
Erotikaans: So jy is ‘n kienker – dan is…
deur Lusman
Die Engelse woorde “kink” en “kinky” word wyd op seks- en erotiekgebied gebruik. “Kinky” is natuurlik ‘n afgeleide byvoeglike naamwoord van die selfstandige naamwoord “kink”. Die vraag is of ons goeie ekwivalente vir die woorde in Afrikaans het. Ons praat van woorde wat dieselfde begrippe as die Engelse woorde het, wat wyd gebruik word en wat maklik sê en maklik gespel word. Indien nie, wat kan ons aan die saak doen?
Soos ons hier onder sal aantoon, is daar in woordeboeke nie geskikte Afrikaanse ekwivalente vir hierdie Engelse woorde nie – beslis nie op seks- en erotiekgebied nie. Dit, terwyl die Engelse woorde vry algemeen deur Afrikaanssprekendes gebruik word.
Ons gaan nou sommer met die deur in die huis val en die woorde kienk en kienky as aanvaarbare Afrikaanse ekwivalente op seksuele gebied vir die Engelse “kink” en “kinky” aanbied. Dit lyk na triviale veranderinge, want dis net ‘n spellingaanpassing van die Engelse woorde. Dis inderdaad so; die woorde is ontlenings uit die Engels. Ons sal ondertoe uitgebreid motiveer waarom ons hierdie roete volg, ook waarom die spellingaanspassing belangrik is en waarom dié spesifieke spellingvorme gebruik word. Vir die bespreking wat volg is dit gerieflik om die Afrikaanse woorde van die begin af byderhand te hê. So, ons gaan kienk en kienky vryelik in hierdie artikel gebruik as ons in seksuele verband na die begrippe wat in Engels bekend staan as “kink” en “kinky” verwys.
Ons gaan eers die begrippe “kink” en “kinky”, soos hulle in Engels in seksuele verband gebruik word, inhoudelik probeer definieer. Dan sal ons in besonderheid motiveer hoe ons by kienk en kienky uitkom as die Afrikaanse ekwivalente vir die Engels.
Naby aan die einde gee ons ‘n hele aantal nuttige afleidings van kienk en kienky, met definisies en voorbeeldsinne.
Ons begin deur te kyk wat bedoel word met ‘n kienk.
Wat is ‘n kienk?
Kom ons kyk eers na die verklaring van die woorde “kink” en “kinky” in ‘n gesaghebbende Amerikaanse woordeboek.
Merriam-Webster-woordeboek (M-W-woordeboek)
In die hierdie woordeboek is daar ses definisies (verklarings) van die woord “kink”. Volledigheidshalwe gee ons almal:
1 : a short tight twist or curl caused by a doubling or winding of something upon itself.
2 : mental or physical peculiarity : ECCENTRICITY, QUIRK.
3 : a clever unusual way of doing something
4 : a cramp in some part of the body
5 : an imperfection likely to cause difficulties in the operation of something
6 : unconventional sexual taste or behavior
Dis duidelik dat slegs verklaring 6 betrekking het op die seksuele.
Ander Amerikaanse woordeboeke gee min of meer dieselfde definisies, behalwe dat sommige definisie 3 uitlaat. Ook Britse woordeboeke gee min of meer dieselfde, maar dan ook sonder definisie 3.
Dis duidelik dat omtrent al die betekenisse, behalwe die een van 3 en die seksuele een van 6, negatiewe konnotasies het. Aan die anderkant impliseer verklaring 6 niks negatiefs nie. Dis ten spyte daarvan dat die oorspronklike betekenis van die Engelse woord “kink” in seksuele verband ontstaan het uit die negatiewe betekenis van 1, en in ‘n mate die negatiewe betekenis van 2.
Dis betekenisvol dat, in seksuele verband, die woord “kink” van sy negatiwiteit verloor het. Ons kom later weer hierop terug.
By wyse van beklemtoning: Die definisie in 6 het nie ‘n ongunstige, negatiewe konnotasie nie. Dit is baie belangrik vir ons keuse van ‘n woord vir “kink” in Afrikaans.
Vir die byvoeglike naamwoord “kinky” gee die M-W-woordeboek die volgende definisies:
1 : closely twisted or curled
2 : relating to, having, or appealing to unconventional tastes especially in sex
also : sexually deviant
3 : OUTLANDISH, FAR-OUT
Verklaring 2 het uiteraard betrekking op die seksuele. Dit klink ook redelik neutraal. Dis nie negatief en veroordelend nie. Selfs die woord “deviant” (afwykend) is nie noodwendig negatief en veroordelend nie. Dit sal uit die bespreking wat volg duidelik word waarom die negatiwiteit verbleek het.
Dis nodig dat ons vervolgens na ‘n paar voorbeelde van kienks kyk.
Voorbeelde van tipiese kienks
Om beter te verstaan wat ‘n kienk is, kan ons die volgende onder oë neem:
impakspel/impakspelery : Dis deel van BDSM (bondasie, dissipline, dominansie, onderdanigheid, sadisme en masochisme). Dit behels die looiery oor die rug, bene of boude (veral die boude) met die hand of ‘n strokesweep (gesel), lat (bv. kweperlat of rottang), belt, leerplak, houtspaan, enkelstertsweep of ander soort sweep. Dit sluit menige ander vorme van slanery in, soms met fetisj-agtige voorwerpe soos ‘n matklopper of pantoffel.
rolspel, rolspelery : Dis om seksuele fantasieë soos dokter/pasiënt, onderwyser/skoolkind (meisie of seun), priester/non en polisieman/gevangene uit te leef, gewoonlik terwyl die rolspelers soos die karakter geklee is.
voetfetisjisme : Dis bv. om met jou voete met iemand se penis te speel, hom uiteindelik daarmee te masturbeer en hom dan oor jou voete laat ejakuleer.
anusspel/holspel/holspelery : Dis om jouself met anale proppe of krale te stimuleer, of deur ‘n seksmaat te laat stimuleer.
diere-nabootsspel : Dis bv. poniespel (poniegirl- en ponieboy-spel) en kleinhondjie-spel. Dis waar daar gewoonlik ‘n soort dominante afrigter is, met die onderdanige (die ponie of hondjie), gewoonlik seksueel uitlokkend geklee en aan ‘n leiband. Die persoon moet dan allerhande dinge in nabootsing van die dier doen. Seks is nie noodwendig ‘n sterk komponent van die spel nie, alhoewel seksuele prikkeling byna altyd ter sake is.
lingerie-afshowery : Dis bv. ‘n lyf in visnetkouse of ‘n miklose pêntie (vroue-onderbroekie) waarmee uitlokkend voor ‘n seksmaat geparadeer word.
groepseks : Dis bv. ramtroppery, d.w.s. penetrasie van die vrou deur veelvuldige penisse. Dis ook ooitroppery, waar die oorheenstotery van ‘n man se penis met veelvuldige vaginas plaasvind.
sensasiespel/sintuigspel : Dis ‘n wye verskeidenheid van stimulasie van verskeie liggaamsdele met voorwerpe en stowwe – bv. ‘n gekielie met vere, ‘n gedrup met warm kerswas op die liggaam en temperatuurspel met ys. Daar is soms ook sensoriese/sintuiglike ontneming. Bv. in BDSM kan ‘n muilband of kopkap gebruik word om te verhoed dat die onderdanige (die ondergeskikte, die submissief) sien wat met hom/haar gedoen word. Soms word ook die reuk-, gehoor- en die tassin geïnhibeer.
orgasmebeheer : Dis deel van BDSM en bestaan uit randspelery waar die onderdanige speelpartner herhaaldelik tot op die rand van ‘n orgasme gebring word en dan gedwing word om te stop – verhoed word om te orgasmeer.
bondasie/vasbindery/vasmakery : Dis deel van BDSM en bestaan uit die vasmaak of teëhouery van sekere liggaamsdele met goed soos tou, kettings en boeie, dikwels gepaardgaande met muilbanding (gewoonlik met ‘n mondprop).
voyeurisme : Dis om toe te kyk, soms stiekem, maar soms openlik, as twee persone seks het.
ekshibisionisme : Dis om voor ander, dikwels vreemdes, seks te hê.
sissiespel/sissiespelery : Dis waar die manlike eggenoot of vaste maat in vroueklere (gewoonlik onderklere) voor die vrou moet paradeer. Hy word dan bespot en moet allerhande dinge doen wat vrouens gewoonlik doen, weens sy sissieagtigheid. Soms, aan die einde van ‘n sessie, sal sy hom van agter met ‘n dildo bykom.
babadoekdraery : Dis waar een van die partye in ‘n vaste verhouding, gewoonlik die man, babadoeke moet dra en hom tipies soos ‘n baba moet gedra. Dit kan, soos by sissiespel, ook eindig met ‘n gedildo.
koekoekery : Dis waar een van die partye in ‘n vaste verhouding (soos ‘n huwelik) gemaak ontrou is teenoor die ander party deur met ‘n derde party seks te hê. Die kamma-verneuker is gewoonlik (maar nie altyd nie) die vrou en die derde party dan ‘n man, die koekoekbul genoem. Die seks tussen die bul en die vrou is gewoonlik in die teenwoordigheid van die vaste maat. Dis dan haar metode om haar man sogenaamd te koekoek – hom te verneder met haar ontrouheid. Soos met alle kienks, vind die spel met wedersydse instemming tussen die partye plaas.
Bogenoemde is maar enkele soorte kienks van die honderde wat daar is. In een opname is ongeveer 600 kienks geïdentifisieer. Dis onder andere wat getroude en saamwonende pare in vaste verhoudings beoefen, soms met die bytrek van buitepartye. En dit was nie net kienks wat in vaste verhoudings beoefen word nie. Daar was ook die kienks van enkellopendes met seksmaats. In dié gevalle is dit dan dikwels los verhoudings (kasuele verhoudings), amper soos eennagstanings. Soms is dit individue wat van tyd tot tyd op ‘n semi-gereelde basis vir kienkpret ontmoetings het. Soms is daar meer as twee teenwoordig, soos op kienkpartyjies. Verder is daar ook die kienks wat met solo-selfverwesenliking te make het en wat gewoonlik gepaardgaan met, of uitloop op, masturbasie.
Kienk is baie wydlopend. Een Amerikaanse skrywer waarsku teen ‘n te eng definisie van kienk. Daar word gewaarsku dat die betekenis van kienk in seksuele kultuur gedurig verander en dat die enigste standhoudende definisie een is wat aandui dat kienk die afwesigheid is van die norm (die afwesigheid van wat sogenaamd normaal is). ‘n Kienk is dus nie noodwendig die teenwoordigheid van iets konkreets definieerbaar nie.
Opsommend van wat ‘n kienk is: Dis ‘n uiters breë en veranderende begrip. Wat ons betref, is die definisie van kienk as “onkonvensionele seksuele smaak of gedrag”, soos in die M-W-woordeboek, nie ‘n slegte een nie.
Bg. definisie word in gedagte gehou by die keuse van kienk en kienky as voorkeurwoorde op seks- en erotiekgebied.
Is ‘n kienk dieselfde as ‘n fetisj – is die woorde sinoniem?
“Kienk” kan soms ‘n sinoniem vir “fetisj” of “fetisjisme” wees, maar nie altyd nie. Oor die algemeen word ‘n fetisjisme deur sielkundiges en seksuoloë as ‘n kienk beskou. Maar ‘n kienk is nie noodwendig ‘n fetisjisme nie. Kienk is ‘n breër begrip.
Die woord “fetisj” is van die Portugese woord “feitiço” wat “toormiddel” beteken. ‘n Fetisjisme is seksuele aangetrokkenheid tot ‘n voorwerp of liggaamsdeel (wat nie ‘n geslagsdeel is nie). Dis dan die sogenaamde fetisj. Wat liggaamsdele betref, kan dit goed wees soos voete of lakterende borste. Selfs armholtes met ‘n spesifieke reuk kan ‘n fetisj wees. Klere van leer, lateks of viniel wat ‘n rol speel voor en tydens seksspel, is tipiese fetisje. Ook sekere kledingstukke soos kouse, rompe, soorte onderklere, skoene en stewels maak dikwels vir ‘n persoon ‘n fetisj uit. Dis betreklik gebruiklik dat fetisje soos hierdie ook soms as kienks bekend staan.
So, as jou kienk is om in ‘n sekere, moeilik inneembare posisie seks te hê, dalk omdat jy en jou seksmaat baie atleties is en julle die posisie baie stimulerend vind, maak dit nie van jou ‘n fetisjis nie. Maar jy is wel ‘n kienker, omdat die meeste mense nie in hierdie posisie seks het nie! Altans so dink jy!
Opsommend, as jy ‘n fetisjis is, is jy uiteraard kienky. Weereens, as jy ‘n kienker is, is jy nie noodwendig ‘n fetisjis nie. Want tensy daar ‘n voorwerp of nie-seksuele liggaamsdeel is wat jou besonderlik opgeil, is die aktiwiteit nie fetisjisties nie.
Maar dis tog so dat baie mense in die praktyk, ook kienkers en fetisjiste, nie altyd die onderskeid tussen fetisjisme en kienk tref nie. Ons hou daarmee ook rekening by ons keuse van die woorde kienk en kienky.
Evolusie in die begrip kienk
As mens bietjie dieper delf, blyk dit dat die begrip wat saamhang met die Engelse woord “kink” in seksuele verband oor die jare heen ‘n evolusie ondergaan het.
In seksuele verband het “kink” sy oorsprong by verklarings 1 en 2 in die M-W-woordeboek. Daar was aanvanklik baie negatiwiteit en ‘n onwenslikheid gekoppel aan die persoonlike eienskappe en gedrag wat die woord “kink” na vore gebring het. Die woord het aanvanklik gedui op “seksuele afwykings van ‘n hoogs onaanvaarbare aard”. Want ‘n “kink” in ‘n kabel, wat in Afrikaans ook bekend staan as “kink” of “kinkel”, is, soos ons in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) hier onder sal sien, baie onwenslik. En “kink” as ‘n verstandelike eienaardigheid (‘n sielkundige afwyking), soos in die M-W-woordeboek en die WAT (sien hier onder), is ook nooit gewens nie.
Opsommend, in sy diepste wese hou die oorspronklike woord “kink” in Engels in seksuele terme verband met dit wat erg afwykend is, wat nie normaal is nie, wat skeef en krom is – soos ook die gevestigde Afrikaanse woord “kink” (ook “kinkel” genoem) in ‘n kabel en in sielkundige verband te kenne gee. Die Engelse “kink” het oorspronklik gedui op nie-normale seks wat, soos ‘n gekinkte kabel, nie reguit is nie. Dit was wat as afwykend beskou is – dit wat nie heteroseksueel was nie.
Het “kink” in Engels nog die erg negatiewe betekenis?
Betekenisvolle betekenisverbleking van “kink” van iets totaal negatief en onaanvaarbaar het egter oor die jare plaasgevind in Engels. Bogenoemde negatiewe begrippe word vandag nie meer met kienk geassosieer nie – nie in die sielkunde en seksuologie nie, en beslis ook nie deur deelnemers aan kienk nie. Die woorde “kink” en “kinky” en die begrippe wat hulle omvat, het vandag nie ‘n negatiewe konnotasie vir persone wat kienk beoefen, dus hulself as kienky beskou, nie.
Die nie-negatiwiteit word bevestig deur seksuoloë en sielkundiges wat sê dat die meeste van bostaande kienks onskuldige pret is, mits dit met wedersydse instemming van die betrokke partye beoefen word. Vir sommige is dit ook positief in die sin dat dit hul verhoudinge versterk.
Dit is dus duidelik dat die seksuele woord “kink” nie meer sy oorspronklike negatiewe betekenis het nie. Dit dui nou net op seksuele andersheid in vergelyking met wat die meeste mense as normaal beskou, niks meer nie.
Dat die oorspronklike negatiwiteit nie meer geld nie, word bevestig deur die definisie van “kink” soos in 6 en dié van “kinky” soos in 2 in die M-W-woordeboek. Hierdie woordeboek reflekteer dus die evolusie wat die woorde ondergaan het baie goed.
Of Engels met “kink” in seksuele verband die negatiwiteit en ongewenstheid volledig afgeskud het, is dalk te betwyfel. Vir ons lyk dit asof vir sommige mense “kink” maar altyd ‘n negatiewe konnotasie sal hê.
Vir ons keuse van woorde in Afrikaans is die belangrike – as ons sê dat die M-W-woordeboek-definisies van “kink” en “kinky” vir ons prinsipieel aanvaarbaar is – dat ons keuse van woorde in Afrikaans daarmee rekening moet moet hou.
Kom ons kyk wat word ons wys uit vertalende woordeboeke in ons soeke na geskikte Afrikaanse woorde.
Wat sê die Suid-Afrikaanse woordeboeke?
Pharos se Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaans-woordeboek
kink: kinkel, knoop, slag, draai; kronkeling; kroeserigheid, krul (in hare); gril; morele/verstandelike afwyking.
Vir frases met “kink” gee dit:
have a kink (in the brain): (infml) ‘n streep hê, nie reg wys wees nie
a moral kink: ‘n morele afwyking
get the kink out of … : … weer agtermekaar kry.
kinky: (sl) pervers, skeef, bejoeks, eksentriek, sonderling; aweregs; kinkelrig, kronkelrig; kroes, kroeserig, krullerig (hare)
Vir die frase a kinky one: ‘n snaaksie.
Dis duidelik dat hierdie vertalende woordeboek in die keuse van Afrikaanse ekwivalente omtrent net negatiewe en veroordelende konnotasies aan “kink” en “kinky” heg. Woorde soos “pervers” en “skeef” vel ‘n skerp oordeel. Nie een van die woorde is aanduidend van die M-W-woordeboek se neutrale definisie van “onkonvensionele seksuele smaak of gedrag” nie.
Tweetalige Woordeboek van Bosman e.a.
kink: Dit gee dit dieselfde as Pharos, behalwe dat dit “kronkeling” uitlaat.
kinky: kinkelrig, kronkelig; kroes, kroeserig, krullerig (van hare); eksentriek; grillig, vol nukke, vol grille, bejoeks, bekieks, buitenissig, sonderling.
Vir die frase kinky one: snaaksie
Hierdie woordeboek heg ook meestal negatiewe betekenisse aan die woorde “kink” en “kinky”, alhoewel dit minder skerp veroordelend as die Pharos-woordeboek is. Ook is hier niks wat dui op iets naby aan “onkonvensionele seksuele smaak of gedrag” nie.
Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) van Pearson
Slaan ons die verklarings van bg. woorde in HAT na, kom ons tot die gevolgtrekking dat nie een van bogenoemde woorde goeie ekwivalente vir “kink” en “kinky” in seksuele verband is nie. Nie een het die neutraliteit van die definisie soos in die M-W-woordeboek nie. Hulle klink almal op ‘n manier negatief en veroordelend.
Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)
Ons het ook gekyk na wat die WAT bied ten opsigte van betekenisse vir die woorde “kink” en “kinkel”. Dis omdat ons ‘n oop gemoed het vir goeie Afrikaanse woorde vir die Engelse “kink” en “kinky” in seksuele verband dat ons die WAT ook geraadpleeg het. Want al sou ons nie iets pertinents as ekwivalente kry nie, het ons gewonder of die WAT ons dalk op die spoor van iets kan sit. Dis immers die mees omvattende woordeboek in Afrikaans.
As agtergrond het ons in gedagte gehou dat die woord “kink” in die Nederlands van ongeveer 400 jaar gelede dieselfde betekenis gehad het as die Engelse woord “kink”. Want Engels kry die woord, net soos Afrikaans, uit Nederlands. Dit het toe maar bloot gedui op ‘n kinkel in ‘n tou, kabel, riem of ketting.
Die WAT wy ‘n bespreking van ongeveer 2400 woorde aan “kink” en “kinkel”. Ons fokus op die mees relevante.
Ons wou eerstens weet of die Afrikaanse woord “kink” (of “kinkel”) dalk ‘n goeie ekwivalent vir die Engelse “kink” in seksuele verband kan wees. Hier onder haal ons dus van die mees gebruikte betekenisse uit die WAT aan. Ons kyk hoe naby “kink” aan ons voorkeur-definisie, in seksuele verband, kom. Terselfdertyd kyk ons of “kinkel” dalk ‘n oplossing bied. En verder kyk ons ook na die byvoeglike naamwoorde wat van “kink” en “kinkel” afgelei is, as moontlike ekwivalente vir die Engelse seksuele “kinky”.
Voorbeeldsinne en frases uit die WAT is in skuinsskrif.
Die mees relevante verklarings vir “kinkel” en “kink” as selfstandige naamwoorde in die WAT is die volgende:
- [Verkeerde] kort buig, lus, slag in ‘n tou, draad, kabel, ketting of ‘n dergelike betreklike lang, dun, buigbare voorwerp, gew. veroorsaak deur gedraaidheid wat nie opgeneem word as die voorwerp reguit getrek word nie; ook, skerp buig, knak in so ‘n voorwerp, veral dié wat minder buigsaam is, soos ‘n draad of kabel, wat bv. ontstaan as dit reguit getrek word terwyl dit ‘n lus of oog vorm: Daar is ‘n kink(el) in die tou (kabel, ketting) en ons sal dit eers moet reg draai voordat ons trek. Die draad was nie reguit nie, maar vol draaie en kinkels. Sit daardie skakel reg sodat die kink(el)uit die ketting kan kom. Die vislyn is vol kinkels en as jy nie mooi werk nie, sit jy netnou met ‘n kraaines. As jy die opgerolde tuinslang sommer wil reguit trek, sal dit kinkels kry.
- Oulike, slim, dikw. skelm plan, streek, uitweg, argument, slenterslag, bv. deur ‘n ander draai, wending, interpretasie aan iets te gee; kinkeldraai, -slag: Nou wil jy allerhande draaie … maak en hier en daar spring … maar al daardie draaiery en swaaiery en kinkels en konkels sal jou niks help nie (J.H. Kruger). As ‘n mens hom nie op heterdaad betrap nie, sal hy altyd met ‘n kinkel uit die moeilikheid kom (Mikro).
- Belemmering, beletsel, hindernis, haakplek; moeilikheid, probleem: En so ‘n man moet ons regeer …; hulle is die land vol en oral ‘n kinkel in ons doeltreffendheid (H.S. van Blerk). Mnr. P., ‘n beroepsgholf-afrigter …, sal vir twee weke in die hoofstad vertoef om al die kinkels uit die spel van Windhoek se gholfspelers te stryk (Die Suidwester). Kinkel uitgestryk (Die Vaderland, opskrif). Toe dog ek so by myself: so is die lewetjie, vol kinkels, knope en knoeisels (Dirk Mostert). Tog was daar by hulle ontmoeting, na sy omdoling in die vreemde, ‘n kink in die vroeër kameraadskaplike verhouding, deur ‘n onverklaarbare selfbewustheid teweeggebring (Helmüth Luttig).
- Geestelike] afwyking, eienaardigheid, streek, nuk (in ‘n persoon se geaardheid); ingewikkeldheid (van ‘n saak): Ik voel dat Sannie met al haar kinkels nog die eerste plaats in myn hart het (De Zuid-Afrikaan, 1891). Hoe goed verstaan Van Bruggen nie die wonderlike kinkels van Ampie se gedagtegang nie! (P.C. Schoonees). Iemand soos sy het êrens ‘n emosionele kinkel gekry wat haar effens laat skrik vir die lewe (E.C.M. du Toit). Geestelike kinkels en kwinte (Audrey Blignault). Ek moet glo honderd donker kinkels uit my uit leer knoop (N.P. van Wyk Louw). Nog ‘n kinkel in E. se eienaardige persoonlikheid is sy oormatige liefde vir klein opgestopte speelgoeddiertjies (Die Huisgenoot).
Die mees relevante verklarings vir “kinkel” en “kink” as werkwoorde in die WAT is die volgende:
‘n Kink maak of vorm; ‘n kinkel maak of vorm: Die tou het so effens gekink(el) en wou nie deur die gat gly nie. Die draad het gekink(el). Die kabel laat hom nie maklik buig nie, en die draai word nie maklik geabsorbeer nie, en daarom is dit baie meer geneig om te kink en op te kinkel.
Uit bostaande verklarings uit die WAT vir “kink” en “kinkel”, as beide selfstandige naamwoorde en werkwoorde, is dit duidelik dat daar geen seksuele konnotasie aan “kink” of “kinkel” gegee word nie.
Verder is dit duidelik dat die Afrikaanse woord “kink”, net soos in Engels, dui op iets negatiefs. Die woord is daarom nie geskik vir seksuele gebruik nie. So, ons het tot die gevolgtrekking geraak dat dit nie regtig ‘n nuttige rol in ons seksuele woordeskat speel nie. Geen kienker sal sy of haar aktiwiteite met iets negatiefs geassosieer wil hê nie. So, as party van ons gedink het ons moet maar “kink” as ons ekwivalent vir die Engels aanvaar, omdat die woord al oeroud in Afrikaans is: Dit gaan lol!
Verder is daar die problematiese uitspraak van die tradisionele “kink”. Wie van ons sal dink dis sinvol om die Afrikaanse woord “kink”, waarvan die i uitgespreek word soos in “sink” en “vink”, te gebruik in seksuele verband? Waarskynlik niemand nie.
Ons kom tot dieselfde gevolgtrekking met die afgeleide byvoeglike naamwoorde in die WAT vir die Engels “kinky” in seksuele verband. Ons vind hier geen gepaste ekwivalente vir seksuele en erotiekgebruik nie.
Ons gevolgtrekking oor die woorde in die woordeboeke is dus dat hulle ons nie juis gaan help met geskikte Afrikaanse ekwivalente vir die Engels “kink” en “kinky” in seksuele verband nie – nie as ons iets soek wat min of meer met “onkonvensionele seksuele smaak of gedrag” verband hou nie.
Watter ander faktore is daar te oorweeg by die keuse van geskikte woorde?
In die Afrikaanse spreektaal, in seksuele verband, kom die woorde “kink” en “kinky” soos dit in Engels uitgespreek word wyd voor. Dit blyk dat die woorde ‘n nuttige funksie vervul in die algemene spreektaal en ook by kienkers. Daar is bloot nie ander ekwivalente vir die woorde nie – dus woorde met die genoemde betekenisse en wat mense gemaklik gebruik nie.
In die Afrikaanse massamedia sien mens soms ook dat die woorde “kink” en “kinky” as nie-gestandaardiseerde leenwoorde (uit Engels) gebruik word. Dit word dan meestal kursief geskryf in ooreenstemming met die skryfreëls van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Soms word die woord tussen aanhalingstekens geplaas as ‘n aanduiding dat dit ‘n Engelse leenwoord is. Dit is dus duidelik dat die media ook behoefte het aan behoorlike ekwivalente vir wat in Engels bekend staan as “kink” en “kinky”. Ook hulle het nog met niks konkreets vorendag gekom nie.
Om woorde kursief of tussen aanhalings te skryf is altyd lastig. Dit dui op ‘n gebrek in die taal. Ons wil tog sekerlik woorde hê vir “kink” en “kinky” wat as volwaardige Afrikaanse woorde beskou kan word – en dus ook in woordeboeke opgeneem kan word. Mens sien soms dat in die media ‘n kienk beskryf word as iets “aweregs”. As mens in die HAT kyk wat dit beteken, is dit maar ook uiters negatief. Want “aweregs” dui op iets verkeerds, iets agterstevoor of onderstebo – iets nie reg nie. Dis, in terme van ons definisie, nie geskik vir ‘n seksuele kienk nie!
Ons keuse van woorde moet hulle ook leen tot afleidings en samestellings. Want as afleidings en samestellings nie gevorm kan word nie, het hulle erg beperkte gebruik.
En verder moet dit woorde wees wat in die spreektaal met gemak gebruik kan word – liefs kort en kragtige woorde.
Dis duidelik dat ons tot op hede nie ander woorde vir die begrippe “kink” en “kinky” in Afrikaans gehad het nie. Omdat daar behoefte aan die woorde is, word hulle in die spreektaal gebruik asof hulle Afrikaanse woorde is. Hulle blyk reeds goed ingeburger te wees.
Op hierdie stadium het ons die volgende vrae oor “kink” en “kinky”:
(a) Wil ons vir ewig voortgaan om die woorde kursief of tussen aanhalingstekens te skryf? Ons meen dis baie lastig. Dit dui, elke keer as dit so geskryf word, op ‘n gebrek in die taal. Dis iets wat ons nie wil hê nie.
(b) As ons dan nie kursief of tussen aanhalingstekens wil skryf nie, kan ons die woorde dan nie maar net so – ongekursiveer – gebruik nie? Wat is dan die implikasie vir afleidings en samestellings? Wat is die moontlikheid van dubbelsinnigheid en verwarring? As ons “kink” in ‘n sin teëkom, gaan ons dan vir seker weet wanneer dit dui op die seksuele, eerder as fisiese of dalk sielkundige goed? Gaan ons nie die woorde juis assosieer met iets negatiefs nie? ‘n Ernstige besinning dui vir ons daarop dat daar probleme gaan wees as “kink” en “kinky” as ongeëtiketteerde woorde – deur óf skuinsskrif óf aanhalingstekens – in teks gebruik gaan word.
(c) As die skryfwyse “kink” en “kinky” dan problematies is, kan ons dit nie regstel met ‘n spellingaanpassing nie? Kan ons hulle nie so skryf dat: (i) hulle nie skuinsskrif of aanhalingstekens benodig nie?, (ii) dat daar nie verwarring is oor wat hulle beteken nie? en, (iii) dat hulle as volwaardige Afrikaanse woorde beskou word nie?
Wat (c) betref, is die antwoord vir ons helder en duidelik: As ons die spelling kienk en kienky maak, soos in die begin van hierdie artikel voorgestel, word al die genoemde probleme ondervang. Hierdie woorde, sonder skuinsskrif of aanhalingstekens in teks geskryf, sal uitstaan as iets heel anders as wat deur enige ander woord in Afrikaans aangedui word. Hulle kan met niks verwar word nie. Spellinggewys sal hulle nuutskeppings wees.
Kom ons werk sistematies deur die hele proses om seker te maak dat die keuse van kienk en kienky oukei is.
Hoe regverdig ons die begrippe en die spelling “kienk” en “kienky” in Afrikaans?
Die woorde “kink” en “kinky” het uit die Engels die Afrikaanse spreektaal op ‘n natuurlike manier die taal binnegekom. Dis deur ‘n proses wat taalkundiges ontlening noem. As die woorde aanvaarbaar is – soos dit duidelik blyk – maar die Engelse spelling probleme lewer, dan moet ons bloot die spelling probeer aanpas. Ons moet dit op so ‘n wyse doen dat die woorde deel van die gestandaardiseerde Afrikaanse woordeskat word – ook in woordeboeke opgeneem kan word.
Laat ons ons dus lei deur die taalkundiges.
Op die werf Afrikaans.com vind mens die volgende deur die taalkundige Jana Luther onder die opskrif Nuwe neigings in Afrikaans, of is dit nou trends … (kyk by: https://afrikaans.com/2019/11/19/nuwe-neigings-in-afrikaans-of-is-dit-nou-trends/ )
Onder die subopskrif “Nou wat is ontlening dan?” skryf Luther soos volg:
“Ontlening (p.85 van die HAT Taal- en Feitegids) behels die oorneem van woorde of frases uit een taal in ’n ander.”
Sy skryf verder: “Ontlening kan op verskillende maniere geskied, bv.:
(a) deur ’n woord, of uitdrukking regstreeks en onveranderd oor te neem (soos venue, muffin, speaker, township, eisteddfod);
(b) deur ’n woord of uitdrukking uit ’n ander taal as jou eie te translitereer (soos perestroika, feng shui, soesji, tsoenami);
(c) deur ’n woord of uitdrukking aan te pas by jou eie taal se klank- en spellingstelsel, m.a.w. verafrikaanste leenwoorde (soos baie, blatjang, impi, gogga, setlaar, sjokolade, toi-toi); of
(d) deur die elemente van die leenwoord of -uitdrukking te vertaal (leenvertaling), soos byvoorbeeld, korfbal, lughawe, vonkprop, tandepasta, waterkastaiing.”
Wat die ontlening van “kink” en “kinky” uit Engels betref, lyk (a), (b) en (d) nie lewensvatbaar nie.
Die woorde kienk en kienky kan egter as ontlenings beskou word wat in kategorie (c) val. Hulle het dan dieselfde paadjie geloop as die volgende woorde uit Engels, bo en behalwe die in (c) gelys: akuut (acute), assesseer (assess), avokado (avocado), barok (baroque), boks (box), evalueer (evaluate), fetisj (fetish), filosofie (philosophy), fleksietyd (flexitime), illustreer (illustrate), insulien (insuline), intervensie (intervention), jippie (yippee), juppie/jappie (yuppy), kasserol (casserole), kurio (curio), kys (case), nektarien (nectarine), oukei (okay), orraait (all right), paloeka (palooka), pienk (pink), poeding (pudding), repudieer (repudiate), rewolwer (revolver), rigied (rigid), sjiek (chic), stres (stress), tenk (tank), tjip (chip), tjop (chop), toffie (toffy, toffee), visie (vision) en vlos (floss).
Hierdie is maar enkele voorbeelde van woorde wat uit Engels in Afrikaans ingekom het en dan deur spellingaanpassing gestandaardiseer is. Daar is nog vele ander.
Dis dus verblydend om te weet as ons woorde vir die Engelse “kink” en “kinky” in seksuele verband, nl. kienk en kienky, niks anders is as ‘n verafrikaansing van die Engelse woorde deur spellingaanpassing nie.
Is “kienk” en “kienky” nie anglisties nie?
Die antwoord is nee, glad nie. Vir iets om anglisties te wees moet dit iets in die taal verdring. Die woorde “kienk” en “kienky” verdring niks; inteendeel, dit verryk die taal.
Die volgende webwerf werp lig op die kwessie van anglisismes: https://www.beterafrikaans.co.za/website/mob.php?pag=163
Uit bg. verwysing is dit duidelik dat kienk en kienky nie anglisties is nie.
Is die spelling “kienk” en “kienky” taalkundig aanvaarbaar?
Wat kienk betref, ons vind geen probleem met hierdie spelling nie. Die ie-klank is presies soos Afrikaanse mense al jare lank die Engelse “kink” uitspreek – met die ie soos in pienk, pieng, sien en tien.
Die spelling-alternatief kink is nie aanvaarbaar nie. Want die normale uitspraak van die woord kink – wat ons in die WAT hierbo gesien het – is met die i soos in vink, sink, ink en blink. Dis nie hoe Afrikaanssprekendes die woord in seksuele verband uitspreek nie.
Dis dus belangrik dat op seks- en erotiekgebied die spelwyse van die woord dit duidelik moet onderskei van die Afrikaanse woord “kink”, waarvan ons gesien het dat dit ‘n sinoniem is vir “kinkel” (en ook negatief is). Ons meen daarom kienk is die antwoord.
Dit uitspraak kienk het gekom om te bly. Ons het net die spelling daarby aangepas. In terme van die Afrikaanse fonetiek is daar geen fout daarmee te vind nie.
Wat kienky betref, is die ie-klank net soos by kienk in orde. Dis in ooreenstemming met die algemene uitspraak.
Maar wat van die y-uitgang? Waarom nie ie nie?
Ons het reeds in Afrikaans, as voorbeeld, die woord sexy. Dis ‘n gestandaardiseerde Afrikaanse woord wat uitspraak en spelling betref. Die y-uitgang maak ‘n adjektief van die selfstandige naamwoord “sex”. Deur kienky te aanvaar, is ons lynreg in die geselskap van die oorwegings vir sexy. Die y was vir sexy nodig en dis nou nodig vir kienky.
Hoekom die y-uitgang? Want die ie-uitgang werk normaalweg nie vir ‘n byvoeglike naamwoord nie. Daar is te veel gebruike vir die ie-uitgang by Afrikaanse woorde. Neem sexy. Iemand kon besluit het dit moet eerder “seksie” wees. Dit sou erge verwarring veroorsaak het, want “seksie” het heelwat ander betekenisse, soos in “seksie van die gemeenskap”, “seksie van die gebou” en “seksie in ‘n lyk maak om die oorsaak van die dood vas te stel”. Daar is ook die kwessie van verkleining, waarvoor die ie-uitgang in Afrikaans dikwels gebruik word. Kienkie sou dan heel nuttig dui op ‘n klein, minder belangrike, kienk. Argumentsonthalwe sou mens kon sê: “Met daai ou geringe kienkie van haar, beskou haar man haar nie juis as kienky nie.”
‘n Ander y-uitgang-woord waar die y dieselfde funksie het en die taal binnegesluip het is “trieky”. Dis weliswaar ook nog nie gestandaardiseer nie, alhoewel “triek” wel is. Ook by hierdie woord vorm die ie nie ‘n gerieflike manier om die adjektief te vorm nie. Die y-uitgang doen dit wel, by wyse van ontlening uit Engels.
Die keuse van y vir die adjektief en die ie vir verkleining toon die nut van die y. Die y-uitgang leen hom ook tot maklike vorming van die vergrotende en oortreffende trap, nl. kienkyer en kienkyste. Geen deeltekens is nodig nie.
Opsommend, dis belangrik dat die y-uitgang gebruik word – en die woord as kienky gespel word.
Help “kienk” en “kienky” om van die negatiwiteit weg te kom?
Na ons mening help die woorde beslis om aan die negatiwiteit van die oorspronklike Engels, “kink” en “kinky”, te ontkom. Die woorde, synde nuutskeppings (deur ontlening), eggo nie die negatiwiteit van die Engelse “kink” en “kinky” nie – ten minste nie op skrif nie.
Op die langer termyn kan die skrifvorme help om ook in die spreektaal van die negatiwiteit weg te kom.
Leen die woorde hulle tot afleidings en samestellings?
Ons meen dat deur die woorde volgens die Afrikaanse spellingstelsel te spel, daar uitvoerig bygedra word tot die vorming van afleidings soos: kienkyrig, kienkerig, kienkagtig, kienker, kienkster, verkienk, ontkienk, kienkend, kienkerig. En samestellings soos kienkmaat, kienkpartner, kienkbeoefenaar, kienkverslawing, kienkparty(tjie), kienkgewoonte, leerkienk, latekskienk en poniekienk volg maklik. Die moontlikhede is onbeperk.
Onderstaande volg ‘n paar woorde met kienk as stam – met hul verklarings en voorbeeldsinne. Dit toon hoe produktief die woorde is in terme van die vorming van (nuttige) afleidings.
kienk 1 (selfstandige naamwoord): onkonvensionele seksuele smaak of gedrag “Sê vir ons wat is jou kienk,” skryf sy op die blog. Sy kienk is looiery; hy hou daarvan dat sy vrou hom pak gee met sy leerbelt. Beoefenaars van kienk is oor die algemeen erg stiekem, maar hier en daar kom mense uit die kas met hul kienks. Jy kan die kienk verhoog deur ‘n vibrator by te trek, is die advies op die sekswerf.
kienk 2 (selfstandige naamwoord): Dis ‘n tweede betekenis van kienk. Dis ‘n massanaamwoord vir aktiwiteite/dinge wat met kienkygeid te doen het. Op die partytjie was daar baie kienk. Die seks-ekspo was omtrent net oor kienk.
kienkie (selfstandige naamwoord): Dis die verkleinwoord van kienk. “Dis maar net ‘n ou klein kienkie van my hierdie waarby jy jou sal moet aanpas,” sê sy vir haar man toe hy haar skeef aankyk.
kienky (byvoeglike naamwoord, bywoord): Dis om ‘n kienk te beoefen, of om tot ‘n kienk geneig te wees “Ek wil vanaand ‘n bietjie kienky wees,” sê sy vir haar man. Ek hou van kienky speelmaats. As sy met jou speel, gaan sy kienky speel. Sy voel baie kienky en gaan hom vanaand nie laat wegkom nie. Ek hou van kienky seks. Daar is ‘n kienkyseks-opsomming in die handleiding.
kienkyer (byvoeglike naamwoord, bywoord): die vergrotende trap van vergelyking van kienky (L.W. net soos by “sexyer” word die y nie vervang deur ‘n i nie (waar dit in Engels wel gedoen word). ‘n Deelteken op die e is nie nodig nie.) Sy is heelwat kienkyer as haar man. Kienkyer as dit het ek nog nie gesien nie. “Om die seksposisie kienkyer te maak, gebruik ‘n das of boeie om die polse en enkels teë te hou,” sê die seksuoloog.
kienkyste (byvoeglike naamwoord, bywoord): die oortreffende trap van vergelyking van kienky Dis die kienkyste ding wat ek nog gedoen het. Gisteraand, op haar kienkyste, het sy haar ponieboy-slaaf laat kruip en hom al wiksende met haar peits op sy rug gery.
kienkerig (byvoeglike naamwoord, bywoord): asof jy ‘n kienk het (L.W. Die betekenis is baie na aan “kienkyrig”, “kienkyagtig” en “kienkagtig”) Sy het nogal kienkerig gelyk met daai breë leerhalsband om haar nek, maar dit was toe maar net ‘n normale versiering.
kienkyrig (byvoeglike naamwoord, bywoord): asof jy kienky is (L.W. Die betekenis is baie na aan “kienkerig”, “kienkyagtig” en “kienkagtig”) My man het die laaste tyd kienkyrig begin optree – heeltyd gesê hy wonder hoe dit is om vroue-onderklere te dra. Dis eers laas Saterdagaand, toe hy met een van my pênties aan voor my kom staan het, dat ek besef het hy is nie net kienkyrig nie; hy is regtig kienky.
kienkyheid, kienkygeid (selfstandige naamwoord): die gebruik van nie-konvensionele seksuele praktyke, gegrippe of fantasieë Baie mense vermaak hulself met kienkyheid. Al haar kienkygeid het gemaak dat sy nou sommer ‘n hele paar kienky mansvriende het. Kienkyheid vind al groter aanvaarding in die samelewing.
verkienk, kienkyfiseer (werkwoord): kienky maak Sy het haar man so verkienk dat hy nou die leiding in kienk in hul verhouding begin neem het. Baie van die swiengers hou nie daarvan dat die eienaar van die klub die atmosfeer so kienkyfiseer nie.
kienkagtig (byvoeglike naamwoord): soos ‘n kienk (L.W. Die betekenis is baie na aan “kienkyagtig”, “kienkerig” en “kienkyrig”) Die mondering wat sy op die partytjie gedra het, het baie kienkagtig gelyk – alhoewel ons weet sy is nie ‘n kienker nie.
kienker (selfstandige naamwoord, persoonsnaam): iemand wat van kienky seks of ander kienky erotiese aktiwiteite hou en dit beoefen Kienkers verskil aansienlik in gender en seksuele oriëntasie. Van al die kienkers in daardie kommune is hy seker die kienkyste. Jy kon sommer sien daai paartjie op die partytjie is kienkers.
kienkster (selfstandige naamwoord, persoonsnaam): die vroulike vorm van kienker (soos “skryfster”) (L.W. die woord “kinkster” in Engels is die ekwivalent van kienker; dit het nie ‘n vroulike vorm nie.) Daar was ‘n paar oulike kienksters op die partytjie en die manne het om hulle saamgedrom.
ontkienk (werkwoord): Die kienk laat weggaan. Sy neem haar voor sy gaan hom ontkienk; sy hou niks van sy kienkerigheid nie.
Bg. woorde is nuttig om ‘n veelheid van begrippe op seksuele en erotiekgebied uit te druk. Dit ondervang probleme en voldoen aan behoeftes waaraan voorheen nie maklik voldoen kon word nie.
Reikwydte van woorde met die stam “kienk”
Ons wil net beklemtoon dat die woord kienk en al sy afleidings en samestellings slegs op seks- en erotiekgebied van toepassing is. Dit vervang geensins die Afrikaanse woorde “kink” en “kinkel” en al hul bestaande afleidings, in die nie-seksuele sin, nie. Woordeboeke hoef niks weg te laat nie; hulle kan maar net die nuwe woorde byvoeg.
Gevolgtrekking en slot
Die woorde kienk en kienky as die Afrikaanse ekwivalente vir die Engels “kink” en “kinky” op seksuele en erotiekgebied is nuttige toevoegings tot die taal.
Die woorde bestendig die gebruik van woorde wat lank reeds in die Afrikaanse spreektaal gebruik word, op skrif.
Die woorde pas lynreg in die spellingsisteem in en vereis geen uitspraakaanpassing in Afrikaanss nie.
Die woorde is uniek en daar is geen moontlikheid van verwarring met ander bestaande woorde nie.
Die woorde verdring geen bestaande woorde nie en word daarom nie as anglisisties beskou nie.
Weens die eenvoudige spelling leen die woorde hul maklik tot afleidings en samestellings met ander woorde.
In die skriftelike vorm het die woorde nie die negatiewe konnotasie wat die Engelse woorde “kink” en “kinky” dalk nog in ‘n mate oorhou nie. Dis moontlik dat die woorde as leenwoord-nuutskeppings op die langer termyn ook in die gesproke taal van die negatiwiteit ontslae sal raak.
In die geheel is die woorde taalverrykend, nie net vir erotici en kienkbeoefenaars en belangstellendes nie, maar in die algemene woordeskat van Afrikaans.
Ons sal poog om in die toekoms hierdie woorde met hul besondere spelling, waar van toepassing, op Kombiekiehier te gebruik.
Ons hoop ons het ons lesers en skrywers ‘n betreklik nuttige woordeskat op die gebied van kienk gegee.
Vrae en kommentaar is welkom.