Aan Nora
deur Uther Pendragon
Drie kwarke vir heer Markus!
Sy skuit is nie juis ‘n plus.
En sekerlik is al sy ander aldus.
Maar o Magtige Tinktinkie-arend, hoe sal ek lag
as daai ou aasvoël uit die donker op sy hemp neerslag
en sy gespikkelde broek in Palmerstown Park jag
Hohohoho ou motgevrete Mark!
Jy is die snaakste ou hoender uit Noag se ark
En nou hou jy jouself haantjie-uitnek.
Tristan is die flinke kêrel sê ek jou,
Wat jou verloofde gaan vry en spyker en naai en trou
Sonder om hom oor jou te traak
En dis hoe hy sy fortuin gaan maak.
(Vertaal uit James Joyce (1939) Finnegan’s Wake deur Uther Pendragon)
James Joyce is een van my geliefkooste skrywers. Sy skryfstyl en onderwerpe geval egter nie almal nie en is defnitief iets soos beleë kaas – mens moet die smaak daarvoor aanleer.
Joyce was in 1882 in Dublin gebore en was vir sy novelle, kortverhale en gedigte bekend. Hy was ook ‘n onderwyser, joernalis en literêre kritikus. Sy skryfstyl word as modernisties avant-garde beskryf en van sy bekendste boeke is: Dubliners (1914), The Artist as a Young Man (1916), Ulysses (1922) en Finnegan’s Wake (1939). Ulysses is sy bekendste werk waarin hy Homerus se Odysseë as ‘n moderne verhaal, wat in Dublin afspeel, oorvertel. Een van die unieke kenmerke van die verhaal is dat hy dit as ‘n stroom van bewussyn in ‘n verskeidenheid van literêre style geskryf het.
Joyce het op skool en universiteit uitgeblink, ondanks die feit dat sy pa ‘n alkoholis was, en hulle wisselvallige finansiële omstandighede moes ontbeer. Joyce het in 1904, toe hy in sy vroeë twintigs was, saam met sy meisie Nora Barnacle na die Europese vasteland geëmigreer. Hulle het in Trieste, Parys en laastens in Zurich gebly waar hy in 1941 en sy in 1951 oorlede is.
Die Joyces se sekslewe – eintlik hulle allesverterende passie vir mekaar – is vir my ‘n bron van inspirasie. Hulle was van die weiniges wat dié tipe sekslewe beskore was wat alle konvensies en grense van betaamlikheid en moraliteit oorskrei het. So ‘n paartjie se lewensgeluk sal nooit deur iemand anders vertroebel kan word nie omdat niemand anders iets meer kon aanbied as wat Nora en James vir mekaar gegee het nie. Dit is juis hierdie gemis aan ‘n ideale seksuele pasmaat wat baie van ons soekend en rusteloos stem.
Dit was juis nie konvensie en die norms en waardes van die dag wat die Joyces bymekaar gehou het nie – hulle was maar vir die laaste 10 van die 37 jaar wat hulle saam was, getroud. Al wat hulle bymekaar gehou het was hulle liefde en wellustige passie vir mekaar.
Briewe wat James (Jim) aan Nora in 1909 geskryf het, was dekades later in die omslag van ‘n ou boek ontdek en is in 2004 deur Sotherby’s as James Joyce se “Dirty Letters” opgeveil. Dié briewe, wat duidelik slegs vir Nora se oë bedoel was, is romanties, poeieties, uitlokkend, grappig en skokkend eroties. Ongelukkig is haar briewe aan hom nooit ontdek nie en mens wonder of hy dit sou gebêre het, en of hy dit nadat hy dit gelees het dalk sou vernietig het om haar eer te beskerm – mits iemand dit eendag sou ontdek. Sy respons op haar briewe dui egter daarop dat haar briewe in elke opsig net so skokkend eroties as syne aan haar was.
Uit sy briewe blyk dit dat Nora in Desember 1909, toe James in Dublin gaan werk het en haar in Trieste met hul twee kindertjies agtergelaat het, met hierdie briewewisseling begin het. Nora het dit waarskynlik gedoen om hom uit die arms van die plaaslike prostitute te hou deur om sy aandag só op haar te fokus dat enigiemand anders irrelevant sou word. Sy het ook vroeër, voor hy weg is, geskimp dat sy hom sal verlaat as hy haar nie beter kon onderhou nie. Hulle het mekaar dus met hulle briewisseling so witwarm gevry dat nie een van die twee afgedwaal het nie. Hulle het dit reggekry om mekaar se mees perverse seksuele fantasieë te voed en so mekaar opnuut die hof gemaak. Dit het duidelik gewerk want hulle was vir die res van hulle lewens saam.
James se verterende wellus vir Nora spring uit die bladsye van sy briewe aan haar. ‘n Mens wens so dat haar briewe aan hom ook bewaar gebly het, maar helaas! Die feit dat sy briewe aan haar bewaar gebly het spreek ook boekdele – dit is duidelik dat sy dit uit sentiment, liefde of wellus – of al drie gebêre het!
Uiteraard het hulle nooit gedink dat mense die briewe sal vind nie (iets wat ons almal maar in gedagte moet hou). Sy woorde aan haar is uiters skokkend en sou deur moraliste as pervers en walglik beskryf word. Hy was egter self ‘n pilaar van betaamlikheid in publiek en het homself weerhou daarvan om enige vloekwoorde of kru taal in die openbaar te gebruik. Maar sou dit nie ‘n wonderlike wêreld gewees het as almal so met hul bemindes kon gepraat het nie – met geen beperkings of oordeel nie? ‘n Wêreld waar jy jou lewensmaat in sy of haar mees kwesbare, naakte, dierlike waarheid ken, beken en verken – en steeds passievol liefhet? Of dalk is dit juis dit – omdat hulle mekaar so intiem geken en liefgehad het, was hulle verhouding so eroties en sterk. Sy emosies wissel van tere troetelwoorde tot brutale dierlikhede – van kantbroekies en parfuum tot ontlasting en uriene. As ek die verveling en voorspelbaarheid van allerdaagse liefdesuitdrukkings met die Joyces se belewenis vergelyk, sien ek ook die rede vir die ontgogeling en teleurstelling van meeste allerdaagse konvensie-gebonde verhoudings teenoor die lewenslange passie wat die Joyces geniet het.
Vir my is James se briewe die openlikste, eerlikste en wellustigste liefdesverklarings wat ooit gepubliseer is. Ek is seker dat, as hulle kon, die Joyces die wens sou uitspreek dat almal so gelukkig kon wees om iemand in sy of haar lewe te kry wat hulle met soveel allesoorweldigende passie sal bemin dat alles – insluitende die mees dierlike liggaamsaksies van hul beminde – ‘n bron van intimiteit word en hulle met wellus vul en die emosionele band tussen hulle onderhou.
Duidelik was Joyce mal van wellus toe hy die briewe geskryf het, en sy gedagtes vloei dikwels saam in lang rammelende sinne – ek het gepoog om die sinne in die oorspronklike vorm te hou en gepaste Afrikaanse uitdrukkings vir die wilde Engelse metafore te kry. Let op ook hoe hy dikwels sy sin met tere liefdesverklarings begin en met uiterste kru uitdrukkings eindig. Hierdie slordige, spontane skryfstyl (vergeleke met sy boeke) was waarskynlik veroorsaak dat hy gemasturbeer terwyl hy hierdie briewe geskryf het (hy noem trouens dikwels aan die einde van ‘n brief dat hy afgekom het).
Hierdie vertaling van James Joyce se briewe is nie bloot ‘n huldeblyk aan ‘n begaafde kunstenaar nie, maar ook, en veral, ‘n huldeblyk aan Nora Barnacle. Wat ‘n ongelooflike vrou, wat ongeag haar lae sosiale stand, ongeleerdheid en ongekunstelheid, reggekry het om haar briljante, geleerde, opgevoede minnaar in ‘n onsamehangende, stamelende wellustige dier te kon verander – slegs met haar woorde. Mag daar iewers nog Nora’s in hierdie wêreld wees.
Hierdie is die enigste briewe van James aan Nora wat nog bestaan. Ek het besluit om dit te vertaal om die inhoud daarvan meer verstaanbaar vir die Afrikaanse leser te maak. Min mense weet byvoorbeeld dat bugger holnaai, ballocks ballas, frigging masturbeer, closet toilet en block naai beteken. Hier is ‘n voorlesings van sekere van die briewe in Engels:
Aan NORA
Dublin 2 Desember 1909
My liefde vir jou noop my om gebede aan die gees van ewige skoonheid en teerheid, soos wat in jou oë weerspieël word, op te dra – of om jou op daardie sagte maag van jou op die bed neer te gooi en jou soos ‘n beer ‘n sog te bestyg en myself in die stank en sweet wat vanuit jou hol opwalm te verlustig, en om my te verlustig by die aanskoue van jou opgeslaande rok en wit frilletjies broek en die wildheid van jou blosende wange en deurmekaar hare. My erbarming en liefde vir jou noop my om in trane uit te bars met die aanhoor van ‘n sagte woord, om te bewe van liefde vir jou wanneer ek ‘n sekere akkoord of musiek-kadens hoor; of om langs jou, kop teen heup te lê, terwyl jy my ballas kielie of jou vingers in my hol opdruk en jou warm mond my piel afsuig terwyl my kop tussen jou vet dye ingedruk is en my hande jou groot ronde boude vasklem terwyl ek jou stink rooi kont met my tong verslind. Ek het jou geleer om amper te swymel met die aanhoor van my sang of wanneer ek my passie en hartseer en misterie van die lewe vir jou siel fluister en terselfdertyd het ek jou geleer om vieslike tekens met jou lippe en tong vir my te maak, om my met obsene betastings en klanke uit te lok en om selfs in my teenwoordigheid die skaamtewekkendste en vuilste liggaamsdaad te doen. Jy kan sekerlik die dag onthou toe jy jou rokke opgelig het en my toegelaat het om onder jou te lê terwyl jy dit gedoen het? Jy was daarna so skaam dat jy nie eens vir my in die oë kon kyk nie.
Jy is myne, liefling, myne! Ek is lief vir jou. Alles wat ek hierbo geskryf het is maar net ‘n oomblik of twee van brutale malligheid. Die laaste druppel saad het in jou kont opgespuit kort voor dit verby is, en my ware liefde vir jou, die liefde van my gedigte, die liefde van my oë vir jou vreemde lokkende oë, waai oor my siel soos ‘n spesery-gegeurde wind. My piel is nog steeds styf en trillend van die laaste brutale naai toe daar reeds ‘n sagte gesang vanuit die donker kerkers van my hart in tere aanbidding aan jou opstyg.
Nora, my getroue liefling, my skerp-oog onnutsige skoolmeisie, wees my hoer, my minnares, soveel soos wat jy wil (my klein masturberende minnarres! My klein fokkende hoer!) jy sal altyd my wilde heg-blom wees, my donkerbou reëndeurdrenkte blom.
JIM
***
Aan NORA
Dublin 3 Desember 1909
… jy kry dit reg om my in ‘n wilde dier te verander. Dit was jy self, jou stoute skaamtelose meisie wat die eerste treë geneem het. Dit was nie ek wat lank gelede jou eerste by Ringsend betas het nie. Dit was jy wat jou hand af af voor in my broek gedruk het en my hemp sag eenkant toe geskuif het om my piel met jou vingers te kielie en mettertyd dit alles, dik en styf, in jou hand geneem het en my afgetos het totdat ek tussen jou vingers afgekom het, terwyl jy oor my geleun het en na my met jou serene oë gestaar het. Dit was deur jou lippe wat die eerste obsene woord tussen ons geuiter is. Ek onthou nog goed daardie nag in die bed in Pola.
Moeg daarvan om onder ‘n man te lê, het jy een nag jou nagrok met geweld afgeruk en bo-op my geklim om my kaalgat te ry. Jy het my piel in jou kont gedruk en het my op en af gery. Miskien was my horing wat ek vir jou gehad het, nie groot genoeg vir jou nie, want jy het na my neergebuig en teer in my gesig gefluister: “Fok op, Lief! Fok op, Lief!”
Nora, my Liefling, ek vrek al heeldag om jou een of twee vrae te vra. Laat my toe, Liefling, want ek het jou van alles wat ek ooit gedoen het vertel, en ek kan nou dieselfde van jou verwag. Toe daardie persoon (Vincent Cosgave), wie se hart ek graag wil laat stop met die klik van ‘n rewolwer, sy hand, of hande, onder jou rok ingedruk het, het hy slegs die buitekant van jou poes gekielie of het hy sy vinger or vingers in jou ingedruk? As hy dit gedoen het, het sy vingers so vêr opgegaan dat hy daardie klein tottie van jou op die ent van jou kont geraak het? Het hy aan jou gat geraak? Het hy jou lank gekielie en het jy afgekom? Het hy jou gevra om hom te betas en het jy dit gedoen? As jy hom nie aangeraak het nie, het hy teen jou afgekom en het jy dit gevoel?
Nog ‘n vraag, Nora. Ek weet dat ek die eerste man was wat jou genaai het, maar het enige ander man jou gevinger? Het daardie outjie (Michael Bodkin), waarvan jy so baie gehou het, dit ooit gedoen? Vertel my nou, Nora, waarheid vir waarheid, eerlikheid vir eerliheid. Toe jy saam met hom in die donker nag was, het jou vingers nooit, ooit sy broek oopgeknoop en soos muise binnegeglip nie? Het jy hom gemasturbeer, Liefling, vertel my die waarheid, vir hom of enigiemand anders? Het jy nooit, nooit, nooit ‘n man of ‘n outjie se piel in jou vingers gehad, voor jy my gulp oopgeknoop het nie? As my vrae jou nie beledig nie, moenie bang wees om my die waarheid te vertel nie. Liefling, Liefling, vannag het ek so ‘n wilde belusting vir jou lyf dat as jy hier langs my was en selfs as jy my met jou eie lippe vertel het dat jy helfte van die rooihaar-lummels van Galway kontrei genaai het voor ek jou genaai het, sal ek steeds op jou afstorm van jagsgeit.
JIM
***
Aan NORA
Dublin 6 Desember 1909
Ek wil hê dat jy kantbroeke moet dra met drie of vier rye valletjies van jou knieë tot by jou dye en met groot rooi strikke daarin, met ander woorde nie iets soos ‘n skoolmeisie-broek met ‘n dun slordige kantrandjie nie. Die lap moet so dun wees dat ek jou lyf deur dit kan sien en dit moet wyd en los sit, ene frilletjies, kant en linte, en dit moet vol parfuum wees sodat wanneer jy dit vir my wys, soos wanneer jy jou klere vinnig oplig wanneer jy iets moet doen of om jouself reg te maak vir ‘n naai, ek verblind word deur ‘n bollende massa wit goed en valletjies; sodat as ek oor jou buig om dit oop te maak om vir jou ‘n vurige wellustige soen op jou stoute kaal gat te gee, dat ek die parfuum van jou kantbroek en die warm reuk van jou kont en die swaar reuk van jou hol kan inadem.
Het ek jou met my vuil woorde in my briewe geskok? Jy dink dalk dat my liefde ‘n vieslike ding is. En soms is dit my Liefling. Ek sien jou soms in my drome in vieslike liggaamsposisies. Ek fantaseer oor sulke uiters vieslike goed dat ek nie oor dit gaan skryf voordat jy self daaroor gaan skryf nie. Die kleinste dingetjies maak my piel styf – ‘n hoeragtige beweging van jou mond, ‘n klein bruin vlek op die binnekant van jou broekies, ‘n onverwagse vuil woord wat jou nat lippe uiter, ‘n onverwagse skaamtelose geluid van jou boude en dan die stank wat stadig uit jou hol opstyg. Op sulke tye word ek oorweldig met wellus en dan wil ek jou op een of ander vieslike manier naai, of jou warm sletterige lippe my te voel afsuig, of om jou tussen jou twee pienk-betepelde tiete te naai en oor jou warm wange en oë te spuit, om my piel tussen jou boude in te druk en jou in die hol te naai.
Basta per stasera! (Genoeg vir vanaand!)
Ek hoop jy het my telegram ontvang en verstaan.
Totsiens my Liefling, wie ek poog om te degradeer en te korrupteer. Hoe op Gods aarde kan jy ooit ‘n ding soos ek kan liefhê?
O, ek wag angstig op jou antwoord Liefling!
JIM
***
Aan NORA
Dublin 8 Desember 1909
My liewe klein hoeragtige Nora, ek het gedoen wat jy my aangesê het om te doen, jou vieslike meisie – ek het twee keer myself afgetos terwyl ek jou brief gelees het. Ek is bly dat jy daarvan hou om in die hol genaai te word. Ja, ek kan onthou hoe ek jou daardie een nag so lank in die hol genaai het. Dit was die vieslikste naai wat ek jou ooit gegee het Liefling. Ek het jou vir ure lank genaai met my piel wat in en uit jou gat stoot wat jy vir my in die lug gehou het. Ek het jou vet sweterige boude onder my maag gevoel en jou blosende gesig en mal oë gesien. Jou skaamtelose tong het tussen jou lippe uitgebars met elke stoot wat ek gegee het en elke keer wat ek jou ‘n groter, sterker stoot gegee het, het groot vet poepe uit jou hol geborrel. Jy het ‘n hol vol poepe daardie nag gehad Liefling, en ek het hulle uit jou gefok – groot vet knewels, lang winderiges, vinnige klein vrolike klappers en ‘n klomp klein stoute poepies wat met ‘n lang wind uit jou hol ge-eindig het. Dit is wonderlik om ‘n poepende vrou te fok as elke fok ‘n poep uit haar druk. Ek dink ek sal Nora se poepe enige plek erken. Ek dink ek sou haar poepe uit ‘n kamer vol poepende vrouens s’n herken. Dit is nogal ‘n meisieagtige klank – nie soos die nat winderige poepe soos wat ek my verbeel vet vrouens sou laat nie. Dit is plotseling en droog en vieslik soos wat ‘n voorbarige meisie in ‘n skoolkoshuis in die nag sou laat. Ek hoop dat daar geen einde van Nora se stink poepe in my gesig sal wees nie.
Jy sê dat wanneer ek terugkom, jy my sal afsuig en dat jy wil hê dat ek jou kont moet lek, jou verdorwe klein skerminkel. Ek hoop dat jy my eendag, terwyl ek met my klere aan indommel, sal verras deur om my suutjies met ‘n sluwe sletterige uitdrukking in jou slaperige oë, te bekruip en versigtig een na die ander knoop van my gulp losmaak, en dan jy dan versigtig jou minnaar se vet voël uithaal en dan in jou klam mond indruk en dit suig terwyl dit dikker en dikker opswel totdat dit in jou mond afkom.
Ek sal jou ook verras deur soms jou rokke op te lig terwyl jy slaap en dan sal ek jou broekie versigtig oopmaak en stilletjies langs jou gaan lê en dan luilekker rondom jou bos te begin lek. Jy sal begin kreun en steun en sug en poep in jou slaap. Dan sal ek soos ‘n skreeuhonger hond al hoe vinniger en vinniger begin lek totdat jou kont in ‘n massa slym verander en jou lyf woes rondwriemel.
Goeie nag my klein poepende Nora, my vieslike fokvoëltjie! Daar is net een lieflike woord wat jy onderstreep het sodat ek myself beter kan aftos, my Dierbaarste. Skryf vir my asseblief nog daaroor en van jouself, fraaitjies, vuiler, vuiler.
JIM
***
Aan NORA
Dublin 9 Desember 1909
My fraai stout klein fokvoëltjie, Hier is nog ‘n geldnoot sodat jy vir jou mooi broekies of kouse of kousbande kan koop. Koop hoeragtige broekies my Lief, en sprinkel dit met reukwater en bevuil dit net so ‘n bietjie agterlangs.
Jy klink angstig om te weet hoe ek op jou brief, wat jy sê erger as myne was, gereageer het. Hoe kan dit erger as myne wees, Liefling? Ja, dit is erger in een of twee dele. Daardie deel waar jy sê dat jy dit met jou tong sal doen (en ek bedoel nou nie die afsuig deel nie) en in daardie lieflike woord wat jy so groot geskryf en onderstreep het, jou klein skerminkel.
Dit is opwindend om daardie woord (en een of twee ander wat jy nog nie geskryf het nie) op ‘n meisie se lippe te hoor. Maar ek wens jy het na jouself, eerder as na my, verwys. Skryf vir my ‘n lang, lang brief, vol van daardie en ander dinge, oor jouself Liefling. Jy weet hoe om my piel hard te maak. Vertel my van die kleinste dingetjies van jou solank dit obseen en vieslik is. Skryf oor niks ander nie. Vul elke sin met vieslike skaamtelose woode en klanke. Dit is alles wonderlik om te hoor en op papier te sien, maar die vuilste is ook die mooiste.
Daar is twee dele van jou liggaam wat vieslike dinge doen, maar wat ook die mooiste vir my is. Ek verkies jou gat bo jou tiete my Liefling, juis omdat dit so ‘n vieslike ding doen. Ek is ook lief vir jou kont, maar nie slegs omdat dit die deel is wat ek naai nie, maar omdat die ander vieslike ding doen. Ek sal heeldag kan lê en draadtrek terwyl ek staar na die heilige woord wat jy geskryf het, en na die ander ding wat jy gesê het wat jy met jou tong sal doen. Ek wens ek kon self hoor hoe jou lippe daardie hemelse opwindende vieslike woorde uitspoeg, om te sien hoe jou mond vieslike woorde en klanke vorm, om te voel hoe jou lyf onder my woel, om jou vuil vet meisie-agtige poepe te hoor poep poep uit jou mooi kaal meisie gat en fok fok fok fok my stoute klein fokvoëltjie se kont vir altyd.
Ek is nou gelukkig omdat my klein hoer vir my vertel het dat sy wil hê dat ek haar in die hol wil naai en dat ek haar in die mond moet fok en dat sy my gulp wil oopknoop en my piel uittrek en dit soos ‘n speen afsuig. My klein kaalgat fokker, my stoute wriemelende klein masturbeerdertjie, my oulike vuil poepertjie wil nog erger en viesliker goed as dit doen.
Goeienag my klein kontjie ek gaan nou lê en draadtrek tot ek afkom. Skryf meer en vuiler my Liefling. Kielie jou tottie terwyl jy skryf sodat jy al hoe erger en erger goed sê. Skryf die vuil woorde groot en onderlyn hulle en soen hulle en hou hulle vir ‘n oomblik teen jou wonderlike warm kont.
Liefling, trek jou rok op vir ‘n wyle en hou die woorde vir ‘n rukkie onder jou klein poepende gat. Doen gerus nog meer as jy wil en stuur die brief dan vir my, my liewe bruin-gat fokvoëltjie.
JIM
***
Aan NORA
Dublin 15 Desember 1909
Geen brief! Nou is ek oortuig daarvan dat my meisie deur my vieslike woorde afgesit is. Het jy aanstoot geneem oor wat ek oor jou broekies gesê het? Ek weet dat hulle eintlik so skoon soos jou vuurmaakplek is. Ek weet dat ek dit van bo na onder, valletjies, pype en onderkant kan uitlek. In my vuil manier hou ek daarvan om te dink dat daar ‘n sekere deel van jou broekie bevuil is. Dit is sommer alles twakpraatjies dat ek jou in die hol wil naai my Skat. Dit is sommer die vieslikheid van die uitdrukking wat my aandraai, die idee dat ‘n skaam pragtige jong meisie soos Nora haar klere van agter oplig om haar oulike wit meisie-broekies vir die vieslike ou, waarvan sy so baie hou, te wys om hom jags te maak; en dan om hom toe te laat om sy vuil rooi knopperige paal deur die gleuf van haar broekie te druk en dit op en op in die liewe klein gaatjie tussen haar plomp vars boude in te druk.
Liefling, ek het nou net in my broek afgekom tot ek uitgespuit is. Al het ek drie briewe om te pos sal ek nou nie meer na die poskantoor kan gaan nie.
Na bed – na die bed!
Goeie nag, Nora mia!
JIM
***
Aan NORA
Dublin 16 Desember 1909
My liewe Skattebol! Uiteindelik het jy vir my geskryf! Jy het seker daardie stoute klein kont van jou wild gevinger te oordeel aan die onsamehangende brief wat jy geskryf het. Ek het aan die ander kant so baie draad getrek dat jy waarskynlik my piel vir ‘n uur sal moet lek voor ek styf genoeg sal wees om dit in jou te druk, om nie eens van naai te praat nie. Ek het so dikwels en soveel draadgetrek dat ek skoon bang is om na my piel te kyk om te sien hoe dit lyk. Liefling, jy moet my asseblief nie te veel naai wanneer ek terugkom nie. Fok al wat jy kan uit my op die eerste aand Liefling maar laat my tyd toe om te herstel. Die naaiery moet maar deur jou gedoen word omdat ek nou so klein en sag is dat jy die enigste meisie in Europa is wat haar tyd met my sal mors om te probeer. Liefling, fok my, in soveel nuwe maniere wat jou wellus jou toe sal toelaat. Fok my met al jou deftige klere met jou hoed en sluier aan met jou modderige stewels en al, of wydsbeen oor my skoot terwyl in ‘n stoel sit terwyl jy op en af op my ry met die valletjies van jou broekie wat wys en my piel wat styf in jou kont opdruk of ry my terwyl ek oor die kant van die sofa leun. Fok my kaalgat met net jou hoed en kouse aan terwyl ek op die vloer lê, met ‘n rooi blom in jou hol gedruk, ry my soos ‘n man met jou dye tussen myne en jou groot vet gat. Fok my in jou kamerjas (ek hoop jy het nog daardie mooi een) met niks onder aan nie, maak dit skielik oop en wys my jou maag en dye en trek my op jou neer terwyl jy agteroor op die kombuistafel gaan lê. Fok my in jou hol in terwyl jy op jou maag op die bed lê, met jou hare wat losskud en met ‘n lekker ruikende pienk broekie wat agter oopgetrek is met jou boude wat uitsteek terwyl jy half aan die slaap is. Fok my op die trappe in die donker soos ‘n kinderoppasser wat haar soldaat naai deur om sy gulp versigtig oop te knoop en haar hand in sy gulp te druk en sy hemp opsy te druk en voel hoe dit nat onder haar hand word en dan sal sy dit versigtig optrek en dan met sy twee barstende balle speel en dan dit uiteindelik die ding wat sy so lief het uit te pluk en dit vir hom saggies te vryf, terwyl sy vuil woorde en vieslike stories en vieslike goed vir hom fluister terwyl sy haarself natpis en sagte poepe uitdruk terwyl haar eie tottie so styf soos syne word en dan skielik sy piel in haar druk en sy hom begin ry.
Basta! Basta per Dio! (Genoeg! Genoeg in Godsnaam!)
Ek het nou afgekom en die lawwigheid is nou verby. Nou vir jou vrae!
***
Maak reg. Sit warm bruin linoleum in die kombuis en hang snags ‘n paar gewone rooi gordyne voor die vensters. Kry iewers ‘n gewone goedkoop armstoel vir jou lui minnaar. Doen dit veral Liefling omdat ek, nadat ek na jou teruggekeer het, vir ‘n hele week nie uit die kombuis sal wil gaan nie, ek gaan daar lees, lui rondsit, rook, gesels en jou dophou terwyl jy die etes voorberei en gesels, gesels, gesels, gesels met jou. O hoe uiters gelukkig sal ek wees! God in die hemel ek sal daar gelukkig wees! Die kinders, die vuur, ‘n goeie maaltyd, ‘n swart koffie, ‘n Brasiliaanse sigaar, ‘n knetsie en Nora, my Nora, Noratjie, Noretta, Noruccia ens. ens.
Eva en Eileen moet bymekaar slaap. Kry iewers ‘n slaapplek vir Georgie. Ek wens ek en Nora het twee beddens vir ons nagwerk gehad. Ek sal my belofte hou my Liefling. Tyd vlieg vinnig! Ek wil na my liefling, my lewe, my ster, my klein vreemd-ogige Ierland terugkeer!
‘n Honderd duisend soene, Liefling!
JIM
***
Aan NORA
Dublin 20 Desember 1909
My oulike onnutsige meisie. Ek het jou hitsige brief vannag gekry en ek het myself probeer verbeel hoe jy jouself in die toilet gevinger het. Hoe het jy dit gedoen? Het jy teen die muur gestaan, met jou hand onder jou rokke in, of het jy oor die toilet se gat gehurk met jou rokke opgetrek en jou hand hard aan die werk deur die spleet in jou kantbroek? Word jy jags terwyl jy skyt? Ek wonder hoe jy dit doen. Kom jy af terwyl jy kak, of kak jy eers nadat jy jouself tot orgasme gevinger het? Dit maak my jags om in my geestesoog te sien hoe ‘n meisie met klere aan haar kont woes vinger met haar kaal boude wat by haar oopgerekte broekie uitsteek met ‘n groot vet drol wat half uit haar hol steek. Jy skryf dat jy jou broekie sal beskyt en my dan sal vra om jou in die hol te naai. Ek wil eers jou hoor kak my Liefling voor ek jou fok. Een nag wanneer ons eendag in die donker lê en vuil praatjies maak, en jy voel hoe jou drol reg is om uit te kom, sit jou arms om my nek in skaamte en kak dit dan saggies uit. Die klank sal my mal maak wanner ek jou rok optrek.
Ek kan nie voorgaan nie! Jy kan raai hoekom!
***
NS: James Joyce was die eerste persoon wat die woord quark gebruik het. Dit is die woord wat ons vandag vir subatomêre partikels gebruik. Elke proton en neutron bestaan uit kwarke. Ek hoop dat as daar ‘n hiernamaals is – James en Nora steeds soos die kwarke, waaruit die materie van kosmos bestaan, onlosmaaklik gekoppel is. Dis wonderlik om te dink dat James en Nora se passie vir mekaar so deur die kragte wat die kosmos aanmekaar hou gesimboliseer word.
12 COMMENTS
Uther, ek wil graag jou “Nora” wees…
Uther absoluut meesterlik. En ons dink altyd die oumense was so soet. Hahahaha
Eks net vir een di g bly en dit is epos en internet, want as ek moes vry deur die pos het ek iets oorgekom.
‘n Liefdesdaad aan elkeen wat dit lees.
Mag elke vrou in wie daar ‘n Nora skuil ‘n James kry wat haar so grensloos bemin, dat sy haarself so roekeloos aan hom kan oorgee.
Van die mooiste wense wat ons nog ooit gekry het, dankie 🙂
Lieflik gesê!
En die wens natuurlik vice versa vir die James-tipe mans.
Welgesprak, Uther !
Dankie Uther….dis fantasties om n Nora te wees wat haar James gekry het
Briljant Uther!
In die lieflikste, eerlikste Afrikaans. Ek’s oopmond verwonderd en papnat.
Stomgeslaan, Uther!
Jou werk is absoluut verstommend.
Ek kan net met eer aan jou sê: Dankie dat jy ons vermaak op hierdie blad.
Sonder jou bydraes is daar beslis ‘n leemte in erotika.
Saluut!
So reg in my kraal!
Hierdie is absoluut fantasties, Uther!
Aaaaahhhh. Meesterlik, Uther!