“Plant” en “obsene” woorde in Afrikaans (3/3)
deur Piet P Nel
In hierdie derde en laaste aflewering van hierdie reeks word die herkoms ontleed van twee woorde wat baie aards is, maar nie werklik “sexy” nie.
Pis
Hierdie woord kom na ons toe uit die Frans. Die werkwoord in sy infinitiewe vorm (“om te pis”) is “pissere”. As ’n mens sê “ek pis” is dit in Frans “je pis”, maar omdat die Franse meestal die laaste letter van ’n woord nie uitspreek nie, word die “pis” uitge¬spreek as “pie”. Dit is dan ook waar ons woord van “pie” of “piepie” vandaan kom.
Maar daar is meer. Die Franse woord vir ’n urinaal is ‘n “pissoir” (wat uitgespreek word as “pisswa”). Dus: ’n pisplek.
En dan vind ’n mens ook in ten minste Frankryk en Italië ’n pisplek op die sypaadjie van ’n straat. Dit staan in Frans bekend as “pissotiere” en in Italiaans as “orinatoio”. Dit bestaan uit ’n min of meer U-vormige afskorting op die sypaadjie van ’n staat in die stad (met nog so ’n stukkie by wat die U amper toemaak) wat so omtrent op kniehoogte begin en tot ongeveer skouerhoogte strek. Binne in is ’n urinaal. Almal wat op die sypaadjie verbyloop kan die ou daar binne se voete en onderbene sien asook sy kop en skouers. En almal weet wat hy daar doen. Geen probleem nie. Ek het al gesien dat ’n man en ’n meisie op die sypaadjie aangestap kom, en dan draai hy daar in en gaan staan en pis – die meisie staan buite, hulle kyk steeds vir mekaar en die gesprek gaan ononderbroke voort. (Daar is, na my wete nie ’n soortgelyke gerief vir dames nie.)
Kak
Dié woord word meestal as “onwelvoeglik” beskou, maar kom via antieke Grieks en dan Latyn na ons toe. (en dit is ʼn lekker ekspressiewe woord – ʼn uit-druk-like woord).
Die Latynse werkwoord is in die eerste persoon “caco” (ek kak) of in die infinitief “cacare” (om te kak). Dit leef nog voort in ons (aanvaarbare selfs effens “hoge”) taalgebruik in byvoorbeeld die woord “kakofonie” wat ʼn klomp geluide beteken wat sleg is, wat jou irriteer, in teenstelling met simfonie, waar die geluide bymekaar pas en die resultaat mooi is. “Kakofonie” is ʼn baie aanvaarbare woord in Afrikaans.
In Engels word die voorvoegsel “caco-” gebruik om aan te dui dat iets sleg is (soos, natuurlik, “cacophony”). ʼn Interessante een is “cacotopia”, wat die teenoorgestelde van “utopia” is! Die voorvoegsel kan ook met “k”’s geskryf word soos bv. in “kakodyl” – ʼn chemiese mengsel wat baie sleg ruik en spontaan ontbrand wanneer dit aan suurstof blootgestel word.
En dan die wenner! : “kakistocracy” wat, na aanleiding van “democracy” en “aristo¬cracy”, beteken presies wat dit sê – regering deur die slegste mense – die kakke. (Gaan kyk maar in die SOED – Shorter Oxford English Dictionary.)
Selfs die bekende en baie gebruikte uitdrukking van “droogmaak” het met kak te doen – “jy maak kak droog”. Dit wil sê jy is besig om iets te doen wat òf nie nodig is nie, òf ʼn slegte gevolg gaan hê. Jy kan jou die prentjie voorstel – ʼn ou sit by ʼn hopie kak en waai dit droog met ʼn plankie of iets terwyl ander belangrike werk vir hom wag. Dit is ʼn heeltemal nuttelose aktiwiteit, dit vermors tyd, ensovoorts. Soms is dit baie nodig om iets droog te maak – soos wasgoed of wat ook al. Dan doen jy iets nuttigs – jy maak nie kak droog nie. Maar die uitdrukking “droogmaak” word maklik in goeie geselskap gebruik ten spye van sy kak oorsprong.
Dit alles sê dat die woord “kak” ʼn benydenswaardige stamboom het wat teruggaan tot nog voor ons jaartelling begin het. Maar dit bly in Afrikaans maar ʼn kak woord om te gebruik – ten spyte van die stamboom.
Hiermee dan die einde van hierdie kort reeks oor woorde wat (tans nog) in Afrikaans beskou word as “plat” of selfs “obseen” maar wat ’n lang stamboom het.
1 COMMENT
Knap gedaan.