Daarom gaan ons in die toekoms heelwat aandag hieraan gee.

Niks verhoed jou egter om, as jy nog nie die AWS aangeskaf het nie, dit te doen en jou self vinnig op hoogte te bring nie!

Voorbeelde waar vas skryf die betekenis verander

Laat ons kyk na ‘n paar voorbeelde. Dit wys hoe die betekenis van ‘n sin of frase drasties kan verander as twee (of meer) woorde los geskryf word in plaas van vas. Hier onder volg voorbeelde van gevalle waar die betekenis nie duidelik sou wees as daar nie vas geskryf word wanneer nodig nie (die relevante woorde is onderstreep):

  • ‘n Koerantopskrif lui: Trap fiets teen die Alpynse ski-helling. Vergelyk dit met Trapfiets teen die Alpynse ski-helling. In eersgenoemde maak die spelling “trap fiets” – los geskryf – dit duidelik dat hier van die handeling om met ‘n fiets te ry gepraat word. In laasgenoemde geval word daar van ‘n soort fiets gepraat wat moontlik teen die Alpynse ski-helling staan, lê of gebruik word. Dis ‘n groot verskil in betekenis.

 

  • ‘n Sin in ‘n verhaal lui: Die seermaakplek vir ‘n lekker gevoel wat opborrel van êrens – dis wat sy nodig gehad het. Vergelyk dit met: Die seer maak plek vir ‘n lekker gevoel wat opborrel van êrens – dis wat sy nodig gehad het. Dis duidelik dat daar groot betekenisverskil tussen die twee sinne is. Eersgenoemde sin praat van ‘n plek (aan haar lyf) waar sy seergemaak is – en wat op ‘n manier aangenaamheid bring. Laasgenoemde sin dui aan dat die seer verdwyn ten gunste van iets anders. So, as die skrywer eersgenoemde bedoel het en hy/sy het drie los woorde gebruik, sou ‘n bedrewe leser dit verkeerd verstaan het.

 

  • ‘n Opskrif in ‘n vrysinnige koerant lui: By stekery ‘n groot fiasko. Soos dit hier staan, word daar gepraat van ‘n stekery waarby daar ‘n fiasko was. Dit kon ‘n stekery van enige aard, ook ‘n naaiery, gewees het – in ag genome dat die koerant ook oor sulke dinge berig. Maar dit was eintlik ‘n bystekery waaroor dit gegaan het. As dit korrek vas geskryf was, sou die bedrewe leser geweet het daar word gepraat van ‘n stekery deur bye – ‘n aansienlike betekenisonderskeid.

 

  • ‘n SMS van ‘n vrou aan haar man om hom romanties vir die aand in te stel: Smeer middel in boonste deel van hangkas. Hy verstaan toe hy moet die middel om insekte dood te maak, wat hulle ‘n paar dae tevore gekoop het, binne-in die kas aansmeer. Hy sou natuurlik geweet het sy wou vry (ook naai) as sy smeermiddel sonder die spasie geskryf het.

 

  • Die volgende frases, almal met dieselfde woorde en in dieselfde volgorde, kan drie verskillende betekenisse hê, afhangend hoe daar geskryf word: Storm reën weer in Newcastle (dis die storm wat weer reën in Newcastle); stormreën weer in Newcastle (daar is weer stormreën in Newcastle) en stormreënweer in Newcastle (daar is weer met reën, wat spesifiek stormreën is, in Newcastle)

 

  • Hy het met ‘n stokkie tekeninge in die sand gemaak. Maar daar kon gestaan het: Hy het stokkietekeninge in die sand gemaak. Dan het dit beteken hy het, dalk met sy vinger, tekeninge gemaak wat ‘n stokkiestyl het – soos dié van stokmannetjies. Weereens het die los en vas skryf ‘n groot impak op die betekenis.

 

  • ‘n Sin in ‘n verhaal lui: Ure later het semen slierte oor haar keel gevorm. Die semen vorm in hierdie geval die slierte, wat nie noodwendig semenslierte is nie – dis dalk haarslierte vol semen. As die skryfwyse semenslierte was, sou dit beteken iets anders kon die slierte (van semen) gevorm het. Dis ‘n fyn betekenisonderskeid.

 

  • ‘n Koerant-opskrif lui: Vrae oor Limpopo-kom gou. Maar daar kon gestaan het: Vrae oor Limpopo kom gou. Eersgenoemde dui op vrae oor ‘n kom (‘n selfstandige naamwoord) in Limpopo. Laasgenoemde dui daarop dat vrae oor Limpopo gou gaan kom (werkwoord). Dis ‘n heel ander begrip, veroorsaak deur die teenwoordigheid al dan nie van ‘n koppelteken (‘n vorm van vas skryf).

 

  • Die volgende sin verskyn in ‘n tydskrif: In die 17de eeu was die groot meerderheid van die slawe arbeiders van die Kompanjie. Dit beteken iets anders as: In die 17de eeu was die groot meerderheid van die slawearbeiders van die Kompanjie. In eersgenoemde word gepraat van slawe wat arbeiders van die Kompanjie was, terwyl in laasgenoemde gepraat word van die slawearbeiders wat van die Kompanjie was (en nie van elders nie). Dis totaal verskillende begrippe.

 

  • ‘n Koerantopskrif lui: Skoolhoofondersoek oor selfoonrekening. Vergelyk dit met: Skoolhoof ondersoek oor selfoonrekening. In eersgenoemde word gepraat van ‘n ondersoek (selfstandige naamwoord, met die klem op “onder-“). Dis ‘n ondersoek oor of deur die skoolhoof. In laasgenoemde word gesê die skoolhoof word ondersoek (werkwoord, met die klem op “-soek”). Dis beduidend verskillend.

 

  • ‘n Koerantopskrif lui: Duur wyn bedryf se doodsvonnis. Dit sou iets anders beteken het as daar gestaan het: Duur wynbedryf se doodsvonnis. In eersgenoemde word daar gesê dat duur wyn die (ongespesifiseerde) bedryf se doodsvonnis is. In laasgenoemde word gepraat van die duur wynbedryf waarvan die doodsvonnis ter sake is. Dis ‘n wesenlike verskil wat die verwydering van die spasie meebring.

Bostaande toon hoe vas skryf waar nodig begripsverheldering meebring en verwarring uitskakel.

Ander redes vir vas skryf

Potensiële verwarring is egter nie die hoofrede vir vas skryf nie. Die redes vir vas skryf in sekere gevalle – en die gepaardgaande AWS-reëls – is veel dieper liggend as net potensiële verwarring.

Neem byvoorbeeld die kategorie van samekoppelinge, ‘n soort samestelling. Dis waar twee woorde, as hulle vas (as een woord) geskryf word, dit ‘n ander betekenis het as wanneer hulle los geskryf word.

Samekoppelinge

Hier onder volg voorbeelde van samekoppelinge, met die ongekoppelde woorde eerste genoem (met die relevante woorde in die illustrerende sinne onderstreep):

groen mielies x groenmielies (Die groen mielies behoort binne ‘n maand ryp te wees. Die kinders is baie lief vir groenmielies.)

blou bok x bloubok (Die blou bok tussen die bruines is baie opsigtelik. Die bloubok is nie ‘n soort bok wat in daardie deel van die land aard nie.

wilde bees x wildebees (Ek gaan die wilde bees verkoop; sy pla die ander melkkoeie. Die wildebees wat ek in die wildtuin gesien het was baie groot.)

groot mond x grootmond (Dis vir haar so oulik as hy so glimlag met daai groot mond. Hy’s grootmond oor wat hy alles met die meisie gaan doen.)

kaal gat x kaalgat (Hy is effens skaam vir sy kaal gat toe hy voor haar sy broek uittrek. Ons hou daarvan om by die huis kaalgat te loop.)

mooi weer x mooiweer (Dit was regtig mooi weer wat ons na die lang droogte gehad het – genoeg opvolgreën het geval. Die weerdiens voorspel mooiweer vir môre; daar’s nie ‘n teken van reën nie.

suur lemoen x suurlemoen (Die suur lemoene wat ek die laaste keer by daai winkel gekoop het, maak dat ek nie weer daar sal koop nie. Dieetkundiges beskou suurlemoen as ‘n baie gesonde vrug.)

blou ballas x blouballas (Met die lyfverwery by die partytjie het hy blou ballas gekry. Sy het hom gisteraand so erg met ‘n pielsuig geterg – maar sonder om hom te laat kom – dat hy vanoggend blouballas het.

vol ronde x volronde (Die blik is vol ronde klippe. Sy het pragtige volronde borste.)

vol bos x volbos (Hier is die veld vol bos. Haar man hou van volbos, dus sal sy maar nie haar skaamhare oormatig trim nie.)

sag speel x sagspeel (Jy moet die musiek sag speel want dit maak ons dan rustig. “Ons wil net sagspeel; ons is groentjies en nie reg vir voluit aan nie,” sê die vrou vir die swiengerpaar.)

Bogenoemde is enkele voorbeelde waar sonder die samekoppeling betekenisverwarring bestaan. Mens moet hier vas skryf waar nodig; andersins los.

Impak van verkeerd vas en los skryf

Nie alle verkeerde skrywery het so ‘n groot impak op begrip vir die leser soos in die gevalle hierbo nie. Maar vir die bedrewe leser is die verkeerde gebruik omtrent altyd iets wat die leesspoed breek; dikwels moet die sin weer van vooraf gelees word. En dan is daar dikwels boonop die risiko van dubbelsinnigheid. Dit raak soms net onaangenaam as ‘n skrywer nie reg los en vas skryf nie.

Spesifieke gevalle waar nie vas geskryf word nie

Wat mens ook moet onthou is dat mens ook nie oorboord moet gaan met vas skryf waar dit nie nodig is nie (en dit ook verkeerd is). Byvoorbeeld, mens sien dikwels waar iemand die volgende verkeerdelik vas skryf: nog steeds, op pad, reg so, so pas, al hoe meer, al twee, al weer, ook al, glad nie, huis toe, kort broek (broek wat kort is), lang broek (broek wat lank is), oor en weer praat, oor en weer naai, oor mekaar gesels, pak gee, pak kry, pak slae, bloots ry en vir lief (vir lief neem).

Hierdie is enkele gevalle wat soms probleme gee. Bykans almal kom in die AWS-woordelys voor.

Kortwoord-gevalle waar vas skryf nodig is

Voordat mens dink alle betreklik kort woorde, soos hierbo, skryf mens los, moet mens in gedagte hou dat daar gevalle is waar sulke kort woorde vas geskryf word. Voorbeelde is: dagin en daguit, jaarin en jaaruit, kortbroek (soort broek), landuit, langbroek (soort broek), oor-en-weer-pratery, oor-en-weer-naaiery, oormekaar (met die bene oormekaar sit)

Die meeste van hierdie kom in die AWS-woordelys voor.

Wisselvorme van vas en los

Dan is daar gevalle waar wisselvorme bestaan, soos: op heter daad of op heterdaad, net so of netso, lank laas of lanklaas, pas op of pasop (tussenwerpsel), pasop (werkwoord – hulle moet pasop dat …), weer eens of weereens.

Hierdie gevalle kom ook in die AWS-woordelys voor.

Samestellings

‘n Onderwerp wat nie in bogaande aangeraak is nie is samestellings. Samekoppelings is maar net ‘n subkategorie van samestellings en dek nie alles nie. Daar is vele kategorieë van woorde en woordgroepe wat nie deur die voorbeelde hierbo geïllustreer word nie, en waar ook vas geskryf moet word – soms deur gebruikmaking van ‘n koppelteken. Samestellings is ‘n onderwerp wat ons in die toekoms sal moet behandel. Die AWS-reëls vir samestellings is uitgebreid en dit sou elke skrywer en leser loon om daarna te kyk.

Ten slotte

Ek hoop bostaande sal almal wat dalk getwyfel het oor die absolute noodsaak om woorde soms vas aan mekaar te skryf, oortuig.

As mens nie weet wanneer dit vas en wanneer dit los moet wees nie – en die bestes onder ons twyfel ook soms – moet mens maar die AWS gebruik. Dis ‘n goudmyn vir goeie skryfwerk en ook begripvolle leeswerk. Woordeboeke soos HAT is ook nuttig.

Met ‘n volgende bydrae sal ek probeer verduidelik hoe mens heel dikwels kan bepaal of iets los of vas geskryf moet word – aan die hand van die AWS-reëls.

Kommentaar word verwelkom.

 

 

0

3 thoughts on “Erotikaans: Die noodsaaklikheid van reëls oor los en vas skryf – en enkele voorbeelde

  • Feb 25, 2020 at 9:20 pm
    Permalink

    Wille Will, dankie vir die kommentaar. Ja, dis omdat Lusman so vinnig en dikwels ‘n lus ontwikkel, weens dinge wat hier op Kombiekiehier gebeur, dat die naam Lusman hom pas. Hy is ‘n “man van lus”. En jy’s reg, hy’s dikwels ‘n erg lus man, veral as hy foto’s van mooi borste en boude sien of ‘n geil storie lees. Hy verbeel hom altyd dat die vroue wat hy lus ook maklik belustig raak.

  • Feb 25, 2020 at 12:57 pm
    Permalink

    Ek wil nie kommentaar lewer nie, ek wil dank betuig !
    Jou insetsels is so waardevol vir ons skrywers…en die lesers kan ook maar kennis neem ☺
    Baie dankie, Lusman ( of is dit nou LUS man ?…hahaha) dit word hoog waardeer.
    Wille Will

Leave a Reply

error: Kontak ons as jy iets van Kombiekiehier wil hou vir jouself. ;)