Kom saam met my op ‘n avontuur
deur Annelise
Ek weet nie waarom ek nie soos altyd my default ‘nee’ vir hom geantwoord het nie. Ek ken hom skaars – ons gesels nog nie eens twee weke lank op Facebook nie – en nou sit ek hier langs hom in sy bakkie.
Die verkeer verg sy konsentrasie en gee my die geleentheid om vir hom te loer. Intelligensie draai my aan, maar hy is ook aantreklik. Sy hare is net-net te lank, soos sy hemp net-net nie perfek gestryk is nie, soos sy jeans net-net nie spierwit gebleik is nie. Tussen ons op die bank lê sy Nikon – die rede waarom ons op hierdie warm weeksdag in die middel van die winter die grootpad vat.
Ek het nog maar onlangs met my fotografie-stokperdjie begin, maar dis my foto’s wat ek op Facebook gedeel het wat ons laat begin gesels het. Hy is ‘n persfotograaf wat onlangs sy werk verloor het en nou doen hy dieselfde werk vryskut.
Ons is nou in die buitewyke van die stad. Huise word gehuggies word plakkerskampe. En dan, uiteindelik, bly net die dorre grasvlaktes van die Noordwestelike provinsie oor.
Hy kyk na my en glimlag.
“Is jy nog nie jammer jy het saam gekom nie?”
Ek glimlag terug. “Nope, as ek nie hier was nie, was ek voor my rekenaar waar ek elke dag is. Hierdie gevoel van vryheid maak my amper lighoofdig.”
Sy afspraak is vir twaalfuur in ʼn dorp honderd kilometer uit ons stad uit . Ek neem bome en ou verlate strate en skewe plaashekke af soos dit by my venster verbyflits, terwyl ons gesels. Ek probeer een van die ou myntorings ook afneem, maar ons ry te vinnig om ‘n ordentlike foto te kan neem. Hy lag as ek daaroor kla en belowe om op pad terug naby een te stop. Die intieme ruimte van die bakkie se kajuit laat ‘n mens naby aan mekaar voel – soos ‘n skyn van intimiteit. En ‘n mens begin intieme, klein details oplet. Soos die manier waarop dit langs sy oë kreukel as hy lag, sy voorarms wanneer hy sy moue oprol en hoe hy vir my bene kyk wanneer ek hulle ontkruis.
‘n Stuitige windjie het opgesteek wanneer ons uiteindelik ons bestemming bereik. Dit pluk aan my romp en waai my lang hare oor my gesig en dan is ons binne-in die saal waar die funksie wat hy moet afneem, plaasvind.
Van waar ek teen die agterste muur van die saal staan, kan ek hom ongehinderd dophou terwyl hy werk. Dit lyk asof hy dit regkry om die onwilligste persoon te laat glimlag vir sy kamera. Ek sien hoe ʼn jong meisie bloos wanneer hy met haar praat en wéét skielik presies hoe sy voel. Sy voel lewendig en effens koorsig en onverantwoordelik en begeerlik. Sy voel soos ek naby hom voel. En dan kyk hy om – reguit na my. En sy kyk sê hy wéét.
Twee ure later is ons weer op pad huistoe. Maar hierdie keer ry hy ‘n ander roete sodat ons nader aan ‘n myn verby sal ry. Ons draai na ‘n ruk van die teerpad af en volg ‘n grondpad om ‘n rantjie. Buite my venster is niks behalwe geel velde. Nog ‘n afdraaipaadjie, op teen ‘n hoogte en dan sien ek die myn in die laagte voor ons.
Hy trek onder ‘n ou groot bloekomboom in wat langs die pad staan. Hier is geen heinings nie en daar staan wraggies een van daardie ou sementpiekniektafels onder die boom. Hy drentel soontoe terwyl ek my mynfoto’s gaan neem.
Ek weet hy kyk vir my terwyl ek besig is – ek kan dit voel.
Hy staan langs die sementtafel en rook wanneer ek omdraai. Ek bêre my kamera in die bakkie en gaan sit langs hom op die tafel. My bene swaai in die lug en die sementblad is koud onder my.
Hy gooi die laaste stukkie van sy sigaret op die grond en draai na my.
“Ek gaan jou nou soen”, sê hy.
Sy mond smaak na die sigaret wat hy nou-net klaargemaak het en dit keer enige woorde wat ek sou wou uiter. Die soen vra nie, dit sê, en hoe langer dit aanhou hoe meer luister ek. Dis wanneer my mond onder syne oopgaan dat hy sy hand onder my romp insteek. Net soos die soen is sy hand nie huiwerig nie. Dis doelgerig.
Sy drif is nou duidelik in sy asem wat jaag en sy hand agter my kop. Ek is nie meer seker of ek hom sal kan stop as ek wil nie. Maar dan, ek is nie seker ek wil nie.
Hy stroop my broekie onder my romp uit voor hy vir die eerste keer sy mond van myne af lig. Dan buk hy sodat hy dit oor my skoene af kan trek.
As daar ‘n oomblik was waarop ek teen hom kon besluit, is dit verby. En ek is so half verlig dat ek nie hoef te keer nie. Hierdie besef tref my in die oomblik wat dit hom vat om sy broek los te maak en af te trek.
En dan lê ek terug op daardie koue sementtafel en maak ek my warmte vir hom oop.
2 COMMENTS
Bykans ‘n jaar later en ek lewer kommentaar. Puik !
Die opbou tot die klimaks wat jy vir jouself moet skryf is skerp.
Dankie, dis soos ‘n stripshow wat jou so opwerk en tog trek sy nooit alles uit nie…smile
….koue sement. Hierdie maak my mooi memories wakker,