Biltong
deur Homo Erectus
Ek vind onlangs uit dat die heel lekkerste biltong van ou koeie gemaak word, veral dié wat in die veld in die wind en weer oorleef. Deurleefde en deurwinterde diere. In Vryburg se wêreld koop jy die lekkerste biltong. Met geel vet. Graad C2-vleis. Ou koeie. Daar is vir my iets poëties daaraan. Vra vandag vir enige vrou of sy Sean Connery op 20 of 60 wil hê, en dis ‘n klein handjievol wat die seun eerder as die man sal kies.
Populêre mening wil dit hê dat dit die teenoorgestelde by mans werk. Ou bokke hou blykbaar van groen blare. Regtig? As ek moet kies tussen ‘n 19-jarige meisie en Emma Thompson, met wie sal ek intiem wil verkeer? Emma Thompson elke keer. Hoekom? Wat gebeur met ‘n man dat hy nie meer agter die vrugbare model sal aanhol nie, maar eerder die post-menopousale ouer vrou sal kies as ‘n bedmaat? Tyd. Mens word ryp. Kies jou metafoor: vleis, wyn, kaas, mens – alles word ryp. En hoe ryper, hoe ryker. Meer tekstuur, meer substansie, meer mensch. Dis hoekom ek nou kan staar na ‘n foto van Brümilda op Sarie se voorblad, en wens ek kon een aand intiem met haar verkeer. Of Amoré Bekker. Of Meryl Streep.
Of ‘n ou skoolvriendin wat nou die dag die moed gehad het om ‘n ongegrimeerde selfie ter wille van kanker op haar muur geplak het. Vir hierdie vroue wil ek sê, ek vind hulle interessant, in al hulle glorieryke kompleksiteit, en ek sal bevoorreg voel om ‘n intieme oomblik met enigeen van hulle te beleef. Ek sal met deernis en verstaan versigtig en sorgsaam my hande oor hulle kurwes vryf, en vir hulle sê hulle is pragtig, selfs nog mooier as toe hulle jonk, soepel en ferm was. Ek sal hulle wil laat verstaan hulle is nog meer begeerlik omdat hulle na dekades se veroudering die wêreld in die oë kyk, al is hulle eensaam en weerloos voor ‘n spieël.
Soos wat mens ouer word, verander seks. Aanvanklik is daar die biologiese imperatief. Jy moet voortplant. En daarna? Seks word soveel meer. Dit kry soveel meer betekenis. Dis kommunikasie. Dit sê: Jy is ongelooflik. Ek sién jou.