Redigering van verhale en Erotikaans – so ‘n bietjie…
deur Lusman
Nouja, julle het so pas van Annelise ‘n geurtjie gekry wat op Kombiekiehier gaan gebeur ten opsigte van taalgebruik in die erotiek. Dis basies drie dinge: (a) redigering van verhale; (b) bespreking van taaldinge in Erotikaans en (c) aantekening van nuttige woorde.
Ek is reeds betrokke by (a). Voorts sal ek by (b) primêr die inleidende inhoud verskaf.
Ek meen julle sou dalk net ‘n bietjie agtergrond oor my en my benadering wou hê. Is ek ‘n professionele taalkundige en teksredigeerder? Nee. Ek beskou myself as selfgeleer en is dus op my beste ‘n amateur-teksredigeerder. Jare se ondervinding met skrywery, in beide Afrikaans en Engels en op verskillende gebiede, maak dat mens ‘n natuurlike aanvoeling en vermoë ontwikkel vir goeie skryfwerk. Nie dat ek veel het om op te roem as skrywer op die gebied van die erotiek nie. Ek’s nie juis goed met stories uitdink nie. Dis met redigering dat ek beter is. So, ek maak staat op ander se stories om te doen waarvan ek hou.
So, watter benadering gaan ek volg? Wel, ek glo dat as mens skryf en jy wil jou verhaal vir andere aanbied, jy “reg” moet skryf. Dis net billik dat jou leser nie moet sukkel om uit te maak wat jy probeer sê nie. So hoe kry ek dit reg om skryfwerk te verbeter? Oor die jare heen het ek fyn probeer oplet hoe goeie skrywers dinge stel en waarom hulle dit op ‘n bepaalde manier stel. Dus lees, lees en nogmaals lees – elke dag en oor ‘n wye gebied en insluitende koerante, tydskrifte en boeke (fiksie en niefiksie) – is my hoofvoedingsbronne. Om ook oor taalsake en dinge soos grammatika te lees is vir my belangrik. Waar ek nie weet nie of onseker oor iets is wat ek in ‘n verhaal optel, sal ek my taalleiding kry uit gesaghebbende bronne soos: Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT), Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), Groot tesourus van Afrikaans, Skryf Afrikaans van A tot Z en Pharos se Afrikaans-Engels / Engels-Afrikaans-woordeboek.
As mens dink jy kan iemand anders se skryfwerk verbeter moet jy ook vertroue hê in die taal waarmee jy werk. Ek het ‘n onwrikbare geloof in die inherente vermoë van Afrikaans, ook op die gebied van die erotiek, om dinge haarfyn te beskryf. Daar is niks wat jy nie in Afrikaans kan sê nie! Jy kan hom universeel op alle vlakke van die liefde, ook die erotiek gebruik. As jy dit nie reeds doen nie is dit jammer. So as jy as volgende keer orgasmeer en jy kreet woorde uit wat nie Afrikaans is nie mis jy iets – en jou sekspartner ook!
So, laat waai met daai verhale. Ek sien daarna uit om, soos ek reeds met verhale hier op Kombiekhier gedoen het, ook na jou verhaal te kyk en dit waar moontlik te verbeter.
Net so ‘n bietjie oor die werkswyse. Goed wat probleme met skryf lewer is dikwels:
- oormatig lang sinne (Met baie lang sinne raak dit soms moeilik om te verstaan wat die skrywer bedoel);
- verkeerde spelling (Afrikaans het ‘n uitstekende spellingsisteem wat oor die algemeen die betekenis van woorde goed en eenduidig uitbring);
- verkeerde gebruik van leestekens (Punte en kommas en veral aanhalingstekens lewer dikwels probleme – ander leestekens ook);
- mens weet soms nie wie die spreker (prater) is nie (Alhoewel mens nie elke keer hoef te sê wie die prater is nie en dit ook oortollig kan wees, moet uit die vloei van die storie dit darem duidelik wees wie praat.)
- oortollige woorde (woorde wat nie wesentlik tot die betekenis bydra nie en soms ook steurend vir die leser kan wees);
- die verkeerde of minder akkurate of minder beskrywende woord (Daar is gevalle waar mens besef dat as die skrywer, toe hy besig was om te skryf, ‘n besondere woord oorweeg het, hy/sy dit eerder sou gebruik het. Dan probeer jy reghelp.)
- ‘n onnodig Engelse woord waar ‘n goeie Afrikaanse een bestaan (Ek is in hierdie verband gefokus op Standaardafrikaans, veral in die taalgebruik van die verteller in die storie. Maar, ek neem ook in ag dat taalgebruik kan afhang van die karakter wat praat. Hy/sy is dalk lief is om Engels tussenin te gooi. In so ‘n geval sal ek die Engelse woorde kursiveer, om hulle te etiketteer as nie Standaardafrikaans nie. Dis net soos dit in die hoofstroommedia gedoen word.
Is ek hiperpuristies? Nee. Ek glo daar is ruimte vir die ontwikkeling van Afrikaans as daar ‘n goeie rede is om ‘n woord uit ‘n ander taal – soos Engels – op te neem. Met ander woorde, as dit Afrikaans verryk, is dit in. Die uitdaging is soms hoe om dit te spel. Dis dalk waar ek julle mening gaan vra.
Ek probeer die styl waarin jy skryf behou. As jy baie kort en bondig is, sal ek so ver moontlik dit nie probeer verander nie. Maar as jy van uitgebreide beskrywings hou, sal ek dit ook probeer behou.
Daar word oor die algemeen ook nie aan die struktuur van jou storie gepeuter nie, behalwe as ek dink die gemiddelde leser gaan nie die trant volg nie. Dan kan ek dalk ‘n struktuurverandering doen.
Ek probeer wesenlik net inkrementele verbeteringe aan jou storie maak en nie om dit te herskryf nie. Dis jou storie en dis net ‘n verbetering hier en daar wat jou storie meer leesbaar en verstaanbaar kan maak. Dis my uitgangspunt.
As ek jou storie geredigeer het, moet jy asseblief terugkom en Annelise laat weet as jy dink ek doen iets nie reg nie. Want alhoewel ek nie sommer iets sal voorstel as ek nie oortuig is dis is ‘n verbetering nie, kan ek ook ‘n fout maak.
Ek sien regtig uit na jul stories.
Oor Erotikaans is ek ook baie opgewonde. Hopelik gaan ek van julle baie terugvoering kry en gaan ons kan saamwerk om ons almal se kennis van Afrikaans op erotiese gebied te verbeter en uit te brei. En ons kan hopelik Afrikaans verder op die gebied ontwikkel. Tipiese goed wat hier kan aandag kry is:
- gevestigde woordeskat (woorde wat reeds bestaan en wat van nut is op erotiese gebied)
- nuutskeppings (neologismes) – nuwe woorde en maniere van sê waaraan julle kan dink om erotiese goed te beskryf
- goeie grammatika
- spelling
- metaforiese woordgebruik
- etimologie (waar die woord vandaan kom)
Hou Erotikaans dop!
Laat weet hoe jy voel. Vrae is ook welkom.
Lusman.
5 COMMENTS
Dit is heerlik om erotiese stories in Afrikaans te lees. Om dit te skryf is maar altyd n uitdaging en met hulp van iemand wat die storie kan lewe gee, het ons n wenner in Kombiekiehier.
Baie dankie Lusman vir jou bydrae.
trots Afrikaans!
Ek het ‘n navraag gekry: Julle stuur steeds vir my die stories, ek is steeds die persoon wat besluit wat gepubliseer sal word op kombiekiehier. As jy wil hê Lusman moet vir jou die taalversorging doen, moet jy net so aandui wanneer jy dit vir my stuur dan stuur ek dit vir hom aan. 🙂
Steeds gewone epos adres: kombiekiehier@gmail.com
Dankie Lusman, jy kon jouself en jou werkswyse asook jou doelwitte nie beter gestel het nie!
Kom al die Kombiekiehierders, ondersteun en dra by tot die uitbreiding van ons pragtige Taal.
Dankie vir die terugvoer, Willewill. En dankie vir jou interessante en goed geskrewe stories so ver. Dis met lus wat ek net hier en daar daaraan hoef te verbeter.
‘n “Blosende kompliment vir my”…Dankie Lusman!