Beteken “tradisioneel” noodwendig “moreel”?
Waarom het dit die aanvaarde standpunt geword dat ‘n mens net eties teenoor jou maat binne ʼn tradisionele, behoudende verhouding kan wees – hetsy tradisioneel Afrikaans en dus monogaam of tradisioneel Zoeloe en dus poligaam? Waarom dink ons die reëls waaraan ons onsself verbind wanneer ons trou, sal ons “beter” mense maak? Kan ons nie op ons eie “goeie” liefdesmaats wees nie. Dit laat my nogal dink aan die vreemde idee dat ʼn atiees nie ʼn morele mens kan wees nie – kan ons nie sonder Big Brother die regte ding doen nie?
Onderdrukking, minagting, mishandeling, ontrouheid, ens. in alle vorme van verhoudings voor. Ek wil selfs aanvoer dat dit méér in die tradisionele vorme voorkom, juis omdat dit mense soms vasvang in ‘n soort tronk waarvan hulle nie kan ontstap nie en wat hulle dus weerloos laat in die hande van die een wat veronderstel is om hulle lief te hê. Dit is nie poligamie of monogamie wat die probleem is nie. Dit is ons idee van liefde en ons gebrek aan persoonlike waardes wat die probleem is. En as jy dit nie het nie, gaan ʼn huweliksertifikaat jou nie help om ʼn beter mens te wees nie.
Mense glo dat ʼn monogame huwelik groter intimiteit en minder jaloesie en wantroue in die hand werk. Hoekom? Miskien omdat daar nie rede tot jaloesie is nie omdat die een huweliksmaat die ander te goed oppas? Maar dis nie waar nie. Daar ís jaloesie. Verskriklik baie. Ek moet nog ʼn Afrikaanse vrou ontmoet wat nie sê dat haar man enigiets kan doen behalwe om haar te verneuk nie – dan is dit verby met hom.
Wantroue is juis die spilpunt van hierdie huwelike. En vrees. Vrees dat hy/sy my gaan verneuk, vrees dat ek my broodwinner gaan verloor, vrees vir eensaamheid, vrees dat sy die kinders van my weg gaan hou. Intimiteit het niks met die huwelik te doen nie en alles met kommunikasie en eerlikheid. Monogamie en ʼn huwelik is nie ʼn voorwaarde vir enige van die twee nie. Ongelukkig is die feit dat jy nie ander “maats” in jou lewe het nie, ook nie ʼn waarborg dat jy enige van bogenoemde met jou huweliksmaat gaan hê nie.
In hierdie gereguleerde verhoudings waarin ons moet leef, hoef ons nie te dink nie en hoef ons nie te groei nie. Ons kan vasklou aan idees soos dat jaloesie liefde is en dat my man soos ʼn besitting aan my behoort. Ons kan “verstaan” as ʼn man sy vrou vermoor omdat hy só lief was vir haar dat hy haar eerder dood sou sien as in ʼn ander se arms. Die feit dat daar reëls is wat hierdie soort verhouding reguleer – of jy dit nou uit die Bybel of die Wetboek wil regverdig – maak dus nie dat dit ʼn etiese verhouding is nie. Die prentjie wat ek hier bo geteken het, is nie eties nie.
Ek wéét waarvan ek praat. Die stortvloed briewe wat ek van my lesers ontvang het, het hierdie toedrag van sake bevestig. Ons kan nie meer agter tradisie wegkruip nie – vir baie, baie mense werk dit nie meer nie. Dit is dikwels juis in hierdie behoudende, monogame huwelike en verhoudings waar probleme floreer.
Kom ons kyk na ‘n alternatief:
ʼn Westerse (daarmee bedoel ek ʼn nie-tradisionele maw nie Moslem of Zoeloe of die Jode van die Bybel) poligame verhouding kan die toppunt van vryheid en liefde wees, juis omdat daar geen voorgeskrewe reëls daarvoor bestaan nie.
In so ʼn verhouding/huwelik sal dit nie noodwendig die man wees wat meer as een geliefde het nie, dit mag albei wees of selfs net die vrou.
Iemand in ʼn poligame huwelik of verhouding kan nie jaloers wees nie. Dan sou hulle nooit so ʼn verhouding oorweeg het nie. ‘n Mens moet verby die kru reëls van besit kan groei. In so ʼn huwelik weet jy dat jaloesie ʼn emosie is waarmee almal een of ander tyd sukkel, maar besef jy ook dat dit ʼn negatiewe emosie is soos haat. Mens besef dit is moontlik en dalk self ʼn teken van groei om hierdie emosie te beheer en nie deur dit beheer te word nie.
In so ʼn verhouding is kommunikasie en eerlikheid van kardinale belang. En vertroue. Die meeste Afrikaanse monogame huweliksmaats kan nie eens hulle seksuele fantasieë met mekaar deel nie en as gevolg van ons patologiese vrees vir ontrouheid is daar bitter min vertroue. Luister maar op radiostasies as mense byvoorbeeld vertel hoe hulle hul eggenote se sms’se lees en voel hulle het die reg om dit te doen. Of hoe hulle mans/vroue nie met ander mense van die teenoorgestelde geslag vriende mag wees nie.
In ʼn westerse poligame verhouding gee mens om hoe die ander persone betrokke voel. Mens praat met mekaar daaroor en deel jou vrese, grense en bekommernisse – wat menslik en normaal is.
In so ʼn verhouding bly ek by my maat omdat ek wil – jaar na jaar – en nie omdat ek nie geld het om te skei of te bang is hy maak my dood of te gerieflik in my “comfort zone” is nie.
In so ʼn verhouding doen jy nooit iets agter jou maat se rug nie, want dis nie nodig nie.
In so ʼn verhouding dwing mens niemand om iets toe te laat of te doen wat hulle nie wil doen nie. Mens dwing ook nie iemand om niks te doen net omdat jy nie daarin glo nie. Mens praat en praat en praat en maak kompromieë.
Mense lag as hulle hierdie idees hoor. Waar sal jy iemand kry wat sal toelaat dat sy vrou met iemand ander seks het, of selfs net iemand anders liefhet?
Hulle is skaars, ek weet, maar jy kry sulke mense – ek ken ʼn paar. Ek glo hulle is emosioneel en intellektueel meer gevorderd as iemand wat net sê jaloesie is normaal en basta daarmee – dis hoe dit is. Ek glo hulle is spesiaal. Ek bewonder hulle.
Niemand het ooit gesê dis maklik om iets nuuts te probeer nie. Dit is vreeslik moeilik.
Maar dis nodig. Want die huidige stelsel werk nie. En ek sê nie diegene vir wie dit wel werk, hoef enigiets te verander nie. Ek betoog nie dat enige vorm van huwelik afgeskaf moet word nie – monogaam of poligaam. Miskien moet die ewige oordeel net ophou – dit sal al klaar ʼn stap in die regte rigting wees. Laat ons liewer konsentreer daarop om eties op te treë – maak nie saak in watter vorm van verhouding ons is nie.
1 COMMENT
Ek vind intense aanklank by die artikel oor jaloesie omdat ek in my huwelik (2de) ernstig worstel met liefdes kwessies. ek is een van die tipe mense na wie jy in jou artikel verwys, wat toelaat dat my eggenote met ander mans seks het.Vir my eie beswil hou ons dit baie privaat aangesien , reg en verkeerd, regied deur die meerderheid bepaal en toegepas word. n mens moet ware liefde eers self ervaar om te weet wat egte , opregte liefde is. In n verhouding waar opregte liefde behoorlik teenoor mekaar uitgeleef word sal jaloesie nooit kop iutsteek nie. Ek is van mening en pas dit ook so toe in ons seksuele verhoudings met ander dat ons liefdesband hierdeur juis versterk moet word en dat vertroue in mekaar veel dieper inslag vind as in traditionele verhoudings. n veredere vereiste of reel om seks met ander mans toe te laat en wat dit vir my gewete aanvaarbaar maak is openlikheid en eerlikheid tydens die seksuele daad. Solank seks met ander toegevoegde waarde in ons verhouding meebring en ons vertroue in mekaar hierdeur herbevestig word, sien ek dit as n eienskap wat n meer volwasse liefde tot gevolg het as in traditionele verhoudings. Ek gaan ook van die standpunt af uit dat indien my egenote sonder my medewete seks met n ander sou he en dit sonder onbehoorlike invloed uit vrye wil met gedeel sou word dit my sal aanspoor tot verdieping in ons liefdes verhouding en sal ek glad nie teleurgestel wees ,veraai voel of woede ervaar nie. Deur so iets te kan deel sonder vrees is vir my n vorm van hoogste erkenning aan iemand met wie jy in n verhouding staan. My worsteling , moedeloosheid en frustrasie wat ek ervaar, in kort, handel oor my siening en interpretasie oor hoe n mens op n volwasse manier tewerk moet gaan om vertroue wat geskend is weer op te bou. Vertroue in n ander begin by jouself en kan nie gevestig of herstel word sonder behoorlike , eerlike en opregte selfondersoek nie. Solank oordeel en verwyte aanwesig is sal volle vertroue vir ewig wyk.