
Robotseks
deur Annelise
Ons glimlagte ontmoet die afgelope paar maande omtrent elke dag op pad werk toe. Ons het mekaar die eerste keer raakgesien toe ons albei onsself vir ʼn pad-idioot vererg het en van toe af het ons ʼn verkeerslig-flirtasie aan die gang. Deur te glimlag, te waai en in tru-spieëltjies te loer, het ons ons wedersydse belangstelling in mekaar oor die geraas van die spitsverkeer gesein.
Vandag sien ek hom nêrens nie. Gewoonlik is dit maklik om sy sexy, silwer sportmotor tussen die ander karre uit te ken. My dag begin sommer sleg as ek hom nie sien nie. Ek skakel die radio aan op soek na iets om my op te beur en skrik as ʼn straatverkoper langs my motor verskyn. Hy verkoop blomme. Ek skud my kop vir hom, maar hy bly met ʼn groot glimlag op sy gesig langs my venster staan. Rol af die venster, wys hy vir my. Ek maak ʼn skrefie tussen ons oop.
“Die man in die kar dáár voor stuur hierdie.” Hy hou ʼn groot baldadige bos sonneblomme na my toe uit. Ek vat dit verstom. Die mense in die motor langsaan kyk belangstellend toe tot die verkeer weer begin beweeg en ek die blomme op die sitplek langs my neersit. ʼn Nota steek tussen die blomme uit. By die volgende rooi lig maak ek dit vinnig oop.
‘Ek moet jou ten minste een keer in my lewe soen. Verhuis na verre land. Hierdie mag my laaste kans wees. Volg my, asseblief?’ As ek weer opkyk sien ek sy plat motor ʼn entjie voor my tussen twee bakkies uitsteek. Ek oorweeg sy versoek terwyl die geel van die blomme my motor begin vul. Al die moontlike gevare jaag deur my kop. Dit sal dwaas wees om ʼn vreemde man na wie weet waar te volg … maar ek sal ook vir die res van my lewe wonder oor wat kon gebeur het as ek nie gaan nie.
Ek sit my flikkerlig na links aan en trek agter hom in wanneer die verkeer weer begin beweeg. Hy glimlag in sy tru-spieëltjie. My hande bewe liggies op die stuurwiel, maar ek volg hom wanneer hy by die volgende oprit op die snelweg klim. Die ander motoriste gaan hulle alledaagse gang salig onbewus van my hart wat nie wil stilstaan nie. Ons ry onder pers jakarandas deur. My motor se wiele pars die soet sap uit die bloeisels wat in die pad lê. Sy flikkerlig nooi my by die hotel se parkering in. Ek aarsel, my voet mik na die rem – wat is ek besig om te doen? Dan dink ek aan Oscar Wilde se woorde: ‘The only way to get rid of temptation is to yield to it.’ Ek parkeer my motor in die skaduwee langs syne. Hy maak my deur vir my oop en hou sy hand na my toe uit. Hy is langer as ek en hy glimlag as ek na hom opkyk.
Ons praat nie met mekaar wanneer ons die formele voorportaal binnestap nie. ʼn Luukse rusbank sluk my in terwyl hy met die ontvangsdame praat. Ek probeer om nie te dink nie. Na ʼn rukkie kom haal hy my en vou sy hand om myne op pad hysbakke toe. My lyf reageer oordadig op sy aanraking. Ek kan oë op my rug voel wanneer die deur oopskuif. Hy druk die knoppie vir die sewende vloer en die deur gly agter ons toe. Ons is onmiddellik by mekaar, ek in sy arms, sy tong in my mond, sy hand in my hare. My kop voel lig. Sy mond smaak soos peperment. Die hysbak kom tot stilstand en die klokkie lui dof voordat die deure geruisloos oopmaak. Dik matte in die gang suig ons voetstappe op.
Die kamerdeur is nog besig om agter ons toe te slaan wanneer hy my bloes oor my kop trek. Hy pluk sy hemp self uit. Ek rits my romp oop en los dit in ʼn haastige bondel op die grond. Sy langbroek beland oor ʼn stoelreling. Ons kyk na mekaar. Twee vreemdeling met een drif. Dan loop ons straathoekvoorspel oor. Ons stroop mekaar se onderklere sonder seremonie af. Ons hande en monde verslind mekaar. Ek weet ons gaan dit nie maak tot by die oorgroot dubbelbed wat in die aangrensende kamer staan nie. Ons maak dit nie eens grond toe nie. Ons het een tree in die vertrek in gevorder. Hy druk my teen die deur vas. Elke beweging, elke sensasie is intenser omdat ons albei weet dat hierdie die enigste geleentheid is wat ons gaan hê. Ons word verdun tot ons basiese dierlike essensie van asemhaal, sweet, voel en wees. Ek wil hom in my hê. Vinnig. Ons is sonder plegtigheid, sonder omhaal. Ek maak my bene oop en hy neem die uitnodiging aan. Hy lig my van die grond af; ek vou my bene om hom. Ons koppeling is vinnig en onbetaamlik en ek kom amper onmiddellik. Ek hou my bene om sy ferm boude geklem terwyl hy gewelddadig in my ontlaai. My naels krap oor sy rug. Hy byt my nek. Ons passie drup op die dik mat. Dan loop hy met my nog om hom gevou tot by die bed in die netjiese kamer.
Ek bel die kantoor met die tradisionele verskoning van siekte. ʼn Kwartier is nie genoeg om ʼn leeftyd lank te hou nie. Ons begin die hele spel van voor af, net meer langsaam en met aandag aan detail. My lyf neem fotostate van syne vir die onthou.
Ek ruik na die hotelseep waarmee ons mekaar gewas het, wanneer ek ʼn paar uur later in my motor klim. As hy deur my oop venster leun om ʼn laaste soen op my mond te druk, probeer ek die smaak van sy lippe op myne vir eendag vaspen. “Ek sal altyd aan jou dink as ek ʼn swart Volkswagen Golf sien,” fluister hy teen my wang en as ek by die parkeerarea uitry, glimlag ek vir oulaas vir hom in my tru-spieëltjie.
1 COMMENT
LOVE DIE STORIES