Bianca en die Vreemdeling
deur Ramkat Erasmus
Die vreemdeling daag sonder waarskuwing by die voordeur van die herberg op, sy moëe perd natgesweet en voos, maar tog nog lewendig genoeg om sy ruiter met die kop te stamp en aan sy sak te ruik vir ‘n suikerklontjie of iets dergliks. Die vreemdeling gryp die perd aan sy kop en vryf sy neus, voor hy hom ‘n klapsoen gee en die leisels vir die stalkneg gooi. Hy trek sy saalsakke van die perd se rug af.
“Eers water, en dan vryf jy hom behoorlik af. En as jy daarmee klaar is gee jy hom hawer …” Die stalkneg knik instemmend en kyk onderlangs na die leninge vreemdeling. Die man se klere is stowwerig, sy stewels voos geskuur deur klippe en stof, sy mantel vol gate en sy gesig vel-af verbrand deur die son. Net sy swaard lyk goed versorg, met ‘n goed-geoliede skede en blink metaalwerk op die handvatsel. Die swaard ry op sy linkerheup asof hy deel van die vreemdeling se lyf self is.
Die ruiter gooi die een punt van sy mantel oor sy skouer en buk by die deur van die herberg in. Die vertrek waarin hy regop kom is donker en koel onder die dik grasdak. Daar is ‘n paar growwe houttafels en swaar stoele, ‘n kroegtoonbank aan die een kant van die vertrek en ‘n trap wat na boontoe lei. Langs die toonbank is ‘n deur waaruit daar kosreuke en kombuisklanke weerklink.
Die herbergier kom uit die kombuis uit en vee sy hande aan ‘n vuil lap af. Hy steek vas as hy die vreemdeling in die deur sien staan. Jare agter die toonbank het hom ‘n grondige mensekennis gegee, maar selfs hy sukkel om die vreemdeling te lees. Sy klere sê dat hy brandarm is, maar sy selfverskerde houding sê weer iets anders. Die vet herbergier merk ook die swaard op. “Huursoldaat,’ dink hy, “of ‘n droster…”
Die vreemdeling kom nader en sit sy saalsakke op die toonbank neer. Hy maak een van die gespes los en haal ‘n vet leerbeursie uit. Die swaar geklingel van goud laat die herbergier se ronde gesig onwillekeurig in ‘n breë glimlag ontplooi.
“Dag ou vriend … Jammer ek laat jou so staan en wag, maar ek was in die kombuis en het jou nie gehoor aankom nie … Maar kom! Kom sit hier by die venster … Sit weg die beursie man. Ek skryf op en dan betaal jy as jy ry”
Hy lei die lang man na die tafel by die venster en maak sommer terselfdertyd oop sodat die koel briesie oor sy nuwe gas kan spoel.
“Ek bring iets vir die honger en die dors … Sit, sit … Dis my plesier”
Die vreemdeling sit doodstil en wag terwyl die herbergier weg waggel na die kombuis toe. “Vinnig, vinnig, vrou! Kaas en brood en vleis. Ons nuwe gas het nèt so ‘n dik sak vol goud. Maak gou!” Hy vryf sy hande teen mekaar in pure afwagting op die geld wat binnekort in sy sak gaan beland en tap dan ‘n erdebeker vol van sy beste en koudste heuningbier.
Hy waggel terug en sit die koue bier met elegante gebaar voor die vreemdeling neer.
“Ons beste … Ek maak dit self en ek belowe jou jy gaan nie beter kry binne drie dae se ry met ‘n vinnige perd nie!”
Die vreemdeling tel die beker op, vat eers ‘n klein slukkie en drink dan die beker met een lang teug leeg.
“Nie sleg nie. Nog een. En ‘n kamer. Ek wil ook bad …”
“Geen probleem nie! Ek stuur die stalkneg om die bad vol warm water te maak en as dit reg is roep ek jou … Maar eers, iets om te eet!”
Hy staan eenkant sodat sy vrou die houtbord met vleis, kaas en varsgebakte brood voor die lenige soldaat kan neersit. Sy maak ‘n kniebuiging en bloos as die ruiter vir haar glimlag. Dan skarrel sy terug kombuis toe.
“Mooi man die”, dink sy. “Bietjie vuil en stowwerig, maar mooi!” Sy wonder of sy hare blond of bruin is, en besluit dan dat sulke diep blou oë net by blonde hare sal pas. Sy gril van lekkerkry as sy dink aan sy gespierde arms en groot eelterige hande. “So ‘n man sal ‘n vrou mos ordentlik kan vasvat!” Sy giggel vir haarself en probeer onthou hoe dit voel om so ‘n sterke jong kêrel bo-op haar te hê. Haar ou man is heel gewillig, maar die se pens is aanmekaar in die pad deesdae, en hy raak ook gou kortasem. En sy wil nou nie hê dat hy in die katel aan ‘n hartaanval beswyk nie. Hoe sou mens dit aan die bure verduidelik?
Die herbergier sit die tweede beker koue bier voor sy gas neer en staan en kyk hoe die man die kos op die bord verslind. “Hy’t lanklaas geëet,” dink hy.
“So, van waar is die reis?”
Die vreemdeling kou aan ‘n groot hap brood en kaas en beduie met sy duim oor sy regterskouer.
“Deur die woestyn? Tog seker nie!” Die man knik net en eet verder.
Die herbergier stap stadig na die kombuis toe terug en gee die diensmeisies bevele oor die reisiger se kamer en sy bad. “Deur die woestyn!” dink hy weer. “Dis nie moontlik nie!” Daar is gerugte, legendes oor mense wat deur die woestyn wou trek. Baie min van hulle het ooit weer teruggekom. Daar is nydende geeste en nadelige winde in die woestyn. Skerp klippe wat deur die sterkste stewels kan sny en bosse met dorings wat in klere en vel inslaan en nie laat gaan nie. Dis ‘n plek wat deur almal vermy word en reisigers trek om die die woestyn, maar nooit, ooit, deur, nie. “Die man is of een van die taaistes wat ek al ooit ontmoet het, of hy lieg,” brom hy onderlangs, terwyl hy vir homself ‘n sopie brandewyn skink.
Hy jaag die stalkneg aan om nog ‘n paar emmers water na die vreemdeling se kamer toe te vat, sluk die brandewyn behaaglik weg en gaan kyk dan of sy gas nog iets nodig het. Die man se bord is leeg en hy’s ook amper klaar met sy tweede beker bier.
“Nog ‘n bier? Kos?” vra die herbergier opdringerig.
“Hoe ver is daai bad?”
“Amper. Amper …” Die vet man merk skielik die fyn snytjies oor die man se sonverbrande arms en hande. “Ek het goeie salf. My vrou maak dit self. Net die beste kruie en speserye en vet wat sy self afkook. Dis goed vir sulke snye en vir sonbrand…”
“Ja.”
“Jou bad is seker nou klaar,” sê die vet man lomp as die stalkneg met ‘n paar leë emmers teen die trap afkom. “Kom ek wys jou …” Hy vat die voortou, en gryp behendig ‘n bottel soetwyn van die die toonbank af saam met een van sy kosbare glase en klim steun-steun teen die trap uit, die ruiter moeg agterna.
Die kamer is die herberg se heel beste met ‘n uitsig oor die woud en die berge doer in die verte. Die katel is groot en gemaklik met ‘n sagte bulsak wat net laasweek met nuwe strooi gestop is. Daar is ‘n gemaklike stoel, ‘n boekrak met ‘n paar opbouende boeke en een kleiner boekie met prentjies wat sy vrou laat bloos, maar wat sy tog so elke nou en dan opsoek as sy lewendig voel.
In die middel van die vloer staan ‘n tamaai heupbad wat uit ‘n ou wynbalie gemaak is. Dis groot genoeg vir drie groot mense en stomend warm met ‘n stuk van sy vrou se beste seep en ‘n paar dik handdoeke langsaan op die vloer.
“Dis ons beste kamer. Dis ook die enigste een waar jy kan bad. Die gaste in die ander kamers moet in die badhuis gaan was. Dis buite langs die stal.”
Die herbergier maak die soetwyn oop en gooi die glas vol. Hy sit die op die tafeltjie langs die boekrak neer. “Jy moet sê as daar nog iets is …”
Die vreemdeling skud sy kop en sit sy saalsakke op die bed neer. Hy draai sy rug op die herbergier en maak die mantelknoop om sy nek los. Die stowwerige kledingstuk val op die grond en dan maak die man sy swaard los. Diè word op die bed neergesit. Die man buk en begin aan sy stewels rem. Die herbergier staan nader, beduie die man moet sit en trek die ruiter se een voet tussen sy bene deur. Hy gryp die hak van die stewel stewig vas en as die man sy voet teen sy boude druk en stoot, kom die stewel met net ‘n klein bietjie gesteun af. Die tweede stewel volg en as die ruiter sy leerbroek begin losknoop maak die herbergier verskoning en gaan.
“Ek stuur die salf!” sê hy en begin die deur agter hom toe trek. ‘Aandete sal so oor ‘n uur reg wees. Maar moenie haastig wees nie. Kom as jy reg is …”
As die herbergier onder kom daag daar ‘n koets met ses gawe kêrels op wat raserig verduidelik dat hulle gehoor het van sy heuningbier en dat hulle daar is om dit op die proef te stel. Hy gesels vrolik terug, skerts ‘n bietjie en vertel die storie van die monnik en die burgemeester se vrou, wat hulle luiddrugtig laat skater.
Na ‘n paar rondtes besluit die manne dat hulle iets moet eet ook en gee hulle bestellings. Die herbergier glimlag van oor tot oor. Eers die vreemdeling met sy dik beursie vol goud en nou die klomp manne met die groot dors! Dit gaan ‘n winsgewende aand word!
Wanneer die jongkêrels stil word en behaaglik aan sy vrou se wildspastei kou, onthou hy van die salf. Hy gaan kombuis toe en roep sy dogter, Bianca. Hy gee vir haar ‘n onoopgemaakte kruikie van sy vrou se salf.
“Gaan gee vir ons gas in die groot kamer. Klop voor jy ingaan en wees beleefd.”
“Ja, Vader.”
“Bied aan om sy rug en nek vir hom in te smeer.”
“Ja, Vader.”
“Moet ek nie liewer gaan nie?” vra sy vrou.
“Nee. Ek het jou nodig in die kombuis. Toe Bianca. Die man dink seker al ek het van hom vergeet … Toe, toe weg is jy.”
Bianca vat die kruikie met salf en loop heupswaaiend by die deur uit. Die herbergier hoor die wolwefluite van die jong manne in die eetsaal en besef skielik dat sy dogter nie meer ‘n kind is nie. Haar swart hare val in groot golwe oor haar spierwit skouers en haar ferm jong borste beur teen die rok wat eintlik te klein is vir haar. Hy spoeg op die vloer en dink dat hy haar sal moet begin oppas. Mens kry allerhande tipes in die herberg…
Hy stap uit en sien hoe sy aan die bo-punt van die trap verdwyn. Haar pikante agterstewetjie laat hom aan sy vrou dink toe sy nog jonk was. “Jammer die ou ding het so dik geword”,dink hy. Sy’s nog baie gewillig maar ai, sy’s nie meer die vietse dingetjie met wie hy jare gelede in die hooi rondgerol het nie.
Bianca klop saggies aan die vreemdeling se deur, maar daar’s nie antwoord nie. Sy probeer weer en stoot dan liggies teen die deur. Dit swaai oop en sy loer om die kosyn in die kamer in. Die man is nie in die bad nie, hy sit nie op die stoel nie, hy slaap op die bed.
Hy het ook nie klere aan nie.
Bianca bloos en glip by die vertrek in. Sy hou haar oë op die vloer gerig en loop saggies tot by die bed. Sy sit die kruikie met die salf saggies op die tafeljie neer langs die bottel soetwyn en die leë glas.
Bianca is nie so onskuldig as wat haar pa dink nie. ‘n Meisie wat in ‘n herberg groot word sien baie dinge, maar sy het darem nog nooit ’n groot man sonder klere gesien nie. Natuurlik het sy al haar boeties kaal gesien in die badhuis en sy het selfs een keer niksvemoedend ingeloop terwyl haar pa in die badhuis besig was, maar die vreemdeling se naaktheid is meer as haar pa of boeties s’n. Hy is heeltemal buite haar ondervinding en sy kan nie help om te loer nie.
Eers merk sy die lang swaardvegterarms met lenige harde spiere. Dan sy groot eelterige hande en sy lang bene, snaaks so spierwit in kontras met sy arms en gesig. Sy arms is vol fyn snytjies asof hy deur ‘n doringbos moes beur. Oor sy borskas lê ‘n lang litteken soos ‘n bergreeks op ‘n landkaart. Sy maag is gespierd met ‘n strepie hare wat van sy naeltjie af na onder loop en daar, daar lê sy watermaker soos ‘n onskuldige duifkuiken teen sy been, snoesig in ‘n nessie van blonde krulhare met ‘n sak delikate eiers aan die onderkant.
Bienca se hart gaan uit na die sonverbrande man wat so onskuldig en duidelik uitgeput lê en slaap. Sy reik versigtig met ‘n klein handjie uit en vat aan die lang litteken oor sy bors. Sy vel is warm, maar tog koel van die sweet. Gedagtig aan haar vader se opdrag maak sy die kruikie met salf oop en sit ‘n bietjie daarvan op haar vingers. Sy begin versigtig die salf aan die man se snytjies smeer. Die man sug en beweeg effens in sy slaap. Bianca se hart bons teen haar borskas en sy vries, maar die man lek een keer oor sy lippe en slaap dan rustig voort. Sy werk versigtig verder, haar klein pienk tongetjie tussen haar wit tandjies vasgebyt in konsentrasie. Eers vryf sy die man se linkerarm in, dan leun sy oor hom en vryf sy regterarm in. Dan begin sy versigtig die helende salf aan sy arme gesig smeer. Dit voel vir haar asof die genesing vanuit haar vingerpunte en deur die salf, in sy vel invloei. Sy vryf die salf in sy nek in, met veral ‘n mildelike toepassing teen sy keel waar die son, self in daardie delikate plek, ‘n houvas gekry het. Dan staan sy terug om seker te maak dat sy al die seerplekke bedek het. Sy besef dat daar nog een deel van hom is wat rooi en geswel is en wat sy nog nie ingesmeer het nie.
Vir ‘n oomblik is Bianca onseker oor wat om te doen. Sy kannie verstaan hoe die man dit reggekry het om dààr deur die son verbrand te word nie. Maar hy was duidelik lank op reis en sy weet dat mans sommer so langs die pad hulle watermakers uithaal om teen ‘n klip of ‘n boom water te maak. Sy’t haar broers dit al genoeg keer sien doen en sy het al meer as een keer gewens dat sy ook ‘n watermaker soos die mans kon gehad het – dit lyk net soveel makliker.
Sy ondersoek die man se opgeswelde watermaker. Dis rooi en opgehewe en staan effens na links van sy harde gespierde maag af weg. Sy kan sien hoe die bloed deur die are klop. “Dit moet baie seer wees,” dink sy. Sy sit ‘n vrygewige klompie salf aan haar hand en begin die man se opgeswelde watermaker invryf.
Terwyl haar hand op en af beweeg op sy watermaker raak sy bewus van die eiersak wat ook ritmies op en af beweeg. Sy sit nog salf aan haar hand en vryf die sak met die twee orgaantjies deeglik in. Die man kreun skielik hard en Bianca skrik so dat sy opspring en verskik teen die deur gaan staan. Met groot oë staan sy na die kaal man en kyk, maar na ‘n ruk besef sy dat hy, sy harde kreun ten spyt, nog rustig verder slaap. Sy staan weer nader en sit nog salf aan haar klein handjie. Die keer vat sy die man se harde en opgeswelde watermaker stewig vas en beweeg haar hand op en af om seker te maak dat al die salf in sy vel intrek. Dan skielik werk die medisyne op ‘n ‘n onverwagte maar tog bevredigende manier. Die man kreun, krul regop en vanuit die bo-punt van sy watermaker bars die inflamasie wat die swelling veroorsaak in ‘n lang sterk straal uit. Die man se oë is oopgesper en hy ruk twee, drie keer terwyl die wit inflamasiesap uit hom uitspuit, oor haar hand en oor sy gespierde maag. Weer spring Bianca op en gaan staan teen die deur. Die man ruk nog ‘n slag of wat en vloei dan teen die kussings terug, sy maagvel glisterend van die pêrelagtige vloeistof.
Sodra Bianca tevrede is dat hy weer rustig slaap, tel sy een van die handdoeke van die vloer af op en vee versigtig die man se maag skoon. Sy vee ook die laaste bietjie vloeistof vandie punt van sy watermaker af. Dis duidelikdat die salf net die regte medisyne vir die opgeswelde watermaker is. Die man se watermaker is klaar nie meer so styf en seer opgeswel nie, en terwyl sy kyk sien sy hoe dit krimp en weer rustig in sy nessie van blonde hare gaan lê.
Bianca ruik aan die vloeistof op die handdoek. Dis ‘n sterk, mansgeur wat haar op ‘n vreemde manier bang, maar ook opgewonde, maak. Sy voel skielik sterk en vroulik. Iemand wat beseerdes kan help en hulle wonde genees.
Sy kyk na die man se gesig en sien hoe hy nou met ‘n klein glimlaggie om sy sterk mond lê en slaap en haar hart vermurwe oor die sterk man wat so hulpeloos onder haar hand gelê het sodat sy hom kon help.
Sy tel die ander handdoeke en die man se vuil klere op en gaan met ‘n vrolike gemoed uit, bly dat sy iets meer oor haarself en haar vermoëens kon leer. Aan haar hand is nog steeds die reuk van die man se eienaardige inflamasie.
-0-
Soos die deur toegaan gaan die man se oë oop. Voor sy geestesoog sien hy die swelling van die jong dame se borste soos sy oor hom geleun het. Hy voel die drukking van haar klein handjie om sy staaf en hy ruik haar parfuum. Die dametjie is duidelik angstig vir ‘n bietjie bedspeletjies. Sy sal hom weer besoek. Hy is seker daarvan …
3 COMMENTS
Booootifull !
Ons sal moet ‘n opvolg kry, asseblief.
Mooi storie – teen ‘n baie realistiese outydse agtergrond en met gepaste woordgebruik vir die tydvak. Die eufemismes is treffend! Daai toegewyde behandeling van sy watermaker was beslis die aanvang van Bianca se seksuele ontwaking, indien dit nie voorheen al begin het nie. Mens kan jou indink waar haar hand daai aand in die bed rondgedwaal het.
Sjoe! Vuurwarm en op die rand van die afgrond. Hoop daar is ‘n opvolg!