Oor Margharet van Wyk en selfies van privaatdele
deur Annelise
Kom ons gesels oor Margharet van Wyk. Die hele internet doen. Of ten minste die Afrikaanse internet waaraan ek ‘n deelnemer is. Selfs Netwerk24 skryf oor haar so dit moet seker belangrik wees, né?
Vir diegene wat nie weet wie sy is nie, hier is ‘n kort opsomming: Margharet het ‘n baie intieme foto van haarself geneem wat sy vir iemand wou stuur. Toe stuur sy dit per ongeluk na die Hokkie Ouers Whatsapp-groep toe.
Ongelukkig vir Margharet, wat in Schweizer-Reneke bly, het iemand op daardie groepie toe ‘n skermgreep van die foto sowel as haar onmiddellike verskoning en verduideliking gevat en dit op sosiale media gedeel.
Nie eens daardie wegholvure van die Weskaap is so vinnig soos Twitter en Facebook nie. En dis natuurlik onmoontlik om daardie vlammetjie dood te blaas na hy in droë gras geval het. En niks is so droog soos die morele bos waarin hierdie vuurhoutjie gegooi is nie.
Sosiale media het ontplof.
Nou kyk, so ‘n foutjie is nogal snaaks. En ons Suid-Afrikaners het ‘n spesiale talent vir grappies oor current sake (wat nou in die nuus is) maak. Daar was skreeusnaakse meme’s en ‘n mens kan nie eintlik iemand kwalik neem wat ‘n meme gemaak of gedeel het nie. Dis snaaks, demmit!
So hierdie skrywe is nie gerig op die grapmakers en -delers nie. Nie heeltemal nie.
Maar, alles oor hierdie storie is nie snaaks nie. Eintlik is die grootste deel van die storie hartseer en onaangenaam en wreed.
Haar naam is saam met die foto die wêreld ingestuur. Sy bly op ‘n klein dorpie, daar is nêrens waar sy en haar gesin kan wegkruip nie. Enigiemand weet dat jy ten minste iemand se naam wegsteek as jy iets van iemand anders met die internet-wêreld wil deel.
Sommige “grappies” is nie slim nie, dis kru en afbrekend, vulgêr en persoonlik – direk gemik daarop om Margharet te verneder.
Voor sy haar Facebook profiel kon sluit, is foto’s van haar man en kinder(s) afgelaai sodat dit in meme’s gebruik kan word.
Daar word bespiegel oor vir wie die foto “regtig bedoel was.”
Sy en haar liggaam word soos ‘n besitting bespreek – openlik op forums orals op sosiale media.
En hier is die kern van die saak – sy verdien nie een stukkie van wat nou gebeur het nie, want sy het niks verkeerd gedoen nie. Om iets per ongeluk iewers te post is nie verkeerd nie, dis ‘n ongeluk. Dit maak nie saak vir wie sy wat afgeneem het en wou stuur nie. Dit het niks met enigiemand te doen nie.
Weet julle wie was verkeerd wat nooit die gevolge van sy of haar voorbedagte dade hoef te dra nie? Die persoon wat die skermgreep gemaak en aangestuur het. Daardie persoon, wat nooit sal erken dis hy of sy nie, is die vark in hierdie verhaal. Daardie is die persoon wat die vuurhoutjie getrek, in die droë gras gegooi en gekyk het hoe die vuur iemand anders se lewe verwoes.
Daardie mens verdien ons minagting en afkeur. Wat van so paar meme’s oor hom of haar?
Natuurlik sal die ou refrein weer gesing word. Ek praat van daardie ene wat sê dat jy nooit ‘n intieme foto van jouself moet neem of vir iemand stuur of enige plek stoor nie.
Die beginsel waarop so ‘n waarskuwing rus is so verkeerd dat dit verstommend is dat dit steeds gepreek word. En dit dra by tot die probleem.
Hier is die punt: as jy ‘n selfie van jou bors of boud of been of enige ander liggaamsdeel neem, besit of deel en dit word deur enigiemand anders as jyself op die internet (of enige plek of manier) versprei sonder jou toestemming, is jy nie die ene wat iets verkeerd gedoen het nie. Die persoon wat dit versprei het is die skuldige. Om elke keer wat iemand se selfie versprei word te waarsku dat mense dit nie moet neem of doen nie, is presies dieselfde as om iemand wat verkrag word te beskuldig dat hulle dit uitgelok het met hulle kleredrag. Dit plaas die skuld op die slagoffer. Die “verkragter” is die persoon wat Margharet se foto saam met haar naam en al haar ander inligting versprei het.
Eendag gaan ons dalk gesofistikeerd genoeg raak oor seks dat ons nie soos laerskoolkinders gaan optree as iets soos hierdie gebeur nie. Eendag gaan ons dalk empatie aanleer sodat ons nie dadelik op die wreedste manier reageer soos die “brandstigter” in hierdie geval gedoen het nie. Eendag gaan ons genuanseerd na situasies rakende seks en seksualiteit kan kyk en raaksien waar die skuld eintlik lê. Eendag gaan ons van ons morele troontjies afklim en ophou om almal om ons gedurig te oordeel en sommer te straf ook. Eendag, miskien.
Intussen, terwyl daardie dag nog nie aangebreek het nie, wonder ek of ons nie eintlik maar saam verkrag nie?
Hierdie rubriek is ook op Netwerk24 hier gebruik.
Vir ‘n opvolgberig lees gerus hier.